14 September: Loop naby God. Dit bly die regte pad. – Jan van der Watt

Fil 1:1-11 (fokus 1:3-11)

Dinge loop soms maar verkeerd. Dit is hoe die lewe is. As so iets slegs jou tref, bid ʼn mens gewoonlik ernstig en soek God se hulp. As dinge dan nie uitwerk soos ons dit wou gehad het nie, begin ons vraagtekens agter God sit. Ons begin aan Hom en sy liefde twyfel.

Paulus was in so situasie – Hy was in die tronk, nie omdat hy sleg was nie, maar juis omdat hy vir die Here gewerk het. Sy gemeente het toe juis vrae oor God begin vra. Waarom help God hom nie as hy dan so goeie apostel van God is nie. Wat het nou verkeerd geloop? Maar selfs as dinge so verkeerd loop, twyfel Paulus aan een ding nie: “God sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees” (1:6).

Die feite is: God kyk net verder as jy, sien net meer raak as jy, weet beter as jy wat vir jou die beste is, al hang die vraagtekens maar soms om jou. Daarom is Hy God en nie jy nie. Die kuns van die lewe is om Hom te leer vertrou al pas alles wat Hy doen nie altyd by jou planne in nie. God sal nooit aan jou ontrou wees nie – dit het Hy beloof. Jy moet egter nooit ontrou aan Hom wees deur te dink dat Hy jou vergeet het nie.

As dinge verkeerd loop, loop dan juis nader aan God, al is jy soms nie seker waarheen Hy jou lei nie. Dit is die regte pad.




13 September: Bly weg uit die duiwel se kleedkamer. – Jan van der Watt

Ef 6:10-24 (fokus 6:10-20)

 By ʼn rugbywedstryd het dinge vir die een span lelik verkeerd geloop. Die ander span was by die 100-0 voor. So teen die einde van die wedstryd sê iemand: “Oppas daai ander span kan terugkom!” Natuurlik kan ʼn mens net sê: “Wat ʼn grap”.

Jesus het die duiwel baie verder as 100-0 gewen. Dat die duiwel ooit sal kan “terugkom” is net ʼn grap. Christene hoef nie te dink hulle moet Jesus hier teen die einde van die wedstryd gaan help omdat Hy dalk nie sterk genoeg is nie. Hulle hoef nie die duiwel weer te gaan verslaan asof Jesus dit nie goed genoeg gedoen het nie, al dink party Christene dat hulle Jesus se geveg self moet gaan oorveg.

Dit beteken nie dat ons nie moet oppas vir die duiwel nie. Hy kan ons nog seermaak as ons in sy kleedkamer gaan moeilikheid soek – daarom moet ons liewer naby die Wenner in sy kleedkamer bly (6:10). Ons moet sy toerusting aantrek, naby Hom bly en ons krag by Hom kry. Die duiwel waag dit nie naby Jesus nie, want hy kan nie. As jy dus naby Jesus bly, sal die duiwel ook nie naby jou kan kom nie. Sy krag is jou krag. Dit is waaroor al die “wapens” in Ef 6:13-17 gaan.

Oppas egter vir die afdraaipaadjies, veral afdraaipaadjies wat na die duiwel se kleedkamer lei…




12 September: Gee jouself weg om jou huweliksmaat te behou. – Jan van der Watt

Ef 5:21-6:9 (fokus 5:21-33)

Op ʼn keer hou ek ʼn paartjie op ‘n lughawe dop. Die meisie het ʼn knoets van ʼn diamantring aan. Elke nou en dan loer sy kamma ongemerk daarna en wikkel dan haar vingers (nogal opsigtelik) sodat die diamant mooi in die middel van die vinger sit. Haar verloofde kyk nie eers nie – hy verdiep homself in ʼn boek: “How to make money and get rich quickly”.

Die Here het ʼn geheime resep vir die huwelik (5:21). Die huwelik bring gewoonlik twee individue bymekaar met uiteenlopende drome en belangstellings. Hulle kies mekaar omdat elkeen dink dat hy of sy met daardie lewensmaat die drome sal kan verwesentlik. Daarom is die huwelik die plek waar jy moet wys hoe goed jy met spanwerk is… nie hoe wonderlik jy is nie, of hoeveel beter jy as jou huweliksmaat is, of hoe goed jy kan baasspeel nie. Nee, daar moet jy wys hoe goed jy met diens is, want drome in ‘n huwelik word gewoonlik net verwesentlik as jy bereid is om jouself te gee vir drome… ja, die drome van jou huweliksmaat. Die “diamantring” kom nie vanself nie. Dit kom deur bereid te wees om jouself weg te gee vir die ander een.

Dit is nie altyd maklik nie, want ons sien ons huwelikmaats soos hulle is, met al hulle swakpunte en gebreke. Dikwels stel hulle ons teleur, irriteer hulle ons so dat ons wonder hoekom ons nog probeer om iets van onsself vir hulle te gee. Dan is dit nie maklik om eerder as dienaar by so iemand se voete te kniel as om weg te hardloop nie.  Miskien het daai ou met die boek dit goed besef: om jou huweliksmaat tevrede te hou vat harde werk, en daarom het hy aan die werk gespring, al sou dit beteken dat hy hard moet werk sodat sy ryk kan wees.

Ef 5 :25 sê dit is die opoffering wat Jesus vir jou gemaak het … en dit is sy voorbeeld vir jou.




11 September: Liefde is aksie. – Jan van der Watt

Ef 5:1-20 (fokus 5:1-5)

Daar is mense wat praat en mense wat doen. ʼn Ou in ʼn restourant het vreeslik verstik en kon nie asem kry nie. Die res van sy kollegas aan die tafel het bespiegel oor wat die beste sou wees om te doen. Dit het nie veel gehelp nie, want intussen het die ou van kleure begin verander. Iemand van die tafel langsaan vlieg toe op en sonder om ʼn woord te sê gryp hy die ou om die bors en met ʼn harde druk los hy die probleem op.

Liefde doen ook, eerder as om te praat. Daarom is liefde altyd aksie (5:1-2). Dit help nie om te praat oor hoe jammer jy iemand kry nie –  om werklik jammer te kry, is om iets daaraan te doen. Om te bid vir iemand in nood beteken om bereid te wees om in te spring en te help om daai nood te verlig. Om iemand se probleem te bespreek is goed, maar dit is nog beter om die bul by die horings te pak en te help om dit op te los. Liefde is… aksie, aksie, en nogmaals aksie, want liefde maak ‘n verskil.

Hoe sou jy jouself beskryf? Is jy iemand wat praat of iemand wat doen?