02 September: Na wie luister jy die graagste?. – Jan van der Watt

Gal 5:1-18 (fokus 5:13-18)

Die ou mense het gesê dat elkeen van ons ʼn engeltjie op een skouer en ʼn duiweltjie op die ander skouer het. Ons moet sorg dat ons na die regte een luister. Paulus sê ook so iets.

Ons moet self die verantwoordelikheid vir ons keuses dra, want ons kies na wie om te luister. As jy iets verkeerd gedoen het, moet jy nie almal rondom jou beskuldig nie. Dit is immers jy wat geluister en gekies het!

Jy was nie alleen toe jy gekies het nie. In Gal 5:16-18 pleit Paulus dat elke Christen moet toelaat dat die Gees hom moet lei en beheer. Voor ons ons keuses maak, moet ons eers vergadering hou… saam met die Gees. En daar moet die Gees die agenda van ons lewens baie duidelik bepaal. Hy moet ons lewe lei op die pad wat God wil hê ons moet loop.

Maar ons moet oppas, daar is iemand anders wat gedurig in die vergadering inbars en die Gees wil doodpraat. Paulus praat van ons “sondige begeertes” (5:17). Na díe gedoodprater moet ʼn mens nie luister nie.

Op die ou einde het jy ʼn keuse… jy het wel nie ʼn engeltjie en ʼn duiweltjie op jou skouer nie, maar die Gees en jou sondige begeertes.  Na wie luister jy die graagste?




01 September: Die twee V’s – vryheid en verantwoordelikheid. – Jan van der Watt

Gal 4:21-31 (fokus 4:21-31)

Vryheid en Verantwoordelikheid word altwee met ʼn V gespel – dit hoort saam. Verantwoordelikheid trek die grense van vryheid. Die vryheid van die vis in die see beteken dat dit in die see moet bly. Die vrye vlug van die arend is net mootlik as die arend sy vlerke sprei om deur die lug te gly. ʼn Vis op die land of ʼn arend sonder oop vlerke is nie vry nie.

Toe God ons vrygemaak het, het Hy ons ook soos die vis in die vrye oseaan van sy liefde losgelaat. Daar, saam met Hom, is ons vry. Maar as ons soos ʼn vis op die droeë land uitswem verloor ons die vryheid wat God ons gegee het. Om jou rug op God se verlossende liefde te draai, om jou verantwoordelikhede teenoor Hom nie meer na te kom nie, is om jou eersgeboortereg op goddelike vryheid te verloor.

Om jou hande en jou hart van God af weg te trek en net vir jouself te hou, beteken om soos die arend te probeer vlieg met sy vlerke styf teen sy lyf. Sy vrye vlug is daarmee heen.

Om volledig vrye Christen te wees, beteken om volledig verantwoordelike Christen te wees.




31 Augustus: Oppas vir afgode… hulle bring vir jou op die ou einde niks. – Jan van der Watt

Gal 4:8-20 (fokus 4:8-20)

Daar is nie ‘n ongelowige in hierdie hele wye wêreld nie. Ons almal glo in iets. Party glo aan God en dit is die moeite werd. Ander glo weer in ander dinge of selfs net in hulleself. Die punt is, ons almal is gelowiges in iets. Wat ons dikwels nie verder oor nadink of besef nie, is dat dit waarin ons glo ons lewens beheer. Dit bepaal die manier waarop ons dinge doen. Dit motiveer ons om op ‘n seker manier te leef en skryf vir ons voor hoe ons ons energie en tyd moet gebruik.

Jy wil tog jou lewe, jou tyd en energie goed gebruik. Daarom moet jy dit nie gebruik “in diens” van iets wat nie die moeite werd is nie. By voorbeeld, as jy glo jou heil lê in geld, gaan jy jou tyd en energie daarvoor gee, dit is verseker. Maar is dit die moeite werd om alles –jou energie, jou gesin, jou gesondheid – op te offer vir iets wat maar iewers in ‘n bank lê as jy die dag graf toe gedra word? Of jy buig miskien voor die afgod van sukses – jy moet ten alle koste sukses by die werk behaal, anders sien jy jouself nie as ‘n goeie mens nie. As jy die dag aftree en die nuwe baas stap in, gaan tel jy maar jou fototjies en goedjies wat o jou lessenaar gestaan het voor sy deur op. Is dit die moeite werd? Dit is die punt van afgode dien: op die ou einde is hulle leeg, ja, dood (4:8). Dit gee jou natuurlik ‘n rukkie plesier om hulle te dien en dit hou jou oë toe vir die leegheid van dit waarin jy op daardie oomblik glo en waarmee jy besig is. Maar hulle kan nie jou oë vir altyd toe hou nie en dan is die ontnugtering groot.

Dien dan maar liewer die lewende God wat vir jou soveel meer bied. Glo in Hom en doen wat Hy van jou vra. Dit is die moeite werd. Dan sal daar beslis nie ‘n ontnugtering op jou wag nie.




30 Augustus: Die Gees glo in spanwerk. – Jan van der Watt

Gal 3:21-4:7 (fokus 4:1-7)

Ma’s is wonderlike goed. Hulle bekommer hulle gewoonlik oor alles as dit by kinders kom: wat gaan die kinders eet? is die kosmengsels vir die baba reg? is die kinders se klere skoon? het hulle hulle medisyne gehad? hoe gaan dit by die skool?… Ek onthou nog hoe my ma ons deur ‘n hele ritueel gesit net voor my pa van die werk af gekom het, want ons moes darem betaamlik gelyk het as hy kom. Verhoudings in die huis was spesiaal en ons het dit goed geweet. Daarvoor het Ma gesorg.

Wat ek van die Heilige Gees in die Bybel lees, herinner my baie aan ma’s. Die Heilige Gees se werk is hier om ons verhouding met ons hemelse Vader reg te hou. Die Gees maak ons geestelike oë helder, laat ons harte na God smag. Die Gees roep binne in ons uit: “Vader, liefdevolle Vader” (4:6). So sit die Gees ons hand in God se hand terug as dit dalk uitgeglip het; bind die Gees ons aan die Here vas met ‘n onbreekbare band van liefde.

Maar dit werk nie altyd so goed nie. Partymaal gee ons nie ons ma’s ‘n kans nie en dan werk haar planne nie so goed uit nie. Net so gee ons ook nie die Gees altyd ‘n kans in ons lewens om te doen wat Hy wil nie. Ma’s kan jou nog forseer, maar die Gees doen dit nooit nie. Die Gees weet dat liefde nie geforseer kan word nie. Dit moet vanself kom, anders is dit nie regtig liefde nie. Daarom help die Gees ons, nooi ons uit, roep in ons harte uit, maar uiteindelik moet daardie woorde oor jou lippe rol omdat jy dit so wil hê.

Die Gees is daar om jou te help en jou verhouding met God sterk te maak. Laat Hom toe om dit te doen. Die Gees glo in spanwerk!