1 Augustus: Praktiese Christenskap. – Jan van der Watt

1 Kor 14:6-19 (fokus 14:6-19)

 ‘n Student sê eendag hy is so bly hy’s in Suid-Afrika gebore en nie in Frankryk nie, want hy kan nie ‘n woord Frans praat nie. Ja-nee, as jy nie die taal in ‘n land kan praat nie, het jy probleme.

Hier in 1 Kor 14 Paulus praat van ‘n spesiale taal wat God vir ‘n mens gee om met Hom te kommunikeer (14:2). Ander kan dit nie verstaan nie en dit het eintlik net waarde vir die persoon wat praat, behalwe as dit uitgelê word (14:2,6). Daarom sê Paulus dat as jy tussen ander mense is, jy liewer maar ‘n paar woorde moet praat wat hulle kan verstaan as duisende woorde in daardie spesiale taal wat hulle niks van verstaan nie. In so ‘n situasie het die paar woorde meer waarde.

Hier sien ons Paulus, die praktiese Christen. Hy vra eers wat het die meeste waarde vir ander in ‘n spesifieke situasie. ‘n Christen leef nie vir vertoon of eie belang nie, maar vir God. Daarom vra Christene altyd praktiese vrae: wat is die voordeligste vir ander? Wat moet ek doen om die meeste vir my mede-gemeentelede te beteken? Dit is die wese van praktiese Christenskap: die opbou en versterking van van God se mense. As jy dit doen is jy vir die Here op jou beste en doen jy vir Hom die meeste.

Gelukkig het ons nie ‘n kommuniasieprobleem as dit by God kom nie. Hy verstaan woorde en dade wat prakties vir ander iets beteken baie goed… daardie taal kan elke Christen praat.




31 Julie: Liefde is nooit bly oor verkeerde dinge nie. – Jan van der Watt

1 Kor 13:1-14:5 (fokus 13:1-13)

 Omdat liefde in ‘n groot mate die ”gee van jouself” is, kan dit maklik gebeur dat jy ‘n vloerlap word, en dit mag nooit gebeur nie. Liefde het ook sy skerp kante. Dit paai nie net die hele tyd ander mense nie. Dit kan ook nee sê of selfs dinge vurig teenstaan.

Dit is wat Paulus bedoel as hy sê dat die liefde ook grense het (13:6), ja, waar dinge te ver gaan vir geduld, waar ‘n blote vriendelike glimlag nie meer help nie. Bybelse liefde is altyd aksie (geduld, vergifnis, ens.). Hierdie aksie staan op twee pilare: lojaliteit en verantwoordelikheid teenoor ander. As kind van die Here moet jy altyd weet dat jy verantwoordelikhede teenoor jou mede-gelowiges het. Wanneer hulle jou nodig het, moet hulle op jou knoppie kan druk; en jy moet reageer, want dit is jou verantwoordelikheid. Jy moet ook lojaal wees teenoor die Here deur dit te doen wat Hy van jou verwag. Wanneer iemand dus iets doen wat teen die wil van die Here is, beteken lojaliteit of liefde ook om daardie persoon reg te help deur nee te sê of selfs skerper aan te spreek. Jy het die verantwoordelikheid om in lojaliteit mense vir die Here te behou. Soms moet jy mooipraat of paai, maar as dit nodig is moet die liefde ook skerper optree. Liefde kan nooit bly wees oor of kant kies vir die kwaad nie.

Oppas vir mense wat jou wil manipuleer met die liefde. Jy ken hulle gou uit: “Jy is mos ‘n Christen wat kamma liefhet… kyk net wat doen jy”, of, “jy moet mos ander help”, en so aan. Hulle wil net op jou gewete speel om hulle sin te kry. Moet jou nie laat manipuleer nie. Vra altyd eerste of dit is wat die Here van ‘n verantwoordelike en lojale kind van Hom verwag… en volg die antwoord wat jy kry.




30 Julie: Die Here het vir jou ‘n plekkie. – Jan van der Watt

1 Kor 12:21-31 (fokus 12:27-31)

 Toe ek grootgeword het was die bioskope nog nie so spoggerig soos vandag waar daar plekke bespreek word nie. Jy het jou kaartjie gekoop en as die deur oopgaan het jy maar gestorm vir jou plek. As jy nie vinnig genoeg was nie, het dit maklik gebeur dat jy die hele fliek deur dikbek sit oor die stoel wat jy nie gekry het nie. Dan was die fliek ook sommer nie meer lekker nie.

Die Here werk nie so nie; Sy plekke is bespreek en Hy weet wie waar moet sit. Hy het vir jou ‘n plekkie, ‘n spesiale plekkie in sy gemeente. Dit is ook reg so, want dit is nie jou gemeente nie, dit is sý gemeente. As dit waar is dat die Here vir jou ‘n plekkie het (en dit is) wat word dan van jou verwag? Die belangrikste ding is om so mooi na die Here te luister dat jy presies kan agterkom watter plek in die gemeente die Here vir jou bedoel het. Miskien is dit nie die mooiste, grootste of die beste stoel nie, maar dit is jóú stoel. Dit is waar die Here jou wil hê. En glo my, dit is ook waar jy uiteindelik die nuttigste en gelukkigste gaan wees.

Ons moenie God se dinge vir Hom probeer reël nie. Ons moet toelaat dat Hy ons gebruik is sy gemeente soos Hy wil. Hy weet tog die beste. Wat jy dus in die gemeente kry om te doen, klein of groot, doen dit met oortuiging en vreugde. Moet net nie die hele tyd sit sanik oor ander se stoele nie. Dan gaan jy jou eie stoel nooit kan geniet nie.




29 Julie: Help ander uit. – Jan van der Watt

1 Kor 12:1-20 (fokus )

 “Ek wil jou graag uithelp” kan twee dinge beteken. Dit kan beteken dat jy mense uit hulle moeilikheid of probleme wil help. Of jy kan iets anders bedoel as jy sê: “Ek wil jou uithelp, sê my net waar jy ingekom het”.

Die Heilige Gees het gekom om ons uit te help, natuurlik op die mooi manier. Die gawes van die Gees, waarvan Paulus hier praat, is nooit net vir jouself nie, maar is daar om ander te help en op te bou (12:7). Die Gees wil deur jou ander Christene sterk maak. Die Gees gee aan jou soos Hy wil (12:11), want die Gees weet wat die mense rondom jou nodig het. Dit is nogal ‘n groot gedagte… jy is die instrument wat dit vir die Gees van God moontlik maak om ander uit te help.

Maar daar is ook ‘n gevaar aan die Gees wat deur jou werk. Baie mense het geestelik so belangrik begin voel omdat die Gees hulle gebruik dat hulle begin dink het hulle moet die Heilige Gees uithelp. Hulle word so vol van hulleself en hulle eie heiligheid, dat daar nie meer plek is vir die Gees nie. So wou hulle Hom wou uithelp waar Hy ingekom het. Godsdiens kan dus ook baie gevaarlik raak as dit begin oorloop van te veel van onsself. Die plekkie wat dan oorbly is te klein vir God en sy Gees.

As jy die Gees van God se krag deur jou wil voel vloei, moet jy plek maak, plek vir Hom. Dit is hoe die vervulling met die Gees werk. Dink mooi, jy kan ander net deur die krag van die Gees uithelp, as jy die Gees nie uithelp nie.