19 Desember: As God nie daar is nie…. – Jan van der Watt

Op 2:18-3:13 (fokus 2:18-29)

Die Russiese skrywer, Dostojewski, het in sy boek Die broers Karamasow gesê: “As God nie daar is nie, word alles toelaatbaar”. Ja, as God se wil nie daar is om mense op die regte pad te lei nie, neem die duiwel maklik oor. En hy is ‘n spesialis om vir jou te wys hoe “toelaatbaar” alles eintlik is, veral die goed waarvan God nie hou nie.

Die plek waar die duiwel dus die graagste wil oorneem is in jou geestelike lewe. In Tiatira het hy  ʼn vrou, Isebel, gebruik om mense te mislei (2:20-22). Sy wou hulle van God af laat wegkyk, ja, Hom laat miskyk, want as God vir mense nie meer daar is nie, bly net hulleself en die duiwel oor. Dan raak alles toelaatbaar – dan raak dit toelaatbaar vir Christene om onder mekaar te baklei, want dit is nie meer God se wil wat geld nie, maar hulle eie. Dan raak dit toelaatbaar om te bedrieg of te skinder sonder om te voel dit is verkeerd. Dit raak toelaatbaar om so vir jouself te leef dat jy niks daarmee verkeerd sien om oor ander te stap en op hulle te trap nie. Dan raak dit toelaatbaar om gevoelloos verby mense te stap wat deur die lewe gekneus en gemaal is.

As God nie meer in jou lewe dáár is nie… bly net jy oor. En jy sal dit vinnig agterkom, deur te kyk hoe jy leef. Alles raak dan vir jou toelaatbaar…




18 Desember: Moenie dat Jesus in ‘n waas by jou verbygaan nie. – Jan van der Watt

Open 2:1-17 (fokus 2:1-7)

Maratonlopers vertel dat daar partymaal tye in die wedloop kom dat dit vir jou voel of alles soos ʼn waas by jou verbysweef. Jou bene gaan maar net outomaties vorentoe en dinge gaan by jou verby sonder dat jy dit mooi registreer.

Ons godsdiens kan ook soos ʼn maraton word: Ons geestelike bene gaan outomaties vorentoe, terwyl die werklike genot om die Here te dien soos ʼn waas by ons verbygaan. Ons doen dit, maar dit beteken nie veel nie, nie vir ons nie en ook nie vir die Here nie. Die gemeente in Efese was nogal so. Hulle het swaar gekry, maar het tog op ‘n manier aangegaan. Hulle het egter so “sonder siel” aangegaan dat dit later vir hulle maar min beteken het. Hulle het maar net “aangegaan” en so begin vergeet om die Here lief te hê (2:3-4).

Godsdiens – in die sin van dinge by die kerk aan die gang hou net ter wille van die dinge – mag ons nooit met regte diens aan God verwar nie. Die hooffokus behoort aan Jesus en moet dit altyd bly. Sonder liefde vir Hom raak ons godsdiens sonder hart en siel. Dit word leë bewegings. Om Hom en sy nabyheid daagliks op jou lewensmaraton te ervaar,  maak jou geestelike maraton ʼn avontuur. Dit sit die “siel” in die godsdiens.

Moenie so met jou godsdiens besig wees dat Jesus soos ʼn waas by jou verbygaan nie.




17 Desember: As die Here praat, wat sê Hy?. – Jan van der Watt

Open 1:1-19 (fokus 1:4-8)

God praat net twee maal self in Openbaring – aan die begin (1:8) en aan die einde (21:6-8). Wat sê Hy? Kom ons luister:

  • Hy sê dat alles by Hom begin en eindig. Die verlede hou Hy in sy hande en skryf die toekoms met sy vinger. Anders as ander gode het Hy nie ontstaan of is nie deur iemand gemaak nie – nee, Hý is die Een wat alles gemaak het. Voor alles was Hy daar.
  • Hy is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet. Niks kan buite Hom om gebeur nie. Waar alles begin is Hy en waar alles eindig is Hy ook. Hy hou alles in sy hand. As jy dus wonder of Hy in beheer is, Hy ís!
  • Hy is die Here, God. Hy is dieselfde Here wat in die Ou Testament by sy volk was; die Een wat by die Braambos vir Moses beloof het dat Hy by sy volk sal bly. En vandag nog is Hy by sy mense.
  • Hy is die Een wat alle mag en krag het. Die duiwel en mense het ook krag, maar God het álle krag. Dit wat mensehande nie meer kan vat nie en die duiwel nie durf waag om sy hand na toe uit te steek nie, rus in God se hande.

Dit is wie God is. Is Hy dit vir jou?




16 Desember: Hou koers… met God se padkaart langs . – Jan van der Watt

Judas 1:12-25 (fokus 1:17-23)

 As God voor moes stap om sy mense die pad na ‘n suksesvolle gemeente te wys, waarlangs sou hy loop? Jud 1:20-22 vertel vir ons:

  • Die gemeente moet op God fokus. As jy nie agter Hom aanloop nie, verloor jy jou pad. Ja, sonder God is daar nie ʼn gemeente nie. Daarom moet alles wat Christene doen daarop gemik wees om hulle verhouding met God sterker en sterker te maak. Besluite in ʼn gemeente moet altyd deur God onderteken kan word.
  • ʼn Suksesvolle gemeente is ʼn Gees-gemeente. God is by sy mense deur sy Gees. Jy hoor sy roete-aanwysings deur na sy Gees te luister en dit vra gelowige toewyding en gehoorsaamheid.
  • As ons nie vir mekaar omgee en aan mekaar vashou nie, gaan ons ook nie enduit kan saamstap nie. Liefde is die sement wat alles wat in die gemeente gebeur bymekaar hou. Paulus was reg toe hy gesê het dat sonder liefde ons niks is nie. Liefde hou ons bymekaar, laat ons vergewe en vergeet, maak ons harte en hande vir mekaar oop. Daarsonder stap ‘n gemeente nie saam nie, maar loop elkeen in sy eie rigting.
  • ʼn Gemeente is altyd oppad… Daarom mag ʼn gemeente nooit so optree asof hierdie wêreld sy finale bestemming is nie. ‘n Gemeente moet nooit agter raak nie. As die Here stap moet hulle saamstap. Anders bly hulle dalk sonder die Here agter

Hou koers… met God se padkaart langs.