20 Julie: Pas jou liggaam mooi op. – Jan van der Watt

1 Kor 6:12-7:9 (fokus 6:12-20)

‘n Mens kan nie sommer met jou liggaam doen wat jy wil nie. Dit is net so belangrik vir die Here as wat jou gees is. Hy het altwee gemaak en altwee behoort aan Hom.

Paulus moes destyds hierdie boodskap net weer onderstreep, want onder die ryker vry mense was daar die idee dat jy letterlik enigiets kon doen (6:12), veral by drinkpartytjies. Dit is hoe hulle vryheid verstaan het, om eenvoudig te kan doen wat jy wil. Selfs hulle groot filosoof, Aristoteles, het vryheid so gedefinieer. By die groot drinkpartytjies was daar natuurlik vroue ook en dan was daar geen keer nie. Teen die agtergrond skryf Paulus 6:12-20.

Christene se vryheid word altyd beperk, omdat hulle nooit alleen is nie. God se Gees is in hulle (6:19). Saam met Hom is hulle vry om te doen wat hulle wil, mits die Gees gemaklik daarmee voel. Dit geld ook vir hulle liggame. Hulle moenie dinge met hulle liggame doen waarvan die Gees nie hou nie. Immers, destyds het die mense alles wat hulle kon gedoen om hulle tempel mooi te hou. Hulle sou hulle laaste sente daarvoor gee. Ons liggame is nou die blyplek of tempel van die Gees. Net so moet ons alles in ons vermoë doen om ons liggame so gesond en fiks te hou sodat dit ‘n goeie blyplek vir die Gees kan wees.

Jou liggaam behoort ook aan die Here (6:20). Pas dit mooi op.




19 Julie: Wie die minste is, sal die meeste wees. – Jan van der Watt

1 Kor 5:9-6:11 (fokus 6:1-11)

Dit is soms verstommend hoeveel Christene kom glad nie met mekaar oor die weg nie. Hulle sit in dieselfde kerkbanke en sing vroom die lof van die Here maar wil na die diens mekaar nie eers groet nie. Wat verstaan sulke mense nie van die evangelie nie? Die evangelie sê tog dat Christene vir mekaar moet omgee, meer nog, mekaar moet liefhê.

Wat sulke mense waarskynlik nie verstaan nie is dat in God se familie jy nooit die belangrikste is nie. Die voorreg word vir ander gereserveer. Om die waarheid te sê, jy moet altyd terugstaan om plek te maak vir ander. So ‘n houding tel baie by God. Ja, die segging van Jesus maak dit glashelder: Wie die minste is, sal in die oë van God die meeste wees.

Waarom bly ‘n mens vir iemand kwaad? Omdat jy nie wil terugstaan nie. Jou ego is gekwets en nou moet die ander een betaal. Hier wil die Here juis hê jy moet maar verby jou gewonde ego kyk en die ander persoon as jou broer raaksien en waardeer. Waarom wil jy nie die ander persoon groet nie of beledig jy hom met ‘n skewe kyk? Omdat jy nie wil terugstaan en die minste wil wees nie. Dit is vir jou belangriker om te wys wie jy is as om ander God in jou lewe te laat raaksien.

Wat verstaan ons nie as ons met allerhande negatiewe gevoelens teenoor ander Christene rondloop? Ons verstaan nie dat in God se familie die een wat die minste is, die meeste sal wees nie.




18 Julie: Snuffel die sonde uit. – Jan van der Watt

1 Kor 5:1-8 (fokus 5:6-8)

 Baie van ons is spesialis “sondebelyers”. Ons doen dit in die kerk (sommer so met die lied wat ons na die wetsbediening sing), in ons gebede voor ons gaan slaap en selfs partymaal voor ons eet. Here, vergeef ons ons oortredinge en sonde…

Nou ja, sondebelydenis sonder om met mening van daai sonde in jou lewe ontslae te raak is soos om water in ‘n stukkende emmer te tap sonder om die gat in die emmer reg te maak. Dit help regtig nie veel nie.

Sonde is soos kanker. As jy dit nie heeltemal uitsny nie, groei dit weer en soms erger as tevore. Die probleem is mos dat ons daaraan gewoond raak. Die eerste maal dat ek vloek voel ek baie ongemaklik, maar die tweede maal gaan dit makliker, dit weet ons almal. Dan voel ek nie meer so sleg nie en is ook nie so vasberade om van die vloek ontslae te raak nie. Juis daarom wil die Here hê ons moet die sonde sommer vinnig uitsnuffel en dadelik daarvan ontslae raak, heeltemal ontslae raak, in alle geval voordat jy daaraan gewoond begin raak. As jy daai eerste maal vloek en jy vra die Here om verskoning, moet dit sommer ook die laaste maal wees. Daar moet nie eers ‘n ou klein stukkie, ja, ‘n effense gedagtetjie om weer te vloek agterbly nie. Dit is die enigste manier. So moet dit ook met oneerlikheid, geskinder, woede en wat nog alles in jou lewe gaan. Dit moet vinnig en effektief uitgesnuffel en van ontslae geraak word.

As jy sonde bely, doen dit ordentlik; moenie soos ‘n emmer met ‘n gat in wees nie. Snuffel daai sonde uit en raak heeltemal daarvan ontslae.




17 Julie: Ken jou eie beperkinge. – Jan van der Watt

1 Kor 4:8-21 (fokus 4:8-21)

 Die verskil tussen ‘n verstandige mens en ‘n windbol is dat ‘n verstandige mens sy beperkinge en grense ken. Een van die grootste flaters wat ‘n mens in die Bybelse tyd kon maak was juis om nie jou eie grense en beperkinge te ken nie, met ander woorde, om te dink jy is belangriker as wat jy eintlik is. Vandag voel ons nie meer so sterk daaroor nie, en skryf dit dikwels sommer as ydelheid af.

Miskien het die mense destyds iets meer van menswees verstaan as ons. Windmakerigheid oorskrei grense op so manier dat dit op ander se tone trap. Windmakers moet ander altyd minderwaardig probeer maak sodat hulle hulleself so vol wind kan probeer pomp. Ander moet altyd verstaan hoe belangrik hulle is, hoeveel beter hulle is, hoeveel sterker hulle is… en dit is altyd ten koste van die ander.

So gaan ‘n mens nie met ander mense om nie. Jy probeer nie hulle waardigheid of menswees deur jou windmakerigheid vertrap of seermaak nie. As jy dit doen, wys dit juis jou eie minderwaardige gebrek aan selfkennis. Vir die Here is dit belangrik dat jy as sy kind jou grense en beperkinge ken. Jy hoef nie minder te wees as wat jy is nie, maar jy moet ook nie maak of jy meer is nie. Wees net jouself. Dit is wat ‘n verstandige mens doen.