15 Desember: Moenie dink God moet agter jou aanstap nie. – Jan van der Watt

Judas 1:1-11 (1:5-9)

Mense is vandag al hoe meer geneig om vir God voor te skryf hoe Hy moet wees, anders wil hulle Hom nie meer dien nie! God moet alleen die liefdevolle, genadige God wees wat ons in sy sagte hande toevou. Ja, Hy moet die Een wees wat nooit kwaad word as ons foute maak of verkeerd lewe nie. Ons hoef nie altyd te doen wat Hy sê nie, maar as ons Hom nodig het, moet Hy dáár wees.

Natuurlik is God die God van onbeperkte liefde en genade. Natuurlik vat Hy ons soos ons is. Maar dit is nie al nie.

God het ook ʼn ander sy – ʼn sy van oordeel en straf (Jud 1:5-7). God kan ook hartseer en teleurgesteld raak. God straf nie omdat dit vir Hom lekker is nie. Maar die lewende God stap nie soos ʼn hondjie aan ʼn leibandjie agter ons aan nie. Dit is nie Hy wat ons moet volg nie, maar ons wat Hom moet volg. Hy moet nie agter ons aanstap nie, maar ons moet agter Hom aanstap. As ons nie wil nie, stap Hy alleen verder. Dan bly ons alleen agter, sonder God. En dit is wat die Bybel straf noem. Om sonder God te wees.

Moet nooit van God Iemand maak wat agter jou moet aanstap nie. Miskien kom jy dan te laat agter: jy stap alleen!




14 Desember: Sendingwerk is spanwerk. – Jan van der Watt

3 Joh 1-15 (1-15)

Daar is die verhaal van ʼn ateïs wat met die engel Gabriël gesels het. (Gabriël is mos God se boodskapper). Hy vra toe watter plan God gemaak het om sy goeie nuus oor die wêreld te versprei? Hoeveel engele het Hy vir die doel opsy gesit?

“Nie een nie”, het Gabriël geantwoord. “God het besluit om mense te gebruik. Hulle moet die goeie nuus versprei”. Die ateïs was verbaas: “Dit kan tog nie wees nie. Ons weet tog hoe mense is. Hulle gee so gou moed op, is ongehoorsaam en hou maar van hulle eie gerief. As God seker wil maak dat sy boodskap versprei moet Hy seker tog ʼn plan B ook hê.”

“Nee, God het net een plan” het Gabriël gesê, “Hy gebruik mense”.

God het net vir jou en my om sy goeie boodskap die wêreld in te dra. Hy het nie ʼn plan B nie, want Hy vertrou ons. As ons faal, faal God se plan. As ons nie iewers is met God se goeie nuus nie, is God se goeie nuus eenvoudig nie daar nie. Daarom is Johannes so ontsteld in 3 Johannes as Diotrefes nie met die sendingpoging wil help nie. Deur dit te doen kom staan hy vierkantig in die pad van God se plan.

Sendingwerk is spanwerk – en elke Christen is deel van daardie span.




13 Desember: Oppas vir mense wat net wil stry. – Jan van der Watt

2 Joh 1-13 (7-13)

 Die deur by betrokke ʼn huis was stukkend en die mense kon die slot net met ʼn mes oopkry. Toe die dominee aanklop, skreeu die vrou: “Dis die dominee. Bring die mes”. Onnodig om te sê, toe hulle die deur oopkry, was die dominee weg.

Johannes sê daar is gevalle waar jy nie eers die moeite moet doen om die mes te gaan haal nie – nee, jy moenie eers die deur oopmaak nie (2 Joh 11). Dit is wanneer mense met jou wil kom stry oor die waarheid van die evangelie. Vir sulke mense moet jou deur toe bly.

Daar is baie dinge in die evangelie wat ons nie verstaan nie, omdat dit God se evangelie is. En God is nie ‘n mens nie. Hoe kan ons ooit verstaan dat Iemand vir ons moes sterf of sy bloed vir ons moes gee? Hoe sal ons ooit kan verklaar wat daar by die opstanding gebeur het? Hoe sal ons vir mense kan vertel hoe groot God se genade is?  Dit dinge wat baie groter is as mense… en tog wil mense daaroor stry. Hulle wil menslike bewyse vir goddelike dinge hê – dit kan tog nie.

As iemand by jou aanklop om oor God te stry, ja, te probeer om God se grootheid in die klein kassie van die menslike brein in te druk, moenie die deur oopmaak nie. Dit is nie die moeite werd nie.




12 Desember: Bid beteken om te luister. – Jan van der Watt

1 Joh 5:1-21 (fokus 5:14-21)

Soms dink ons gebed is om baie te praat. Dit is eintlik anders om. Werklike gebed begin by luister.

  • Gebed beteken om eers na jouself te luister – om eerlik te kyk wat diep binne jou aangaan; eers moet jy die agenda van jou hart opstel. Daar diep binne in jou sal jy jou vrese ontdek wat jy met God wil bespreek. Daar sal jy nie by die verkeerde dinge wat jy probeer wegsteek kan verbygaan nie. Dit sal op jou lysie moet kom. Ook daaroor sal jy met God moet praat. So moet jy luister, intens na jou eie hart luister… en as jy gereed is, kan jy begin praat.
  • Gebed beteken ook om na God te luister. Daarom staan daar dat ons volgens sy wil moet vra (5:15). Ons moet op God se skoot klim en eers na die ritme van sy hartklop luister sodat ons kan toets of ons hartklop in pas is daarmee. Ons moet kyk na die pad wat God wil hê ons moet loop en of ons voetstappe op daardie pad val. As ons mooi geluister het, kan ons begin praat.

As jy kan begin luister as jy bid, sal jy agterkom dat gebed meer aan jou doen as aan God. Jy is die een wat nie alleen in ritme kom met jou eie hartklop nie, maar ook met die hartklop van God. Op daardie ritme kan gebed dans.