18 Mei: Kies jy gif of liefde?. – Jan van der Watt

Hand 2:14-47 (fokus 2:41-47)

 ʼn Man het by die dominee gaan kla dat hy vermoed sy vrou wil hom vergiftig. Die dominee bel toe die man se vrou dadelik. Vir ‘n paar oomblikke luister hy na die vrou wat aan die ander kant lostrek en toe hy verskrik die telefoon neersit, sê hy vir die man: “Drink liewer daai gif”.

Sonder dat ons dit dikwels agterkom maak ons dit baie moeilik vir mense rondom ons. Ons is so in ons eie sake en belange verweef dat ons min tyd vir ander oor het en nog minder vir hulle omgee. Daarom word hulle dikwels maar deur ons skerp kante lelik gesny. Hulle voel dalk ook of hulle liewer “gif wil drink” as om verder met ons opgeskeep te sit. En dan wonder ons baie keer waarom ons so alleen voel.

In die familie van God is daar geen gif nie. Daar word nie gif uitgedeel nie en daar is nie mense wat liewer gif wil drink nie. Dit is hoe God dit beplan het (2:44-45). En die rede is eenvoudig: God se mense moet vir mekaar omgee. As die een se las te swaar word, moet die ander een dit dra. Dit maak dat jy van jouself af wegkyk en ander begin raaksien… nie om vir hulle “gif” te gee nie, maar God se liefde. En waar liefde is wil mense ook graag wees.

Watter raad gaan die dominee vir die mense gee wat saam met jou leef?




17 Mei: Moenie net die helfte van die waarheid raaksien nie. – Jan van der Watt

Hand 1:1-2:13 (fokus 2:5-13)

Wonders sien ʼn mens nie met die blote oog raak nie, maar met die geloofsoog van die hart. Dit is soos die ou wat hulle na ʼn ernstige ongeluk na die ambulans toe wou dra. Die hele tyd wou hy in sy half bedwelmde toestand van die draagbaar afklim en weghardloop. Toe hulle hom later vra wat gebeur het, het hy gesê dat die ongeluk langs ʼn vulstasie was. Al wat hy gesien het was “hell”, want iemand het voor die “S” van die Shell bord gestaan.

Ons sien ook partymaal net die helfte van die werklikheid raak, soos daardie ongelowiges op Pinksterdag – hier was een van die grootste wonders in geskiedenis besig om voor hulle af te speel en hulle dink dit is maar net mense wat dronk is (2:13). Dis hoe ons is. Ons sal vir elke wonder in die lewe ʼn ander verklaring kry, net om nie te erken dat dit n wonder was nie: “Dis toevallig”, “Ek was gelukkig”, of “Ek weet nie mooi wat gebeur het nie, maar…”. Ons weier om die “S” raak te sien en daarom eindig ons waar ons nie wil wees nie… mense wat nooit God se wonders of God self in hulle lewens kan raaksien nie.

Kyk ʼn slag met jou hart na dinge wat rondom jou gebeur. Soek die “S”, oftewel God se teenwoordigheid in jou lewe. Verwag dat Hy jou op wonderlike maniere sal help en verras… en jy sal die wonders in jou lewe begin raaksien.




16 Mei: God meet jou hart nie jou kop nie. – Jan van der Watt

Joh 20:24-21:25 (fokus 20:24-29)

 As God ʼn mens meet, meet Hy die afstand om jou hart en nie om jou kop nie.

Tomas wou nie glo nie, want sy kop het vir hom gesê dat Jesus nie kon opstaan uit die dood nie. Toe die lewende Here Jesus egter aan hom verskyn en het alles verander. Toe het sy hart begin praat. Oorweldig het hy gesê: “My Here en my God” (20:28).

Ons koppe kan partymaal so swaar weeg dat dit ons hart dooddruk. Ons wil so graag soveel slimmer wees as wat ons regtig is. Ons wil God uitpluis en uitredeneer, want ons dink ons kan.

Niemand het dit nog ooit reggekry nie, want jy sal God nooit kan “uitpluis” nie. Hy is immers God en ons is maar net mense. Daarom sal ons ook nooit die opstanding van Jesus met ons koppe kan uitredeneer nie. Dit is iets wat ons met ons harte moet omhels… mits ons swaar koppe die hart net ʼn kans wil gee.

God is nie bereikbaar net met die verstand nie. Ons het die hart ook nodig. Dit is as ons hart vol word van geloof in God dat God begin glimlag oor wat sy “maatband” vir Hom vertel.




15 Mei: Reis met Jesus se padkaart. – Jan van der Watt

Joh 19-31-20:23 (fokus 20:1-23)

 Toe jy die dag ʼn Christen geword het, het jy ʼn lewenslange reis saam met Jesus begin. Die geheim van ‘n suksesvolle reis is dat Jesus die padkaart vashou en nie jy nie. Hy moet die rigting bepaal en die stilhouplekkies kies. Immers, ons is oppad na die bestemming wat Hy vir ons in gedagte het. As ons ons eie pad loop, gaan ons waarskynlik nie die bestemming haal nie.

In 20:21-23 kan jy so bietjie loer na Jesus se beplanning vir jou reis. Deel van die reis is om geskenke af te lewer, ja, om vir ander uit te deel wat Jesus vir jou kom gee het. Die Vader het immers vir Jesus gestuur om vir mense die gawe van die ewige lewe te gee. Net so stuur Jesus jou nou om dieselfde te gaan doen (20:21). Op jou reis moet jou stilhouplekke geleenthede wees om af te laai… ja, die boodskap van Jesus af te laai. As jy van die stilhouplek af vertrek moet die geur van Jesus se verlossingsboodskap in die lug bly hang. Dit is hoe Jesus jou reis vir jou beplan het.

Jesus laat jou elke dag by baie plekke stilhou. Wat bly agter?