11 Desember: Moenie alles glo wat mense sê van die Here af kom nie. – Jan van der Watt

1 Joh 4:1-21 (fokus 4:1-6)

Een van die gevaarlikste dinge is Christene wat dink hulle het alleenreg op die Heilige Gees – die Gees praat net met hulle en ander moet luister!

Natuurlik praat die Here deur sy Gees met ons. Ons mag dit nooit ontken nie en daarvoor moet ons baie dankbaar wees. MAAR, daar is mense wat die Gees misbruik om ander te manipuleer. Hulle kry gedurig “boodskappe” van die Gees en dan moet ander volgens hulle pype dans. Hulle sal jou vinnig vertel dat die gees vir hulle sus of so oor jou gesê het. Arme jy kan dan nie stry nie, want wie kan dan teen die Gees stry?

Dikwels grens die “boodskappe” aan totale liefdeloosheid. ʼn Vrou het een nag drie-uur haar vriendin se man gebel wat gesukkel het om sy huwelik weer op dreef te kry. Sy het hom van ‘n kant af uitgevreet oor hy so sleg is – dit was glo ʼn boodskap van die Gees af. Intussen was dit net haar simpatie met haar vriendin. Onnodig om te sê dat dit die laaste strooi was. Die huwelik was daarmee heen. Sou die Gees so liefdeloos optree? Nee, vir sulke geeste moet ons versigtig wees. Dit is geeste van mense wat hulle gesag op ander wil afdruk – en dit nogal onder die Gees se naam.

As die boodskap “van die Gees” nie van die liefde van Jesus straal nie, moet ons maar ons dowe oor draai (4:1-2). Buitendien, die Here skinder nie. Hy sal nie vir iemand anders ‘n boodskap oor my stuur sonder om dit in my eie lewe ook te bevestig nie. Dus, as iemand anders “skinderstories namens God” by jou aandra, vra eers vir die Here om vir jou ook te bevestig voor jy dit glo.




10 Desember: Dra jou kruis met oorgawe. – Jan van der Watt

1 Joh 3:11-24 (fokus 3:11-18)

Die pad van die kruis is nie maklik om te stap nie en tog is dit wat die Here van ons vra (3:16). Jesus het die voorbeeld vir ons gestel: toe dit nodig was, het Hy sy lewe in liefde vir ons gegee. Van gelowiges word niks minder verwag nie.

Die Here vra dat ons ons kruis soos Hy sal dra. Vir die persoon wat die kruis halfhartig dra sal dit te swaar word. Nee, kruisdra beteken oorgawe – dit beteken om onder die kruis in te sak en dit met alles wat jy het te dra.

Dan mag die gewig daarvan jou dalk na die arme toe druk (3:17); of na die een wat hulp nodig het. Dit mag op jou beursie of jou koskas druk sodat wat daarin is na mense toe vloei wat dit nodiger het as jy. Die kruis mag swaar druk…

Maar terwyl jy jou kruis so voluit dra, mag jy dalk agterkom dat die kruis jou dra… of liewer, dat die Here van die kruis jou dra. Jy mag agterkom dat wat jy vir die arme gee, dubbel na jou toe terugkom; of dat jou beursie en koskas maar net vol bly, al deel jy wat daarin is met ander.

Volg Jesus se voorbeeld – dra jou kruis met oorgawe.




9 Desember: Bly positief. – Jan van der Watt

1 Joh 2:18-3:10 (fokus 3:4-10)

Jy is wat jy dink. Wat in jou gedagtes aangaan omsluit en bepaal jou lewe… en die Here wil graag jou lewe omsluit en bepaal. Daarom wil Hy hê jy moet aan dinge dink wat Hom gelukkig maak (3:9).

Die lewe werk nou maar eenmaal so. As jy die hele tyd dink aan alles wat jy verkeerd kan doen, gaan jy juis foute maak. Jou kop gaan gedurig daarmee besig wees. Maar die teenoorgestelde is ook waar. As jy positief bly dink sal dit jou manier van doen ook word. As jy jou lewe beplan, moet jy konsentreer op wat die beste is om te doen. Jy moet fokus op wat jy reg gaan doen en nie op die foute wat jy miskien kan maak nie. En jy sal gou agterkom – die vrugte van positiewe denke is lekker om te pluk.

Ons moenie ons gedurig bekommer oor wat in ons geestelike lewens verkeerd kan gaan nie; dan vergeet ons dalk om aan die Here te dink. Ons moet positief bly. Ons moet bly fokus op wat die Here gelukkig sal maak en dit doen. Johannes gaan eintlik so ver om te sê dat Christene eintlik nooit sonde behoort te doen nie (3:9). Daarmee bedoel hy nie Christene is perfek nie. Wat hy sê is dat as ons so op die Here moet bly fokus en aan Hom moet bly dink, dat daar nie plek vir verkeerde gedagtes is nie. En as ons nie aan verkeerde dinge dink nie, sal ons dit ook nie doen nie.

Die Here self moet ons gedagtes en lewens omring. Plek vir sonde is daar dan nie




8 Desember: Moenie vergeet wat regtig belangrik is nie. – Jan van der Watt

1 Joh 2:3-17 (fokus 2:15-17)

Ek het twee broers geken wat vreeslik kompeterend was. Dit was ʼn ding om hulle te sien speletjies speel. Dit was asof hulle hele bestaan daarvan afgehang het – onnodig om te sê: dit het dikwels op ʼn bakleiery uitgeloop en dan was die atmosfeer in die huis so dik dat jy dit met ‘n mes kon sny. Ma wou net die hele tyd vrede maak en het oor en oor verduidelik dat dit maar net ‘n speletjie is – hulle moenie toelaat dat so ʼn onbelangrike ding hulle lewens so deurmekaar krap nie. Hulle moet besef wat belangrik is en wat nie.

So klink Johannes ook hier (2:15-17). Hy het goed geweet ons verloor maar partymaal perspektief in die lewe en dit krap ons prioriteite deurmekaar. Dit gaan soos die twee broers met die speletjie hierbo. Baie van die dinge waaroor ons so ernstig voel, is tydelik, gaan verby en is nie so belangrik nie. Tog lewe ons asof dit al is wat ons het. Ons groei daaraan vas en gee al ons tyd en energie daarvoor. Maar dit sal verbygaan en dan het ons niks nie, waarsku Johannes.

Ons moet mooi nadink oor wat die belangrikste is, ja, wat die moeite werd is om jou tyd aan te spandeer en jou lewe aan te wy. Jy moet jou opsies mooi weeg en jou prioriteite goed bepaal. Hierdie ou wêreld is net tydelik en gaan verby. Dit is soos om water met jou hand te skep – dit loop weer deur jou vingers. Maar die toekoms wat God jou saam met hom aanbied, is anders. Dit is ewig. Ons moet liewer op die lewe saam met Hom wat ewig gaan duur fokus. Aan Hom moet ons ons liefde gee, want van Hom hang ons bestaan af.

Moenie in hierdie lewe so “speel” dat jy vergeet wat regtig belangrik is nie.