10 Mei: So naby…. – Jan van der Watt

Joh 15:1-27 (fokus 15:1-8)

Ons gebruik baie uitdrukkings en woorde om oor ons geestelike verhouding met Jesus te praat. Ons sê Hy sit op die troon van ons hart, of ons volg Hom, of ons gee ons hele lewe vir hom… en so kan ons aangaan.

Dit is nogal interessant om te luister wat Jesus sê as Hy daaroor praat. “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan ʼn druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby julle bly – soos ʼn druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies” (4). Wat kan nader aan ʼn druiwestok wees as ʼn takkie. Om die waarheid te sê, sonder die druiwestok is die takkie dood. Alleen as die takkie sy lewensap dag vir dag uit die druiwestok kry, kan die takkie bly leef en vrugte dra. Die druiwestok is die takkie se bestaan; hulle is onafskeidbaar.

Dit is hoe Jesus oor sy verhouding met jou praat. Jy moet geestelik so aan Hom vasgegroei wees dat Hy elke deeltjie van jou bestaan met sy lewenskrag deurspoel word. Elke gedagte van jou hart, elke beweging van jou hande moet uit Hom kom.

Niks mag tussen jou en Jesus kom staan nie, anders gaan die vrug maar min wees.




9 Mei: ‘n Gebed soos ‘n simfonieorkes. – Jan van der Watt

Joh 14:1-31 (fokus 14:1-12)

 ʼn Grassnyer en ʼn simfonieorkes maak altwee geluide, maar hulle klink nie dieselfde nie. ʼn Mens kan die verskil duidelik hoor, dis verseker. Op die maat en melodie van die simfonieorkes kan jy wals, dans en sing. Die grassnyer lawaai net.

Gebed kan soos ʼn grassnyer wees. Ons kan bid, maar dit kan net ʼn hinderlike lawaai wees. Ons gebed kan egter ook die simfonieorkes wees wat ons geestelike lewe laat wals en draai en sing. Waar lê die verskil? In ons gehoorsame afhanklikheid van Jesus (14:13-14). Eers moet ‘n mens die regte “note” van God se wil soek. Voor jy bid moet jy eers luister. Dan eers kan jy reg vra. Om in die naam van Jesus te bid beteken eintlik om te bid soos Hy sou gebid het. Daarom moet jy eers sy wil soek. So sal jou lewe en gebed op die ritme van Jesus se wil begin dans en sing. Jou woorde sal sy woorde word, jou hande sy hande, jou liefde sy liefde (14:12,21).

ʼn Grassnyer-gebed is ʼn gebed waarin jy van God “vergeet” en net aan jouself dink. Kies liewer die simfonieorkes-gebed.




8 Mei: God sien jou by die voete van ander die duidelikste raak. – Jan van der Watt

Joh 13:1-38 (fokus 13:1-20)

Wat tel regtig in God se boeke? Hoe styg jy op God se gewildheidsleer? Om dit te kan beantwoord, moet ‘n mens eers agterkom waarin God belangstel of wat Hy eerste raaksien. Wel, God se oë sit by die voete van ander. Hoe laer ons in diens by ander se voete buk om dit te was, hoe helderder sien God ons raak. Ja, die mense na wie die Here die graagste na kyk is hulle wat die gretigste is om ander te DIEN.

Om jouself belangrik te hou beïndruk niemand in God se koninkryk nie. Om te dien kry die tonge in die hemel los. Om die belangrikste te probeer wees staan nie op God se lys van “wat jy vandag moet doen nie”. Wat wel daar staan is dat Christen-wees jou weer en weer by die voete van ander gaan uitbring; ja, jy sal moet kniel en voete was. As God vra vir ʼn “kruk” vir ʼn sukkelaar moet jy jou skouer aanbied. As God jou dalk vra om te gaan waar jy eintlik nie wou wees nie, omdat daar mense is wat hulp nodig het, moet jy die “bak met water om hulle voete te was” nie wegstoot nie.

Om te dien beteken om te kniel om voete te was, ja, om die minste te wees en om te doen wat dit van jou vra… Daar, laag by ander se voete, sal jy God sien en jy kan maar weet, Hy sal jou ook sien.




7 Mei: Geloofsekerheid… het jy dit?. – Jan van der Watt

Joh 12:20-50 (fokus 12:44-50)

Jesus het aarde toe gekom met baie goeie nuus (12:44-45). Hy het vir ons iets gebring wat ons nooit op ons eie sou kon kry nie: om God se kinders en so ewig deel van sy familie te wees (12:49-50). Daaraan hoef ons nooit te twyfel nie.

Jesus het vir ons daardie sekerheid gebring om te weet, eenmaal ʼn kind van God, altyd ʼn kind van God. Dit kan niemand van ons af wegneem nie. Ons hoef nie te wag vir “eendag ver in die toekoms” om uit te vind of daar vir ons plek in God se hemel vir ons is nie.  Die antwoord weet ons nou al: As jy in Jesus glo het jy die ewige lewe. Ons weet dit net so seker as wat die mense wat hulle rug op Jesus gedraai het nou al weet wat met hulle gaan gebeur (12:47-48). Sonder Jesus is daar vir hulle geen hoop nie.

Christene kan altyd lekker gaan slaap, want hulle maak hulle oë toe as God se kinders. Hulle is veilig in sy hand en niemand kan hulle daaruit ruk nie. Ja-nee, hulle kindskap van God kan niemand van hulle af wegvat nie, daarvan kan hulle seker wees. ‘n Ander naam daarvoor is geloofsekerheid. Het jy dit?