12 April: Staan jou naam in die Here se “Who is Who”?. – Jan van der Watt

Luk 20:27-21:4 (fokus 21:1-4)

Daar is ʼn boek met die naam: “Who’s Who in the world”. Die boek het beskrywings in van mense wat die moeite werd is om van te weet – die mense wat in die lewe sukses agter hulle name kan skryf.

God het ook ʼn “Who is Who?” van mense wat dit in sy oë gemaak het. Ons lees van so inskrywing in 21:1-4… en verrassend is dit nie een of ander miljoenêr of groot politikus van Jerusalem nie. Dit is ʼn eenvoudige, arm vroutjie wat ongemerk by die tempel se kollektebord verbygestap en net ʼn paar sent daar ingegooi het.

Die Here sien juis vir haar tussen die massa malende mense by die tempel raak en haar naam word in sy “Who is Who?” aangeteken.  Wat het sy gedoen om dit reg te kry? Sy het vir die Here – sonder pretensie – alles gegee wat sy gehad het. Haar lewe was totaal in sy hande.

Die Here kies ons nie vir ons status of rykdom of sukses nie. Dit is buitendien dinge wat Hy vir ons gegee het. Hy kies ons vir wat ons vir Hom kan gee – ons alles. Vir sulkes is daar plek in God se “Who is Who?”

Staan jou naam daarin?




11 April: Jy is vir die Here baie werd in sirkulasie. – Jan van der Watt

Luk 20:9-26 (fokus 20:9-19)

 

In die ou tyd kon geldstukke “praat”. ʼn Beeld van die kop van die regeerder was op die geld afgedruk, net om te wys wie’s baas. Vir hom moes jy luister anders kon jy dalk jou kop verloor het.

 

Jesus vergelyk mense met muntstukke (20:24-25). Jou lewe kan ook soos ʼn muntstuk van destyds “praat”. As mense na jou kyk, hoe jy praat en optree, kan hulle sien wie se “beeld” op jou lewe afgedruk is. In jou woorde kan hulle die woorde van die Here hoor en in jou dade Hom sien… of miskien nie.

 

Maar dit is nie al nie. Muntstukke is daar om deur meer as een hanteer te word. Dit is eintlik ook die sterkpunt van gelowiges se lewe – hulle lewe tussen ander. Niemand kan die beeld wat uit jou lewe straal afvee of ignoreer nie, net so min as wat iemand met ʼn vingerveeg die beeld op ʼn muntstuk kan afvee. Dit is daar om te bly. Waar jy as gelowige gaan, “praat jy” en niemand kan jou stilmaak nie – die beeld wat jy projekteer is en bly daar vir almal om te sien.

 

Soos met ʼn muntstuk, is jy vir die Here die meeste werd “in sirkulasie”.




10 April: Klippe weet partymaal meer as mense. – Jan van der Watt

Luk 19:28-20:8 (fokus 19:28-44)

Ons glo partymaal so maklik, veral as dit by skinder kom. Ander kere is ons weer so hardkoppig en ongelowig, veral as dit by die dinge van die Here kom.

Voor die oë van die Fariseërs het die Here wonders gedoen en gepreek. Hulle oë en ore was egter toe soos ʼn klei-os se sweetgaatjies. Meer nog, hulle wou mense wat die waarheid  raakgesien het, ook nog stilmaak (19:39).  Toe sê Jesus ʼn interessante ding: die klippe sal sommer self op die kansels begin klim as die mense so aangaan (19:40). Baie keer begryp mense nie eers wat vir ‘n klip glashelder is nie.

Nou wonder ek… wat meer moes die Here gedoen het om die Fariseërs te oortuig? Nee, kom ons vergeet die Fariseërs. Wat meer moes die Here doen om jou te oortuig dat Hy jou liefhet en jou Here wil wees? Moes Hy twee maal uit die dood opgestaan het? Moes Hy nog n paar meer wonders gedoen het?

Die Here sê dat Hy selfs klippe predikante kon maak as Hy wou, so duidelik is sy boodskap. Maar dit is onnodig. Wat Hy gedoen het, is genoeg. Die kruis en opstanding praat hard genoeg. As jy dit nie wil glo nie, sal jy niks glo nie.

Die een goeie ding wat ons van skinder kan leer is dat mense dit so maklik glo. Miskien het ons daai les nodig as dit by die Here se dinge ook kom.




9 April: Neem risikos vir die Here. – Jan van der Watt

Luk 19:1-27 (fokus 19:11-27)

Min van ons gee onsself die kans om die lesse van die lewe behoorlik te leer, want ons is te bang vir risiko’s en teleurstelling. Daarom sê ons so gou ons kan nie.

In die gelykenis van die man wat sy geld vir sy werkers gelos het om te bestuur terwyl hy weg was, lees ons van een bang een, die een wat die “veilige pad” sonder risiko gekies het (19:20-21). Sy leuse was: speel veilig en doen net wat verwag word; niks meer en niks minder nie. Hoe teleurgesteld was sy baas net nie daaroor nie (19:22-24).

Die Here se pad vir sy kinders is so anders – dit is ʼn pad van avontuur en risiko’s. Dis ʼn pad waarop ons soms beledig gaan word omdat ons dit wat die Here vir ons gegee het, nie wegsteek nie.

Hoe lyk die pad? Dit is die pad waarop ons die gawes van die Here moet vermeerder. Ons moet mense meer van Hom laat sien, ja, tussen ander mense, ook mense wat die Here nie ken nie, moet ons met sy teenwoordigheid ‘woeker’. Dáár moet ons die risiko’s loop en die avonture aanpak, al groei belediging, ongewildheid of teleurstelling ook welig op die pad. Juis daar moet ons niks wegsteek nie; ons moet nie in die “veilige nie-risiko-vat-modus” gaan nie.

Neem risiko’s vir die Here. Moet net nie sê jy kan nie!