31 Maart: “Here, onthou U ons dan nie meer nie?”. – Jan van der Watt

Luk 13:22-14:6 (fokus 13:22-30)

Die krete in 13:26 klink so desperaat: “Here, onthou U ons dan nie meer nie?” Dit klink na mense wat gedink het hulle was veilig en toe nie regtig so veilig was nie. Hulle het gedink die Here se genade sal sorg dat hulle in die hemel gaan inglip en toe gebeur dit nie. Verrassings gaan daar dus beslis by die hemelse poort wees.

Hierdie mense in die verhaal het die baas van die huis geken, maar was duidelik nie sulke goeie vriende van hom nie. Daarom word die deur gesluit voor hulle nog in is. Ons ken ook sulke mense: hulle steur hulle gewoonlik nie aan jou nie, al ken hulle jou kamma. Hulle leef verby jou. Alles verander op daardie oomblik dat hulle jou nodig kry: dan ken hulle jou skielik baie goed en is jy hulle groot vriend. Hulle het jou vir jare nie gesien of gekontak nie, maar as hulle in die moeilikheid kom, is jy glo al jare een van hulle beste vriende. Ons ken sulke mense…

Die Here ken sulke mense ook… Hy weet wie ken Hom net wanneer hulle Hom die dag nodig het. Die probleem vir sulke mense is dat die Here hulle nie wil ken nie. Sy deur gaan vir hulle gesluit wees. Hy soek nie kennisse nie, maar vriende; mense wat bereid is om die pad voluit met Hom te stap. As jy dus jou godsdiens halfhartig beoefen, moet jy dit liewer los, want volgens hierdie verhaal lyk dit nie of dit gaan werk nie. Maar voor jy dit los, onthou, dit is baie beter om die halfhartigheid in heelhartigheid te verander. Dan sal jy regtig voel hoe om die Here as vriend te hê en nie net as kennis nie.

Ons moet onthou dat die verwelkomingskommissie by die hemelpoort net vir die Here se opregte vriende bedoel is.




30 Maart: God speel nie die “swartboekie-speletjie” nie. – Jan van der Watt

Luk 13:1-21 (fokus 13:)

 

Party mense dink nogal dat die Here ‘n swart boekie aanhou waarin Hy elke ding wat jy verkeerd doen aanteken. As jy dan twee of drie merkies teen jou naam het, gaan Hy jou straf deur te sorg dat iets met jou verkeerd loop.

Moenie ‘n fout maak nie – ons kry die beeld in die Bybel van die Here wat ‘n boek het waarin Hy alles aanteken wat ons doen. Dit is die boek wat by die laaste dag met die finale oordeel oopgemaak gaan word (Open 20:12). Uit wat ons gedoen het, sal die Here dan kan aflei of ons Hom regtig liefgehad het en ook so geleef het. Daarom kan ons nie maar net lewe soos ons wil nie. As God se kinders moet ons leef soos Hy van ons verwag.

Maar ons moenie hierdie beeld van die boek met ‘n swartboekie-mentaliteit verwar waar God gedurig soos ‘n wafferse rekenmeester elke dag somme maak van ons sonde en net wag dat dit genoeg word om ons te straf nie. Ons mag nooit dink swaarkry God se manier is waarop Hy mense wil terugkry vir hulle sonde nie (13:2). God speel nie daai “swartboekie-speletjie” nie.




29 Maart: Kies vir vrede, met God . – Jan van der Watt

Luk 12:35-58 (fokus 12:49-53)

Ons ken Jesus as die liefdevolle Een. Die Een wat kindertjies na Hom toe laat kom; wat arm weduwees uit hulle nood help; wat siekes gesond maak.

Tog dra Jesus nie net altyd die sagte, vriendelike glimlag nie. Hy soek beslis nie ten alle koste vrede net om te kan sê daar’s vrede nie. Hy wil ons nie maar soos babas aan die slaap sus al woed daar ‘n storm nie (12:51-52). Jesus maak ons wakker uit ons slaap en waarsku ons dat daar ook oomblikke van onvrede en selfs woeste onrus oor ons pad gaan kom. Dit is die oomblikke wanneer ons voor keuses te staan gaan kom: keuses vir of teen Hom… en dit gaan waarskynlik onrus in ons verhoudings bring

Glo my, keuses vir Jesus het kompetisie. Dikwels is die druk van ons vriende of selfs familie so groot dat ek maar saamstap, hoewel ek weet dat dit nie die pad is wat Jesus sou kies nie. Dit bring nie vrede by Jesus nie, dis verseker. Maar doen ek dit nie, is my vriende ontevrede. Dikwels stoei ek met my eie belange wat nou nie presies Jesus se belange is nie. Iewers gaan daar onvrede wees, maak nie saak wat ek kies nie.

Dit is nie so maklik om Christen te wees nie, maar jy weet darem wat van jou verwag word. Jy moet ten alle koste vrede te handhaaf – vrede met God. Daarvoor moet jy elke keer kies. Dit kan onvrede by jou vriende of by die werk bring, maar die vrede wat jy dan by Jesus het, moet jou sterk maak om daardie onvrede te kan vat.

Kies reg, kies Jesus… en die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal joune wees.




28 Maart: Los daai slegte troetelgewoontetjies. – Jan van der Watt

Luk 12:13-34 (fokus 12:22-34)

 

Wat is jy bereid om te doen om te kry wat jy wil hê? Of miskien nog ‘n belangriker vraag: wat is jy bereid om op te gee om te kry wat jy wil hê? Om iets te doen is gewoonlik ‘n uitdaging. Om iets op te gee, is moeiliker, want dit vra opoffering. En die oomblik wat jy moet begin opoffer, begin jy dink en weeg… wat is die belangrikste?

‘n Mens raak so maklik gewoond aan sekere maniere van dinge doen dat jy later nie eers meer daaroor dink nie. Jy doen dit sommer. Jy kom in daai gewoonte en dit kan ‘n goeie of slegte gewoonte wees. Om slegte gewoontes wat jy aangeleer het te verander vat nogal inspanning en selfdissipline. Jy  moet ‘n bietjie werk daaraan.

Om te keer dat jy nie te veel verkeerde gewoontes aanleer nie, moet jy jouself dus gedurig toets. Waarom doen ek iets? Wat wil ek daarmee bereik? Wat is my gesindheid? Bevorder dit my verhouding met die Here en met die mense rondom my? En as ek agterkom my antwoorde wys ek is op die verkeerde pad, moet ek vinnig omspring. Hoe vroeër ek dit doen, hoe makliker is dit. As jy betyds omspring sal dit jou ook help om ‘n lewensstyl aan te leer wat jou “minder in die versoeking sal lei”.

Christenskap gaan oor prioriteite (12:34). Prioriteite gaan oor dinge wat vir jou belangrik is en wat jy die graagste wil doen. Daarom moet jy bereid wees om jouself gedurig te “toets” en daai troetelgewoontetjies op te gee wat jou verhouding met die Here beduiwel. As jou verhouding met die Here vir jou n prioritiet is, sal jy dit doen.