7 Februarie – Jesus maak jou nuut. – Jan van der Watt

Mat 27:57-28:20 (fokus  28:16-20)

 Ek wil hê julle moet iets vir My doen: die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaarde of verskonings te volg.’ (28:19)

 

‘n Familie van ‘n ver plaas af kuier op ‘n keer in die stad. In ‘n hotel sien die pa ‘n ou vrou by ‘n hyser instap. ‘n Minuut later stap ‘n pragtige jong vrou uit dieselfde hyser uit. “Wag net ‘n bietjie”, sê hy vir sy seun, “Ek wil net gou vir Ma deur daai masjien sit”.

Dit is nogal ‘n masjien om van te droom: ‘n masjien wat jou jonk maak en nuut maak; ‘n masjien wat jou nuwe lewe gee. Dit is eintlik wat gebeur as jou pad met Jesus s’n kruis. Jy kry nuwe lewe. Eenvoudige vissermanne word mense met ‘n roeping om die goeie nuus die wêreld vol te gaan vertel (28:19-20). Mense wat self niks het om te gee nie, word die draers van God se skatte; sondaars word Godskinders…

Daai vrou het jonger uit daai “masjien” uitgestap. Sy het méér lewe gekry. Om uit die “hyser van God” te stap beteken ook om méér en voller te kan leef. As jy uit God se “hyser” uitstap wag God vir jou met uitdagings en avonture. Uitdagings om te gaan uitdeel, te gaan vertel, te gaan versorg. God wil jou gebruik om regtig ‘n verskil te gaan maak. In ‘n sekere sin gee God nie die nuwe lewe vir ons om lekkerder te leef nie – dit ook – maar eintlik om ander te help om ook lekkerder te leef. Meer nog, om hulle te help om daardie lekkerder lewe te ontdek.

Ja, God wil hê jy moet die een wees wat ander mense van “God se masjien” te gaan vertel… sodat hulle ook nuut kan word.




6 Februarie – Wie se kind is jy?. – Jan van der Watt

Mat 27:11-56 (fokus 27:11-26)

‘Pilatus vra: “Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?” “Kruis toe met Hom!” skreeu die skare soos een man. Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?”’ (27:22)

 

“Abba” beteken pa in Aramees en “bar” seun van…. “Barabbas” se naam beteken dus “seun van pa” of “pa se seun” (27:26). Interessant genoeg, is Jesus ook “barAbbas”, want Hy is die Seun van die Vader (“Abba”). Dit is die ironie van die lewe. Die een pa se seun is vrygelaat en die ander Pa se Seun is doodgemaak. Barabbas het nog ‘n kans gekry… omdat die ander Pa se Seun bereid was om te sterf.

Dit is eintlik waaroor die bekende verhaal van Jesus gaan. Hy het mense wat dit eintlik nie verdien nie, nog ‘n kans kom gee; nog ‘n kans om te leef, maar hierdie keer saam met God.

Nou wonder ek net wat Barabbas met hierdie tweede kans gedoen het? Iemand het ‘n storieboek daaroor geskryf – in die boek het Barabbas sy lewe vir die Jesus teruggegee; nie deur te sterf nie, maar deur te lewe, nuut te lewe, vir Jesus te lewe…

Of dit regtig so was weet ons natuurlik nie, maar dit is tog lekker om te dink dat dit dalk so kon gewees het. Dan sou Barabbas eintlik vir ons almal ‘n voorganger wees – die eerste een wie se lewe deur dood, Jesus se dood, verander is. Ja, so word ‘n sondaar ‘n kind van die hemelse Vader… barAbbas en nie Barabbas nie.

Hoe spel jy jou naam – barAbbas of Barabbas?




5 Februarie – Eerlikheid maak ʼn verskil. – Jan van der Watt

Mat 26:57-27:10 (fokus 26:57-68 )

‘Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.”’ (26:65)

 

Jesus het geweet wat oneerlikheid is. Hy het dit self aan sy lyf gevoel – dit is basies oneerlikheid wat Hom kruis toe gestuur het. Een van sy dissipels het hom verraai en om Hom te kon kruisig moes mense allerhande valse stories oor Hom vertel. Een van sy beste vriende het selfs op ‘n punt gelieg en gesê Hy ken Jesus nie. Ons dink dikwels nie daaraan nie, maar dit moes Hom baie en diep seergemaak het. Wys jou net, toe Jesus dit die nodigste gehad het, was niemand eerlik genoeg om Hom te help nie.

Mense het sedertdien nog nie verander nie. Daar is vandag nog net soveel oneerlikheid en agterbaksheid as destyds – en dit sommer so tussen ons. Dit kom jy gewoonlik agter as iets gebeur waar jy ander se eerlikheid die nodigste het. Om dan agter te kom mense is nie wat hulle voorgee om te wees nie, maak die seerste.

Oneerlikheid moet Christene nie moedeloos maak nie – dit is deel van hierdie lewe, in alle geval solank sonde sy sin kry. Maar juis dit moet jou as Christen aanmoedig om n verskil te maak. Dit moet jou aanmoedig om met meer oortuiging ‘Christen’ in die wêreld te wees. Dink net daaraar: Wie gaan vir die wêreld wys hoe eerlikheid en opregtheid lyk as jy as Christen dit nie gaan doen nie? Immers, eerlikheid vra dikwels om teen jouself te kies, om keuses so te maak dat regverdigheid seëvier, al kos dit jou baie. En Jesus het Christene geleer om dit te kan doen.

Christene moet die reddingsboeie wees vir ‘n samelewing wat in die oseaan van oneerlikheid wegsink. Eerlikheid kan ‘n verskil maak… so kan Christene.




4 Februarie – God het jou lief, ten spyte van alles. – Jan van der Watt

Mat 26:17-56 (fokus 26:31-46)

My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!’ (26:42)

 

Het God regtig Jesus liefgehad? Wie kan ooit daaraan twyfel? Eintlik behoort ‘n mens nie eers so vraag te vra nie. Die Bybel sê op hoeveel plekke dat God Jesus liefgehad het. Maar as ‘n mens na party mense luister kon God Jesus onmoontlik liefgehad het. Hulle sê mos dat as God jou liefhet moet dit net altyd goed met jou gaan. As dit sleg gaan, het God jou skielik nie meer lief nie of het Hy dalk van jou vergeet. Niks is verder van die waarheid af nie. As dit waar sou wees, het God beslis nie vir Jesus liefgehad nie.

Dit het maar swaar met Jesus ook gegaan. Jesus het ook maar in die tuin van Getsemane geworstel en druppels soos bloed gesweet (26:38-39). Hy het ook onder die kruis oppad Golgota toe geswig en aan die kruis van eensaamheid na God geroep. Dit het Hom egter nie in opstand teen God laat kom nie – nee, dit het Hom net dieper in die arms van God ingedryf met die woorde: “Nie My wil nie, maar U wil”. Hy het nie een oomblik aan God se liefde getwyfel nie. Dit was sy geheim. Hy het geweet: al gaan dit swaar, God is steeds daar!

Dit is nie God se werk om net te sorg dat alles altyd vir jou reg loop nie. God sorg egter wel dat as iets verkeerd loop, ‘n mens genoeg krag het om dit wat die lewe vir jou uitdeel, te kan hanteer. Dit was met Jesus so en is so met jou ook.

Dit gaan dus nie oor wat gebeur nie, maar hoe jy dit hanteer. Wat doen jy gewoonlik? Kyk jy na die “gebeur” of die “hanteer”?