3 Februarie – Jy kannie geloof of ongeloof wegsteek nie. – Jan van der Watt

Mat 25:31-46 (fokus 25:31-46)

Al hierdie mense wat so verkeerd lewe, sal gestraf word. En die hel sal nie speletjies wees nie en vir altyd duur. Maar die mense wat reg lewe, sal vir ewig saam met God leef!(25:46)

 

Die lewe is vol verrassings en een daarvan is die manier waarop Matteus vir ons hier vertel hoe die finale oordeel gaan plaasvind (25:31-46). Ons hoor gereeld in die kerk dat as ons glo, is ons saak reg. Maar die verrassing is dat die Here by die oordeel skynbaar nie na geloof gaan kyk nie. Hy kyk eerder na wat die mense gedoen het – of hulle water vir dors mense uitgedeel het of vir mense in die tronk gaan kuier het, en sulke dinge. En die mense wat sulke dinge gedoen het, is Syne.

Is ons nou verkeerd met ons klem op geloof? Beteken dit nou dat die Here mense op grond van hulle dade red? Ja en nee.

  • Ja, omdat dade nie lieg nie. Dit wys wat binne in jou aangaan – wat jou hart van vol is, loop jou dade van oor.
  • Nee, juis omdat die dade maar net ‘n teken is van wat in jou hart aangaan.en dus wys wie jy is… wys of jy glo of nie, wys of jy die Here regtig liefhet en Hom wil gehoorsaam wees of nie. Uit jou dade kan jy aflees of jy glo of nie.

Dade is tekens van iets dieper – van ‘n dieper geloof, of dalk ongeloof. As die Here daarom vra of iemand glo, kyk hy na sy dade, want daar kan jy dit die duidelikste sien. Dade lieg nie en daarom praat geloof die hardste deur dade.

Geloof kan nie weggesteek word nie. Ongeloof ook nie. Dit word aan jou dade gesien.

Die groot vraag is: hoe gaan dit met jou geloof? Wat sê jou dade?




2 Februarie – Wees gereed!. – Jan van der Watt

Mat 25:1-30 (fokus 25:1-13)

Julle moet nou nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. Wees altyd gereed vir die koms van die Here! Hierdie waarskuwing is belangrik, omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.’ (25:13)

Het dit jou nie ook dalk gepla nie… die ding met die arme meisies wat so graag die troue wou bywoon en nie toegelaat is nie? Dit alles net omdat hulle olie opgeraak het en hulle wou goed doen – hulle het nog olie gaan haal om nie met dooie lampies die bruidegom te ontmoet nie (25:11-12). Kon die bruidegom nie maar net die sleutel gedraai en die deur oopgemaak het nie? Wat sou dit hom gekos het?

Maar tog moet ‘n mens besef hierdie storie nie oor die bruidegom gaan nie, maar oor die meisies, ja eintlik oor ons. Die meisies het geweet die bruidegom kom, maar het nie moeite gedoen om gereed te wees nie. Hulle het gedink ander dinge is belangriker as om hulle lampies vol te maak. Toe was hulle nie reg toe hulle reg moes wees nie. Dit is die fatale fout wat hulle gemaak het. En die fout kom met ‘n  ongenadiglike harde boodskap – die Here kom net een maal en as Hy kom moet jy reg wees, anders mis jy Hom. En ons ken nie sy tydtafel nie. Hy kan enige tyd kom en wag nie tot jy eendag reg is nie. As jy nie reg is nie stap Hy verby en is dit dalk vir jou neusie verby.

Watter opsies is daar dus vir jou? Net een: wees gereed! Anders is dit dalk te laat.




1 Februarie – Die Here kom weer!. – Jan van der Watt

Mat 24:29-51 (fokus 24:37-44)

Dit is nie presies seker wanneer die Seun gaan kom nie, maar wanneer dit gebeur, moet julle reg wees.’ (24:44)

 

Die vroeë Christene het mekaar soms gegroet met ‘n Aramese woord “Maranata”. Dit was bietjie dubbelsinnig, want afhangende van hoe ‘n mens die woord uitspreek, kan die woord beteken: “Die Here kom” of “Here, kom!” So het hulle mekaar elke dag herinner dat die Here enige dag kan kom; meer nog, dat hulle ook daarna uitsien dat die Here gou moet kom.

Met daardie verwagting moet ons as Christene vandag ook leef… wagtend op die Here wat enige tyd weer kan kom. En as Hy kom moet Hy jou op die regte plek kry en moet jy met die regte dinge besig wees. Ja, jy moet reg wees as die Here weer kom (24:45-47).

Die besef laat ‘n mens anders na die lewe kyk. Wat jy elke dag doen moet al klein stukkies hemel hier op aarde wees… stukkies ‘hemel’ omdat elke ding wat jy doen die Here bly behoort te maak. Dit moet een toets deurstaan: sal die Here gelukkig wees as Hy kom en Hy kry my hiermee besig? Sal Hy saam met my oor die grappie kan lag wat ek besig is om te vertel, of sal hy tuis voel op die plek waar ek op daardie oomblik is?

En dit laat ‘n mens anders dink oor wat jy doen en sê, want as jy die toets deurstaan is jy gereed… Dan kan jy ook ander groet deur elke dag te sê: Maranata!




31 Januarie – Die Here se voetstappe is oral. – Jan van der Watt

Mat 23:29-24:28 (fokus 24:1-14)

[Hierdie dagstukkies kom uit ‘n dagboek geskryf deur Prof Jan van der Watt. Hy maak gebruik van Die Boodskap. Dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.]

Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken’ (24:14)

Toe iemand eendag in ‘n argument sê dat ons die bestaan van God nie kan bewys nie, want ons kan Hom nie sien nie, het ‘n ander een gesê: “Ons kan Hom miskien nie sien nie, maar ons kan sy voetstappe hoor”. En dit is waar. Luister net…

Ons hoor sy voetstappe elke dag rondom ons. Party is hard en ander is sag. As Jesus in Mat 24 byvoorbeeld praat van die “tekens van die tye”, praat hy van oorloë, aardbewings, swaarkry en sulke dinge. Dit is nogal harde voetstappe. Hierdie is nie “spesiale” dinge wat net aan die einde van die tyd voorkom nie – dit het deur al die eeue heen nog gebeur, omdat God nog altyd daar was. Dis so algemeen en alledaags – tog is dit die tekens van God wat weer sal kom.

Dit is verstaanbaar: as ‘n mens in ‘n aardbewing staan, of bomme val op jou, besef jy wie jy regtig is: ‘n magtelose spikkeltjie in ‘n baie groter heelal. Daar is groter magte wat die heelal beheer en daarvan vertel die ‘tekens van die tye’. Dit mag alledaags wees, maar dit is groter as jy… en juis dit herinner jou aan die werklikheid wat groter as jy is. Daarom herinner dit jou aan God. So weerklink sy teenwoordigheid in jou ore. Party mense kan dalk maak asof Hy nie daar is nie, maar sy voetstappe kan jy nie stilmaak nie.

Die vraag is of ‘n mens jou daaraan steur?