22 Januarie – Moenie aanstoot gee nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 17:1-27 (fokus 17:24-27)

 Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie (17:27)

 In 17:24-27 leer Jesus ons ʼn interessante les. Terwyl Jesus-hulle eendag so gesels kom dit uit dat Jesus eintlik nie aan sy Pa se huis, die tempel, belasting hoef te betaal nie, want ‘n kind betaal mos nie belasting aan sy pa nie. Tog betaal Jesus dit. Hoekom? En dit is die les: Om nie mense aanstoot te gee nie. Jesus doen liewer wat Hy nie hoef te doen nie, net om nie mense onnodig seer te maak nie.

Hier kom ons by ʼn grysgebied. Wat is die verhouding tussen wat ons volste reg is om te doen en die belange van ander (al is hulle verkeerd)?  Dit lyk of Jesus die antwoord soek met ‘n tweede vraag: wat gaan die meeste skade veral aan ander doen? Probeer dit agterkom en jy het die antwoord. Om belasting te betaal gaan niemand regtig skade doen nie. (Die geld kom buitendien van God af en daarom kan ‘n mens dit maar vir God teruggee, soos die visstorie vertel – 17:27). Aan die ander kant, om nie te betaal nie, gaan net moeilikheid veroorsaak. Jesus kies liewer die pad wat nie ander aanstoot gee nie, al vra dit van iets Hom.

Reg is dus nie altyd reg nie, nie as dit ander skade kan aandoen nie. Jesus was dus reg om op hierdie punt sy regte prys te gee, want dit was ter wille daarvan om nie aanstoot te gee nie.

Dit is egter nie die einde van die saak nie. Wanneer is die regte van ander so buitensporig dat jy liewer moet doen wat vir jou reg is, al beteken dit dat jy aanstoot gee? Wanneer ander se regte God se regte begin eenkant toe skuif. Jy moet ander nie aanstoot gee nie, maar God nog minder.




21 Januarie – Jesus se barometer . – Jan van der Watt

Lees: Mat 16:5-28 (fokus: 16:24-28)

 Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee… Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jouself eers die volgende vraag af: wat help dit as jy die hele wêreld se skatte besit, maar jy het nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg?’ (16:24, 26)

 Jesus waarsku: jy moet gereeld jou skaal uithaal en net weer seker maak: leef jy nog gebalanseerd?

Wat weeg op jou skaal die swaarste? Dit is bietjie van ʼn strikvraag, want die lewe is so gejaag en vol dinge wat alles vir ons belangrik lyk dat keuses moeilik raak. Elke ding is op sy eie manier belangrik. Kyk byvoorbeeld: Wat is belangriker, jou werk of jou gesin? Eintlik altwee, want sonder werk kan jy nie jou gesin onderhou nie en sonder jou gesin maak jou werkery ook nie eintlik veel sin nie. En so loop die meeste dinge wat ons doen inmekaar. Hoe kies jy nou eintlik tussen dinge wat alles tog belangrik is?

Jesus kan jou help (16:24-26), mits jy bereid is om sy barometer te gebruik. Sy barometer meet wat met die mense rondom jou gebeur… as jy mense rondom jou begin seermaak begin die barometer gevaarlik hoog styg. Byvoorbeeld, as jou werk jou so besig begin hou dat jy jou gesin begin verwaarloos, begin mense seerkry… dan moet jy balans begin kry en jou keuses aanpas. Aan die ander kant, as jy jou werk so verwaarloos dat niemand jou ‘n verhoging wil gee nie, is dit ook nie vir jou gesin goed nie. Ja-nee, balans is die antwoord, en balans meet jy deur mooi te kyk wat gebeur met die mense rondom jou, veral die wat die naaste aan jou is. Jy hoef dus nie jou werk of jou gesin of jou vriende te los nie… jy moet net gebalanseerd leef.

En moet asseblief nie van jouself vergeet nie! Jy kan ook seerkry, om die waarheid te sê, jy kan jouself ‘seermaak’ deur van ‘balans af’ te raak. As jy jou innerlike geluk of gesondheid begin opoffer vir uiterlike sukses is die balans in jou lewe nie meer reg nie. Jesus vra soberheid en soek geluk en vrede… in jouself en met ander mense.

Miskien is dit weer tyd vir jou om te vra: Wat weeg op my skaal die swaarste?




20 Januarie – Leef doelgerig. – Jan van der Watt

Lees: Mat 15:21-16:4 (fokus: 15:21-27)

Weet jy, jou geloof is regtig baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” (15:28)

In die lewe is dit nie hoe jy begin wat tel nie, maar hoe jy eindig. As jy goed wil eindig, moet jy weet waar die wenpaal is – ja, moet jy ʼn duidelike doel in die lewe hê. As jy nie ʼn doel het nie, kan dit gebeur dat jy in alle rigtings hardloop en nie eers seker is waar jy gaan uitkom nie.

Veral Christene moet doelgerig leef. Ons moet veral seker maak dat ons doelwitte reg is, dat ons doelpale staan waar God wil hê hulle moet staan. Ons moet nie wonder oor waarheen God ons wil vat nie; ons moet seker maak, al vat dit baie gebed. Die Here het immers ʼn doel met jou lewe – elke dag.

Deel van die geheim om doelwitte in jou lewe te stel, is om realisties te wees. Moenie doelwitte stel wat jy weet jy nooit sal kan haal nie. Dit gaan jou net ʼn gestreste en teleurgestelde mens maak.

Maar dan moet ons ook nie leef soos mense wat nie ʼn God het nie. Ons moet ook bereid wees om te vertrou, op God en op onsself. Ons moet soms ook in geloof waag. Ons moet ons voete laat val op paaie wat vir ons onbekend is. As die vrou in die verhaal se voetspore nie na Jesus gelei het nie – dit met die wete dat dit nie maklik sou wees om by Jesus uit te kom nie, sou haar kind nie gered gewees het nie. As Paulus nie in die vreemde en ver stofpaaie van Turkye na nuwe bekeerlinge gesoek het nie, sou die boodskap van God daar stil gewees het. As jy nie bereid gaan wees om in geloof dinge aan te pak en doelwitte te stel wat jy graag wil bereik nie, kan jou wêreld ook krimp tot ʼn doellose gerondhardloop agter niks aan.

Weet jy waar die Here se doelpale vir jou staan. Het jy al mooi gekyk? Jaag dit na in geloof!




19 Januarie – Genade bring verantwoordelikheid. – Jan van der Watt

Lees: Mat 14:22-15:20 (fokus: 15:10-20)

‘Wat jy sê, kom uit jou hart. Daar ontstaan slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, om ontrou aan jou huweliksmaat te wees, om onsedelike dade te pleeg, om te steel, en te lieg en lelike dinge teen God te sê. Wanneer jy hierdie dinge uitdink, maak dit jou onrein. Dan is God nie met jou lewe tevrede nie.’ (15:18-20).

Ons kruip te maklik agter God se genade weg – soos ʼn kind wat nie self die bult uit wil loop nie, dink ons God moet ons die hele tyd dra. En ons is vinnig met verskonings waarom dit so moet wees. Uit my eie uit is ek mos tot niks goeds instaat nie; ek ellendige mens, soos die ou mense altyd gesê het. Dit is nie waar nie. Die Here dink baie meer van jou as dit en Hy verwag ook baie meer van jou as dit. Toe Hy jou gered het, het Hy jou nie in die ellende gelos nie. Nee, Hy het jou nuut gemaak. Hy het jou sy kind gemaak, ʼn koningskind. Jy is nie ellendige mens nie, maar koningskind.

Daarom verwag die Here ook van jou om soos ʼn koningskind te leef. ʼn Groot deel van ons Christenskap hang van die Christen self af. So lees ons in 15:16-20 dat heiligheid van binne kom. Dit ontstaan in jou hart en borrel dan in jou lewe uit. Heiligheid is nie ʼn onvermoë om te sondig nie, maar die vermoë om nie te sondig nie; om nie dinge te doen wat die Here nie van hou nie. Niemand anders sit in die beheerkamer van jou hart as jy nie. Jy bepaal wat vloei uit jou lewe en wat nie – ʼn vermoë wat jy deur selfdissipline en deursettingsvermoë in jouself kweek. Die bewustelike besluite wat jy neem om die regte dinge te doen, nie lelike gedagtes te hê of lelik te praat nie, om ander iets te gun en nie jaloers of naywerig te wees nie word uit die beheerkamer van jou lewe bestuur. Jy moet daarvoor verantwoordelikheid neem.

God se genade verander ons – dit doen vir ons wat onsself nie kan doen nie: dit bring vergifnis en herstel ons verhouding met God. Maar as jy daardie genade gesmaak het, moet jy doen wat daardie genade van jou verwag – jý moet heilig leef.