18 Januarie – Jesus se gasvryheid is spesiaal… en vir almal. – Jan van der Watt

Lees: Mat 14:1-21 (fokus: 14:13-21)

 ‘Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitdeel.’ (14:19)

 Wie sal ʼn skare mense vir ete nooi met net vyf brode en twee vissies in die spens? Wel, net iemand wat meer moed het as wat goed vir hom is of iemand met uitermate baie geloof. Tog huiwer Jesus nie. Hy laat die mense aansit en begin bedien…, want Hy spesialeer in liefde en gasvryheid vir elkeen wat na Hom toe kom.

Toe die skare die brood en vis in hulle hande voel, het almal een ding verstaan: by Jesus is hulle welkom, kom wat wil. Sy arms staan vir hulle oop.

Die gebruik destyds was om nie sommer saam met enigiemand te eet nie. Jy het net saam met jou vriende geëet. Rondom ʼn tafel kon jy dus sien wie is regtig vriende van wie. As Jesus die mense dus vir ete nooi, sê Hy daarmee vir hulle: Ek wil julle vriend wees en julle my vriende maak. By My is daar altyd vir julle plek. Met dit wat Ek het, sal Ek julle versorg.

En wat het Jesus net nie! Jesus het vyf brode en twee vissies… en die wonderkrag om mense se lewens vir altyd te verander. Dit is ʼn wonderkrag wat die onmoontlike moontlik maak. Daarom kon Hy vir daardie mense nie net brood of vis gee nie, maar soveel meer. Die wat van daardie tafel af opgestaan het en die pad verder saam met Hom gestap het, sou die trooswoord van Jesus hoor juis net toe hulle dit die nodigste gehad het; hulle het sy hand van genesing gevoel het net toe dit die seerste was en het sy liggaam aan die kruis sien hang toe alles vir hulle tevergeefs gelyk het.

Vandag nog staan skares rondom Jesus. En Hy nooi hulle uit. Miskien staan jy ook so tussen daardie skares en wonder of jy ʼn stukkie brood van Hom gaan kry. As jy jou hand uitsteek gaan jy kry… ja, baie meer kry as net brood of vis. Ja, Hy gee nie net aardse kos nie, maar ook hemelse voedsel. Jy gaan by hom lewe en vriendskap kry; liefde en genade.

Hierdie wonderlike liefde is maar ʼn handuitseek ver, ook vir jou.




17 Januarie – Die skatkamer rondom jou. – Jan van der Watt

Lees: Mat 13:36-58 (fokus: 13:44-52)

Om God as jou Here te hê, is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. (13:44)

In stories kry ʼn mens net skatte iewers op ver eilande en jy kan dit net ontdek met ʼn spesiale landkaart wat op geheimsinnige manier ontrafel moet word. Dit maak dat ons die skatte hier rondom ons heeltemal miskyk.

Die “landkaart” van die Bybel vertel in 13:44 vir ons dat die grootste skat is om God te ken en dit is so. Hy maak ons lewe ryker as wat enige skatkis kan en gee ons groter geskenke as wat ons ooit iewers kan uitkrap. Sy skatte tel ʼn mens nie in Rande nie, maar in genade en liefde. Daar is egter ook ander wonderlike skatte wat sommer so rondom jou ‘rondlê’ waarvan ons te vinnig vergeet.

  • Dink aan die skat van die lewe… hoe hard sal jy nie keer as iemand dit wil wegvat nie. Tog staan ons soms met ʼn gekreun en gesteun en baie gekla oor die dag wat voorlê, op. So laat ons God se skat deur ons hande glip. Leef die lewe daarom voluit.
  • Dink aan die skat van die mense wat jy liefhet rondom jou – die klompie mense voor wie jy maar kan wees wat jy is, omdat hulle jou aanvaar soos jy is. Waardeer hulle, al baklei julle soms.
  • Dink aan die skat van gesondheid… om elke dag te kan opstaan en te kan doen wat jy wil. Die waarde daarvan kan nie in goud gemeet word nie. Ongelukkig besef ons eers hoe waardevol ons gesondheid is as ons dit verloor het.
  • Dink aan die een vir wie jy so lief is, maar soms so seer kan maak. Hoe leeg sou jou lewe nie sonder hom of haar wees nie. Geniet mekaar solank julle nog kan.

Sien die skatte in jou lewe raak en geniet dit – moenie dit in die kluis toesluit en soos ʼn boemelaar leef nie. Die Here het daardie skatte vir jou gegee om jou lewe vol en ryk te maak.




16 Januarie – Moenie te vinnig antwoorde gee nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 13:1-35 (fokus: 13:24-30)

[Hierdie dagstukkies kom uit ‘n dagboek geskryf deur Prof Jan van der Watt. Hy maak gebruik van Die Boodskap. Dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.]

‘Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’ (13:30)

Mense worstel deur al die eeue nog met die vraag waarom dinge partymaal so lelik verkeerd kan loop. Dit is veral ʼn vraag wat Christene dikwels pla, want hulle het mos ʼn liefdevolle hemelse Vader wat na sy kinders kyk. Immers, as ʼn pa sien sy kinders kry swaar sal hy mos dadelik help. Daarom vra Christene baie keer as dinge skeef loop: Wat het dan van God geword? Is Hy nie ons hemelse Vader wat vir sy kinders moet sorg nie?

Hoewel daar nie kitsantwoorde is nie, praat die Bybel tog hieroor. Een ding is die Bybel duidelik oor – as dinge skeefloop kan daar baie redes voor wees. Daarom moet ons veral oppas om nie te maklik antwoorde te gee nie.

Een antwoord wat die Bybel wel gee, is dat die lewe en wêreld nie perfek is nie… nog nie. En Christene bly in daardie wêreld met al sy skete, bedrog, haat, seerkry, en noem maar op. Magte en mense wat God se ‘land’ in ʼn woesterny wil verander loop tussen die Christene rond. Die Here het gesê dat dit soos ʼn land is waarin daar onkruid en koring saam gesaai is (13:24-30). Goed en sleg is saam deel van hierdie lewe. Ons lewenspad gaan opdraendes en afdraendes hê. Dit is eenvoudig hoe die lewe is. Die goeie koring kan nie help om teen die onkruid te skuur nie en kan nie keer dat die onkruid die son wegkeer nie.

Dit verduidelik nog nie waarom God dit alles toelaat nie. Die antwoord het ons nog nie. Om egter wel te weet dat God besluit het om die onkruid en koring langs mekaar te laat groei, help ons egter met ons gesindheid. Dit help ons om dinge te verwerk en keer so dat die slegte dinge ons opvreet of geestelik verteer. Dit stel ons net reg in teenoor die lewe – as die slegte kom is ons nie verras nie. Nee, ons is gereed as die onkruid die hitte van ons son wegkeer. Ons weet ons kan en hoef nie die vinger na God te wys en te vra waar ons Vader is nie. Hy is steeds die Boer wat weet wat gebeur.

Krisisse gaan daar altyd in die lewe wees… In krisisse moet ons ons nie bekommer oor God, die Boer, se werk of Hom heeltyd probeer herinner oor hoe ons dink Hy sy werk behoort te doen nie. God se werk is nie om nou die krisis-onkruid elke dag uit te trek nie, al wil ons dit gedurig op sy taaklysie sit. Ons moet ons liewer bekommer oor wat op ons taaklysie staan. Ons moet groei al druk die onkruid ons; ons moet bly leef al keer die onkruid ons son weg.

Die boer los nooit sy lande nie. Nog minder sal God jou ooit los. Groei tot sy eer deur al die krisisse heen.




15 Januarie – Spyt kom altyd te laat. – Jan van der Watt

Lees: Mat 12:22-50 (fokus: 12:24-33)

‘Daar is niks wat julle doen of sê wat so sleg is dat God dit nie sal vergewe nie. Maar daar is een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense sê dat wat Hy doen van die duiwel af kom en so die Heilige Gees met die duiwel vergelyk.’ (12:31)

Die lewe het grense… oral. Die kuns is om die grense te herken – om te weet wanneer jy te ver gaan. Dit is nogal belangrik om dit te weet, want een ding is seker: spyt kom altyd te laat!

Nou wonder ek: God gee sy genade so vrylik en sy goedheid is so onbeperk. Het dit ook grense? Kan dit ook klaar raak of opdroog?

Wel, God se genade kan nie klaar raak of opdroog nie, daarvoor is sy hart te groot en strek sy liefde te ver. Wat egter wel kan gebeur is dat ʼn mens ʼn grens kan oorsteek waar God se genade net nie meer dáár is nie. Jy kan so in die arms van die duiwel inhardloop dat jy onder God se genade uithardloop.

Dit is wat hier in hoofstuk 12 met die mense gebeur. Hulle het by Jesus gestaan en was dus net ʼn handuitsteek ver van Hom af. Tog het hulle die grens van ‘geen genade’ net daar oorgesteek. Juis daar het hulle het God heeltemal misgekyk. Al het hulle voor Hom gestaan, kon hulle God en wat Hy doen nie meer raaksien nie. As dit gebeur draai die wêreld vir jou op sy kop. Wat verkeerd is, lyk dan skielik vir jou reg. Jy word geestelik dronk. Jy begin die duiwel sien waar die Gees van God werk (12:31), wat eintlik maar net beteken dat jy God heeltemal miskyk. Jy verloor jou geestelike onderskeidingsvermoë. Dit gebeur nou maar eenmaal so as jy die hand van God se gees los om kermis te gaan hou saam met die duiwel. Jou werklikheid rondom jou draai en spin, ja, onder God se genade uitdraai en spin!

Moenie pad vat na die duiwel se kermis nie. Onthou: spyt kom altyd te laat. Maak jou oë weer oop om Jesus by jou, in jou lewe, raak te sien. As jy nie meer seker is nie, steek jou hand na Hom toe uit, voel… Hy is daar; Hy is vir jóú daar.