NEHEMIA – DELEGERING (4)

The mark of the immature man is that he wants to die nobly for a cause, while the mark of a mature man is that he wants to live humbly for one. -Wilhelm Stekel, geneesheer en sielkundige (1868-1940).

 

Nehemia – Delegering (4)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #8: Delegering … Bemoediging … ondersteun jou leierskap

 

Bemoedig ‘n volk

Wat kan Nehemia doen om die optimisme te herstel? As die momentum eers verlore is, sal dit moeilik wees om dit weer aan die gang te kry. Natuurlik kan hy dit ignoreer en hoop dit gaan vanself weg. Dit gebeur nie sommer nie.

Hy kon dit regstel. Dit is wat Nehemia gedoen het. Hoe?

  • Hy tree op. Hy sien sy mense verloor moed. Daarom tree hy beslissend op. Soos in die verlede as daar ‘n krisis dreig bid hy. Baie mense sien nie gebed as optrede nie – dit is tydmors. Nehemia besef dat hy in ‘n geestelike stryd gewikkel is. Tot dusver het ons van drie geleenthede gelees waartydens Nehemia gebid het.
  • Toe hy die nuus van Jerusalem gehoor het (1:5 – 11)
  • Die skietgebed net voor hy die koning gesien het (2:4)
  • Toe die vyande die Jode gespot het en ‘n aanval beplan het (4:4 – 5, 9).
  • ‘n Leier balanseer sy opsies. Jy kan nie bid en dan niks doen nie; optrede sonder gebed wys dat jy ‘n gebrek aan geloof het. Bid en optree – die volmaakte balans. En dag en nag wagte teen hulle uitgesit …  Ek het die volk, gewapen met  swaarde, spiese en pyle en boë,  familiegewys ingedeel en hulle stelling laat inneem agter die muur  onderkant elke plek waar die muur nog nie hoog genoeg was nie (4:9, 14)
  • ‘n Leier kry sy mense betrokke. Bewus van hulle vrese kry Nehemia hulle betrokke by hulle eie selfbehoud. Hy rangskik hulle volgens hulle families.  Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou … Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand ‘n wapen vasgehou. Die bouers het elkeen sy swaard om sy heupe vasgegord gehad (4: 13, 17 – 18). Nehemia vestig sy mense se aandag op die vyand – nie op hulleself nie – weg van hulle ontmoediging en selfbejammering en na hulle doel om hulle land te beskerm.
  • ‘n Leier ken sy mense. Toe de las te swaar word, het Nehemia die werk gestaak. Hy begin eers weer toe die onmiddellike bedreiging verby was: Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het, en ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe (4:15). Soms is dit beter om eers ‘n tyd te wag voor jy verder gaan. Dit help vir uitputting. As jy agterkom jy en jou mense begin moed verloor, is dit beter om eers stil te staan. You will break the bow if you keep it always bent (Ou Griekse spreekwoord).
  • ‘n Leier kommunikeer. Ons lees nêrens dat Nehemia ‘n groot motiveringtoespraak gehou het nie. Ons lees wel dat hy die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek het. Hy sê net wat nodig was. Jou mense het net woorde van bemoediging nodig.
  • ‘n Leier herfokus. Die mense was bekommerd oor die puin om die bouprojek. Hulle moes weer leer om te fokus. Nehemia sê vir hulle: Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend (4:14). Sodra ons moed verloor, dink ons net aan een ding: onsself. Die Israeliete was geen uitsondering nie.
  • ‘n Leier herinner. Nehemia besef dat hy sy mense weer aan die rede vir hulle opoffering moes herinner.  Hy weet hulle het weer motivering nodig. Hy herinner hulle aan hulle basiese verantwoordelikheid om diegene wat hulleself nie kon beskerm NIE, te beskerm: Veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise (4:14). Dit tesame met die terugtrekking van die vyand beteken dat die bouwerk weer hervat word – elkeen keer terug na sy werk toe.

 

Volgende keer kyk ons na die volgende kenmerk van ‘n leier: probleemoplossing.




NEHEMIA – DELEGERING (3)

Only two kinds of people are reasonable: those who, knowing God, serve Him with their whole heart; and those, not knowing Him, seek Him with their whole heart – Blaise Pascal (Pensées)

 

 

Nehemia – Delegering (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #8: Delegering … Bemoediging … ondersteun jou leierskap

Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie (4:11)

Ten spyte van die voortdurende bedreigings bly die mense gefokus en hou aan met die bouwerk.

Hoe sou Nehemia keer dat hulle as gevolg van al die bedreigings ontmoedig word? Hy kan bid vir God se beskerming; hy kan seker maak dat sy mense en sy vyande hom gereeld sien. Toe die vyand sien dat die werk vorder, neem hulle vyandigheid toe. Eers spot hulle: Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as ‘n jakkals daarteen spring!  (4:2 – 3) Daarna beplan hulle ‘n aanval: Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te saai (4:7 – 8).

 

Ontmoediging

Jy kan nie voortdurend dreigemente en negatiewe dinge hoor sonder dat dit jou raak nie. Ontmoediging is een van die grootste vyande van vooruitgang. Dieselfde gebeur hier: Die Judeërs het begin kla (4:10). Hoekom word hulle so ontmoedig?

  • Uitputting. Die draers se kragte gee in, die puin is te veel. Die lang werksure het hulle uitgeput. As jy fisies moeg is, is jy meer geneig om terneergedruk te wees – jy verloor moed. Fatigue makes cowards of all of us (Vince Lombardi).
  • Verloor entoesiasme. Die puin is te veel (4:10). Hulle aanvanklike ywer neem af; hulle begin kla. Die puin is nie die probleem nie, maar hulle gesindheid is wel.
  • Verloor hulle visie. Ons gaan die nie regkry om die muur klaar te bou nie (4:10). Aanvanklik het Nehemia hulle oortuig dat hul die onmoontlike gaan regkry. Met verloop van tyd vervaag die visie. As dit gebeur, lei dit tot wanhoop en ‘n gevoel van hopeloosheid. Hierdie negatiewe gevoel het baie name – soos uitbranding. Hierdie mense sien nie meer die voltooide muur nie – al wat hulle sien is die puin.
  • Verlies aan optimisme. Hulle hoor die negatiewe opmerkings van die vyande. Dit is moeilik om optimisties te bly as jy deur negatiwiteit omring word. Hulle hoor die gerugte van ‘n dreigende aanval. Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie (4:11). Jy kan natuurlik probeer om negatiewe persone te vermy. ‘n Positiewe gesindheid is aansteeklik – omring jou met positiewe mense.
  • Verlies aan vertroue. Moenie vir hulle bang wees nie (4:14). Vir 90 jaar leef hulle in vrees. Toe kom Nehemia en verlig hulle vrese. Hulle begin werk aan die muur met volle vertroue dat God hulle sal beskerm. Nou vergeet hulle van God en sy vermoë om hulle te beskerm. Hulle oë is nie meer op God gerig nie, maar op die gevaarlike situasie om hulle.
  • Verlies aan motivering. Al die negatiewe kragte om hulle veroorsaak wanhoop by die bouers. Hulle is terug waar hulle begin het. Nehemia staan op die punt om beheer oor die situasie te verloor.

 

Hanteer ontmoediging

By Nehemia kry ons ‘n goeie model. Onthou dat ontmoediging almal kan raak – dit is aansteeklik en versprei maklik. Vir die individu is ontmoediging verlammend; vir ‘n leier is dit dodelik. Daarom moet dit so vroeg as moontlik hanteer word. Hoe kan ons dit doen?

  1. 1.Herken die bron. Jy sal dikwels met druk gekonfronteer word wat jou mag ontmoedig. Die duiwel is maar te bly as ons nie meer deel van die spel is nie. Die probleem lê nie by God nie, maar by ons – ons het onsself verlam.
  2. 2.Weerstaan die versoeking. Dit is maklik om negatiewe gedagtes te dink – jy sien al die puin en jy word deur die taak ontmoedig. Jy begin dink dat die taak nooit voltooi sal word nie. Wat sê Jakobus moet ons doen? Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug (4:7).
  3. 3.Herstel jou verhouding. Het jy jou oë van jou Verlosser afgewend? Onderwerp julle dan aan God (Jakobus 4:7). Jy trek jou krag om te lei by die Here. As daardie verhouding vertroebel is, beïnvloed dit jou vertroue en vasberadenheid op ‘n negatiewe wyse. ‘n Wyse leier bly naby aan God.
  4. 4.Verwyder diegene wat vertwyfeling saai. As onregverdige negativisme versprei word, moet jy dit hanteer. Vra positiewe menings en oplossings vir alle probleme – probleme is geleenthede wat wag om opgelos te word.
  5. 5.Onthou jou krag. Christus se krag werk in en deur gelowiges. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13). Jy mag ook nie die mag van jou mense onderskat nie. Jou krag is groot as jy nie jou mense se mag en hulle vermoë om by te dra beperk nie.
  6. 6.Herfokus. Het jy dalk vergeet van jou doelwitte en rigting? Gaan terug na die begin van die projek. Jy het sekerlik vir God by jou oorspronklike plan betrek. Hou aan glo en werk met entoesiasme voort.
  7. 7.Reageer op die aanmoediging van ander. Diegene naby jou kom gou agter as jy moedeloos is. ‘n Wyse leier ken sy eie beperkings en laat ander toe om hom te help. Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:13)

 

‘n Goeie leier behou die hoop deur woorde van bemoediging en werke wat jou mense ondersteun. Jou positiewe gesindheid beïnvloed altyd die mense om jou.