Die voetwassing deur Jesus (13:1-5)

Die voetwassing deur Jesus (13:1-5) – Francois Malan

13:1 Die uur waarvoor Jesus na die wêreld toe gekom het, het aangebreek (Jn 12:27). In hierdie uur sal God vir Jesus verheerlik, en Jesus sal die Vader verheerlik deur sy dood vir die redding van die wêreld, met ‘n dood wat van alle heerlikheid ontneem is – ontbloot hang Hy daar  (Jn 12:24-26). Dit is ook die uur vir die oordeel oor die wêreld, die oorwinning oor die duiwel, en die verhoging van Jesus om as God oor die ganse wêreld te regeer (Jn 12:31-32).

Dit is die uur wat Hy weer ‘oorgaan’  na die Vader in die heerlikheid wat Hy vantevore gehad het (Jn 17:5). Op hierdie draaipunt van sy lewe, die doel van sy menswording, wys Hy sy liefde tot die uiterste toe vir sy eie mense. Sy eie mense sluit almal in wat aan Hom behoort, almal wat in Hom glo. Sy liefde tot die einde toe (eis telos tot in die end) druk voltooidheid, die volmaaktheid van sy liefde uit, sy volkome selfverloëning, sy volkome offer vir die sonde van die hele wêreld). Hierdie vers is die inleiding tot die hele lydensweg van Jesus, van hoofstuk 13 tot hfs. 20; 13:1-3 is weer ‘n soort voorspel of overture tot die res van die Evangelie, met temas wat in die res uitgewerk word, soos 1:1-18 die geval was.

 

13.2 ‘En tydens die aandete (deipnon)’ (1983-vertaling: Jesus en sy dissipels was aan tafel). Saam eet is ‘n teken van vriendskap en verbondenheid. En hier sit Judas, in wie se hart die duiwel dit alreeds gelê het om Jesus te verraai (paradidoomi beteken ‘om oor te gee’ hier in die sin van aan die vyand uitlewer, aan die owerheid). Verraad geskied net deur een van die binnekring, wat saam eet. Soos die duiwel dit in die harte van die Jode gelê het om Jesus dood te maak, vir wie Jesus noem ‘kinders van die duiwel,’ ‘n moordernaar van die begin af (8:44), so gebruik die duiwel vir Judas in sy finale aanval op Jesus. Maar soos die Jode verantwoordelik is vir hulle moordplanne, so is Judas self verantwoordelik vir sy besluit om Jesus te verraai. In 13:18-30 word hierop uitgebrei. Judas is die voorbeeld van die mens wat nie van harte in Jesus glo nie.            

 

13:3 Deurdat Jesus en die Vader alles saam bedink, want Hy en die Vader is een (Jn 10:30),  weet Jesus dat Hy na die Vader oorgaan. Dit word hier herhaal uit vers een, met twee betekenisvolle variasies: (i) Hy het van die Vader af gekom – met die Vader se opdrag en gesag, (ii):die Vader het alles in sy hande geplaas (Jn 3:35) – Hy het die gesag om God se soewereine wil in oordeel en verlossing te vervul (5:21-23), die oppermag wat deur die wêreld en die duiwel nie kan oorwin kan word nie. Hulle kan slegs daaronder buig, óf gewilliglik tot verlossing, óf deur te bly onder God se veroordeling (3:36). En wat doen Jesus in die wete van sy oppermag? Hy was die voete van die dissipels, ‘n nederige slawediens, maar ook ‘n simbool van sy selfoorgawe in die dood om sy eie mense te reinig vir die ewige lewe in gemeenskap met God. Sy mag is die mag van die liefde wat vir die wêreld aangebied word (Jn 3:16).

 

13:4-5 Op grond van Levitikus 25:39-46 het die rabbi’s geleer dat Joodse slawe nie so ‘n nederige werk soos voetewas mag doen nie, slegs ‘n slaaf uit ‘n ander volk (die Joodse rabbi’s het Gen.21:14 so verklaar dat Abraham vir Hagar ‘n skeibrief gegee het, haar bokleed uitgetrek het, en dit om haar heupe gebind het as teken dat sy ‘n slavin is). Die voete van gaste by ‘n eetmaal is destyds deur ‘n slaaf gewas, ‘n welkome bewys van gasvryheid aan mense wat te voet deur die stofpaaie en strate geloop het (Lk 7:44; vgl. egter 1 Sam 25:41). Nie een van die dissipels doen dit nie. Tydens die paasmaal redeneer hulle oor wie van hulle die belangrikste is (Lk 22:24-27). Die Seun van God was hulle voete as die lydende dienaar van die Here, wat die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het as voorbeeld vir elkeen wat Hom volg (Mt 20:28; Mk 10:45). Dit word uitgespel in  13:12-17 en  34-35.  Die voetewassing is ook ‘n teken en simbool van Jesus se nederige liefde tot die uiterste toe vir sy eie mense in die wêreld. Dit word verder verduidelik in 13:6-11 en 31-33. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels (13:1-17:26)

Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels (13:1-17:26) – Francois Malan

Soos Jakob aan sy seuns in Genesis 49, Josua aan die volk in Josua 22-24, Dawid aan Salomo in 1 Kronieke 28-29 en Moses aan die volk Israel in die hele boek Deuteronomium, plaas Johannes Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels tydens die laaste paasmaal/eerste nagmaal, net voor sy verhoor, kruisiging, opstanding en verskynings.

Jesus, wat ‘meer is as Moses’ (Hebr. 3:1-19; Johannes verwys na Moses in 1:17,46; 3:14; 5:45,46; 6:32; 7:19,22,23; 8:5; 9:28,29), lei die tweede eksodus, na lewe in die koninkryk van God, die nuwe beloofde land vir die nuwe Israel, wat bestaan uit Jode en nie-Jode (vgl. die Grieke van hfs 12). Hulle is die werktuie van God se reddende heerskappy in die wêreld. Elke gelowige word daarvoor toegerus deur die Heilige Gees; Hy is God, wat self in hulle kom woon.

Die Gees van die waarheid sal ewig by julle bly en in julle wees (14:15-17);  die Vader en die Seun sal na dié een toe kom wat vir Jesus liefhet en by hom woon (14:23); Jesus bid ook vir dié wat deur die woorde van die dissipels tot geloof in Hom sal kom, dat hulle almal een mag wees, netsoos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees…Ek in hulle en U in My….sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het (17:20-23); dit ‘n eenheid in en deur die liefde van God wat deur die Heilige Gees in ons kom woon en werk.  

 

Die eerste 12 hoofstukke van Johannes word soms die ‘boek van die tekens’ genoem, en hoofstukke 13-17 die ‘boek van die woorde.’ Baie van die onderrig in die laaste hoofstukke stem ooreen met aanwysings wat in die ander Evangelies verspreid voorkom en dwarsdeur Jesus se bediening. Markus 13, Mt 24,25 en Lk 21 het egter die profetiese rede wat as afskeidsboodskap aan die dissipels dien, en oor ‘n paar dae strek. Johannes druk dit alles in een nag in.

 

Die woorde van Jn 14:31 ‘Staan op, laat ons hiervandaan weggaan’ en 18:1 ‘nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan’ laat vermoed dat hoofstukke 13-14 en 15-17 twee stukke van Johannes se getuienis is oor alles wat Jesus die aand in die bovertrek gesê en gedoen het; dat dit eers apart opgeteken is, en later hier saamgevoeg is.

 

In hierdie weergawe van die laaste maal in die nag vertel Johannes niks van Jesus se instelling van die nagmaal met brood en wyn wat na sy liggaam en bloed as tekens van die nuwe verbond verwys, soos in die ander drie Evangelies nie. Maar in die lang hoofstuk 6, oor Jesus as die brood van die lewe, sy liggaam wat geëet moet word, het Jesus ‘n uitgebreide verduideliking van  die wese van die brood van die nagmaal gegee; so gee Hy in hierdie afskeidsrede in vyf hoofstukke ‘n uitgebreide verklaring vir die instellingswoorde van die nuwe verbond van God se genade (Jn 1:14,16).

 

Daar is ook ‘n verskil tussen Johannes en die ander drie Evangelies of dit ‘n paasmaaltyd was of nie. Volgens Eksodus 12:6,8 moes die paaslam laatmiddag op die veertiende van die maand geslag word (Abib, die ‘aremaand’ Eks 13:4, word na die ballingskap Nisan ‘eerste maand’ van die Joodse jaar genoem, Neh. 2:1 – Mrt-Apr). Teen sononder begin die 15e Nisan en dié nag moes hulle die gebraaide lam haastig eet, op vertrek uit Egipte (hier anapiptoo ‘aanlê’ op kussings of rusbanke om die tafel,  soos die latere gebruik was; Jn 13:12,25,21:20 ).

 

Al vier Evangelies plaas die kruisiging op Vrydag, die dag voor die sabbat wat reeds met sononder aanbreek (vgl. Jn 18:28; 19:31), maar Johannes noem die Vrydag ‘die dag van voorbereiding’ wanneer die lammers geslag word vir die paasfees, waarop Jesus, die Lam van God, die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29). 

Die ander drie Evangelies plaas die paasfees, wat Jesus saam met sy dissipels geëet het en die nagmaal ingestel het, op Donderdagaand (Vrydag begin al teen sononder van ons Donderdag)., en  noem daardie Donderdag  ‘die dag van voorbereiding’ wanneer die paaslammers geslag word (Mt 26:17;27:62,  Mk 14:12;15:42,  Lk 22:7).  Hy is Vrydag gedurende die dag gekruisig; en voor sononder begrawe, Lk 23:56 noem ook dié Vrydag ‘die voorbereiding’ vir die sabbat).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Naskrif oor Jesus se bediening (vervolg) – Die oordeel deur Jesus se woord (12:44-50)

Naskrif oor Jesus se bediening (vervolg) – Die oordeel deur Jesus se woord (12:44-50) – Francois Malan

12:44 Die een wat in Jesus glo, glo in God. Die Jode gee voor dat hulle in God glo, maar weier om in Jesus te glo. Dit beteken hulle geloof is nie eg nie. Ware geloof in God begin by geloof in Jesus, wat die Vader aan ons kom openbaar het. Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekendgemaak (1:18).

12:45  Soos in vers 40 verwys ‘sien’ na die vermoë van iemand wat in Jesus glo, om die Vader in Hom te herken (14:9). 

 

12:46 Die vers roep 8:12 terug, maar is ook ‘n weerklank van 1:4,5,9; 3:19-21 en die genesing van die blindgeborene (veral 9:5, 39-41), met Jesus as die lig vir die mense, vir die wêreld wat in die duisternis van sonde verkeer. ‘Ek’ staan voorop in die sin. Dié mens wat in Hom glo, bly nie in die duisternis van sonde en selfgeregtigheid voortlewe weg van God af nie. As jy jou deur Jesus te laat verlig, word jy ‘n veranderde mens wat as ‘n kind van die lig, as God se kind, sy lig vertoon en so begin lewe (12:36).

 

12:47  Wie sy woorde hoor en nie ‘bewaar’ nie, verwys na mense wat nie volhard in geloof en gehoorsaamheid aan die woorde van Jesus nie, nie lewe volgens die Woord nie (8:51,55  vashou/gehoorsaam). Jesus oordeel nie die ongelowiges nie, want Hy het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red – dit is ‘n herhaling van 3:17. Die doel van sy eerste koms is nie veroordeling nie, maar om te red, en die redding kom deur geloof in Hom.  Maar Hy kom weer vir die eindoordeel (5:22,27).

 

12:48 Die verwerping van Jesus se woorde is ‘n verwerping van Jesus self, Hy wat die Woord van God en self God is (1:1-3). Vir so iemand hoef daar nie ‘n spesiale regter te wees nie, omdat hy die oordeel oor homself bring. Hy het die Redder verwerp, wat hom uit die oordeel kom bevry het (3:36). Op die laaste dag sal die woorde, wat Jesus gespreek het, so iemand oordeel.

 

12:49 herhaal ‘n konstante tema van die eerste twaalf hoofstukke (1:14-18; 3:31-36; 8:14-17; 8:26-29).  Die waarskuwing in Deutr.18:18-19 om na sy woorde te luister is ‘n saak van lewe of dood (vgl. Dt 18:20). Omdat Jesus die finale woord van God is, wat die nuwe eksodus uit die slawerny van sonde lei, is dit ook ‘n saak van ewige lewe of ewige dood.  Die woorde wat Jesus dwarsdeur sy hele bediening gespreek het, is God se woorde (7:17).

 

12:50  Die opdrag van die Vader aan Jesus is reeds die ewige lewe. Hy het die ewige lewe vir ons verwerf aan die kruis en met sy opstanding uit die dood. Dit is ‘n tema wat telkens in die Evangelie voorkom: In Hom en deur Hom is lewe (1:4). Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê (5:26). Sy woorde gee die ewige lewe (6:68). Elkeen wat in Hom glo het reeds die ewige lewe (3:15-16, 36; 6:47; ). Dit is sy geskenk aan elkeen wat in Hom glo (10:28). Die gelowige het oorgegaan uit die dood na die lewe (5:24). Jesus is die opstanding en die lewe. Wie in Hom glo sal lewe al sterwe hy ook, en sal in alle ewigheid nie sterwe nie (11:25-26), en Jesus sal hom op die laaste dag opwek (6:40). Dit is die nuwe soort lewe waar ek nie meer vir myself lewe nie, maar vir God en my medemens, soos Jesus, en in verbondenheid aan Hom – dit is die Vader se opdrag ook aan elke gelowige.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43)

Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43) – Francois Malan

12:37-38 Die skrywer kyk terug op Jesus se hele bediening. Ten spyte van  die baie wondertekens wat Hy voor sy eie mense, die Jode, gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie (1:11)  . Hulle reaksie op Hom was volgehoue ongeloof. Johannes sien hierin ‘n vervulling van Jes 53:1 wat hy uit die Griekse vertaling aanhaal: ‘Here, wie het ons boodskap geglo (Jesus se woorde wat Hy van die Vader gekry het, 3:34; 7:16-17; 8:26,28; 12:49-50 ), en aan wie is die arm van die Here (Jesus se wondertekens) geopenbaar?’  Die klag in Jes. 53 oor die Jode se ongeloof in die dienaar van die Here wat verag en deur mense verstoot is, gaan voort tot by die Jode se ongeloof teenoor Jesus en sy boodskappers – en tot vandag toe onder mense.

12:39-40 Dit is nie net dat die mense nie in Jesus geglo het nie, hulle kon ook nie in Hom glo nie, soos reeds in Jesaja 6:10 uitgespel is: ‘Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart begryp en omdraai en Ek hulle sal genees nie’ (die teks word deur Johannes vry aangehaal ; Jes. se opdrag word hier iets wat reeds gebeur het, en Jesaja se ‘sodat hulle nie genees word nie’, word ‘sodat Ek hulle nie sal genees nie’). Toe hulle Jesus se woorde gehoor en wondertekens gesien het,  moes hulle die besluit geneem het om in Jesus as Seun van God te glo. Agter hulle beslissing staan die beskikking van God. Daarmee is hulle nie van hulle verantwoordelikheid onthef nie, en word hulle deur God verwerp en geoordeel (3:36). Slegs dié wat die Vader aan Jesus gee, húlle glo in Hom (6:37,44,65; 10:29). Hulle is soos ‘n stuk hout wat uit die vuur gered is (Sag.3:2).

 

12:41 Die heerlikheid van die Here wat Jesaja gesien het (Jes 6:1-3) word hier geïdentifiseer met die heerlikheid van die Seun van God (1:14). Sy verwerping deur die ongelowiges en sy vernedering, waarvan die aanhalings uit Jesaja getuig, is deel van die openbaring van die heerlikheid van die Messias. Jesus se lyding en sy offer aan die kruis vir ons sonde is sy heerlikheid; die bevestiging dat Hy ‘vol genade en waarheid’ is (1:14).

 

12:42 Daar was egter selfs baie van die lede van die Joodse Raad wat in Jesus geglo het, om nie eers van die gewone mense te praat nie. Maar hulle posisie op die Raad en status as leiers van die volk was in gevaar as hulle openlik sou bely het dat hulle in Jesus glo. Dan sou hulle aposunagoogoi  word,  ‘uitgebandes-uit-die-sinogoge’ (vgl. 9:22), met verlies van hulle sitting op die Raad, en toegang geweier word tot die weeklikse samekomste van die volk in die sinagoges. So sou hulle aansien in die gemeenskap verloor.   

 

12:43 Johannes se beoordeling van hulle optrede is: hulle het die eer/erkenning van mense liewer gehad as die eer/erkenning van God. Die weg tot die eer van God is deur Jesus aangedui: dit gaan deur lyding en vernedering tot verhoging en heerlikheid. Dit is ‘n stille beroep op Johannes se lesers om die eer van God hoër te ag as die eer van mense, en met vrymoedigheid te bely dat Jesus God is wat in ons plek gesterf het, en dat Hy ons, wat in Hom glo, se Here oor ons lewe is. Jesus is God se Gestuurde, met die opdrag om met gesag te praat en op te tree in sy Vader se Naam (vgl. Johannes die Doper se getuienis oor Hom in 3:31-36;  en Jesus se getuienis in 6:38; 7:33; 8:16,18; 28-29; 44;  10:36-38). 

 

Hier eindig die vertelling van Jesus se openbare optrede (hoofstukke 1-12). In hoofstukke 13-16 word vertel van Jesus se onderrig van sy enger groep dissipels en sy gelowige volgelinge deur die eeue, deur sy gesprekke met sy dissipels, en in hoofstuk 17 voor hulle deur sy gesprek met sy Vader oor hulle en dié wat deur hulle tot geloof in Jesus sal kom.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan