Die sesde wonderteken – die genesing van ‘n blindgeborene op die sabbat (9:1-41)

Die sesde wonderteken – die genesing van ‘n blindgeborene op die sabbat (9:1-41) – Francois Malan

 9:1 Die 1983-vertaling ‘terwyl Jesus wegstap’ verbind die gebeure met 8:59 toe Jesus die tempel verlaat het.  Letterlik staan daar ‘toe Hy verbystap’ – die genesing het blykbaar ‘n hele ruk later geskied, toe Jesus nog in Jerusalem  rondgestap het. Die skrywer plaas egter die genesing van die blindgeborene ná die geestelike blindheid van die Jode in hoofstuk 8,  as ‘n bewys dat Jesus die Lig vir die wêreld is, soos Hy in 8:12 gesê het. Hy laat blindes sien en siendes sink weg in die blindheid van ongeloof. Jesus sien egter ‘n man wat van sy geboorte blind was, raak.

9:2 Volgens die opvatting van daardie tyd was siekte die straf vir sonde, en kon die oortredings van ouers straf oor hulle kinders en kleinkinders bring (Eks.20:5). Daarom aanvaar die dissipels dat die man se blindheid ‘n straf is, maar was dit sy eie of sy ouers se sonde? [Die rabbi’s het uit die voorgeboortelike stampery van Rebekka se tweeling (Gen 25:22) die moontlikheid van sonde voor geboorte afgelei].

 

9:3 Jesus wys die vrae na die oorsprong van die siekte af, en wys na die einddoel van die siekte, nl. dat die werke van God deur die blindgeborene aan die lig kom. Die genesing sal ook bewys Jesus is die ‘Ek is’, die God van die voorvaders (8:58). Die Here maak siende of blind (Eks. 4:11).

 

9:4 ‘Moet ons’: Jesus betrek sy volgelinge saam met Hom in sy huidige sending, soos Hy ook in die toekoms gaan doen (14:12; 20:21) . In  5:17 het Hy Hom verweer teen die klag dat Hy op die Sabbat genees: ‘My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.’ Hy het gekom om die werke te doen wat sy Sender vir Hom en vir ons opgelê het. Die tyd om dit te doen, is beperk tot ‘terwyl dit dag is’. Hy en elke volgeling van Hom het ‘n ‘uur’ wat deur die Vader bepaal word. Dit gee die versekering en dringendheid aan sy en ons diens aan God en aan  mense. Die nag kom – die tyd van sy dood en ons dood, die beëindiging van ons werktyd. Sy dood kom al nader met die Jode wat Hom wil doodmaak. Daarom  moet ons nie tyd mors met vrae oor waarom dinge met ons gebeur nie (v3), maar lewe met die oë gerig op die einddoel van ons lewe, om die werke te doen wat die Vader vir ons en vir Hom oplê.

 

9:5 Terwyl Jesus egter nog in die wêreld is, is Hy die Lig vir die wêreld (8:12: ‘wat lewe gee’). Daarvan gaan die wonder van die blindgeborene se genesing ‘n simbool, ‘n teken, ‘n bewys wees. Die man wat tot nou toe in die duister geleef het, ontvang lig vir sy oog en vir sy lewe.   

 

9:6 Jesus spoeg op die grond, maak daarmee klei aan, en smeer dit aan die blindgeborene se oë. Dit verskil van die ander genesings deur aanraking (Mt 20:34), met ‘n enkele woord (Mk 10:52;  Lk 18:42), in Mk 7:34 nadat hy sy vingers in die doofstomme se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer het om die doofstomme, wat Hom nie kon hoor nie, te laat verstaan (vgl. Mk 8:23,25 met spoeg en handoplegging). Verskillende verklarings word vir die optrede gegee: In die volksgeloof is spoeg soms as ‘n magiese geneesmiddel vir sekere kwale beskou. Die rabbi’s het ‘n verbod daarop geplaas weens die verband met towery. Jesus gebruik dit om die geloof in die man te wek, en so die swakheid van die mens tot hulp te kom. Die hoofsaak is egter geloofs-gehoorsaamheid, daarom kry die blinde die opdrag om hom in die Siloambad te gaan was.

[Die maak van klei is deur die kerkvaders verbind aan die skepping van die mens uit die stof van die aarde (Gen.2:7). Ireneus het daarop gesê: dit wat die Kunstenaar – die Woord – uitgelaat het om in die moederskoot te vorm het Hy in die openbaar voorsien, sodat die werke van God in Hom tot openbaring kom.]

 

9:7 Siloam is die Griekse spelling vir die Hebreeuse Sjiloach (Jes 8:6), ‘gestuur’ wat verwys na die water wat uit die Gihonfontein met die tonnel deur die berg na die bad gestuur is. Johannes sien Jesus as die ‘Gestuurde’ , die geestelike Siloam. Die blinde kan sien, nadat hy in Siloam gebad het (vgl. Naäman in die Jordaan , 2 Kon 5:10-14), maar hy verkry sy sig eintlik deur God se ‘Gestuurde,’ Die identifisering van Jesus met Sjiloach is moontlik gesuggereer deur Jakob se seën van Juda: ‘jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp’ (Gen 49:10 Silo in Hebreeus: Sjiloh). Jesus se spoeg en klei, en die blinde se gehoorsame was in Siloam was tekens om die blinde se geloof te versterk. Sy ondervraers was oortuig dit is Jesus self wat hom genees het (9:11,15). Die blindgeborene wat Jesus se woord gehoorsaam, kom siende terug. Die ontwyfelbare wonder het geskied. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus is groter as Abraham en die profete (8:48-59)

Jesus is groter as Abraham en die profete (8:48-59) – Francois Malan

8:48 Smalend antwoord die Jode: ons het tereg gesê – reeds tevore so oor Jesus gepraat: Jy is ‘n Samaritaan en het ‘n duiwel. Die Jode het die Samaritane verag, gehaat en beskuldig van towery (vgl. Hand.8:9); Jesus het gesê die duiwel is hulle vader – die Jode beantwoord dit met: jy het ‘n duiwel – is een van die onderdane van die duiwel (vgl. Mat 12:24; Mk 3:22).

8:49 Jesus ignoreer die skimp dat Hy ‘n Samaritaan is – Hy het immers ook vir die Samaritane gekom (4:40-42). Maar die beskuldiging dat Hy ‘n duiwel het, word weerlê deur sy woorde en dade, nl. dat Hy die wil van sy Vader doen en daardeur die Vader eer. Maar hulle verwerp sy woorde en doen Hom oneer aan met hulle belediging, en daarmee ook aan God, sy Vader.

 

8:50 Christus kom egter nie vir sy eie eer op nie. Daar is Een wat dit soek en oordeel, en Hy is die Regter in hierdie geding tussen Jesus en die Jode. Hulle ‘soek’ Hom met bose bedoelings, naamlik om Hom dood te maak (5:18; 7:1,19,25,30; 8:37,40, ens.). Sy Vader ‘soek’ om sy Seun te verheerlik en aan Hom goddelike eer te gee (8:50,54; 11:4; 13:31-32; 16:14). Voor die regterstoel van die Vader sal die Jode moet rekenskap gee van die oneer wat hulle Jesus aandoen (8:49).

 

8:51 Voorwaar, voorwaar, verseker Jesus hulle:  as iemand sy woord steeds gehoorsaam  deur dit te glo, daaraan vas te hou, dit te doen, en daarvolgens te lewe, het hy reeds deel vaan  die soort lewe wat die fisiese dood nooit kan uitwis nie. Die koninkryk van God het gekom, in die lewe, bediening, dood en opstanding van Jesus, en in sy stuur van die Heilige Gees. Die lewe is beskikbaar vir elkeen wat in Jesus glo. Die verwysing na die Regter (v50) gee daartoe aanleiding dat Jesus die uitspraak maak oor die bestemming van die mens wat in Hom glo. Sy woord is die volle omvang van sy prediking, die blye boodskap van verlossing. Hy is die Woord van God, die versoening van ons sonde voor God, wat ons kinders van God maak (vgl. 5:24 het die ewige lewe). Vir die Jode is dit andermaal ‘n uitnodiging om Jesus te aanvaar as die Woord van God

 

8:52 Die Jode maak sy uitnodiging af as onsin van ‘n mal man, deur sy woord hulle mis te verstaan. Hulle verstaan die woord ‘dood’ as liggaamlike dood, en verstaan die woord ‘ewigheid’ as ‘nooit nie’. ‘n Ewige voortsetting van die liggaamlike lewe is ondenkbaar –  van  die ‘ewige lewe’ het hulle geen begrip nie. Abraham, die voorvader van die volk Israel, en die profete, wat in die Gees van God gewerk het, die groot godsmanne van die verlede, het gesterf – dit is die menslike ervaring van die dood. Uit hulle ongeloof weet hulle Hy het duiwel.

 

8:53 Hulle meen Hy oorskat Homself en sy volmag mateloos, en dit teenoor die groot manne uit die verlede van God se openbaring aan die mens.  In 5:18 was hulle oordeel: Hy maak Homself gelyk aan God – want God alleen is ewig en kan ewige lewe gee. Daarom was sy woorde vir hulle godslasterlik. Die Jode interpreteer sy woord as  grootdoenerige voorgee om ‘n mag te besit wat Hy nie het nie.

 

8:54 Jesus antwoord op hulle vraag. Hy soek nie sy eie eer nie (v50). Sy Vader sal Hom verheerlik as Hy verhoog word  aan ‘n kruis en alle mense na Hom toe trek (3:14; 12:32-33), soos ‘n graankorrel wat sterf om baie vrug te dra (12:23-24). Dit is die kloof tussen Jesus en die Jode se idee van God en van Jesus. God se manier om Jesus te verheerlik is deur sy selfopoffering, deurdat God self ‘n swakke mens word onder mense (1:14)  en ‘n skandelike dood sterf om mense aan die dood te ontruk en aan hulle die ewige lewe te gee. Sy selfopoffering is so ver van selfverheerliking af as die hemel van die hel. En hulle durf van die Vader sê dat Hy hulle God is!

 

8:55 Hulle ken nie die God op wie hulle hul beroem nie! Hulle het ‘n verkeerde idee oor God. Jesus ken Hom en as Hy sou sê dat Hy God nie ken nie, sou Hy ‘n leuenaar wees, soos hulle – wat sy dood soek (8:44). Die Seun ken die Vader in die allernouste manier, waarby geen mens kan kom nie. Jsus hou Hom gebonde aan die woorde van die Vader om in gehoorsaamheid te doen en te sê wat die Vader aan Hom opdra. 

 

8:56 Abraham  het hom uitermate verheug oor die dag van Jesus, oor sy koms na die wêreld. Dit is so anders as die Jode wat nie deel in hulle voorvader se vreugde oor Jesus nie. Abraham het hom verheug oor die blye vooruitsig van ‘n nakomelingskap op grond van God se belofte (Gen.12:3). In die seun wat aan Abraham beloof is sou al die volke van die aarde geseën word. Abraham het wel die vervulling daarvan gesien en hom verbly – waarskynlik vanuit die hemel (vgl. Luk. 16:22).   

 

8:57 Die Jode hou vas aan die letterlike betekenis van Jesus se woorde en dit lei tot ‘n nuwe misverstand. Hulle lei af dat Jesus vir Abraham gesien het. Dit is tog onmoontlik aangesien Jesus nog nie eers 50 jaar oud is nie. Volgens Num 4:3, 39; 8:24-25was die werksjare van ‘n Leviet van hy 30 word tot hy aftree op 50. Jesus is nog nie eers ‘n senior nie, en as ‘n junior maak Hy daarop aanspraak dat Hy Abraham gesien het, wat eeue gelede geleef het. Die aanspraak van Jesus is vir hulle lagwekkend, en duidelik ‘n leuen, omdat hulle nie sy godheid raaksien nie.

 

8:58 Weereens bevestig Jesus sy volgende woorde as die absolute waarheid: ‘Voor Abraham geword het, is Ek.’ Die kontras word onderstreep tussen ‘n bestaan wat met geboorte begin (vgl. Joh.3:6 wat uit die mens gebore is, is mens) en die ewige ‘Ek is’ wat Hom aan Moses bekendgemaak het  (Eks 3:14; die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, Eks.  3:15; vgl. Ps 90:2). Jesus se woord ‘voor Abraham was, is Ek’ is die grond vir die belofte van die verlossing van God se volk. Daarom kan Jesus die ware vryheid gee (Jn 8:31-32) en die lewe wat die dood oorwin (8:51).

 

8:59 Die Jode begryp dat Jesus Hom met God gelyk gestel het. In hulle oë is dit godslastering, waarvoor iemand gestenig moet word (Lev. 24:16). Maar dan moes hy eers deur die Raad verhoor en skuldig bevind word. Maar in hulle woede dink die Jode nie aan die regsproses nie. Hulle wil die wet in eie hande neem en begin klippe optel om Hom te stenig. 1983-vertaling: ‘Maar Jesus het gaan skuil’ – letterlik staan daar: ‘Maar Jesus  is verberg’; die werkwoord is ‘n passief (vgl. sy optrede in Nasaret toe hulle Hom by die krans wou afgooi, Lk 4:30) . Sy ‘uur’, deur God bepaal,  het nog nie gekom nie (2:4; 7:30; 8:20). En Hy het van die tempel af weggegaan.    

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Kinders van Abraham en kinders van die duiwel (8:41-47)

Kinders van Abraham en kinders van die duiwel (8:41-47) – Francois Malan

8:41 Julle doen die werke van julle vader!  Maar hulle vader  is nie Abraham nie. Hulle meen Jesus suggereer dat hulle uit owerspel gebore is omdat hulle ‘n ander vader as Abraham sou hê. Hulle protesteer: hulle is nie buite-egtelike kinders van ‘n ander pa nie Die Jode begin egter begryp dat Jesus van ‘n geestelike kindskap praat. Daarom wil hulle Hom oortroef met hulle geestelike afstamming van die een Vader, nl. van God. Daarom begin hulle oor godsdiens redeneer (soos die Samaritaanse vrou toe sy in ‘n hoek gedryf is). Daagliks bely elke Jood: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here (Deutr.6:4; 14:1,2; vgl. Jes.63:16). Die profeet Hosea het egter 750 jaar vantevore reeds Israel se afgodery gestriem as geestelike hoerery (Hos. 6:10), en Israeliete almal owerspelers genoem. Daarvan distansieer hierdie Jode hulle. Hulle is nie soos Hosea gesê het nie, hulle dien net een God.

8:42 Hulle aanspraak word egter verwerp. As God hulle Vader sou wees, sou hulle dadelik erken het dat Jesus van God af kom, deur God gestuur is, en Hom liefhê in stede van Hom te haat. Jesus beklemtoon weer dat Hy nie uit sy eie na hulle toe gekom het nie, maar deur God gestuur is. As hulle God se Gestuurde haat en wil doodmaak, verwerp hulle God ook, en kan hulle geensins geestelike kinders van God wees, ten spyte van hulle daaglikse belydenis van hulle verbintenis aan een God. Hulle verhouding teenoor Jesus loën hulle belydenis.

 

8:43 Hulle verstaan nie wat Jesus met hulle praat (lalein) nie, dit bly vir hulle net woorde, sonder dat hulle die betekenis van Jesus se boodskap (logos) kan  aanhoor/verstaan, omdat hulle dit nie in geloof aanvaar nie. Hulle ongeloof het hulle sinne so verhard dat hulle onbekwaam daarvoor is (Jesus is die Woord –logos – van God!).

 

8:44  Hulle verhardheid en moordplanne wys duidelik dat hulle nie kinders van God is nie, maar kinders van die duiwel. Hulle voer gewillig die ‘begeertes’ van hulle vader  uit, veral om dood te maak, want: (i) hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af (vgl. Gen 2:16; 3:4-5; 4:6-8; Rom 5:12); (ii) hy is ‘n leuenaar, wat nou van God se openbaring in Jesus ‘n leuen probeer maak en nie aan die kant van die waarheid staan nie, omdat hy nie in die waarheid staan nie; (iii) hy is die vader van die leuen, deur ‘n leuen te maak van God se waarskuwing aan Adam en Eva (Gen 3:3,4). Dieselfde oordeel  word oor die Jode gevel in Openb.2:9.

[In 2:24 van die apokriewe boek Die wysheid van Salomo’, geskryf in 40 v.C., staan bv. ‘deur die duiwel se jaloesie het die dood in die wêreld ingekom’].

Lynreg daarteenoor staan Jesus en sy werke. Hy het gekom (i) om vir die wêreld die lewe te bring (6:47,68); (ii) om die waarheid te openbaar (8:40); (iii) om die mensdom in staat te stel om deel te word van dié lewe en die liefdeskrag daarvan, deur Jesus lief te hê (8:40,42) . Soos die duiwel die woorde en werke van Jesus teenstaan, so is die Joodse teenstanders van Jesus gewillige instrumente van die duiwel, spesifiek in hulle pogings om  Hom dood te maak. God se openbaringswerk in Abraham en Moses en Christus is aan mekaar verbind. As jy jou van een van hulle losmaak, het jy uit God se openbaringsplan gestap, en jou van God en die waarheid losgemaak.

 

8:45  Juis omdat Jesus die waarheid praat oor God, God se verlossingsplan, oor Homself, oor die mens en oor God se skepping glo die Jode Hom nie, want hulle word deur die begeertes van die duiwel gelei – hy begeer die dood van Jesus, wat vir mense die ewige lewe bring. Die Jode val in by die duiwel se aard en begeertes: moordgedagtes en verwerping van die waarheid wat Jesus verkondig.

 

8:46 ‘Wie van julle kan my berispe/teregwys oor sonde?’ Wat het Jesus gesê of gedoen wat die dood verdien?  Sy lewe en sy woorde is dieselfde – Hy lewe die waarheid van God wat Hy verkondig. Waarom glo hulle Hom dan nie? Die regverdigheid van Jesus word aan die Joodse leiers duidelik uitgespel deur niemand minder nie as Pilatus (18:38b; 19:4-6), en deur die eeue aan ons deur die Heilige Gees wat bewys dat die reg aan sy kant is (16:8-10). Met sy uitdaging het Jesus ook iets oor Homself geopenbaar: Hy het aan die mens gelyk geword, maar sonder sonde (Hebr.4:15).

 

8:47 ‘Wie uit God is, hoor die woorde van God’ soos Jesus uit God is en alles doen wat sy Vader sê. Daarom is Hy sonder sonde; dit geld ook diegene onder sy hoorders wat uit God is (wat weer/van Bo gebore is, 3:3; uit die Gees gebore is, 3:8); hulle hoor die woorde van God. Maar die Jode gee hulleself oor aan die vader van leuens, verhard hulleself teen die waarheid, en wys so wie hulle vader is (1 Joh 4:4-6). Daar moet ‘n geestelike verwantskap met God bestaan voordat iemand die woorde van God kan aanvaar en gehoorsaam. Die Jode luister nie omdat hulle  nie kinders van God is nie. Met dié beskuldiging roep Hy hulle weereens tot bekering, om te besef waarmee hulle besig is.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die waarheid maak vry (8:30-40)

Die waarheid maak vry (8:30-40) – Francois Malan

8:30 Baie van die mense, wat geluister het hoe Jesus die Jode op verskillende maniere probeer oortuig het van sy verhouding met die Vader, het begin om in Hom te glo. Hy is self die inhoud van sy prediking. Dit gaan om vertroue in Hom, dat Hy deur God gestuur is, dat wat Hy sê die waarheid en die regte lewenspad is, en dat jy jou lewe aan Hom oorgee as jou Here en Leidsman, as jou God vir wie jy lewe. Hy is die ware openbaring van God wat met genade en waarheid na die wêreld gekom het (Jn 1:14,17).

 

8:31 Hulle het begin glo, maar nou kom die vermaning: hulle moet bly in sy woord, voortlewe in sy woord. Dit is die hoofsaak vir die gelowige, en ‘n kenteken van ‘n ware gelowige: ‘n vasberadenheid om te lewe volgens die woord van Jesus deur getrou daarna te luister (en te lees), dit te oordink en daarvolgens op te tree. Dit word in 15:7 beskryf: As julle in my bly, en my woorde in julle – ‘n lewe te lei wat in Christus bly, wat moontlik is met Christus in ons. Dit vra ‘n voortgaande innige persoonlike gemeenskap met Jesus, soos die dissipels wat saam met Hom gewandel het.

 

8:32  Die lewensproses, om daagliks  in geloof en vertroue saam met Jesus te wandel, beteken om die waarheid te leer ken en te begryp, naamlik die openbaring van God aan ons deur Christus se lewe en woorde (vgl. 8:28 dan sal julle weet ‘Ek is’) en die verlossing wat Hy bring. Dit beteken om te lewe en te werk onder die verlossende heerskappy van God, ‘n Eksodus-uittog uit die slawerny van sonde vir die nuwe volk van God uit alle nasies, in ‘n nuwe lewe met die inwoning van  die Heilige Gees, sodat strome lewende water uit ons binneste sal vloei na ander (7:38). Dit is waarvoor  die waarheid ons sal vrymaak (‘n nuwe en onverwagte woord vir die Jode).  In die gestalte van Jesus omvat God se waarheid die openbaring van sy liefde vir die wêreld, vir die mensdom met sy wetenskap, filosofie en eindbestemming (1:14,17). In sy persoon is Jesus dié waarheid (14:6).

 

8:33 Die Jode se antwoord toon weer ‘n dubbele misverstand – oor wat waarheid is (bespreek in 18:34-36), en wat dit beteken om ‘n kind van Abraham te wees (bespreek in 18:37-40). Was kinders van Abraham nog nooit iemand se slawe nie? – 400 jaar in Egipte? 70 jaar in Babel, en nou onder die Romeinse regering? Die Jode spog: ons is die saad (nageslag) van Abraham! Die rabbi’s het verkondig dat besnedenes, as kinders van God se verbond met Abraham, nie afgaan in Gehenna nie, want die verdienstes van Abraham bedek al hulle oortredings van die wet. Hulle reken dat hulle God se wet en al sy beloftes het, en daarom nog nooit innerlik onder vreemde jukke gebuig nie. Daarom beskou hulle hulself as vry. In die vorige hoofstukke is telkens na Moses verwys. In hoofstuk 8 word teruggegryp tot by Abraham.

    

8:34 Met: voorwaar! voorwaar! verduidelik Jesus wat Hy met bevryding bedoel (18:32). Sonde is ‘n innerlike slawerny wat Abraham se nageslag nie vryspring nie, en waarvan Abraham se verdienstes nie bevry nie. Iemand wat sonde doen is ‘n slaaf van ‘n mag wat sterker is as enige mag waaroor ‘n mens beskik. Die feit dat jy sonde doen wys dat jy reeds ‘n slaaf is wat nie daarvoor  kon nee sê nie. Die wortels van sonde-slawerny is ‘n verkeerde verhouding met God, en so ‘n slaaf het ‘n Verlosser nodig (18:31-32).

 

8:35 ‘n Slaaf kan enige tyd deur sy heer verkoop word. ‘n Seun van die eienaar bly altyd sy kind met erfregte. Iemand wat sonde doen is soos ‘n slaaf in die huis sonder enige regte. Die Griekse uitdrukking wat hier vertaal is met ‘altyd’ kan ook vertaal word as ‘vir ewig’ wat in 18:36 verder uitgewerk word. 

 

8:36 Jesus, die ewige Seun van God, bied aan die slawe van sonde ‘n nuwe verhouding tot God aan, en ‘n ewige aandeel in die erfenis in die Vader se huis. Slawe wat bevry is om as ‘n kind van  God te lewe, weet wat ware vryheid is, vry van die mag van sonde.

 

8:37  Biologies gesien is hulle die saad/nageslag van Abraham: ‘Ek weet’, maar iets is drasties verkeerd. Dit is nie die gees van Abraham wat hulle besiel nie; uiterlik is hulle besnede Jode, maar in hulle wese het hulle niks van Abraham in hulle nie (18:40; vgl. Johannes die Doper se woord in Mat.3:9). Die openbaring van God, wat die mensgeworde Woord van God vir hulle bring, kan geen plek onder of in hulle vind nie. Daarom het hulle sy doodsvyande geword. Abraham het die woord van God geglo en weggetrek sonder om te weet waarheen die Here hom lei. As hulle vir Jesus, ‘die Woord van God’ wil doodmaak, verloën hulle hulle kindskap van die gelowige Abraham.

 

8:38 Hulle optrede verskil lynreg van Abraham se optrede. Dit blyk dat ‘n ander vader by hulle ‘n rol speel. Jesus luister gehoorsaam,  en sê en doen net wat sy Vader vir Hom sê (8:26,28,29). Hy openbaar aan die wêreld hoe God waarlik is en wat van God se kinders verwag word (5:17). Die Jode volg hulle vader – Jesus spel nie uit wie die vader van die Jode is nie – en hulle doen wat hulle vader sê.

 

8:39 Die Jode herhaal hulle aanspraak: Abraham  is ons vader! Jesus ontken dit deur onderskeid te maak tussen die ‘saad/nageslag’ van Abraham wat biologies afstam van Abraham (8:33,37) en ‘kinders’ van Abraham wat soos Abraham lewe in geloof en vertroue op God en sy woord (vgl. Rom 2:28-29; 9:6-8; Jer.9:25,26; en Mat.3:9) . Uit die Jode se dade blyk dit dat hulle nie ‘kinders’ van Abraham is nie, in ‘n dieper en omvattender sin as slegs natuurlike afstamming.

 

8:40 Hulle strewe om ‘n mens dood te maak wat vir hulle die waarheid vertel wat Hy self by God gehoor het, staan lynreg teenoor Abraham se lewe wat gekenmerk was deur geloof en gehoorsaamheid bloot  aan God se woord (Gen 12:1-4; 22:15-18). Jesus is God se woord (1:1); God het eintlik deur Jesus met Abraham gepraat, en Abraham het Hom geglo. En hier soek die saad/nageslag van Abraham om Hom dood te maak.

 

Skrywer: Prof Francois Malan