Jesus se selfgetuienis oor sy hemelse oorsprong (8:21-29)

Jesus se selfgetuienis oor sy hemelse oorsprong (8:21-29) – Francois Malan

8:21 Die woorde van  Jesus se weggaan in 7:33-34 word herhaal, maar hier met baie ernstiger gevolge vir dié wat nie in Hom glo nie. Ironies sal die Jode Hom soek om die gawe van God, wat Hy verkondig het, by Hom te kry, maar hulle sal Hom nie vind nie, en sterf in hulle sonde van ongeloof, terwyl die gelowiges die lig wat lewe gee sal hê (8:12). Ongelowiges lewe in die duisternis van hierdie wêreld op pad na die ewige dood , wat die uitsluiting is uit die koninkryk van God, uit die huis van my Vader waar daar baie woonplek is (14:1-3). 

8:22 Die dringende waarskuwing word met ‘n smalende vraag deur die Jode beantwoord. Op sy woorde in 7:33-35 het hulle ook sarkasties gevra of Hy dan die land uit wil gaan sodat hulle Hom nie sal kry nie. Nou vra hulle of Hy selfmoord wil pleeg. Dat Hy Homself mag doodmaak sou Hom buite hulle bereik gestel het, want vir die Jode was selfmoord ‘n veragtelike daad waardeur so ‘n mens gaan na die ‘donkerste Hades’ (sê Josefus), die onderste dele van die doderyk, waarheen geen ordentlike Jood  in elk geval wil gaan nie. Die rabbi’s het uit Gen. 9:5 afgelei dat God van die selfmoordenaar sy eie bloed sal eis. Eintlik is hulle woorde wrange verwysings na Jesus se selfoorgawe in die dood as ‘n vervloekte aan ‘n kruis vir ons sonde, deur met sy bloed vir ons versoening te doen (Deutr. 21:23; vgl. die ironie van hulle vraag  of Jesus na die Grieke toe wou gaan, 7:35). 

 

8:23 -24 Jesus antwoord nie op hulle snedige opmerking nie, maar verklaar die wesenlike verskil tussen Hom en hulle. Hulle is gemaak van die aarde se stof en is tuis in die wêreld van sonde en verganklikheid (die dood as straf op die sonde, Gen. 2:17). Hy kom as God van Bo af, om uit die straf van die dood te red. Maar hulle glo nie ‘Ek is wat Ek is’ nie. So het God Homself aan Moses bekendgemaak (Eks. 3:14). Jesus is die Woord van God wat tot Moses gekom het. As hulle in Hom sou glo, sou hulle gered word (vgl. Jes. 43:10,11,24; en Ps 118:25-27 wat hulle tydens die Paasfees sing). Jesus het gekom om die mense wat in Hom glo aan die Vader te verbind as sy kinders. Omdat hulle nie in Jesus glo, of sy aanbod aanvaar om by Hom die strome van lewende water (die Heilige Gees – God wat in ons kom woon) te kry nie, sal hulle in hulle sondes sterwe.

 

8:25 Na sy verklaring dat Hy die ‘Ek is wat Ek is’ van Eksodus 3:14 is, vra die Jode vir Hom: ‘Wie is jy?’ Hulle weier om te aanvaar dat Hy iets meer as ‘n mens is, en is daarom in hulle oë ‘n valse aanspraakmaker, ‘n godslasteraar en misleier van die volk. Wie is jy regtig? Hulle bedoel: Wie verbeel jy jou, is jy?

            Jesus se antwoord is in die Griekse teks die mees duistere teks in hierdie Evangelie. Daar is al 7 verskillende vertalings daarvoor aangebied. Die 1983-vertaling verander die antwoord in ‘n vraag: ‘Waarom praat Ek eintlik nog met julle?’ ‘n Ander vertaling wat ook ‘n teregwysing daarvan maak is: ‘Dat Ek enigsins nog met julle praat!’ Ander vertalings: ‘(Ek is) van die begin af wat Ek vir julle sê;’  Die Latynse vertaling, wat vir Luther op die verkeerde spoor geplaas het: ‘Ek is die begin, dit wat Ek vir julle sê.’  Die 1953-vertaling is moontlik die naaste aan reg en behou dit as ‘n stelling: ‘Net dit wat Ek vir julle sê.’ Daarmee bevestig Hy dat Hy is die ‘Ek is’ wat met Moses gepraat het (Eks.3:14), die Een wat is (in die onvoltooide tyd:  nie Hy was, of Hy sal wees nie; na Hom kan jy net in die aktiewe teenwoordige tyd praat)  – die aktiewe God wat aktief is in die hede (Joh. 5:16: My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook). Hy is nie ‘n abstrakte God, êrens nie. Hy is aktief in die geskiedenis van die wêreld en in die lewe van sy volk as die lewende Here.

 

8:26 Hy het baie dinge om oor die Jode te sê en te oordeel (anders as 1983 se vraag in v25b) – om hulle op hulle verkeerde insig en optrede en hulle skuld te wys; en Hy sal voortgaan om vir die wêreld te vertel wat Hy gehoor het by sy Sender. Jesus is Self die waarheid (Joh. 14:6). Die Vader het Hom egter nie gestuur om die wêreld te veroordeel nie (vgl 8:15), maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh. 3:17), en daarmee gaan Hy voort.   

 

8:27 Die Jode verstaan nog nie dat die Vader Jesus se Sender is nie, soos Hy so dikwels al vir hulle gesê het. Daarmee bevestig hulle sy woorde in 8:19: wie die Seun nie ken nie, ken ook nie die Vader nie.

 

8:28 Hy moet verhoog word (3:14). Jesus se verhoging aan die kruis is nou verbind met sy verhoging tot die hemel en tot die regterstoel van God (12:23; 13:31-32; 17:1; vgl. Jes 52:13). Die Jode sal eers agterkom wie Hy is nadat hulle die Kneg van die Here (Jes. 53) aan die kruis verhoog het, en besef dat Hy die Seun van die mens van Dn 7:13,14 is, aan wie God die regering van ganse wêreld oorgedra het. Na sy verhoging sal die gelowige Jode en gelowiges oor die wêreld glo: Jesus is die ‘Ek is’; en dat Hy niks op sy eie gesag doen nie, maar in volkome gehoorsaamheid en vertroue praat en doen wat Hy van die Vader geleer het, nl. die waarheid oor God, oor die hele wêreld, wie se sonde Hy gaan wegneem (1:29).

 

8:29 Sy Sender en Hy het voortdurende kontak en Hy voer sy opdrag getrou uit. Ek (!) Ek doen voortdurend vanself en met graagte wat die Vader behaag (vgl. Ps 40:9). Die Vader los Hom ook nooit alleen nie. Dit is sy beskerming. Wie aan Jesus vat, vat aan die Vader. Dit is ‘n waarskuwing en indirekte pleit by die Jode om Hom te aanvaar  (vgl. Jn 1:11,12).  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20)

Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20) – Francois Malan

Die gesprek tydens die loofhuttefees, wat deur die verhaal van die owerspelige vrou onderbreek is, word hier voortgesit.

8:12 ‘Op ‘n ander keer…’ – letterlik: ‘Jesus het weer… (tydens dieselfde fees) – vir die mense gesê…’ Die Evangelieskrywer beskou Jesus as die mens se toegang tot God. Hy vervang die Paasfeesoffers vir die sonde as die Lam van God (1:29,36), sy liefdesoffer van Homself vervang die tempel as die deurgang na God (2:21; 4:21-24; 14:6), en Hy vervang die Loofhuttefees as God wat self in die gelowige kom woon deur die Heilige Gees (7:39; 14:20,23). Strome van lewende water vloei uit elkeen wat in Hom glo (7:38), soos die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte, wat tydens die fees in herinnering geroep word deur water wat op die altaar uitgegooi word. Hy is ook die Lig vir die wêreld, soos die vuurkolom vir Israel se trek deur die nag, en die wolkkolom bedags om hulle te lei, as die teken van die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle (Eks. 13:21-22; 40:34-38). Met die Loofhuttefees is die tempel  met groot lampe verlig en daar was heelnag kore en danse met fakkels tot eer van die Here, met die hoop op ‘n tweede eksodus wat deur God gelei word. Christus openbaar Homself as die teenwoordigheid van God self wat hulle lewe kom verlig (Ps 27:1), om hulle te lei in die nuwe uittog uit die duisternis van die sonde na God toe, om in sy teenwoordigheid en onder sy leiding te lewe (vgl. Jes. 60:19-22; Sag. 14:5b-7).

 

8:13 Jesus het in 5:31-39 na drie getuies verwys wat God aan die Jode verskaf het (Johannes die Doper, Jesus se werke, die Skrifte). Hier plaas Hy Hom egter bo die Wetsgrond, omdat sy woord die volle waarheid is en geen verdere getuies nodig het nie, want Hy kom van die Vader en gaan na die Vader terug – die Woord van God, self God (Jn 1:1). Die Fariseërs gaan egter nie op sy uitspraak in nie, maar opper ‘n formeel-regterlike beswaar.  Hulle hoor nie sy wonderlike uitnodiging om Hom te volg nie, en ervaar nie die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle nie. Hulle is so verstok deur hulle wetsgebondenheid, dat hulle net verwys na Deutr. 19:15 se eis van twee of drie getuies, en Jesus as die Lig vir die wêreld verwerp. Sy getuienis is vir hulle waardeloos want Hy getuig oor Homself – dit impliseer vir hulle net selfbelang. Maar Hy en sy woord is juis in hulle belang. Die koms van Lig is egter vanself ‘n oordeel, ‘n beslissing, want die mense het die duisternis liewer gehad as die lig omdat hulle werke boos is (3:19-21).

 

8:14  Jesus se onverwagte antwoord is: As Ek oor Myself getuig is my getuienis waar! Want Ek weet waar Ek vandaan kom (sy oorsprong) en waarheen Ek gaan (sy bestemming), en sy teenstanders weet nie. Hy kom van God en gaan na God (13:3) en God is met Hom (8:16). Dit onderstreep die eenheid van Vader en Seun. Die selfgetuienis van Jesus is die openbaring van God, want Hy is die Woord van God (1:1).

 

8:15 Die Jode kon dit nie verstaan nie, want vir hulle geld net wat voor oë is (7:24), die uiterlik sigbare verskyning van Jesus in ‘n nederige gestalte. Sy goddelike ewige wese sien hulle nie raak nie. Die doel van Jesus se sending is egter nie om te oordeel nie (3:17), maar die oordeel is ‘n onafwendbare gevolg van sy koms en sy woord.

 

8:16 Soos sy getuienis oor Homself van die Vader kom (v14), so kom sy oordeel ook van die Vader af. As Jesus praat is daar  altyd ten minste twee getuies: die Vader en die Seun. Daarom is sy getuienis waar!  Dit openbaar die hart en denke van God.

 

8:17-18 Jesus verwys na ‘julle wet’ se voorskrif van twee getuies, Jesus noem dit twee persone. Hy en die Vader is twee persone met dieselfde getuienis: Ek, Ek is (soos Hy Hom aan Moses geopenbaar het) die een wat oor My getuig, en die Vader wat My gestuur het getuig oor My – as geregtelike getuies, maar ook as mede-getuies van die verkondiging van Jesus. Alle getuienis oor Jesus kom van die Vader en die Seun saam. 

 

8:19 ‘Waar is jou Vader?’ openbaar  weer ‘n misverstand onder die Jode, en van hulle minagting vir Jesus. Hulle wil die tweede getuie sien en sy getuienis hoor. Omdat hulle nie Jesus as die Gestuurde van die Vader kan herken nie, lei hulle af dat  hulle die sogenaamde Vader van Jesus nie ken nie en daarom nie sy getuienis kan aanvaar nie. In 5:37 het Jesus reeds gesê: ‘Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie’ – as iemand Hom van Jesus afsny, nie in Hom glo nie, sny hy homself ook van die Vader af (5:18). Waar is God? Daar waar Jesus is! Wie die Seun sien, sien die Vader (14:9). Daar is geen ander toegang tot God nie (14:6).

 

8:20 Ná Jesus se getuienis dat Hy deur die Vader gestuur is, en dat hulle nie die Vader ken nie, wou hulle Hom gryp oor sy ‘valse’ leer (7:28-30). In die tempel se voorhof van die vroue was daar  13 offerkiste vir die bydraes van die volk. Daar openbaar Jesus Homself aan die Fariseërs en aan die mans en vroue wat na Hom geluister het. Maar omdat sy uur nog nie gekom het nie, kon niemand iets aan Hom doen nie (soos in 7:30,44; 8:59; 10:39).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




‘n Vrou in owerspel betrap (7:53-8:11)

‘n Vrou in owerspel betrap (7:53-8:11) – Francois Malan

Hierdie verhaal is in die vroeë kerk mondelings oorgelewer en eers in die 4e eeu n.C. in sommige manuskripte opgeneem, wat dit op verskillende plekke ingesit het, soms met ‘n aantekening dat dit nie oorspronklik van Johannes af kom nie. Die plasing na Johannes 7:52 suggereer dat die episode tydens die vrolike Loofhuttefees gebeur het. Dit is ook ‘n goeie voorbeeld van wat Jesus in Johannes 8:15 sê.

7:53-8:2  Jesus bly die nag op die Olyfberg (vgl. Mt 8:20; Lk 21:37). Die rabbi’s het gewoonlik gesit wanneer hulle hulle leerlinge geleer het. Jesus sit ook rustig terwyl Hy die volk leer. Sy krag lê in sy persoon en die krag van sy woord. 

 

8:3 Skrifgeleerdes en Fariseërs ‘bring’ die vrou na Jesus toe – die werkwoord suggereer dat dit met geweld geskied, en die werkwoord ‘betrap’  veronderstel ‘n arrestasie, dat hulle haar gegryp het. Die werkwoord vir ‘egbreuk’ veronderstel dat die vrou getroud is. Van die man wat betrokke was, sê hulle niks nie, hoewel die wet dit vereis (Deutr. 22:22). Dat hulle haar in die openbaar voor Jesus sleep, toon hulle nydige en gemene optrede, en dat hulle haar op ‘n slinkse manier betrap het.

 

8:4-6 Hulle saak is waterdig want sy is op heterdaad betrap. Om Hom te vlei spreek die skrifgeleerdes Jesus aan as ‘Leermeester’ (Rabbi), met gesag om die wet te vertolk, soos die Skrifgeleerdes (anders as in 7:15). Hulle verwys na die wet van Moses, na wie Jesus in 7:19-23 verwys het, maar haal hom nie heeltemal reg aan nie. In Lev 20:10 en Deutr. 22:22 word gesê dat die getroude man en getroude vrou altwee doodgemaak moet word oor hulle egbreuk. Hulle wil ‘n strik vir Jesus stel om sy gewildheid onder die mense te knou: As Hy saamstem met die wet van Moses, weerspreek Hy sy optrede teenoor armes en sondaars, en sy ongeërgdheid teenoor die rituele wette. As Hy nie met Moses saamstem nie, bewys Hy Homself as ‘n wettelose persoon wat die volk mislei, teen wie hulle ‘n klag by die Joodse Raad kan inbring.

            Jesus antwoord nie dadelik nie, maar soos Hy sit, begin Hy op die grond skrywe met sy vinger. Wat Hy geskryf het en waarom Hy geskryf het, bly onbekend. 

 

8:7-8 Die aanklaers dring aan op ‘n antwoord. Jesus se opdrag aan hulle kom uit die wet, dat so ‘n vrou gestenig moet word, en Deutr. 13:9-10; 17:7 bepaal dat die getuies die eerste klippe moet gooi. Daarmee bewys Hy dat Hy die wet van Moses ken en gehoorsaam.  Maar Jesus stel ‘n voorwaarde wat op twee maniere verstaan kan word: (i) met die betekenis ‘sonder skuld’ word die klaers gevra of hulle nie ook skuldig is aan owerspel nie; (ii) met die betekenis ‘sonder sonde’ verwys dit wyer, na enige sonde, in denke, woorde en dade voor God. Daarmee word die bordjies in hierdie onoffisiële hofsitting verhang. Die aanklaers word persoonlik in die geding betrek en voor die konsekwensie van hulle woorde gestel. Hierdie is nie ‘n offisiële hofsitting wat op regsgronde argumenteer, en waar hulle die regters is nie. Jesus laat morele oorwegings inspeel op die aanklaers se optrede en hulle verlede. Selfs die aanklaers se motief  is verdag, nl. om iets te kry om Jesus te kan aankla (18:6). Na rustige oorweging verpletter Jesus met sy eis die heerlike gevoel van hulle selfgeregtigheid, en gaan ongestoord voort om op die grond te skryf. Daarmee gee Hy aan die klaers die geleentheid om na te dink oor sy woorde.

 

8:9 Aanskoulik word die toneel geskilder hoe hulle een vir een wegstap. Die oudstes loop eerste. Hulle was die ervare leiers van die jongeres. As die vrou wederregtelik gestenig word, sou hulle die verantwoordelikheid daarvoor dra. Die woorde van Jesus brand in hulle gewete, en hulle weet hulle het geen verweer daarteen nie. Hulle eie sonde het nou meer aktueel geword as die oortreding van die vrou (vgl. Mt 7:1-5). Wanneer almal weg is, bly net die vrou oor, voor Jesus, waar die kring aanklaers  om haar gestaan het. Aangrypend word die nuwe situasie in enkele woorde geskilder: ‘en Hy was alleen agtergelaat, en die vrou wat in die middel is.’ Nou is die hele fokus op hulle twee. Hy, die sondelose, sou haar kon stenig.   

 

8:10,11 Op Jesus se vraag of niemand haar veroordeel het nie, antwoord sy slegs: Niemand nie Here. Die vrou beleef Jesus as die bevryder uit die kloue van haar aanklaers wat haar na die tempelplein toe gesleep het. Hoe sy die aanspreekvorm ‘here’ bedoel het. word nie gesê nie. Maar sy het voor Jesus bly staan en wag op haar Regter se uitspraak.

            Jesus spreek die verlossende woord: Ek veroordeel jou ook nie – Hy het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word  (3:17; 12:47). Maar Hy vermaan haar: ‘Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.’ Hy het haar van die vreeslike straf van steniging bewaar, nie omdat Hy haar oortreding nie so ernstig opgeneem het soos die Joodse streng wetstoepassers nie, maar omdat Hy haar lewe op ‘n nuwe grondslag wou stel: ‘van nou af’ – vir die Samaritaanse vrou het Jesus gesê: daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid..’ (4:23). Daar moet by haar ‘n radikale lewensvernuwing intree, nie voortgaan in sonde nie – nie teen die wil en wet van God leef nie. Wie genade van God ontvang, word geroep tot ‘n nuwe lewe volgens die wil van God.

 

Die verhaal is ‘n uitbeelding van Joh. 3:17-21. Vergifnis beteken bevryding vir ‘n nuwe soort lewe. Genade is altyd onverdiend. Hierdie mooi aanskoulike toneeltjie is opgeneem in die Evangelie om vir ons bewaar te bly as ‘n riglyn vir ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Verdeeldheid onder die mense (7:40-44)

Verdeeldheid onder die mense (7:40-44) – Francois Malan

7:40-41 Na Jesus se openlike verklaring is een groep van die feesgangers oortuig: Hy is die Profeet wat God aan  Moses beloof het in Deutr.18:15,18:  in wie se mond die Here sy woord gee, en vir wie hulle moet gehoorsaam.

            ‘n Tweede groep is oortuig Hy is die verwagte Messias/Christus/Gesalfde, die Koning wat hulle van die Romeinse juk sal verlos (vgl. 6:15).

            Die derde groep kyk vas teen sy vermeende afkoms uit Galilea van die heidene, wat vir hulle ‘n struikelblok is om in Hom te glo.

7:42  Die twyfelaars ken die Skrifte. Hulle weet dat die Messias uit die geslag van Dawid sou kom, uit Betlehem waar Dawid was (1 Sam 20:6; 2 Sam 6:12 Jerusalem as Dawidstad; 2 Sam 7:16;. Ps 89:4; Miga 5:1). Die twyfelaars is onbewus daarvan dat Jesus in Betlehem gebore is, uit die geslag van Dawid (Luk.2:4), en dat sy eintlik herkoms die hemel is (6:50-51)

 

7:43-44 Die meningsverskille lei tot skerp verdeeldheid onder die skare. Sommige dink selfs daaraan om Jesus gevange te neem, maar niemand doen dit nie, want sy uur het nog nie gekom nie – alles verloop volgens die plan van God (vgl. 7:30). 

 

Verdeeldheid onder die leiers (7:45-52)

 

7:45-46 Die wagte wat Jesus moes arresteer (7:32) gaan met leë hande terug, en word voor stok gekry deur hulle senders. Ten spyte van moontlike dissiplinêre optrede, verklaar hulle openlik dat Jesus se woorde hulle weerhou het.. Sy woorde kom met ‘n onverklaarbare onweerstaanbare mag. Sy optrede en woorde het swaarder geweeg as die woorde van die hoogste gesag in die Joodse volkslewe: Fariseërs wat God se woord vir die volk uitlê en toepas, en priesters wat by God intree vir die volk met offerandes.

 

7:47 Die leermeesters wat God se wet vir die volk uitlê is geskok dat selfs die tempelpolisie nie hulle leiding volg nie. Spottend vra hulle: Julle is tog nie ook mislei nie?  Die wagte het hulle laat mislei deur ‘n bedrieër (vgl. by 7:12).  

 

7:48 Die helde-op-‘n-afstand vra met selfverheffing: Is daar dan  een van die leiers of van die Fariseërs wat in hom glo? In Grieks word die vraag so gestel dat die antwoord daarop net ‘nee, niemand nie’ gesuggereer word. Niemand van húlle groep is toeganklik vir Jesus se verleidende invloed nie (Heel ironies skryf Johannes dit, in die lig van v50).

 

7:49 ‘Maar hierdie gespuis (die bevolking van die land), wat nie die wet ken nie, is vervloektes’ (vgl. Deutr 27:26). Vervloek beteken om iemand buite God en sy seën en sorg te stel. Al was die Fariseërs juis die leraars van die volk, het hulle op die gewone mense neergesien (vgl. Lk 18:10-12). In hulle houding tot die gewone bevolking het die Fariseërs en Jesus aan teenoorgestelde kante gestaan.

 

7:50-51 Johannes weet van een lid van die Joodse Raad wat in die nag na Jesus toe gekom het omdat hy geweet het dat Jesus ‘n leermeester is wat van God af kom (3:1-2); anders as die Fariseërs se verklaring in vers 48. Nikodemus tree vir Jesus in, deur die Fariseërs daarop te wys dat hulle nie volgens die wet optree nie, en dus eintlik soos ‘die bevolking van die land’ is, wat nie die wet ken nie. Deutr. 1:16-17 ‘…moenie partydig wees as julle ‘n saak verhoor nie, luister na klein en groot…’ (vgl. Deutr. 17:2-5!). Maar Nikodemus doen dit slegs deur ‘n vraag te stel na die wettigheid van hulle optrede, sonder om hom openlik vir Jesus uit te spreek.

 

7:52 Die atmosfeer is egter so gespanne oor Jesus se optrede dat Nikodemus se vraag oor die regte prosedure bitsig beantwoord word met ‘n wedervraag wat nie sy vraag beantwoord nie, en hom persoonlik aanval. Hulle weet Nikodemus kom nie uit Galilea  nie, maar verkleineer hom deur te suggereer dat hy ‘n landgenoot verdedig wat uit die agterlike Galilea kom, wat nie die wet so nougeset soos Judea onderhou nie (dit is ‘n vergissing, want Jesus is eintlik in Betlehem gebore en kom van God af) , en dat hy, Nikodemus, self nie die Skrifte ken dat geen profeet uit Galilea kom nie (ook ‘n vergissing, want dit is bekend dat bv. Jona uit Galilea gekom het; 2 Kon.14:25). Daarby kan God enigiemand van enige plek af roep, en is hulle snedige opmerking eintlik ‘n beperking en minagting van God.           

 

Twee temas loop deur hoofstuk 7: (i) Jesus het gekom as die vervulling van Israel se geloof en van hulle feeste; (ii) die beoordeling en beslissing oor Hom wat die mense verdeel. Jesus tree openlik, in die openbaar op, tussen die Jode wat Hom wil doodmaak (v1). Toe Hy in hulle kring instap, stap Hy in ‘n openbare verhoor in.

Hy word aangekla van ‘n reeks oortredings: (i) Hy mislei die mense (v12). (ii) Hy is ‘n onkundige leek sonder opleiding en daarom sonder gesag om die mense die wet van God te leer (v15). (iii) Hy oortree die sabbatwet met die genesing van die lamme by die Betesdabad (v21-23). (iv) Hy sê valslik dat Hy die Messias is, want almal weet waar Jesus vandaan kom, maar niemand sal weet waar die Messias vandaan kom voordat Hy aan Israel geopenbaar word nie (v28). (v) Hy kom van Nasaret in Galilea af, en die Skrif sê die Messias kom van Betlehem af (v42,52).   

Jesus antwoord op die klagtes: (i) sy lering kom van God wat Hom gestuur het (v17). (ii) Hy soek nie sy eie eer nie, maar die eer van sy Sender (v18). (iii) Hy kom God se doel met die sabbat vervul (v22-23). (iv) Hulle weet nie waar Hy vandaan kom nie, omdat hulle die ware God nie ken nie (v28,29). 

Jesus se verhoor het húlle verhoor geword. Dit vereis nou van hulle ‘n antwoord en geloof. Nie een van hulle hou Moses se wet nie; dit word duidelik uit hulle begeerte om Hom dood te maak, selfs sonder verhoor, soos die wet vereis. Daarom Jesus se vermaning: Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig (v24). Om regverdig te kan oordeel is dit nodig om in God te glo, en dat Hy Jesus gestuur het om alles te vervul wat Israel se loofhuttefees simboliseer: verlossing deur God, God se woord en wet deur Moses as riglyn vir sy volk (v16-19; 21-23), hulle verwagting van die Messias/Christus-koning (v25-31), strome van lewende water uit die rots in die woestyn (die Heilige Gees in dié wat tot geloof in Jesus kom; v37-39), oesfeesvreugde oor God se gawes.

 

Skrywer: Prof Francois Malan