Strome van lewende water (7:37-39)

Strome van lewende water (7:37-39) – Francois Malan

Die loofhuttefees, wat die uittog uit Egipte herdenk, het sewe dae geduur (Lev 23:33-36;  Num 29:35 sit egter ‘n  agtste dag daarby). Elke môre met sonop het ‘n priester ‘n goue liter-kan vol water geskep uit die Siloambad, waar die water uit die rotstonnel vanaf die Gihonfontein gestroom het. Dit was ter herdenking van die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte (Eks.17:1-6; 1 Kor 10:4). Dit het ook vooruitgesien het die koms van die koninkryk van God wanneer water geskep sal word uit die fonteine van redding (Jes.12:3; Eseg. 47:1-12; Sag.14:8).

Die priesteroptog van Siloam na die tempel met koorsang en danse is by die tempel se waterpoort begroet met drie vreugdevolle aankondigings deur ‘n trompet (sjofar;  vgl. Jes 12:3). Die priesters het om die altaar gestap terwyl die tempelkoor die Hallelujas (Pss 113-118) vir die Here voor die feesgangers gesing het. Met die lees van Ps 118:1 skreeu elke man en seun dit drie maal uit, terwyl hulle die lulab met die regterhand skud (‘n bossie wilger- en mirte-takkies met palmblare vasgebind (Ps 118:27), en ‘n lemoen met die linkerhand omhoog gehou. Na die lees van Ps 118:25 word dit weer drie maal  geskud en geskreeu: ‘Red tog Here, gee tog voorspoed, Here!’ Op die sewende dag is sewe maal om die altaar gestap en die lulab geskud. Die loofhutte was ook die oesfees ná die vrugte-oes, om te bid vir goeie reën tydens die volgende seisoen (Sag.14:16-19). Wyn in een silwer beker en die water in ‘n tweede gegooi en  aan die Here geoffer op die brandofferaltaar. Daarna roep die feesgangers: ‘Lig op u hand!’ en die priester lig sy hand op as teken dat die verrigtinge afgesluit is. Die hele seremonie herinner die feesgangers aan God se verlossing en sorg in die verlede (uittog), hede (oes) en toekoms (koms van die koningskap van God).

 

7:37 Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees het Jesus in die tempelarea gestaan en ten aanhore van almal gesê: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’ (vgl. Jn 4:13,14; 6:35; Jesaja 55:1; Mat 11:28; Openb 22:17).  Die woord ‘dors’ het betrekking op die geestelike nood van die sondaar, wat deur die Heilige Gees se inwerking bewus geword het van sy ellende, en verlang na redding. Hulle word uitgenooi om hulle geestelike dors by Jesus te les as die enigste weg van verlossing

 

7:38 Daar is twee vertaalmoontlikhede vir die eerste woorde ‘wie in My glo’: (i) dat dit die nuwe vers inlei, soos in ons vertaling, en na die aanhaling uit die Ou Testament verwys. (ii) dat dit nog deel is van vers 37 wat dan so lui:

            As iemand dors is, laat Hom na My toe kom; en laat hom wat in My glo drink.

Dan is dit nog deel van Jesus se uitnodiging, met Christus as die enigste bron van lewende water vir elkeen wat glo – die een wat dors is, is dan die gelowige wat oortuig is dat Jesus sy dors kan les, soos in 6:35; Vers 38 begin dan met ‘Soos die Skrif sê…’ Die betekenis van die twee moontlikhede bly egter dieselfde, naamlik God se verlossing in die verlede (Jes 55), hede (nou met Jesus), en in die toekoms (op die oordeelsdag).

            Daar is nie ‘n spesifieke teks in die Ou Testament wat na ‘strome van lewende water’ verwys nie. Maar ‘water’ verwys in verskillende uitsprake na die Heilige Gees (Jes.44:3; Jes 58:11; Eseg 47:1-12; Joël 2:28; 3:18; Sag 13:1; 14:8).

            Die een wat glo, word ‘n kanaal waardeur lewende water, wat Jesus gee, na ander toe vloei. 

 

7:39 Die Evangelis verduidelik (nadat die Heilige Gees reeds uitgestort was toe hy geskryf het) dat ‘lewende water’ ‘n beeld is van die Gees van God wat die mense, wat tot geloof in Jesus gekom het, sou ontvang het. Dit is die Gees wat ‘n mens steeds oortuig, sodat hy deurgaans gelei word om in Jesus te glo. Hoewel die Gees van God deur die eeue werksaam was in die wêreld en onder mense, was dit konings en priesters en profete wat gesalf is as teken van die leiding van die Gees in hulle. Maar sy werk het nog nie ten volle tot openbaring gekom solank as wat die werk van God in Christus nog nie volbring was nie. Terwyl Jesus, self God, by die mense was, het Hy mense probeer oortuig. Maar na Jesus se ‘verheerliking’ – dit sluit in sy verhoging aan die kruis vir ons sonde, sy opstanding uit die dood vir ons oorwinning oor die sonde,  en sy verhoging tot die regterhand van die Vader as ons voorspraak en om te regeer as die Here oor die wêreld en sy kerk – het Hy die Vader gevra om die Gees te stuur om ewig by en in sy volgelinge te wees (14:15-17).

            Jesus kom die loofhuttefees se wyn- en wateroffer vervang met sy bloedoffer en die uitstorting van die Heilige Gees op elkeen wat deur die Woord van God en die werking van die Gees uit die slawehuis van sonde uitgelei word in die ewige lewe by God.

 

Skrywer: Francois Malan

 




Jesus is die Christus (7:25-31)

Jesus is die Christus (7:25-31) – Francois Malan

7:25,26 Onder die feesskare in Jerusalem was daar verskillende groepe wat elkeen op sy eie wyse reageer op Jesus se prediking: (i) die volksleiers ‘die Jode’, wat vyandig was en Hom wou doodmaak;  (ii) die feesskare is onseker (v10) en verontwaardig dat iemand Hom wil doodmaak (v20); (iii) die inwoners van Jerusalem weet iets van die moordplanne, en is verbaas dat Jesus openlik optree, en dat die leiers Hom nie teengaan nie. In Jn 6 het die leiers nog met Hom geredeneer, maar nou bly hulle stil, en wonder waarom die leiers nie teen Jesus optree nie.

7:27  Die groep Jerusalemmers praat minagtend van ‘hierdie man’. Hulle weet hy kom van die agterlike Nasaret af (vgl. 1:46). Maar hulle verwag ‘n Messias/Christus wat onverwags sal verskyn, wat niemand sal weet waar hy vandaan kom nie. Daarom kan Jesus, wat op so ‘n oninspirerende manier gekom het, nie ‘Die Gesalfde’ wees nie. 

7:28 Jesus weet wat die mense oor sy afkoms sê, maar net Hy ken sy ware afkoms. Hy is gestuur deur ‘ware God’ (letterlik: die Ware/Getroue) – wat die waarheid is en die waarheid doen. Die Jerusalemmers ken nie die ware God en sy werkwyse nie. Hulle oordeel op die oog af (7:24) met hulle verdraaide kennis van God.

7:29 Jesus weet hoe die ware God is en wat sy plan is; want Hy kom van Hom af – dit is Jesus se ware oorsprong, God uit God, gestuur om mens te word om God se reddingsplan  vir die wêreld uit te voer.

7:30 Daar is weer ‘n gemengde reaksie op Jesus se aanspraak dat Hy deur God gestuur is: (i) Die Jerusalemmers wou Hom arresteer omdat Hy gewaag het om hulle idee oor God te verwerp. Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat die tyd wat God daarvoor bepaal het nog nie gekom het nie (vgl. 17:1).

7:31 (ii) Uit die groot feesskare is daar egter baie wat in Hom geglo het. Hulle kon nie dink dat die Messias meer wondertekens kon doen as wat Jesus al gedoen het nie. Johannes vertel nie van baie wondertekens wat Jesus in Jerusalem gedoen het nie, maar die feesskare kom van oral af, en het van Jesus se wonders in Galilea gesien. Hulle glo in Jesus, maar dit is nog maar net wondergeloof, wat nie stand hou nie.

 

4 Jesus praat oor sy teruggaan na die Vader (7:32-36)

7:32 Die Fariseërs, wat hulle toewy aan die wet, beskou Jesus as ‘n wetsverbreker beskou. Hulle hoor die teenstrydige gedagtes oor Jesus en sy uitsprake oor sy verhouding tot God, wat hulle as godslasterlik beskou.  Hulle kan egter nie alleen optree teen die Jesus, wat die volk in verwarring bring nie, en nader hulle teenstanders in die Joodse Raad, die Sadduseër priestershoofde, wat seggenskap het oor die tempelwagte, om die wagte te stuur om Jesus te arresteer.

7:33 In die hoogspanning van ‘n dreigende arrestasie reageer Jesus: hulle wonderlike geleentheid dat God self by hulle is, is kort. Op sy tyd en volgens sy besluit gaan Hy terug na sy Sender. Die inisiatief om Hom weg te kry is nie in die hande van die Jode nie. Al gaan hulle Hom doodmaak, bly sy terugkeer hemel toe sy daad. 

7:34 Die onverwagte is dat hulle wat nou soek om Hom dood te maak, sal Hom dan te laat en tevergeefs soek om hulle vry te spreek voor sy Regterstoel. Hy gaan na sy Vader in die hemel, en daar kan die vyandige Jode weens hulle verwerping van Jesus nie kom nie, omdat hulle deur God verwerp is, die God wat hulle met hulle ywer verkeerd dien, om hulle self te red deur te probeer om sy wet stiptelik te hou sonder om Hom lief te hê (9:16; vgl. Lk 11:39-42). Die gemeenskap met God bly ontoeganklik vir dié wat Jesus in hulle selfvoldaanheid verwerp. Hulle sal die Messias soek en Hom nie kry nie.

7:35  Die vyandige Jode probeer hulle eie verklaring gee vir Jesus se woorde. Hulle misverstand is so ironies soos Jesus se woorde wat hulle nie verstaan  nie. Maar onwetend is hulle woorde profeties. Hulle reken Jesus wil sy eie land  verlaat om die gevaar van arrestasie te ontvlug, deur in die buiteland kontak te soek met die Griekssprekende Jode in die verstrooiing (diaspora), en daar vir die Grieke te gaan leer. Dit is presies wat die apostels onder leiding van die Heilige Gees later gedoen het, om die boodskap van Jesus uit te dra, na sy dood en opstanding. Deur sy ‘vertrek/heengaan’ het Christus verlossing vir alle volke bewerk en vanuit die hemel die Heilige Gees van God se wêreldsending in sy volgelinge gestuur, om die boodskap, wat die Jode verwerp het, te verkondig. Die Jode se vraag word so gestel dat hulle nie glo dat Jesus dit sal regkry nie, want vir hulle klink dit belaglik. 

7:36 Die Jode herhaal Jesus se woorde letterlik. Hulle kan nie daarvan loskom nie, maar maal oor die raaiselagtige woorde se betekenis, en besef nie dat Hy hulle tot bekering roep met die waarskuwing dat Hy weggaan en hulle Hom sal soek, maar nie sal vind nie, en nie kan kom waar Hy dan is nie. Vir sy gelowige volgelinge/dissipels is dit anders: 14:4 ‘…en Ek sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.’       

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die vyfde gesprek: Jesus se verdere selfopenbaring (7:14-39)

Die vyfde gesprek: Jesus se verdere selfopenbaring (7:14-39) – Francois Malan

Die gesprek verloop in twee fases: 14-36 in die middel van die fees; 37-52 op die laaste dag van die fees. 

1.   Die oorsprong van Jesus se gesag (7:14-20)

7:14 Teen die middel van die sewe dae van die loofhuttefees, gaan Jesus openlik na die tempel (vgl.Mal 3:1 se voorspelling), waar Hy begin om die mense  in die openbaar te onderrig (nie om, soos sy broers verwag het,  wondertekens te doen nie, v3; vgl. egter v31). Die onderrig was waarskynlik in die voorhof waar die heidene en die gewone volk ook kon inkom.

 

7:15 Die Jode was verbaas – die woord kan ‘n gunstige of ongunstige reaksie aandui, afhangende van die konteks. Johannes  gebruik die term ‘die Jode’ vir die ongelowige Jode, veral vir die leiers van die volk. Daarom is hulle verbasing hier negatief. Hoe ken/verstaan hierdie een die Skrifte terwyl hy ongeleerd is? – Hy het nie onderrig gehad nie. ‘hierdie een’ verwys minagtend na Hom, want Hy is nie deur een van die rabbi’s opgelei nie. Hulle beskou Hom as een van die ‘volk van die land,’ een van die menigte, wat nie die wet ken nie, wat vervloektes is (7:49). En nou tree Hý as ‘n rabbi/leermeester op. Die leiers verwerp Hom en sy lering.

 

7:16 Jesus wil onmiddellik die misverstand uit die weg ruim: Julle rabbi’s is in ‘n rabbynse skool van ‘n ander rabbi geskool, Ek het geleer by Hom wat my gestuur het (my Vader in die hemel, 3:17; 5:37): ‘My leer is nie my leer nie, maar van Hom wat My gestuur het.’ Hy kom nie die volk mislei as ‘n selfaangestelde leraar nie. God die Vader is die oorsprong en bron van die gesag van sy leer.

 

7:17 Die waarheid van sy lering sal duidelik wees vir elkeen wat die wil van God doen, nl. van  sy Sender (sy Vader). Die gewilligheid om God se wil te doen verwys na ‘n innerlike gesteldheid van die hart teenoor God en sy Gesant. Dit is gelyk aan ‘glo in Jesus’ (6:29), aanvaar dat sy leer van God kom, en nie deur ‘n mens voortgebring is nie. Dit beteken dat die mens ingestel moet wees op die stem van God, om die EEN te herken wat God se woord verkondig. Om God se wil te doen vereis gehoorsaamheid, en hierdie gehoorsaamheid beteken om te glo, en deur te glo, begryp wie Jesus is.

 

7:18 Iemand wat sy eie denkbeelde of leerstellings verkondig, soek gewoonlik sy eie eer; streef na selfverheerliking, selfverheffing. Iemand wat egter die eer nastreef van sy opdraggewer is betroubaar. Jesus span Hom in om alleen die wil van die Vader te doen (4:34) en om sy Vader te verheerlik (13:31; 17:1). Daarmee word sy leer se egtheid as God se woord bewys.

 

7:19 Die leiers beroem hulle daarop dat hulle dissipels van Moses is (9:28), op wie hulle vertrou (5:45). Maar nie een van hulle onderhou Moses se wet nie. Hulle verwerp bv. Moses se getuienis oor Jesus (5:45-47), en wil Hom doodmaak, die Messias, wat Moses voorspel het, lê nou vir hulle die wil van God uit, wat Moses opgeteken het.

 

7:20 Die feesgangers van buite Jerusalem is nie bewus van die leiers se planne om Jesus dood te maak nie. Daarom beskuldig hulle Jesus van duiwelbesetenheid, dat hy mal is om te dink iemand wil Hom doodmaak (8:48,52; 10:20) .

 

2.   Die regte onderhouding van die sabbat (7:21-24)

7:21-23 Die bedreiging van Jesus se lewe kom nie uit ‘n sieklike verbeelding nie, daarom wys  Jesus terug na die rede waarom die Joodse leiers Hom wil doodmaak – die genesing van die lam man op die sabbat en sy gesprek oor sy goddelike sending daarna (5:1-9,10-18). Hulle is almal ontsteld verskrik oor een ding wat Hy gedoen het, wat strydig is met hulle sabbatsgebruike. Maar hulle breek voortdurend die sabbat deur seuntjies op die agste dag te besny al val dit op ‘n sabbat – omdat Moses gesê het dit moet op die agtste dag gedoen word. Dan mag die besnydenis op ‘n enkele ledemaat van ‘n manlike kind toegepas word; hoeveel te meer kan die hele liggaam van die mens nie genees word op die sabbat nie?  Moses het die aartsvaders se wet van die besnydenis op die agste dag weer opgeneem. Lank voor Moses, het God dit vir Abraham  ingestel as teken van die verbond (Gen.17:10,14,23,27; Lev 12:3), ‘n voorafskaduwing van die verlossing van die hele mens deur die Christus, wat ook die sabbatsgebod oorskry met sy liefde vir die naaste.    

 

7:24 Die Jode hou streng aan die letter van die wet en beoordeel die optrede van iemand alleen op grond van wat hulle sien, sonder om te vra na die motiewe of beweegredes agter die optrede. Daarom is hulle oordeel oppervlakkig en onregverdig. As hulle na die rede vir iemand se optrede sou soek, sou hulle moontlik ontdek dat dit juis uit barmhartigheid is wat Hy op die sabbat gedoen het, uit liefde vir die medemens en tot eer van God. So ’n werk kan nie ‘n skending van die sabbat wees nie. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die belydenis van Petrus (6:67-71)

Die belydenis van Petrus (6:67-71) – Francois Malan

 6:67 Vir die eerste keer word in hierdie Evangelie na ‘die twaalf’ verwys (vgl. ook 20:24 toe Thomas nie by hulle was nie). Hulle het die binnekring van Jesus se volgelinge/leerders gevorm. Johannes vertel net van die eerste ses se roeping (1:35-51). Jesus se vraag suggereer ‘n ontkennende antwoord: ‘Julle wil nie ook weggaan nie?’ Hy weet ook wie dit is wat in Hom glo, maar hier stel Hy die twaalf voor ‘n beslissing.

6:68,69 Petrus antwoord namens die twaalf. Sy antwoord behels drie uitsprake wat sy besluit en sekerheid beklemtoon:

(i) Here, na wie toe sal ons gaan – ons kan na niemand anders gaan nie. Hulle wat Jesus waarlik ‘gesien’ en ‘gehoor’ het, weet daar is niemand anders nie (vgl. Jes.49:9 ‘Ek is God, daar is geen ander nie. Ek is God, daar is niemand soos Ek nie’). Later  sou Petrus voor die Joodse Raad oor Jesus verklaar: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Hand. 4:12).

            (ii) U het die woorde wat ewige lewe gee – daarmee bevestig Petrus dat hulle die selfgetuienis van Jesus in 6:48,63 aanvaar.

            (iii) En ons glo en weet dat U die Heilige van God is – die twee werkwoorde ‘glo’ en ‘weet’ is altwee in die voltooide tyd. Dit beteken hulle het reeds geglo en het geweet, en dit bly so. Hulle is oortuig. ‘Die Heilige van God’ is ‘n uitsonderlike benaming vir die Messias (vgl. Mk 1:24; Lk 4:34 in die mond van duiwelbesetenes). Israel het van God gepraat as ‘die Heilige van Israel’ (2 Kon 19:22; Ps 71:22; Jes 1:4; Jer 51:5; Eseg 39:7). Om Jesus die Heilige van God te noem, is ‘n reaksie op Jesus se ‘Ek is’ van v20; en omdat hulle Hom as God erken, kan Hy die ewige lewe aan hulle gee. (In die ander drie Evangelies bely Petrus Jesus as die Christus; Matteus voeg by: die Seun van die lewende God; Mt 16:16, Mk 8:29; Lk 9:20). 

 

6:70 Jesus ken die mens deur en deur (2:25). Hy het die twaalf uitgekies, en van die begin af geweet, een van hulle sal Hom verraai (6:64). Dit is deelhê in sy lydensweg. Hier noem Hy daardie dissipel ‘n duiwel (die Griekse woord diabolos kom van die werkwoord diaballoo  ‘skinder, kwaadpraat’; vir Petrus noem Jesus ‘Satan’ toe hy probeer om Jesus te keer teen sy lydensweg; Mt 16:23; Mk 8:33; satan is ‘n Aramese woord vir ‘teenstander’). Jesus ken die planne van die duiwel (Johannes het nie die versoeking in die woestyn van Mt 4; Mk 1; en Lk 4 opgeteken nie). In Jn 13:18-30 wys Jesus sy verraaier aan, ook sonder om sy naam te noem, as ‘n laaste oproep tot Judas om tot inkeer te kom. Maar Jesus verwys daar na Ps 41:10 wat lui ‘Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek (letterlik: ‘het sy hakskeen teen my opgelig’ – sy rug op sy vriend draai en wegstap). Jesus sien Judas se verraad as ‘n vervulling van die Skrif (13:18).  Hy weet Hy is op sy lydensweg na die kruis om die sonde van die wêreld te dra.   

 

6:71 Johannes gee die naam van die verraaier as Judas, die seun van Simon Iskariot (‘man van Keriot’, in die gebied van Juda; Josua.15:24). Hy is die enigste van die twaalf wat nie van Galilea af kom nie, maar soos Jesus in Judea gebore is. Johannes voeg by dat Judas een van die twaalf was, een van die vertroude binnekring, om daarmee die afskuwelikheid van die daad skerp in die lig te stel. In Jn 12:4,6 verwys Johannes weer na Judas wat Jesus sou verraai, en noem hom ‘n dief, wat nogal die dissipelgroep se beursie gehad het en van die bydraes gevat het. Johannes 18:2-5 noem ook dat Judas die soldate en wagte wat Jesus gaan vang het na Getsemane gelei het.

 

Die Evangelie volgens Johannes het nie die instelling van die nagmaal deur Jesus soos Mt 26:26-30; Mk 14:22-25; Lk 22:31-23; 1 Kor 11:23-25 nie. Maar wat die wese van die nagmaal is, word in Jn 6 duidelik uiteengesit, met die reaksie van Jesus se volgelinge op sy openbaring van Homself as die Brood wat lewe gee – party glo, ander nie. Met kos- en drank -metafore word die intieme geloofsverhouding tussen Jesus en die gelowiges verduidelik: wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom (v56). Met Jesus wat in ons bly, hét ons reeds die ewige lewe (vv57,58), want Hy ís die lewe (vv47-51). Hy bly in ons deur die Heilige Gees wat in ons kom woon (v63). Ons bly in Hom deur in Hom te glo en Hom gehoorsaam te volg (vv29,45,57).

 

Skrywer: Prof Francois Malan