Jesus verskyn aan Tomas (20:24-29)

Jesus verskyn aan Tomas (20:24-29) – Francois Malan

‘My Here, en my God!’

20:24-25 Ons het reeds met Tomas kennis gemaak in 11:16 as ‘n lojale maar pessimistiese volgeling van Jesus, wat bereid is om saam met Jesus te sterf; en in 14:5 as iemand wat stadig is om te begryp en vrymoedig om dit te erken. Deur hom te onttrek van die dissipelgroep, waar hy hoort as een van die twaalf, het hy Jesus misgeloop. Sy reaksie op die dissipels se verruklike aankondiging: ‘Ons het die Here gesien!’ prikkel hom tot verset en is meer negatief as hulle spontane reaksie deur graf toe te hardloop op die vroue se aankondiging. Sy onredelike voorwaarde om te kan glo is ‘n voorbeeld van wat Jesus in 4:48 gesê het. Tomas wil eers sien en voel, dan glo, maar dan is dit weet en nie glo nie.

 

20:26 Volgens die Joodse inklusiewe telling van agt dae, was dit die volgende Sondagaand wat die dissipels weer in die huis byeen was. Volgens die Midde-Oosterse en Egiptiese gebruik om die dag van ‘n koning se kroning as die ‘koning se dag’ te noem, het die Christene Sondag genoem as die dag waarop die ware Here uit die dood opgestaan het om oor die hele skepping te regeer. Daarom het Sondag ‘die dag van die Here geword’ (Openb.1:10;vgl. 1 Kor. 16:2 se ‘op elke eerste dag van die week’ – 1983-vertaling: Sondag).

            Tomas het hom intussen weer by die dissipelgroep se samekomste aangesluit. Soos die vorige Sondagaand verskyn Jesus weer plotseling tussen hulle met: ‘vrede vir julle!’ wat nou ook op die twyfelende Tomas gemik is.

 

20:27 Met Jesus se uitnodiging, wat Tomas se twyfelwoorde herhaal, oortuig Jesus vir Tomas van sy goddelike alwetendheid. Deur die merke aan sy hande en sy sy aan Tomas te wys, bevestig Hy sy identiteit, asook die realiteit van sy opstanding. Daarmee oortuig Hy vir Tomas dat sy Opgestane Here ook die Gekruisigde God is. Hy vermaan Tomas om nie ongelowig te wees nie, maar ‘n gelowige. ‘n Volgeling van Jesus moet die twyfel uit sy hart ban en met volle sekerheid in Jesus, die opgestane Here, glo.         

 

20:28 Tomas is oorweldig deur die Here te verskyning en sy woorde aan hom. Sonder om Jesus aan te raak (20:29) bely Tomas uit die diepte van sy hart en oortuiging: ‘My Here en my God!’ Die twyfelaar uiter die grootste persoonlike belydenis van die opgestane Here – hy behoort aan Jesus, hy aanbid Jesus as sy God, en sal Hom voortaan dien as die Here wat die seggenskap oor sy lewe het. Hy vereer die Seun soos hy die Vader vereer (5:23), en deur geloof erken hy die waarheid  van Joh.1:1: ‘en die Woord was God.’

            Soos Johannes  die oorwinning van Maria Magdalena se twyfel geskilder het as dié een uit die vroue wat Vrydagaand by die graf was en Sondag na Jesus gaan soek het, so skilder hy een van die twaalf dissipels se oorwinning oor twyfel of Jesus werklik opgestaan het. Vir Tomas nooi Jesus uit om Hom aan te raak – wat hy nie gedoen het nie. Vir hom is dit ‘n roepstem om nie oor-krities veraf te bly nie en dit lei tot sy aanbidding van die heilige God.  Vir Maria weier Jesus dat sy Hom aanraak, om haar los te maak van ‘n te grote gemeensaamheid met die mens Jesus wat sy goddelike heiligheid vergeet. Maria en die ander dissipels word getuies van die opstanding van Jesus. Tomas bely die godheid van die Opgestane Heer (die Griekse teks het die bepaalde  lidwoord ‘die’ by Here en God; die Here van my en die God van my – nie dat Jesus soos ‘n God is nie, maar dié God, die ware God)

 

20:29 Anders as die 1983-vertaling, is die eerste sin in vers 39 Jesus se verklaring van ‘n waarheid en nie ‘n vraag  aan Tomas nie. Met Tomas se belydenis is die tema van twyfel afgehandel.  Omdat hy gesien het, het hy nou insig en glo hy vas (twee werkwoorde in die voltooide/perfekte vorm).  Maar dié  wat nie vir Jesus gesien het nie, en geglo het, almal wat op grond van die woord van die apostels en hulle volgelinge tot oortuiging kom, noem Jesus gelukkiges, geseëndes – want geloof kom deur die werk van die Heilige Gees in die hart van ‘n mens, wat die woord hoor en dit aanneem (Rom.10:17). Geloof is ‘n bewys dat die Vader hom/haar aan Jesus gegee het en getrek het (6:37-40,44,65;  17:2) . Hulle is gelukkig omdat hulle direkte toegang tot Jesus en die Vader verkry (1 Petr.1:8-9).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23)

Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23) – Francois Malan

Die dissipels as getuies van Jesus se opstanding

20:19 Teen die aand van daardie eerste dag van die week, na die vroegoggend verskyning aan Maria Magdalena  (20:1) is die dissipels van Jesus bymekaar in vrees vir wat die Jode, wat ‘n oorwinning oor Jesus gesmaak het, aan hulle sal doen. Daarom sluit hulle die deur vir hulle veiligheid. Jesus kom en staan tussen hulle. Die Evangelis beskou dit as ‘n wonder. Sy opstandingsliggaam is nie aan ruimte en tyd gebonde nie. Die Here openbaar Homself waar Hy wil, op ‘n wyse bokant ons begrip.

Jesus groet die bevreesde groepie dissipels op die gewone Joodse manier: ‘Sjaloom ‘alêka!’ ‘Vrede vir julle!’ (Joh.14:27; 16:33; Ef. 2:14). Nooit was dié gewone groet so gevul met betekenis as toe Jesus dit op dié Paassondag uitgespreek het nie. Dit is die vrede waarvan die profete gepraat het: Ps. 85:11 ‘…geregtigheid en vrede sal mekaar ontmoet…’ ; Jes.53:5 ‘die straf  vir ons vrede was op Hom.’ Jes.66:12 ‘Ek laat vrede na haar toe aankom soos ‘n rivier.’ Dit is vrede met God, wat Hy aan die kruis bewerk het.

 

20:20 Jesus wys hulle sy deurboorde hande en sy deursteekte sy om hulle te verseker dat dit Hy is, hulle gekruisigde Here, wat voor hulle staan.  Dit is vir die kerk van kardinale belang: die Gekruisigde is die opgestane Here; en die opgestane Here is die Gekruisigde. Sy egte dood en egte opstanding het verlossing bewerk vir die hele mens en vir die hele wêreld. Sy belofte aan sy dissipels na die voetwassing dat Hy weer na hulle toe kom, is vervul (14:18) en dit het hulle droefheid in vreugde verander (16:19-22). Paasfees is gevul met vreugde oor ons Heer. Toe die dissipels deur hierdie merktekens oortuig is dat dit die Here is, het blydskap hulle harte vervul, soos Jesus beloof het (15:11). Hy het sy lyding en dood oorwin.

 

20:21 Jesus herhaal sy vredes-toesegging as grond vir sy opdrag. Soos Hy vir hulle vrede met God bewerk het (20:19), moet hulle die vrede uitdra na die wêreld. Soos wat Jesus deur die Evangelie telkens gesê het dat Hy deur die Vader gestuur is om alles te sê en te doen wat die Vader aan Hom opgedra het, netso stuur Hy sy volgelinge uit met die boodskap van vrede met God en vrede met mekaar; die vrede wat Hy aan die kruis bereik het. Op die Paasmôre het die dissipels teruggegaan huis toe (20:10) en in vrees vir die Jode bymekaar gekom; in die aand word hulle uitgestuur om die vrede met God deur geloof in Jesus vreesloos te gaan verkondig. Hy gaan deur hulle sy werk werk in die wêreld voortsit (Joh.13:20; 17:17-19). Soos Jesus permanent die Gestuurde van die Vader is (die werkwoord ‘gestuur’ is in die voltooide tyd om aan te dui dat Hy Gestuurde bly), gaan sy sending voort en bly dit effektief. Hy gaan deur hulle groter dinge doen as in die dae van sy omwandelinge saam met hulle, sodat die Vader verheerlik kan word in die Seun (Joh.14:12-14).

 

‘Ontvang die Heilige Gees!’

20:22 Toe blaas Jesus op hulle. Die Griekse woord emfusaoo, wat slegs hier in die Nuwe Testament gebruik word, verwys terug na Genesis 2:7 toe God sy asem in die neus van die mens geblaas het vir die skepping van die mens, en in Eseg.37:9,10 toe die Gees in die dooie bene geblaas is om hulle weer lewendig te maak – hier van Jesus wat  in die dissipels blaas om hulle toe te rus met sy Gees om Jesus se taak voort te sit in die wêreld. Hiermee word die mens opgeneem in die nuwe skepping deur die menswording, dood en opstanding van Jesus Christus, die Woord van God, deur wie alles geskape is (Joh.1:3), en in wie daar lewe is,dié lewe wat die lig is vir die mense (Joh.1:4). Jesus sê: Ontvang die Heilige Gees!’ – ontvanklik, om deur die Gees oortuig te word dat ongeloof in Jesus sonde is; om gelei te word tot geloof in Jesus, wat ons verhouding met God reggemaak het deur ons sonde te vergewe en van ons kinders van God te maak; om in die liefde van God opgeneem word (16:8-10); om ook mekaar lief te hê, soos die Vader die Seun lief het (15:9).

            Johannes verbind die gawe van die Heilige Gees met die Paasgebeure van Jesus se sterwe en opstanding. Lukas, wat twee boeke skryf, verbind die gawe van die Heilige Gees met Pinkster, die oesfees, vyftig dae na die Paasfees, met die eerste gerwe van die oes, maar ook met die Paasfees se opstanding in Petrus se verklaring van die Pinkstergebeure (Hand.2:24: ‘Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan’). Soos Johannes die reiniging van die tempel reeds aan die begin van sy Evangelie beskryf om die Woord van God wat mens geword het se bediening te verduidelik (2:13-21), doen hy dit ook met die instorting van die Heilige Gees aan die einde van sy enkele boek, om die voortsetting van die Woord van God wat mens geword het se bediening deur sy volgelinge te verduidelik.

 

20:23 Jesus se koms na die wêreld en sy kruisiging beteken die oordeel oor die wêreld (12:31), soos ‘n regter se beslissing in ‘n hofsaak, wat vryspreek of veroordeel. Jesus sit sy werk voort deur sy dissipels: Hulle verkondig verlossing van sonde en opname in die huisgesin van God, waar Hy in liefde regeer, en veroordeling van dié mens wat die openbaring en verlossing deur Jesus verwerp (Joh.3:36 die toorn van God bly op hom). Die hoof taak van Jesus se volgelinge is die verkondiging van die vergewing van sonde deur Jesus se liefdesoffer aan die kruis. Maar wie nie in die enigste Seun van God glo nie, is daarom reeds veroordeel (Joh.3:18). God se vergewing is ‘n skeppende mag, wat van die sondaar  voor God ‘n regverdige kind van God maak en nuut begin lewe in die liefde van God en liefde vir mekaar.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18)

Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18) – Francois Malan

‘n Vrou is die eerste getuie van die opstanding van Jesus

20:11-12 Maria het intussen teruggekeer na die graf toe. Waar sy eers langs die kruis gestaan en ween het oor haar Here aan die kruis (19:25), staan sy nou buite sy oop graf en ween oor sy liggaam wat weg is, ‘n laaste anker in haar lewe. Vier maal word na haar geween verwys in die gedeelte.

            Maar toe sy afbuk om in die graf in te gaan, sien sy twee engele in wit, waar die dissipels slegs opgerolde doeke gesien het, aan die voet- en koppenent waar die liggaam van Jesus gelê het (Mark.16:5 ‘n jongman in wit klere; Luk.24:4 twee manne in glinsterende klere; Mat.28:2-3 ‘n engel soos ‘n weerligstraal met klere so wit soos sneeu) verteenwoordigers van die hemelse wêreld as bewys dat hemelse kragte hier aan die werk is. Nie grafrowers nie, maar God het Jesus weggeneem vir ‘n ander doel.

 

20:13-15 Anders as in die ander Evangelies vertel die engele nie vir haar dat Jesus opgestaan het nie, maar vra waarom sy huil. Haar antwoord bewys weer haar afhanklikheid van die fisiese teenwoordigheid van Jesus. Maar sy word bewus van iemand agter haar. Iemand so vroeg in die graftuin moet die tuinier wees, en sy konfronteer hom met haar begeerte om die dooie liggaam van haar Here te versorg. Soos die Emmausgangers in Luk.24:16 en die dissipels wat gaan visvang in Joh. 21:4, herken Maria nie vir Jesus sonder dat Hy Homself aan haar openbaar nie.

 

20:16 Met die bekende klank van sy stem en soos Hy haar gewoonlik op haar  naam genoem het, daag die lig in haar op, oorstelp van vreugde. ‘Mariam’ (die alternatiewe Griekse vorm vir Maria, vir die Hebreeus Miriam, ‘geliefde,’ ‘begeerde kind’). Sy spreek Hom ook in Hebreeus aan as ‘rabboeni,’ ‘my Grote,’ die term vir ‘n leermeester. Die Goeie Herder het sy skaap op haar naam genoem, en sy het met vreugde gereageer (Joh.10:3). Jesus herstel haar persoonlike verhouding met Hom, van wie sy gedink het dat Hy vir ewig weg is. Sy het sy dooie liggaam gesoek en die lewende Here ontmoet.

 

20:17  Maria val plat voor Jesus neer en probeer sy voete vashou uit vreugdevolle aanbidding en die begeerte om Jesus in liefde vas te hou – liggaamlike kontak is een van die sekerste maniere om bewus te word van die wêreld om jou – hier van die opstanding van Jesus, wat nie in hierdie deel genoem word nie. Maar die nuwe kontak met Jesus is deur geloof en nie meer die fisiese kontak van sy aardse bediening nie.

            Wat wel genoem word is die hemelvaart.  Jesus sê Hy het nog nie opgevaar nie, daarom moet sy Hom nie vashou nie, maar uitsien na die nuwe verhouding met die hemelse Christus. Hy is op pad om na sy Vader op te vaar om so die verlossingswerk van God te voltooi. Daardeur word Jesus se Seunskap van God uitgebrei na sy volgelinge wat aan Hom verbind is. Hulle word kinders van God deur hulle eenwording met Jesus deur geloof in Hom en vertroue op Hom. Waar Jesus hulle vroeër sy vriende genoem het (15:14-15),  noem Hy sy volgelinge nou ‘broers’ (Paulus sê ons word lede van die liggaam van Christus; 1 Kor.12:27; Rom 12:5). Die geloof en eenwording met Jesus word gewerk deur die Heilige Gees, wat in ons kom woon en ons lei en oortuig deur die woord van God, om al meer soos Jesus te word in die liefde (2 Kor.3:18; Rom.8:11; Gal.5:22-25). Jesus identifiseer Homself met sy volgelinge en trek hulle saam met Hom na God, sy Vader toe (12:32). Die wonderlike nuus oor die betekenis van Jesus se hemelvaart moet Maria aan sy volgelinge gaan vertel as die eerste getuie wat die opgestane Heer gesien het.

 

20:18 Die verhaal sluit af met Maria se uitvoering van Jesus se opdrag. Sy voeg haar eie getuienis daarby: Ek het die Here gesien. Sy noem Hom nie meer my Leermeester nie, maar ‘die Here,’ wat die seggenskap het oor my lewe, wie se opdrag ek gehoorsaam uitvoer. Terwyl vroue se getuienis nie hoog aangeslaan is in daardie tyd nie, maak Jesus van vroue sy eerste getuies (vgl. die vrou met ‘n slegte reputasie by die put naby Sigar, wat gaan getuig by die Samaritane,  en Maria van Magdala, uit wie Jesus sewe duiwels uitgedryf het, by sy dissipels, Luk.8:2).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se opstanding uit die dood (20:1-31)

Jesus se opstanding uit die dood (20:1-31) – Francois Malan

Hoofstuk 20 vertel van Maria Magdalena en twee dissipels wat uit die donkerte van dié Sabbat opdoem, en hulle haas na die graf van Jesus op die Sondagmôre; daarna verskyn Jesus aan Maria; die aand verskyn Jesus  aan die dissipelgroep; ‘n week later verskyn Hy  aan Tomas; met ‘n samevattende slot in verse 30-31.

Maria Magdalena en twee dissipels besoek Jesus se graf (20:1-10)

 

‘n Vrou is die eerste getuie van die oop graf

 

20:1 Voor sonop, in die oggendskemering van  die eerste dag van die week (Paassondag) wat die vorige aand met sononder begin het, kom Maria Magdalena by graf aan. Inklusief gereken (Vrydag-Saterdag-Sondag) is dit die derde dag (vgl. 2:19-22 se drie dae). Sy sien (blepoo , merk op) die klip is van die graf onttrek – weggerol, ‘n oop graf.

 

20:2 Diep geskok en radeloos oor die oop graf, waarin sy nie eers gaan kyk het nie, hardloop Maria na die dissipels toe. Vir Petrus en die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Johannes?)  sê sy: ‘hulle het Hom weggeneem…’ – grafrowery was bekend in daardie tyd  (keiser Claudius 41-54 n.C. het ‘n dekreet uitgevaardig wat die doodstraf bepaal vir grafskenders en lykrowers), maar Maria dink waarskynlik die Jode het Jesus weggeneem om sy lyk in die veroordeeldes se graf weg te gooi (vgl. die kommentaar by 19:38) – ‘…en ons weet nie waar hulle Hom gesit het nie.’

            Hoewel die vrou die eerste persoon was wat ontdek het dat die graf oop is, was die getuienis van ’n vrou destyds nie deur die Jode aanvaar nie. Haar getuienis oor die opstanding is ook onvolledig, en haar interpretasie verkeerd. Maar sy kry die dissipels aan beweeg.

 

Twee dissipels is getuies van die leë graf

 

20:3-7 Die twee dissipels hardloop deur die strate na die graf toe, Johannes vinniger as Petrus, hy sien (blepoo, merk op) die doeke, maar is huiwerig om in te gaan. Eie aan sy impulsiewe aard storm Petrus in. Hy sien (theooreoo, kyk stip na die onverwagte, net doeke!) die doeke netjies opgerol (netjies soos Jesus die oorskietkos laat optel het na die vermeerdering van die brood, 6:12), maar Petrus kan nie dink wat hier aangaan nie – in elk geval lyk dit nie na lykrowery nie, wat die kosbare kleed wat Josef verskaf het daar sou laat en nog opvou ook nie.

            Die twee mans-getuies van die leë graf met die doeke vervul die Joodse eis dat twee getuies moet saamstem (Deutr.19:15). Vir die Evangelis is dit die teken dat Jesus die grafdoeke vir ewig verlaat het, en opgestaan het uit die dood – anders as Lasarus wat met doeke om sy hande en voete en sy kop uit die graf gekom het, en later weer gesterf het (11:44).

 

20:8 Toe gaan die ander dissipel ook in. Hy sien (horaoo, sien) ook die doeke so opgevou lê  en hy glo dat Jesus opgestaan het, en dat Hy die Woord van God is, self God, wat mens geword het, soos hy in 1:1,14 geskryf het. Hy sien die betekenis van die opgevoude grafdoeke as die teken van die grootste wonder wat hy in hierdie Evangelie beskryf. (Drie woorde word gebruik vir ‘sien’ wat stadigaan tot hulle deurdring tot verstaan). Sien én glo is ‘n tema in hierdie Evangelie (1:12-14; 20:29)

 

20:9 Nadat die dissipels deur die leë graf oortuig was dat Jesus opgestaan het, het hulle die Skrif begin verstaan wat heenwys na Jesus se dood en opstanding en die betekenis daarvan vir die wêreld – dat Hy moes opstaan uit die dood, die goddelike moet (dei). Van die moontlike Skrifgedeeltes waarna verwys word, is o.a. Ps.16:10: U sal my (my siel) nie in die doderyk laat bly nie, nog minder sal u u Heilige oorgee om verderf te sien; Ps.110:1: Die HERE (Jahweh) het vir my Here (Adonai) gesê: sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande as ‘n voetbank vir jou voete gestel het (Jesus haal dit aan in Mark.12:37, ook in Mat. en Luk.); Hosea 6:2: Hy sal ons na twee dae laat herlewe, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan, en ons sal in sy teenwoordigheid lewe; Jona 1:17 wat drie dae en drie nagte in die maag van die vis was, word in Mat.12:40 deur Jesus as die teken gegee aan die slegte afvallige skrifgeleerdes en Fariseërs wat van Hom ‘n wonderteken geëis het om Hom te legitimeer.  Vgl. Jesus se woord dat Hy na drie dae moet opstaan (Mark.8:31).

 

20:10 Die tafereel word afgesluit met die twee dissipels wat elkeen na sy huis toe gaan. Volgens 19:27 is Jesus se moeder, Maria, tuis by die geliefde dissipel.

 

Skrywer: Prof Francois Malan