1

Sy liggaam word in die graf gelê

Sy liggaam word in die graf gelê – Francois Malan

19:38 Die Romeine het die liggame van gekruisigdes aan die kruis laat bly vir die aasvoëls. Op versoek van familie is liggame aan hulle gegee vir begrafnis, maar nie as dit die lyk van ‘n opstandeling was nie. Die Jode het ‘n aparte begraafplek  buite die stad gehad vir die lyke van veroordeeldes, uit vrees dat dit die familie-grafte sal verontreinig. Daarom het hulle versoek in 19:31 geïmpliseer dat Jesus se liggaam in die gemeenskapsgraf vir veroordeeldes gegooi word. Simon van Sirene, ‘n geheime volgeling van Jesus (Mat.27:51), het gaan vra om Jesus se liggaam te begrawe. Pilatus het dit goedgekeur omdat hy oortuig was van Jesus se onskuld. Die ander Evangelies vertel dat hy ‘n ryk (Mat.27:57) en lid van die Sanhedrin was, wat uitgesien het na die koms van die koninkryk van God (Mark. 15:43)  en nie saamgestem het met die Raad se besluit en optrede teen Jesus nie (Luk.23:50-51). Jesus se dood laat hom openlik na vore kom en sy verbondheid aan Jesus betuig.

19:39 Nikodemus word slegs in Johannes genoem. Hy is ook ‘n raadslid (3:1) wat die prosedure in die Raad  bevraagteken het (7:50-52). Hy en Josef moes saamgepraat het: Josef het die graf en grafklere voorsien en Nikodemus die speserye. Die twee geheime dissipels is deur die kruisiging só na Jesus getrek dat hulle hulle liefde vir Jesus openlik betoon deur vir Hom te kies ten koste van hulleself.

            Die mengsel van mirre en aalwyn was bedoel as reukweerder in die graf (nie vir balsem nie; vgl. Ps.45:9 vir die aangename reuk wat die mengsel al die klere van die Here se gesalfde koning deurtrek; Hooglied 4:14; Spr. 7:17). Die groot maat van die mengsel, 50 liter, is ‘n aanduiding van die verering van ‘n koning by sy begrafnis

(2 Kron.16:14). Die Evangelis gaan voort met sy tekening van Jesus as koning.

 

19:40 Hulle twee haal die liggaam van Jesus van die kruis af, behandel dit met die mengsel en draai Hom in grafdoeke toe. Deur hulle aanraking van ‘n lyk het hulle vir Jesus gekies met die wete dat hulle onrein geword het en nie daardie aand die Paasmaal kon gebruik nie (Num.9:1-11). 

 

19:41-42  Die nuwe graf in die tuin, soos gebruiklik vir ‘n koning, is in ‘n rots uitgekap (Mark.15:46), en het volgens Mat.28:60 aan Josef behoort. Dit was naby Golgota geleë en daarom kon hulle voor die Sabbat aanbreek die liggaam van Jesus daarin neerlê. Jes.53:9 sê dat hy by die rykes (1983-vertaling: sondaars) was in sy dood omdat Hy onskuldig was. In dié grafkelder was nog nooit iemand anders begrawe nie; gepas vir die Heilige wat God se núwe verbond  kom sluit (vgl. die vulletjie waarop niemand nog gery het nie, waarop Jesus Jerusalem binnegery het as die nederige vredeskoning; Mark.11:2).  Dié nuwe tuingraf sou ook die onmiskenbare getuie wees van die oorwinning van die Here van die lewe oor die dood. Die gedeelte begin met Jesus in ‘n tuin, waar sy arresteerders Hom gevangeneem (18:1) en eindig in ‘n graf in ‘n tuin waar sy volgelinge Hom begrawe.

            Die Heer van die geskiedenis werk deur die intriges en konkelary van mense wat die Verteenwoordiger van die Goddelike Koningskap verneder en uiteindelik kruisig. Koningskap, gehoorsaamheid en lyding is onafskeibaar in the vestiging van God se reddende heerskappy vir die mens. Die Goddelike Koning, voor wie sy arresteerders platval, en sy regter met vrees vervul, sê vir Petrus: Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie? (18:11), en vir Pilatus: U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie (19:11). Pilatus se misbruik van sy gesag en die Joodse leiers wat die volk van God lei om Jesus se kruisiging te eis, bly alles onder die soewereine beheer van God, wat sy Seun in sy hand hou terwyl Hy die verlossing van die mensdom bewerk deur God se grootste liefdesoffer aan die kruis

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




‘n Spies word in sy sy gesteek (19:31-37)

‘n Spies word in sy sy gesteek (19:31-37) – Francois Malan

19:31 Dit is die dag van die Voorbereiding vir die Paasfees, waarvoor die lammers vir die herdenking van die Here se verlossing van Israel uit hulle Egipties slawerny gevier word. Die Sabbat breek aan teen sononder. Dit is ‘n groot Sabbat omdat dit tydens die Paasfees is met ‘n menigte mense in Jerusalem.

Die Romeine het kruiselinge selfs vir dae gelos tot hulle sterf en die aasvoëls hulle begin opeet. Die Joodse wet was dat geen lyk aan ‘n paal mag bly hang tot die aand toe om die land te verontreinig deur die vloek van God op ‘n opgehangde nie (Deutr.21:22,23). Daarom die Jode se versoek aan Pilatus om hulle bene te breek om gou te sterf en nie die Paasvierings te verontreinig nie. Dit sal ook ‘n bewys wees dat Jesus deur God vervloek is volgens hulle gedagtes.   

 

19:32-34 Met Pilatus se toestemming word die twee mede-gekruisigdes se bene gebreek, maar Jesus is reeds dood. ‘n Soldaat steek sy swaard in Jesus se sy en daar kom dadelik bloed en water uit [Dokters gesels nog daaroor, maar dr Sava se ondervinding van vars kadawers het bloed en water gehad in die ruimte tussen die longe en die ribbes van lyke wat ernstig intern beseer is voor hulle gesterf het]. Vir die Evangelis is dit ‘n bewys dat Jesus waarlik mens was en waarlik dood is (teenoor die dosetiste wat dit ontken en praat van ‘n skyndood).   

 

19:35 Die skrywer was ‘n ooggetuie van die spiessteek en bevestig dat Jesus reeds dood was. Die doel van sy getuienis is ‘sodat julle kan glo’ dat Jesus waarlik mens was en Seun van God (1 Jn 1:1-3; Jn 12:37; 20:21).

 

19:36  Die Evangelis sien in Jesus se dood  terwyl die Paaslammers by die tempel geslag word en geen been van hulle gebreek word nie, die vervulling van die Skrif, van die raadsplan van God. Drie Skrifgedeeltes kan na verwys word: Eksodus. 12:46 en Num 9:12 verwys na die Paaslam waarvan die bene nie gebreek mag word nie – Jesus vervul in sy dood die betekenis van die Paasfees se bevryding uit die slawerny van sonde en die hoop op ‘n nuwe eksodus; Ps 34:21 verwys na die Here wat vir die hele liggaam van die lydende Regverdige sorg, geen been word gebreek nie – Jesus vervul ook die rol van die Regverdige Mens wat ly, maar steeds onder die sorg van God bly, tot die opstanding en lewe in gemeenskap met God.     

 

19:37 In Sagaria 12:10 sê God: ‘hulle sal na my kyk, na Hom wat hulle deurboor het (en hulle sal oor Hom treur soos ‘n mens treur oor ‘n enigste kind)…’ Die ‘Hom’ is dan God se verteenwoordiger, die Herder, wat met die swaard deurboor is. Sagaria verwys na die mishandeling van die profeet, wie se verwerping eintlik ‘n verwerping van God is. Die Evangelis sien hierin die teken van die menslike skuld teenoor die goddelike liefde. Gelowiges sal oor Hom treur, maar ongelowiges bly onder die oordeel van God. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Verdeling van Jesus se klere

Verdeling van Jesus se klere – Francois Malan

19:23-24 Die klere van ‘n veroordeelde was destyds die buit van sy laksmanne. Jesus se vyf kledingstukke was waarskynlik sy mantel (‘n oorkleed teen koue), sy tuniek of kleed (chitoon vir daaglikse drag), ‘n beld, sandale, en ‘n tulband. Die kruiseling hang naak voor die wêreld, soos die sondaar naak voor God staan – Jesus dra die straf op Jerusalem en die wêreld se sonde (Eseg.23:28-30; Joh.1:29). Dit is die einde van die weg wat Jesus self ingeslaan het toe Hy sy klere (ta himatia) uitgetrek het om sy dissipels se voete te was, met net ‘n afdroogdoek/handdoek om  (Joh.13:4) – aan die kruis egter sonder ‘n lendedoek – Hy het sy eie mense tot die uiterste toe liefgehad (13:1). Die kleed was sonder soom, in een stuk geweef. Die vier soldate  besluit om dit nie te skeur nie, maar daaroor te loot. Die Evangelis sien daarin ‘n vervulling van die doel van God, soos die verdeling van sy klere in Ps.22:19 beskryf is. Die soldate vervul God se raadsplan vir die verlossing van die wêreld, met ‘n Koning wat sy volk se naaktheid dra.

Jesus gee sy moeder aan die geliefde dissipel

19:25 Teenoor die vier ongeërgde soldate onder die kruis staan die vier toegewyde vroue. Die soldate verdeel Jesus se klere onder mekaar , terwyl Jesus die verhouding tussen sy geliefdes reël. Die teks is onduidelik, maar verwys waarskynlik na (i) Jesus se moeder Maria; (ii) haar suster is moontlik Salome (Mark. 15:40) die moeder van die seuns van Sebedeus, Johannes en Jakobus (Mat. 27:56); (iii) Maria die vrou van Klopas (was hy miskien Kleopas, een van die Emmausgangers? Luk.24:18); (iv) Maria Magdalena vir wie Jesus van sewe duiwels verlos het (Luk. 8:2).

 

19:26-27 Jesus sien (idoon) sy moeder by die kruis raak en versorg haar met sy opdrag aan die dissipel vir wie Hy lief was. Vir haar sê Hy: Kyk! (hy is) jou seun! – daarmee verwys Hy haar om na die dissipel te kyk as haar seun.  Vir die dissipel sê Hy: ‘Kyk! (sy is) jou moeder!’ – sy verantwoordelikheid vir sy moeder word aan sy geliefde dissipel oorgedra om na haar te kyk (ide). En van daardie uur af, sy uur wat gekom het (vgl. 2:4), het die dissipel haar opgeneem in sy eie huis en verantwoordelikheid (ta idia). Jesus se opdrag: ‘kyk!’vanaf die kruis, waaraan Hy verhoog is, laat hulle, wat naby aan Hom is, mekaar in liefde raaksien en versorg. Aan die kruis trek Hy hulle nie slegs na Hom toe nie (12:32), maar ook na mekaar toe. So stig Jesus sy nuwe familie met sy opdrag: soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê (13:34).

 

Jesus gee sy gees oor aan die Vader

19:28 Nadat Jesus sy ma versorg het, en sy nuwe familie gestig het om in liefde te leef, weet Hy dat Hy alles volbring het wat die Vader aan Hom opgedra het . Jesus, die Seun van die mens, die water van die lewe vir die dorstige (4:14; 6:35; 7:37-38). ervaar dors, die grootste liggaamlike lyding van die mens (vgl. die rykman se nood in die hel,  Luk.16:24). Sy dors, soos sy naaktheid, word deur die Evangelis gesien as ‘n vervulling van die Skrif, dat alles volgens die plan van God verloop (Vgl. Ps.68:22: toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink). 

 

19:29 Jesus neem die soldatewyn van sy laksmanne aan om sy laaste uitroep duidelik hoorbaar te maak.        

 

19:30 Nadat Jesus die wyn gedrink het roep Hy hard uit (volgens Mark.15:37 Mat.27:50; Luk.23:46). Dit is ‘n oorwinningsroep: ‘Dit is volbring!’ – die taak wat die Vader Hom opgelê het,  is voltooi (4:34; 5:36; 17:4). Hy het gedoen wat die Vader Hom beveel het (14:31). Jesus se laaste woord vertolk sy lyding en sterwe as sy bekroning  en die afsluiting en hoogtepunt van die werk wat Hy in gehoorsaamheid aan die Vader doen. Elke gelowige kan  in sy kruisdood sien hoe die Seun die Vader se liefde verheerlik.

            Jesus sterf deur sy gees oor te gee aan sy Vader (paradidoomi, soos Judas Hom oorgegee/verraai het 18:2,5; die Jode Hom aan Pilatus oorgegee het, 18:30; Pilatus Hom aan die soldate oorgelewer het, 19:16). Jesus se sterwe is ‘n bewuste daad, ‘n selfoffer aan die Vader; 10:18: ‘Ek lê my lewe uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.’ Dit geskied toe die trompette van die tempelmure af die aandoffer aangekondig het.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Kruisiging, dood en begrafnis van Jesus (19:16b-42)

Kruisiging, dood en begrafnis van Jesus (19:16b-42) – Francois Malan

Johannes het baie in gemeen met die ander drie Evangelies, maar laat ook baie gegewens uit, en voeg ander gegewens in. Sy keuse van onderwerpe hang saam met sy boodskap dat Jesus die Koning is, dat sy verhoging aan die kruis sy kroningsplegtigheid is, die kroon op sy liefdesdiens aan die wêreld, God se hoogste liefdesoffer vir die sonde van die mensdom. Drie momente word uitvoerig vertel: die opskrif, die verdeling van sy klere, die vroue by die kruis; drie kruiswoorde vat saam  wat Jesus aan die kruis gesê het. Daar is ook vier aanhalings uit die Skrif (19:24, 28-29, 36,37).

19:16b-17  Die vier soldate wat Jesus gaan kruisig neem Hom oor (19:23) en dwing Hom om die dwarsbalk van sy kruis te dra. Johannes beklemtoon dat Jesus self sy kruis gedra het na die Kopbeenplek, genoem Golgota in Hebreeus – Jesus die Koning, as Meester van sy eie bestemming, lei die weg na sy bekroning op die gewone plek vir openbare teregstellings waar  alle verbygangers die lot van wetverbrekers kan sien as waarskuwing, volgens Romeinse gebruik(v20). Vir die Evangelis is die openbare teregstelling ‘n getuienis aan die hele wêreld.

[die ander Evangelies laat Simon van Sirene hom help – Basilides, 130 n.C. se idee dat Simon ook in die plek van Jesus gesterf het, is deur Islam in hulle leer opgeneem; die kerkvaders het die verband gesien tussen Isak, wat die hout dra vir die offerande saam met sy pa, Gen.22:6, en Jesus wat die kruis dra vir die offer deur sy Vader; die rabbi’s het die offer van Isak gesien as die voorloper van die offers by die tempel op Moria-berg, en selfs van die Paaslam: ‘As Ek die bloed van die Lam sien sal Ek by die huis verbygaan, want Ek sien die bloed van Isak gebind op die altaar;’ Christene het die verband gesien met Jesus se uitspraak: Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie, Lk 14:27.]

 

19:18 Johannes sê net dat hulle Jesus gekruisig het, en trek ‘n sluier oor die aakligheid daarvan. Hy beklemtoon Jesus se plek in die middel, as die hooffiguur tussen die drie wat gekruisig is – ‘n straf vir opstandelinge, met Jesus as die ware bevryder, wat as Koning verhoog word om almal na Hom toe te trek, 12:32-33. Johannes sien dit moontlik as ‘n vervulling van Jesaja 53:12.

[Markus beskryf die twee medekruiselinge as lestes, vryheidsvegters, soos Barabbas in Jn 18:40, wie se plek Jesus ingeneem het. Die kruiseling is soms met spykers aan die dwarsbalk vasgeslaan en so opgehys teen die regop paal, Jn 20:20. Ook deur die voete is spykers geslaan.]

 

Die opskrif aan die kruis

 19:19 Dit was die gebruik om ‘n kruiseling se oortreding op ‘n bordjie om sy nek te hang, wat hy deur die strate gedra het, en wat bo-aan sy kruis  vasgemaak is vir almal om te lees. Pilatus laat Jesus se naam en ‘oortreding’ aanbring: ‘Jesus die Nasarener, die koning van die Jode’ – Pilatus se laaste optrede om hom te wreek op die Jode en hulle kwaad te maak deur hulle te verneder en spottend aan die kruiseling te verbind, en homself te red voor die keiser as die man wat ‘n opstandeling kruisig. Die Evangelis sien daarin die verklaring deur die regter en verteenwoordiger van die ryk wat oor die wêreld regeer, dat Jesus aan die kruis die ware Koning is van sy eie mense (11:51-52), ook oor dié wat Hom verwerp (1:11). 

 

19:20 Baie Jode, wat vir die Paasfees na Jerusalem toe gekom het, lees die opskrif. Daarby is die opskrif geskryf in Hebreeus vir die Jode, in Latyn vir die Romeinse amptenare en soldate, en in Grieks die wêreldtaal van destyds, sodat die hele wêreld kan weet Jesus is die beloofde Koning van die Jode, voor wie almal op aarde moet buig (Ps. 96:9-13) . Vir Johannes is dit die toppunt van ironie: die twee persone wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir Jesus se kruisiging word eintlik getuies van Jesus se dood. Kajafas sê dit is die verlossing van Israel en die nasies (11:49-50) en Pilatus sê dit is die kroning van die Koning van Israel en Here van almal.

 

19:21-22 Die verontwaardiging en woede van die hoëpriesters was onvermydelik. Hulle eis dat Pilatus die opskrif verander deur ‘n klein woordjie in te voeg: eimi ‘ek is’ die koning van die Jode – iets wat Jesus nooit gesê het of wou wees nie (6:15). Johannes stel die hoëpriesters van die Jode teenoor die koning van die Jode. Dit sou wys dat Jesus self sê Hy is die koning van die Jode, maar dat sy aanspraak ‘n leuen is. Maar Pilatus bly hierdie keer onwrikbaar, want hulle kan hom nie by die keiser gaan aankla dat hy nie opgetree het teen die opstandeling nie: ho gegrapsa, gegrapsa wat ek geskryf het, het ek geskryf.Hy weier om die waarheid in ‘n leuen te verander. Die koningskap van Jesus staan vas. Hy sterf as die Messias Koning wat deur sy volk verwerp word.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan