B1 Binne: Pilatus praat met Jesus oor mag/gesag (19:9-11)

B1 Binne: Pilatus praat met Jesus oor mag/gesag (19:9-11) – Francois Malan

19:9 Pilatus se angs spreek uit sy vraag waar Jesus vandaan kom – uit die hemel of van die aarde? Die vraag is telkens deur mense gevra in hierdie Evangelie (7:27-29; 8:14;9:29-30). Is Jesus mens of god? As Hy werklik ‘n god is, vrees Pilatus vir die straf van die gode op hom. Jesus swyg egter soos die skaap van Jes.53:7 wat stil is voor sy skeerders. Hy het reeds by die eerste verhoor gesê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (18:36). Daarop het Pilatus skepties gereageer toe Jesus gesê het Hy het gekom om van die waarheid te getuig. Hoe sal Pilatus nou kan verstaan dat Jesus die ware God is? Slegs geloof kan die misterie van Jesus verstaan. (Openb.19:11-13).

19:10 Pilatus se vrees verander in wrewel oor die man wat hom nie antwoord of self verdedig nie, en sê: ‘Praat jy nie met mý nie? Weet jy nie: ék het die gesag om jou los te laat, en ék het die gesag om jou te kruisig?’ Dié gesag het Pilatus ontvang van die hoogste gesag op aarde wat hom aangestel het, die keiser van die magtigste ryk op aarde, die imperium Romanum. Daarme erken hy dat die beslissing by hom lê. Sy poging om die beslissing aan die Jode oor te dra (19:6) is ‘n lafhartige ontvlugting van sy verantwoordelikheid (19:6).

 

19:11 Jesus is egter bewus van die oneindig groter gesag as Rome, naamlik die Almagtige God, wat vir Hom in Pilatus se hande geplaas het. Jesus weet sy uur het gekom en weet wat dit behels, maar Pilatus word daardeur gedwing om te besin oor sy eie posisie en verantwoordelikheid voor dié gesag wat hy van Bo gegee is. Pilatus dra die skuld oor sy onregverdige optrede, deur iemand wat hy onskuldig bevind het, aan die haat van sy aanklaers uit te lewer. Maar iemand dra groter skuld as hy: die hoëpriester as verteenwoordiger van die volk van God wat Jesus ‘uitgelewer het’ (18:30) aan die goewerneur as die verteenwoordiger van die Romeinse gesag. Kajafas weet wat die Skrifte oor die Messias sê, is ingelig oor Jesus se leer en lewe, maar weier om Hom as God se gesalfde Verlosser te erken (11:49-53; vgl. Mark.14:61-64)  – sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh.1:11). 

   

                                    A1  Die Jode verkry die doodstraf vir Jesus (19:12-16)

 

19:12 Pilatus is duidelik diep getref deur Jesus se woorde en probeer nogmaals om Hom los te laat, moontlik deur amnestie aan Hom te gee. Maar die Jode speel hulle troefkaart: ‘Vriend van die Keiser’ (amicus Caesaris) ‘n gesogte titel in Rome wat deur die keiser aan senators en enkele vriende toegeken het. Pilatus het waarskynlik die titel gekry deur keiser Tiberius se regterhand in Rome, Sejanus. Maar as Pilatus vir Jesus loslaat, is hy ‘n vyand van die keiser, ‘n baie gevaarlike posisie vir Pilatus, want die gehate keiser Tiberius was berug agterdogtig teen enigeen wat sy posisie bedreig het, en het wreed gereageer teen verdagtes [Toe ‘n verklikker (delator) vir Tiberius vertel van Sejanus se komplot  teen sy lewe, is Sejanus van hoogverraad (majestas) aangekla en dieselfde dag in die tronk verwurg]. Om ‘n rewolusionêre koning in oproerige Palestina te ondersteun was baie gevaarlik. Pilatus is in ‘n lokval gevang wat hy self gestel het toe hy die Jode wou plesier (18:39).  En die ironie is dat die hoogste Romeinse amptenaar in Palestina beskuldig word van gebrek aan lojaliteit aan die keiser deur die verteenwoordigers van ‘n volk wat die Romeinse juk meer haat as byna enige ander volk in die Romeinse ryk: ‘Elkeen wat homself koning maak/optree, is in verset teen (letterlik: praat teen, opponeer) die keiser.’ Die Jode laat vaar hulle eintlike klag dat Jesus God laster, en keer terug na hulle eerste aanklag  dat Hy voorgee om die Messias te wees. Pilatus weet die klag is vals, maar sy eie veiligheid is vir hom belangriker. 

 

19:13 Pilatus kapituleer, maar hy het sy eie manier om hom te wreek op die Jode wat hom verneder het. Hy laat haal Jesus en hy gaan sit op die regbank (bema;vgl die regterstoel van God, Rom.14:10, van Christus 2 Kor.5:10) ‘n platform vanwaar hy oor die mense kyk en sy openbare verklarings maak. Die oordeel oor Jesus word in die openbaar aangekondig. Dit is op die Klipterras (lithostrootos in Grieks, Gabbata genoem in Aramees) ‘n plaveisel van groot plat klippe rondom die rostrum voor die goewerneur se paleis.

 

19:14 Die Evangelis dui die plek en die tyd van die belangrikste gebeure vir Jode en nie-Jode se verlossing aan: Dit is die voorbereiding vir die Paasfees, wat omtrent die sesde uur (vgl. 4:6 ; ongeveer 11:00-12:00 middag) begin met die slag van die lammers. Die fees vier God se bevryding van Israel uit die Egiptiese slawerny, met die geslagte lam se bloed aan die kosyne, wat die doodsengel by hulle huise laat verbygaan het (‘pass over’; vgl. Eks.12). Met Pilatus se  uitspraak oor Jesus begin die mensdom se bevryding uit die slawerny van sonde deur die Lam van God  wat geslag gaan word.

            Die Jode is seker Pilatus gaan nou die doodsvonnis aankondig. Maar sy uitspraak lui onverwags: ‘Kyk! Julle Koning!’ (Nie: ‘Hy het gesê Hy is ‘n koning nie’). Pilatus se veroordeling word ‘n formele en dramatiese  aankondiging van  Jesus se koningskap.  Pilatus gee sy finale beslissing aan die Jode oor om te kies, hulle finale beslissing vír of téén Jesus. Pilatus stel ‘n ellendige en bebloede koning aan hulle voor as hulle koning, om sy minagting vir die Jode uit te druk. Vir die Evangelis is dit ‘n beskuldiging: Kyk wat het julle aan julle koning gedoen!

 

19:15 Die Jode skreeu hulle afkeur van Jesus woedend uit: ‘Vat weg! Vat weg! Kruisig Hom!’ Pilatus se laaste appèl op die Jode vestig die verantwoordelikheid vir Jesus se dood volledig op hulle: ‘moet ek júlle koning kruisig?’ Die volk se hoëpriesters, wat vir hulle moet intree by God, antwoord finaal: ‘ons het geen koning behalwe die keiser nie.’ Daarmee bevestig hulle nog sterker en duideliker hulle uitspraak in 19:11.  So gooi hulle die onus terug op die verteenwoordiger van die keiser om oor Jesus te besluit, maar dit impliseer verder:  God is nie meer ons koning by wie ons vir die volk intree nie, en ons verwag geen Messias-koning meer volgens die Skrifte nie, buiten die keiser van Rome, wat ons verdruk en nou die plek van God in ons lewe inneem om oor ons lewens te heers. Hulle verwerp die belofte van die koninkryk van God, en gee die volk se verwagting van die Messias-koning prys. Daarmee versaak hulle Israel se roeping om die erfgenaam van die koninkryk en die verkondiger van die Godsryk aan die nasies te wees. Dit is die prysgawe van hulle Messiaanse verwagting en daarmee as volk van God en hulle hoop.

 

19:16a  Pilatus gee Jesus aan die Jode se wens oor, en laat Hom kruisig. So aanvaar die Joodse en die Romeinse wêreld die skuld vir die verwerping en kruisdood van die Seun van God, die Verlosser van die wêreld. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die soldate mishandel en bespot koning Jesus (19:1-3)

D Die soldate mishandel en bespot koning Jesus (19:1-3) – Francois Malan

19:1 Die Romeine het drie soorte lyfstraf gegee: (i) fustigatio – wat Pilatus in Luk.23:16 voorgestel het: ‘nadat Hy  gestraf is (paideusas  – nie gésel, soos 1983-vertaal nie, maar met rottangs slaan), sal ek Hom loslaat’ – wat die Jode toe nie tevrede gestel het nie. (ii) flagellatio – met swepe, soos Mark.15:15 en Mat.27:26 se fragelloein). (iii) verberatio – met ‘n kats, swepe met stukkies been en lood aan, soos Johannes 19:1 se mastizoo in Grieks).

Volgens Mat.27:26 en Mark.15:15 lyk dit asof die lyfstraf deel is van die doodstraf aan ‘n kruis, soos die Romeine gewoonlik gedoen het. In die lig van Johannes  19:4-16 lyk dit asof Pilatus die géseling in plaas van die kruisiging aangebied het om Jesus vry te laat.

 

19:2-3 Nadat die soldate Jesus gegésel het, maak hulle spottenderwys ‘n karikatuur van sy koningskap. Soos die goddelike keiser van Rome met ‘n lourierkrans op sy kop op hulle munte, kry Jesus ‘n kroon, maar  gevleg van takke met lang dorings; ‘n sodate-mantel boots die koninklike rooi-pers kleed na; in plaas van die eerbiedige Ave Caesar! klinkhulle spotgroet ‘Gegroet, koning van die Jode!’; in plaas van die soen van die keiser se ring, klap hulle Hom  herhaalde maal deur die gesig (vgl. Jes.53:7).

 

C1 Buite: Pilatus vind Jesus onskuldig – Dit is die Mens! (19:4-8)

 

19:4-5 Pilatus probeer weer om die Jode se instemming te kry vir Jesus se vrylating: ‘Kyk, ek bring Hom vir julle uit sodat julle kan weet ek vind geen skuld in Hom nie!’ Met sy belaglike kleed en doringkroon, met strome bloed en ‘n opgeswelde gesig bring Pilatus Hom na hulle uit om te toon  hoe  onskadelik Jesus is, en hoe belaglik hulle aanklag teen Hom is.. ‘Kyk! Die Mens!’ Vir die Evangelie-skrywer moet die Jode ag slaan op God wat ‘dié Mens’ geword het (1:14), tot die diepste van die mens se ellende. Die Koning van waarheid bring op dié manier sy koninkryk na die mensdom wat mense se bloed vergiet en  wie se bloed vergiet word. God wat die mens na sy beeld geskep het, moes die verwronge beeld van die verworde mens kom aanneem, om deur die diepte van sy liefde, weer sy beeld in ons gestalte te laat kry (Gal.4:19; Flp.2:7-8).

 

19:6 Pilatus wou die Jode se woede teen Jesus afkoel met die mishandeling van Jesus. Maar  misgis hom weer met die reaksie van die Joodse leiers en volk. Hulle haat vlam in felheid op met hulle kreet: ‘Kruisig Hom, Kruisig Hom!’ In woede skreeu Pilatus terug: Vat júlle Hom self en Kruisig Hom, want ék vind geen skuld in Hom nie (vgl. 18:31a). Met die klem op ‘julle’ teenoor ‘ek’ verontskuldig Pilatus homself en weier om hulle eis uit te voer  Hy laai die skuld vir Jesus se kruisiging op die Jode, want hy weet Jesus is onskuldig aan hulle aanklag van opstand teen die Romeinse regering. Dit is die tweede maal dat Pilatus sê dat Jesus onskuldig is (18:38).

 

19:7 Die Jode het geen argumente om met Pilatus se onskuldigverklaring op grond van die Romeinse wette te stry nie. Daarom val hulle terug op hulle wette, waarvolgens hulle Jesus tot die dood veroordeel het weens godslastering, deur Hom as die Seun van God voor te doen (5:18; 10:31-33 op grond van Lev.24:16). Dit was die klag teen Hom by die verhoor voor Kajafas, wat nie deur Johannes beskryf word nie (Mat.26:65-66). Jesus is wel nie ‘n politieke oproermaker nie, maar  volgens hulle ‘n godsdienstige oproermaker, wat volgens hulle wette gestenig moet word. Maar die Romeine het hulle die reg ontneem om die doodstraf uit te voer (18:31).

 

19:8 Voorheen is nie gemeld dat Pilatus bang geword het nie, maar met sy ondervraging van Jesus het hy onder die indruk van die andersheid van Jesus gekom, en Jesus se gelate reaksie oor sy géseling het hom ontsenu. Nou hoor hy dat hy met ‘n god te doen het wat die gestalte van ‘n mens aangeneem het (soos destyds wel geglo is, vgl. Hand.14:11), en hy vrees wat die gode met hom sal doen oor bv. sy géseling van Jesus. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




B Binne – Pilatus ondervra Jesus oor koningskap (18:33-38a)

B Binne – Pilatus ondervra Jesus oor koningskap (18:33-38a) – Francois Malan

18:33 Pilatus se ondervraging van Jesus in die hofsaal begin met sy vraag: Is jy die koning van die Jode? (Die Romeinse reg het vereis dat die hoofklag teen ‘n gevangene drie maal aan hom in die hof gestel moes word). Uit Pilatus se vraag is af te lei dat die owerpriesters hulle godsdienstige aanklag van godslastering, dat Jesus Homself God maak, vir die Romeinse goewerneur verander het na ‘n politieke aanklag van opstand teen die regering, as die Messias/Christus/Gesalfde koning, wat die Jode verwag om hulle van die Romeinse oorheersing te bevry (Mat. 26:63-66). Die ander Evangelies bied Jesus se antwoord direk na die vraag aan. Johannes gee die antwoord eers in vers 37 nadat hy ‘n kritieke verklaring van die aard van Jesus se koningskap aanbied:

18:34-35 Jesus, as die eintlike Regter, stel eers ‘n wedervraag om Pilatus te ondervra:  Is dit ‘n persoonlike vraag wat Pilatus gevra het: het jy dit uit jouself gesê? deur Jesus as koning te begin erken – ‘n spontane erkenning dat hy in die teenwoordigheid van ‘n koning is; of is dit ‘n slegs ‘n herhaling  van wat ander vir hom oor Jesus gesê het – ‘n formele aanklag van die Jode. Beide Jesus en Pilatus wil by die waarheid agter die pretensie kom: Jesus wil weet of Pilatus self tot ‘n sekere insig oor Hom gekom het, wat na verdere insig oor Hom kan lei. As dit bloot die Joodse aanklag is, is Pilatus reeds in die verkeerde koers sonder enige insig in wat Jesus se koningskap beteken.

Pilatus toon sy minagting vir die Jode met sy wedervraag: Ek is mos nie ‘n Jood nie, is ek? Hy ontken enige kennis van Jesus behalwe dat Jesus se eie volk en owerpriesters Hom aan hom oorgelewer het (paradidoomi). Daarom sy volgende vraag: wat het jy gedoen? – dat hulle jou aan my oorgegee het om ter dood veroordeel te word. Dit is duidelik hy is nie tevrede is met die aanklag wat die Jode teen Jesus gebring het nie. Het Hy slegs Joodse tradisies verbreek, of het Hy werklik ‘n misdaad gepleeg wat deur die Romeinse hof gestraf moet word?

 

18:36 Jesus antwoord nie direk op Pilatus se vraag nie, maar sê iets oor sy koningskap. Jesus ontken nie dat sy koninkryk oor mense regeer en hulle lei om in gehoorsaamheid aan Hom op te tree in die wêreld nie, maar sy koningsheerskappy oor mense se lewens het nie sy oorsprong in hierdie wêreld nie, en gebruik nie die politieke magsmiddele van hierdie wêreld met ‘n leërmag wat met geweld veg teen sy vyandige volksgenote, die Jode, nie – daarom moes Petrus sy swaard terugtrek van die hoëpriester se slaaf af, en het Jesus Homself sonder weerstand aan die Jode oorgegee.

 

18:37  Van Jesus se verwysing na sy koninkryk lei Pilatus korrek af dat Jesus dan tog ‘n koning is. En op sy vraag antwoord Jesus: jy sê dat Ek ‘n koning is – daarmee erken Hy dat Hy ‘n koning is, maar nie soos Pilatus oor sy koningskap dink nie. Nadat Jesus in 18:36 gesê het wat sy koninkryk nie is nie, antwoord Hy Pilatus se vraag  wat sy koninkryk wel is, die koninkryk van waarheid. Met ‘n dubbele stelling bevestig Hy dat Hy van die teenwoordigheid van God af kom (gebore) en na die wêreld toe gekom het (menswording) om oor die waarheid te getuig – om oor God se verlossende heerskappy te getuig met woord en daad, as beliggaming van God se waarheid.

Die betekenis van Jesus se koningskap is nie om wêreldlike mag te verkry nie, maar is ‘n hemelse sending tot diens aan die waarheid; nie met geweld nie, maar deur getuienis. Sy hele lewe en wese is die waarheid van God se liefde vir die wêreld (14:6; 3:16).  

            Sy onderdane is elkeen wat uit die waarheid is, wat sy getuienis aanvaar. Dit is dié mense wat die Vader aan Hom gee (6:37,39, 44,65; 10:29; 17:2,6-9,12,24; 18:9).

 

18:38a Jesus se getuienis oor sy koninkryk van die waarheid impliseer ‘n uitnodiging om deel daarvan te word. Dit plaas Pilatus voor ‘n persoonlike beslissing. Daarmee plaas die Gevangene sy regter in die beskuldigde bank, maar die oop deur na Jesus toe, om te luister wat Hy sê, word deur Pilatus ontwyk met ‘n vraag na die waarheid, na die sin van die lewe. Die mens se soeke na waarheid vind egter slegs by Jesus die sin van die lewe, soos God dit bedoel het vir sy skepsels. Dit is duidelik uit Pilatus se optrede dat hy nie ‘uit die waarheid’ is nie. Hy het duidelik nie die waarheid van God wat voor Hom staan herken nie. Hoewel Pilatus persoonlik neutraal staan  teenoor Jesus, is hy oortuig dat Hy geen politieke bedreiging inhou, soos die Jode gesuggereer het nie. Sy koninkryk van waarheid is nie ‘van hierdie wêreld ‘ nie.

 

C Buite – Pilatus vind Jesus onskuldig; hulle kies Barabbas(18:38b-40)

 

18:38b-39 Pilatus gaan uit na die Jode om Jesus onskuldig te verklaar, maar die swakkeling is te lafhartig om sy eie bevinding deur te voer. In plaas daarvan verkrag hy die reg om die Jode te behaag. Hy handig sy verantwoordelikheid om reg te spreek oor aan die Jode, wat juis vir Jesus aangekla het: ‘ek vind geen skuld in Hom nie…wil julle dat ek die Koning van die Jode (ironies) vir julle loslaat?  Hy verruil sy Romeinse reg vir die Joodse gebruik dat die goewerneur vir hulle met Paasfees een man (wat skuldig bevind is)  uit die gevangenis los laat.  So neem die onskuldige Seun van God die skuld van die sondaar op Hom.

 

18:40 Hulle skreeu: nie hierdie een nie, maar Barabbas!  Die aanklaers verwys met minagting na ‘hierdie een’ en kies die opstandeling (vryheidsvegter lestes) teen die Romeinse gesag (Luk.23:19 sê Barabbas was in die tronk oor ‘n opstand in die stad en oor moord; vgl. Mark.15:7; Mat.27:16 noem hom ‘n berugte gevangene – enkele manuskripte noem hom Jesus Barabbas). Jesus (die Here verlos) Christus teenoor Jesus Bar- abbas (die seun van die vader) – die Jode kies ‘die Here verlos’ deur geweld, bo ‘die Here verlos’ deur liefde. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se verhoor voor Pilatus (18:28-19:16)

Jesus se verhoor voor Pilatus (18:28-19:16) – Francois Malan

Terwyl die ander Evangelies uitbrei oor die verhoor voor die Joodse Raad, stel Johannes nie so baie daarin belang as in die verhoor voor Pilatus nie, waar die Joodse leiers die aanklaers is en die Romeinse regeerder die regter. Vir Johannes is dit die werklike verhoor. Die verhoor vind plaas in sewe episodes met wisseling tussen binne en buite Pilatus se ampswoning waar hy vir die Paasfees tuisgaan (gewoonlik bly hy in Caesarea, maar kom met feesgeleenthede met ‘n versterkte leërmag na Jerusalem om orde te handhaaf).:

 

A Buite – 18:28-32                                             A1 Buite – 19:12-16

Jode eis die doodstraf vir Jesus                                    Jode verkry die doodstraf vir Jesus

B Binne – 18:33-38                                            B1 Binne – 19:9-11

                 Pilatus ondervra Jesus oor koningskap                      Pilatus praat met Jesus oor mag/gesag

C Buite – 18:38-40                                             C1 Buite – 19:4-8

            Pilatus vind Jesus onskuldig                                              Pilatus vind Jesus onskuldig

            Die keuse vir Barabbas                                                       Dit is die Mens

 D Binne – 19:1-3

            Die soldate mishandel en bespot koning Jesus

 

Binne, in die kalm redelike atmosfeer van die hofsaal vind Pilatus Jesus twee maal onskuldig. Buite is daar ‘n geskreeu wat die haat vir Jesus uitdruk. Die druk op Pilatus is geweldig. Pilatus se heen-en-weer loop tussen buite en binne gee uitdrukking van sy innerlike worsteling. Hoe sekerder hy word van Jesus se onskuld, hoe groter word die druk deur die Jode om Jesus skuldig te vind.

            Die verhoor gaan oor Jesus se KONINGSKAP. In B word die aard van sy koningskap bespreek. In C en A1 verklaar Pilatus dit. D beskryf ‘n spottende kroning van Jesus. In C1 word die ‘koning’ aan sy ‘onderdane’ bekend gestel, en hulle ‘eer’ hulle koning met uitroepe van ‘kruisig Hom!.’  Johannes verbind Jesus se koningskap met sy verwerping en lyding, dat Hy onskuldig ly, en dat Hý die werklike Regter is.

 

 

A Buite – Die Jode eis die doodstraf vir Jesus (18:28-32)

 

18:28 Na die onwettige nagtelike vergadering van die Joodse Raad in Kajafas se huis om die aanklag teen Jesus voor te berei (wat Johannes nie beskryf nie, maar wat uit die vervolg afgelei kan word), bring hulle die geboeide Jesus in die vroeë oggend (prooii vgl. Openb. 2:28 se ‘môrester’ astera prooinon)  na die praetorium, die ampswoning van die praeses, die Romeinse goewerneur (in teenstelling met vandag se regters, het die Romeine vroegdag begin werk). Heel ironies wil die Jode nie die heidense ampswoning betree nie. Hulle wil nie onrein word en daardeur die slag van die Paaslam en die Paasmaaltyd misloop nie, maar hulle wil die Lam van God slag voor hulle Paasmaal. Numeri 9:6-11 bepaal dat iemand wat aan ‘n lyk raak eers ‘n maand later die Paasmaal mag eet. Om rein te bly volgens hulle vormgodsdiens bly hulle buite die ampswoning van die heidense goewerneur met harte wat onrein is, en verbeur so die openbaring van die Waarheid van God aan die heidense goewerneur (vgl. Mat.23:13). 

 

18:29 Pilatus gaan uit na die buitenste tribunaal (bema regbank) in die binnehof en vra: wat is die offisiële klag teen die mens (anthroopos)? Pilatus is bewus van wat aangaan, want hy het reeds sy soldate gestuur om Jesus te gaan arresteer saam met die tempelpolisie (18:3). Maar hy gaan nie bloot hulle veroordeling  van Jesus bekragtig sonder ‘n verhoor volgens die Romeinse reg nie.

 

18:30 Hulle antwoord is buitengewoon vaag. Hulle klink nie te seker van hulle saak teen Jesus nie: ‘as Hy nie ‘n kwaaddoener/gewoontemisdadiger (kakon poioon die werkwoord veronderstel dat Hy dit voortdurend doen,  vgl 18:23) was nie, sou ons Hom nie aan jou oorgelewer het nie’ (paradidoomi dieselfde woord wat in 13:21 vir ‘verraai’ gebruik is). Dit gaan nie oor spesifieke oortredings nie, maar oor die lewe en karakter van Jesus. Hulle verwerp Jesus se hele optrede en verkondiging as oortreding van die wet van God soos hulle dit verstaan en verkondig.

 

18:31 Pilatus se antwoord is ironies en vernederend. As hulle vae antwoord dan impliseer dat Jesus ‘n gewoontemisdadiger is volgens hulle wette, moet hulle Hom daarvolgens gaan beoordeel, en nie die Romeinse owerheid met hulle godsdienstige sakies kom lastig val nie. Die Joodse Raad  kon volgens die Joodse reg iemand  oor godsdienstige sake laat stenig (vgl. bv. Lev 24:14-16).  Toe Judea egter in 6 n.C. onder Romeinse bewind beland moes die goewerneur toestemming tot die doodstraf verleen. Hy het die jus gladii (die reg van die swaard). Met hulle opmerking verwag hulle dat Pilatus vir Jesus die doodstraf moet oplê op grond van hulle bewering dat Hy volgens hulle wet ‘n gewoontemisdadiger is [Vitellus, Die verteenwoordiger van die keiser oor die hele Sirië, stel  in 36 n.C. vir Marcellus aan as sy verteenwoordiger sonder volmag, nadat hy Pilatus afgesit het. Toe Vitellus die Romeinse gesag  in Mesopotamië gaan vestig, het die Joodse Raad vir Stefanus onwettig laat stenig in die afwesigheid van Vitellus, wat eintlik die Jode goedgesind was.]

 

18:32 Die Evangelie-skrywer merk op dat Jesus se woord in 3:14  en 12:32-33 oor sy dood as  ‘verhoging van die aarde af’  daardeur vervul word. Die Jode wou spesifiek hê Jesus moet volgens die Romeinse manier doodgemaak word, nie deur steniging nie, maar deur kruisiging, want dit behels die vloek van die wet – Deutr. 21:23: want wie opgehang word, is deur God vervloek…en verontreinig die land. Die Jode wou nie toelaat dat Jesus  deur die volk as ‘n martelaar vir God se saak  beskou word nie, maar as ‘n bedrieër wat onder God se vloek gesterf het. Die Evangelis sien sy kruisiging juis as die vervulling van God se liefdesoffer, wat almal wat dit wil aanvaar, na Hom toe sal trek om  in Hom die ewige lewe van God te verkry (God het Jesus reeds twee maal ‘n Joodse steniging laat ontsnap, 8:59; 10:31, sodat alle nasies na Hom toe getrek word deur sy verhoging aan die kruis vir baie mense; vgl. Mat. 20:28).  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan