Jesus deur die Hoëpriester ondervra en drie maal deur Petrus verloën (18:12-27)

Jesus deur die Hoëpriester ondervra en drie maal deur Petrus verloën (18:12-27) – Francois Malan

18:12-14 Die kommandant (letterlik:owerste oor duisend) laat Jesus arresteer en boei as ‘n misdadiger. Hulle neem Hom eers na Annas vir ‘n voorverhoor (wat nie in die Sinoptiese Evangelies genoem word nie).

 

Hoëpriester en voorsitter van die Sanhedrin                    Romeinse goewerneur in Palestina

6-15 n.C. Annas aangestel deur                                         6-9 n.C Koponius

                                                                                                   9-12      Ambibulus

                                                                                                  12-15    Rufus

                        afgesit deur                                                    15-26    Valerius Gratus

18-36 Kajafas aangestel deur                                           Valerius Gratus

             (Annas se skoonseun)                                           26-36    Pontius Pilatus

                        afgesit deur                                                    36         Marsellus         

36-37 Jonatan aangestel deur                                          Marsellus

            (seun van Annas)                                                    37-41    Marullus                                   

Al het die Romeine Annas afgesit behou hy onder die leiers en die volk steeds sy gesag veral oor sy skoonseun en vyf seuns en een kleinseun, wat van tyd tot tyd deur die Romeine aangestel was as hoëpriesters (Luk.3:1 noem hom en Kajafas saam hoëpriesters; vgl. Hand.4:6). Johannes identifiseer wie Annas is nadat Kajafas reeds in 11:49-52 voorgestel is (die ander Evangelies vertel niks van ‘n voorverhoor voor Annas nie). Die tempelkompleks was snags gesluit, en die Joodse Raad het die nag dus onwettig in die hoëpriesterlike kompleks vergader, waar Annas ook in ‘n afdeling gebly het. Die Hoëpriesters van die tweede tempel het ‘n slegte reputasie onder die volk gehad as mense wat met omkoopgeskenke deur die Romeinse regering aangestel is, en met lis en geweld hulle wil op die priesters en die volk afgedruk het.

 

18:15-16 By die hoëpriesterkompleks word Petrus en die ‘ander dissipel’ in die binnehof toegelaat. Wie die ‘ander dissipel’ was, is onbekend. (sy bekendheid by die hoëpriester pas nie by die visser Johannes uit Galilea nie. As die ‘geliefde dissipel’ nie Johannes was nie, kon hy dalk die ‘ander dissipel’ gewees het, wat miskien die Evangelie geskryf het, soos baie teoloë dink. Johannes laat ons egter in die duister oor ‘n paar name, o.a. 19:34 die soldaat wat die spies in Jesus gesteek het,die ander twee dissipels van 21:2, en die ‘geliefde dissipel’).

 

18:17 Slegs Johannes sê dat die slavinnetjie, wat vir Petrus gekonfronteer het, die poortwagter was. Petrus verloën eintlik sy eie dissipelskap van Jesus, maar daarmee indirek vir Jesus (13:38). Die slavin se vraag het die opening vir Petrus gelaat: Jy is tog nie een van hierdie man se dissipels nie? suggereer ‘n negatiewe antwoord. Petrus se swakkeling-antwoord ‘Ek is nie’ (ouk eimi) staan in skerpe kontras met Jesus se vreeslose ‘Ek, Ek is’ (egoo eimi,18:5). Petrus se toets het anders begin as wat hy hom voorgestel het met sy brawe uitspraak in 13:37 en met sy konfrontasie met die skare soldate en wagte (18:10). Hy faal egter die toets deur ‘n onskuldig-klinkende vraag van ‘n nederige slawemeisie.

 

18:18 So onopsigtelik moontlik skaar Petrus hom by die slawe en diensknegte se houtskoolvuur in die lente-koue. Deur hom met die hoëpriester se diensknegte te assosieer kruip hy weg vir enige verband met die Gevangene.

 

18:19-21 Annas wyk af van die gewone Joodse hofprosedure van getuies wat iemand beskuldig en as hulle saamstem word die man veroordeel, sonder dat hy homself kan verdedig (Deutr.17:6; 19:15). Dit is daarom dat Jesus vra waarom Annas Hom ondervra. Annas se twee vrae begin oor Jesus se dissipels, maar Jesus praat nie oor hulle nie. Hy antwoord slegs oor Homself (twee maal sê Hy met nadruk ‘Ek,’ bygevoeg by die drie werkwoorde in die eerste persoon). Die vraag oor sy leer verwys Hy na die mense wat Hom en sy leer in die openbaar in die sinagoges en die tempel gehoor het. Volgens Deutr. 13:1-10 kom die valse profeet na ‘n enkeling om hom aan te hits tot opstand teen die Here en sy wil, om ander gode te dien (13:1-5) en doen dit in die geheim om jou tot ander gode te verlei (13:6). ‘n Valse profeet verdien die doodstraf (13:5,9) volgens hulle wet. Annas lok Jesus uit om Homself te inkrimineer. Maar Jesus sien deur sy poging en verklaar dat Hy met die mense (letterlik: die mensewêreld) in die openbaar en met vrymoedigheid gepraat het, nie om mense te verlei om ander gode te volg  nie. Reeds in 7:12,47 het van die Jode gesê Hy verlei die mense.   

 

18:22-23 ‘n Lid van die tempelpolisie meen hy moet die eer van God se hoëpriester beskerm met ‘n beledigende klap in die gesig van die Seun van God, wat nie voor Annas skuldig bewys is nie – ‘n optrede wat strydig is met die reëls van die Joodse Raad.  Jesus verdedig die reg: as ek verkeerd (kakoos sleg) gepraat het, sê dit (letterlik: lê  getuienis af  – nl. voor die hof van ondersoek)  van die boosheid (kakos) – daarvan;  as dit reg (kaloos goed) is, waarom slaan jy my? Jesus ontken enige geheime of ondermynende optrede en vereis dat hulle getuies roep om onder eed te kom getuig waarin Hy die mensewêreld sou verlei het (18:19-21). Jesus eis dat reg en geregtigheid in die wêreld en veral in die kerk sal geskied.

 

18:24 Annas sien hy kan geen bewyse vind of self eer verkry uit hierdie vreemde Aangeklaagde nie, en stuur Hom geboeid na Kajafas, die hoëpriester. Annas erken daarmee  dat hy nie dink Jesus is onskuldig nie (Annas het waarskynlik gebaat by die verkopings en geldwisselary wat Jesus uit die tempel verdryf het, 2:14-16, en is waarskynlik nog kwaad daaroor).

 

18:25-26 Terwyl Jesus geboeid maar vreesloos voor die hoëpriester vir die reg opkom, maak Petrus sy hande warm by die vuur van die diensknegte van die hoëpriester. Soos met die slavinnetjie het hulle vraag ook die opening vir Petrus gelaat: Jy is tog nie een van hierdie man se dissipels nie? Die vraag suggereer ook ‘n negatiewe antwoord. Petrus se tweede verloëning van sy dissipelskap, en daardeur vir Jesus, is weer: Ek is nie.

 

18:27  Die familielid van Malgus se vraag word so gestel dat ‘n positiewe antwoord verwag word: Het ek jou dan nie saam met hom in die tuin gesien nie?

Vir die derde maal verloën Petrus sy verbintenis met Jesus, en direk daarna kraai die haan, soos Jesus vir Petrus gewaarsku het (13:38). [In Bach se Matteus-passie kraai die haan ‘n paar note hoër op die wysie van  Petrus se ‘Ek ken die man nie,’  as eggo van Petrus se ego, wat daardeur afgeblaas word, saam  met die aankondiging van die aanbreek van die nuwe dag]

            Die drie maal se verloëning word deur al vier Evangelies vertel, maar verskil in die besonderhede daarvan, veral oor die plek daarvan, hier in Annas se binnehof, by die ander drie in Kajafas se binnehof. In Markus 14:69 is dit dieselfde diensmeisie wat hom die tweede keer konfronteer, in Lukas 22;58 ‘n ander manlike persoon. Net Johannes identifiseer die derde ondervraer.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se getuienis voor die hele wêreld (18:1-21:25)

Jesus se getuienis voor die hele wêreld (18:1-21:25) – Francois Malan

Die eerste  hoofdeel van die Evangelie vertel hoe Jesus deur woord en daad getuig het voor die Joodse volk, sy eie mense wat Hom nie aangeneem het nie (hoofstukke 1-12). Die tweede hoofdeel handel oor sy getuienis in die kleiner kring van sy volgelinge (13-17). Die derde hoofdeel sluit die boek af met Jesus se openlike getuienis waar die hele wêreld kan sien en hoor wat met Jesus gebeur (18-19) en sy verskynings aan sy volgelinge na sy opstanding (20-21).

Johannes beskou die hele lydensgeskiedenis as Jesus se verhoging tot goddelike heerlikheid. Die koningskap van Jesus blyk deur die hele vertelling, selfs tot by sy begrafnis. Al lyk dit of Hy die slagoffer is, is Hy in werklikheid die Een wat die gang van sake bepaal. In gehoorsaamheid aan die Vader voltooi Hy die verlossing van die wêreld, en deur sy sterwe openbaar Hy die uitnemendheid van sy heerlikheid, die toppunt van sy liefde in die offer van Homself, God wat ook mens geword het om die sonde van die wêreld wegneem (1:1,14,29).

 

Die eerste twee hoofstukke kan in drie dele ingedeel word: gevangeneming en verhoor voor die hoëpriester (18:1-27), die verhoor deur Pilatus (18:28-19:16a), kruisiging, dood en begrafnis (19:16b-42).

 

Jesus word gearresteer (18:1-11)

18:1-2 Na Jesus se onderrig van sy dissipels in hoofstukke 13-16 en sy gebed in hoofstuk 17 het Hy en sy dissipels uitgegaan (uit die bovertrek, en uit die stad; die Griekse woord vir uitgaan word ook gebruik vir doodgaan) oor die Kedronspruit (letterlik: troebel wadi, wat net in die winter water het). ‘n Duisend jaar tevore het Dawid deur die Kedronspruit Jerusalem verlaat op vlug vir sy seun Absalom tot oorkant die Jordaan  (2 Sam 15:23). Die spruit (630-680 meter bo seespieël) loop tussen die koppie Ofel (680 meter) waarop Jerusalem gebou is met die tempelberg (740 meter) aan die Weste en die Olyfbergreeks (812 meter) in die Ooste van die stad.  Jesus en sy dissipels het dikwels in die tuin aan die voet van die Olyfberg ‘saamgekom.’ Daarom weet Judas waar om na Hom te gaan soek.  Dit was vereis dat die feesgangers in Jerusalem se gebied moes bly tydens die Paasnag. Dit het Getsemane ingesluit, maar Betanië aan die oostekant van die Olyfberg was buite die gebied van Jerusalem.

 

18:3. Die Romeinse owerheid het gewoonlik met die Joodse feestye, veral met Paasfees, hulle getal soldate in Jerusalem versterk met soldate uit Sesarea om te verhoed dat daar ‘n oproer teen die Romeinse owerheid begin word deur die skare. Die Joodse Raad het waarskynlik hulle hulp ingeroep omdat hulle bang was vir ‘n opstand  van die volk wanneer Jesus gevang word (vgl. 11:48). Daarby het die Raad se wagte die vorige keer nie geslaag om Jesus te arresteer nie (7:45-46). Judas lei hulle na Jesus om Hom te arresteer. Die drie groepe verteenwoordig die opstand van die wêreld teen die Here en sy Gesalfde (Ps 2:2): die Joodse wêreld, die nie-Joodse mensdom, en afvallige dissipels van Jesus. Ten spyte van die volmaan met Paasfees, kom hulle met lampe en fakkels om die Lig vir die mensdom (1:4) met wapengeweld uit te doof. Die Sinoptiese Evangelies meld nie die Romeinse deelname nie; Johannes nie Jesus se gebedstryd in Getsemane nie.

 

18:4-6 Jesus weet dit is die uur wat deur die Vader bepaal is vir die voltooiing van sy liefdesgawe van sy enigste Seun vir die verlossing van die wêreld (3:16), daarom neem Hy die inisiatief vir sy eie gevangeneming. Hy vra na wie hulle soek. Op hulle antwoord, Jesus van Nasaret, reageer Hy met ‘Ek is’ (Eks.3:14). Judas wat die groep gelei het om Hom  aan hulle oor te gee (Hom te verraai), staan nog saam met die wêreldse mag (vgl. sy soen van Jesus in die Sinoptiese Evangelies). Maar hy is saam met die groep deur vrees oorweldig voor Jesus se openbaring van sy godheid. Hulle tree terug en val op die grond (vgl. Ps.27:2-3; 56:10; so ook Esegiël 1:28, Daniël 10:7-9; Paulus in Hand.9:3-4; Johannes in Openb.1:17). 

 

18:7-9 Aan sy teenstanders wat plat op die grond lê (soos in nederige aanbidding) vra Jesus weer wie hulle soek (en rig hulle op met sy vraende woord). Hulle verwys weer na ‘Jesus die Nasarener’ (Jesus beteken Verlosser, uit die onbenullige stadjie). En Jesus herhaal sy ‘Ek is,’ as die Goeie Herder van sy groepie gelowiges, wat Homself aanbied as die een na wie hulle soek (10:11,15), maar vra sy arresteerders om sy dissipels te laat gaan. So vervul Hy wat in Hy in 17:12 gebid het. In 6:39 het dit gegaan om die ewige lewe vir sy volgelinge, in 10:10 om die huidige nuwe lewe wat strek tot in die ewigheid, hier in 18:8 om hulle redding uit ‘n gevaar wat hulle aardse lewens bedreig. Drie maal het Jesus bevestig dat dit Hy is vir wie hulle soek (18:4-5,7,8). 

 

18:10-11 Petrus trek sy kort swaard/dolkmes waarmee die Paaslam  geslag word. Petrus het nog nie vrede gemaak met Jesus se lyding as God se liefdesoffer vir die reiniging van ons sonde nie (13:6-10).  Hy wil Jesus nog met geweld verdedig teen die wêreld (Romeinse soldate) en die kerk (hoëpriester se verteenwoordigers) se aanslag teen God se gesant. Jesus is egter gereed om die beker van lyding, wat die Vader vir Hom gegee het (beker van God se toorn oor die sonde Ps.75:9; Jes.51:17,22), te drink tot die droesem toe, tot verheerliking van God en verlossing van die mensdom (12:23-24).  In die Sinoptiese Evangelies gaan Jesus se gebedspleit dat die beker by Hom mag verby gaan (Mat.26:39-44, en parallelle tekste). Hier het Hy reeds berusting gevind en sy besluit staan vas om dit te drink.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg)

Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg) – Francois Malan

17:22-23 Hierdie verse herhaal wat in 20-21 gesê is, om die belangrikheid van die eenheid tussen die gelowiges te onderstreep, effens van ‘n ander kant af beskryf: In 21 word die gelowiges een deurdat hulle deel kry aan die gemeenskap tussen die Vader en die Seun. In 23 word die gelowiges een deurdat Christus in hulle kom woon en die Vader in Hom is, met Jesus as Middelaar.

So word gelowiges ‘volkome-gemaaktes’ (teteleioomenoi) tot een liefdesgemeenskap. Jesus sê in Mat,5:44-48 dat ons  volmaak moet wees, soos ons hemelse Vader volmaak is, deur ons vyande lief te hê. Die Heilige Gees kom maak ons volmaak in die liefde, wat ook insluit vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23).

            In v21 word die vrug van die eenheid beskryf as ‘sodat die wêreld mag glo dat U My gestuur het.’ In v23 word ‘glo’ vervang met ‘weet’ (ginooskoo kan ook aandui: ‘leer’, ‘erken’ ‘begryp’). Geloof lei tot kennis, en kennis vermeerder die geloof. Hier word bygevoeg: ‘en hulle liefhet, soos U My liefhet’ – uit hulle onderlinge liefde sal die wêreld God se liefde vir sy kinders aflei, die liefde wat die Vader vir die Seun het, aan wie die Heilige Gees ons kom verbind (Rom.8:17 sê ons is erfgename saam met Christus, wat deel het aan sy lyding en sy heerlikheid).

            Vers 22 praat van die heerlikheid wat die Vader aan Jesus gegee het, en wat Christus aan ons geskenk het sodat ons, soos Hy en die Vader, een mag wees. Hierdie Evangelie sien Jesus se verhoging aan die kruis as deel van sy heerlikheid (12:28,33), soos ook sy opstanding en hemelvaart. Die heerlikheid wat die gelowiges ontvang is die voorreg om lief te hê soos Jesus, wat Homself opgeoffer het vir sy vriende (15:13; vgl. Luk.9:23-24), en om deel te word van die ewige lewe saam met God, ‘n nuwe manier van lewe wat nou reeds begin, die lewe in liefde vir mekaar.

 

17:24 Die laaste verse is ‘n eggo van 17:1-5 oor die ewige heerlikheid  van die Seun. Hier gaan dit daaroor dat  die gelowiges sy heerlikheid mag sien (die woord theooreoo sluit ook in ‘om in te sien’ en ‘om te beleef’). God word weer as Vader aangespreek, die Vader in wie se huis Jesus ‘n plek vir sy volgelinge gaan gereedmaak (14:2). Hier bid Hy dat sy volgelinge ook by Hom sal wees in sy verheerlikte staat, wat 17:5 in die vooruitsig stel. Die woord ‘Ek wil graag hê’ (theloo, druk nie slegs sy begeerte uit nie, maar ook sy doel met sy volgelinge se lewe, en ook sy vreugde daaroor).  ‘Hulle wat U My gegee het’, wys weer na dié mense wat God uit genade gekies het om altyd by Jesus te wees, ook in hulle lyding en swaarkry. Maar saam met die huidige insig in Jesus se heerlikheid aan die kruis, gaan die gebed tot in die ewigheid, waar Hy verhoog is en waar sy volgelinge ook by Hom gaan wees. Die liefde van  die Vader vir die Seun is ewig, en dié mense wat aan die Seun verbind is, word deel van God se ewige liefde vir sy Seun. So kan hulle ook mekaar begin liefhê.

 

17:25-26 is die grond vir die bede in v24, en ‘n opsomming van die evangelie. Slegs hier word God ‘Regverdige Vader’ genoem,  om sy regverdige oordeel oor die wêreld uit te druk. Die wêreld ken nie die Vader nie, want hulle het Jesus se openbaring van God nie aanvaar nie. Daarom sal hulle nie die heerlikheid van Jesus sien nie en  bly die straf van God op hulle (3:36). Sy dissipels, ‘hulle hier,’ het egter in Hom geglo, en weet dat Hy deur die Vader gestuur is. Daarom val hulle nie onder die oordeel van die wêreld nie (3:36: hulle hét die ewige lewe). Jesus sal voortgaan om die Naam van die Vader (sy woord en sy wese) aan hulle bekend te maak deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om Jesus se lewe, woorde en werke aan hulle te verduidelik (14:26; 16:12-15).

            Dat die liefde, waarmee die Vader vir Jesus liefhet, in die dissipels sal wees, en Hy in hulle, wys op die volgende: (i) dit impliseer dat ons insig in die liefde van die Vader vir die Seun steeds sal toeneem (selfs die kruis getuig van die liefde van God vir die Seun, hoe teenstrydig dit ook al klink); (ii) dat ons begrip van die wonder dat daardie liefde ook deel word van die gelowiges, steeds sal toeneem; (iii) dat ons wederliefde vir die Vader sal toeneem as ‘n krag wat ons hele lewe bepaal, en wat ons gemeenskap met ons Vader en met ons medegelowiges sal laat ontwikkel. Dit spruit alles uit ons verhouding met die Seun, wat al hegter word met die liefde van die Vader vir die Seun in ons, en die Seun in ons, met sy liefde. Met die Heilige Gees wat in ons woon dring die liefde van God deur in ons hele wese (vgl. 2 Kor.3:18; 5:14-15).

 So word Jesus se liefdesgebod van 13:34 al beter uitgeleef, en dit bereik sy vervulling wanneer ons na Hom toe gaan in die huis van sy Vader. So word die gebed in 17:24 ook ten diepste verklaar: die heerlikheid van Christus is die heerlikheid van God se liefde, wat deur sy eie mense aanskou sal word, en sal deurwerk om hulle te verander in draers van Christus se liefde. Dit is die einddoel van Jesus se koms na die wêreld. Hy is die Openbaarder van God, wat liefde is (1 Joh.4:8,16); Hy is die goddelike Verlosser van die wêreld, deur wie die liefde van God vir die Seun in ons lewe kom oorneem.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus bid vir sy dissipels – hulle toewyding aan God (17:16-19)

Jesus bid vir sy dissipels – hulle toewyding aan God (17:16-19) – Francois Malan

17:16 Die verandering van die gelowiges se posisie in die wêreld, dat hulle aan God behoort (17:14), word hier met groter klem herhaal,.en is die oorgang na die gedeelte van die gebed oor hulle toewyding aan God. Deur hulle geloof in Christus behoort hulle nie meer aan die wêreld nie. Hulle is nie meer van die wêreld nie, nie meer mense onder die mag van die owerste van hierdie wêreld nie. Hulle is nog in die wêreld, maar behoort nou aan Christus as sy getuies, deur wie Hy  in hierdie wêreld werk, as kinders en beelddraers van God. Daarom is gebid vir hulle bewaring teen die Bose (17:14-16)  en word gebid vir hulle toewyding aan God (17:17-19)

17:17 ‘Heilig hulle in die waarheid, U woord is die waarheid.’ Heilig beteken om toe te wy. Jesus bid dat die Vader Jesus se volgelinge sal toewy in die waarheid, sodat hulle met hart en siel, in gedagtes, woorde en dade aan God toegewy sal wees, weg van die wêreld se lewenswyse af, en dat hulle lewens omvorm sal word volgens die openbaring van God in en deur Christus, wat die lewende gestalte is van die goddelike woord. Soos Hy aan God en sy diens in die wêreld toegewy was, moet sy volgelinge ook in gemeenskap met God en sy diens in die wêreld  lewe soos Jesus, volgens God se woord en sy liefdesdiens in die wêreld. Om ons in die volle waarheid te lei, stuur God die Heilige Gees om in ons te kom woon (16:13).

 

17:18 Soos die Vader die Seun ‘geheilig’/toegewy (1983-vertaling: afgesonder) het  vir sy taak en Hom na die wêreld toe gestuur het (10:36), so stuur Jesus sy volgelinge, wat deur God ‘geheilig’/toegewy is aan God en sy liefde vir die wêreld, as voorbeelde en werktuie van Jesus in die wêreld.

 

17:19 is die klimaks van die gebed om ‘heiliging’/toewyding van die dissipels. Jesus het sy lewe aan God toegewy as volmaakte offer om die volgende dag vir die sonde van die wêreld te gaan sterwe aan ‘n kruis (vgl. die wydingsoffer vir die eerstelinge in Eks.13:1-2; Deutr.15:19,21; van Jesus self in Joh.10:17-18; 18:11; 19:30). Hy het, ter wille van sy volgelinge, Hom aan God se verlossingsplan toegewy, ‘sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees’ – aan dieselfde taak om God se verlossing na die wêreld toe te bring, in dieselfde gees van selfverloëning en liefde as wat Jesus dit gedoen het. Vir hierdie goeie nuus, ‘die waarheid’, is hulle nou God se instrumente en lewende voorbeelde vir die wêreld van toewyding aan God en sy liefdesuitreik na die wêreld, wat ook bereid is om daarvoor saam met Jesus te ly (vgl. Rom.8:17).            

 

Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (17:20-26)

 

17:20-21 Die derde gedeelte van Jesus se gebed is ‘n uitbreiding op 17:11b se gebed vir die eenheid van Jesus se volgelinge, om die belangrikheid daarvan te beklemtoon. Die gebed word uitgebrei na die kerk deur die eeue. Jesus weet dat sy sending deur sy volgelinge vrug sal dra vir die Landbouer (vgl. hulle uitsending in 17:18; en baie vrug 15:2,5), ook dat hulle, deur sy toewyding, toegewydes aan God is vir die taak (17:19). Deur ‘hulle woord’ sal mense ‘in My’ glo. As gestuurdes van Christus word die woord van God hulle woorde, en deur hulle woorde en optrede gaan die woord van God uit sodat die hoorders tot geloof in Christus kan kom.

            Die eenheid van almal wat in Jesus glo, waarvoor Hy bid, word gekwalifiseer met: ‘net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees.’ Die Qumran gemeenskap het hulle beywer vir hulle eenheid met die engele. Maar die eenheid waarvoor Jesus bid is meer radikaal (met sy wortels in die liefde van God)  en fundamenteel (met die liefde van Christus as fondament – vgl. Ef.3:16-20). Dit is ‘n eenheid wat gewortel is in die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun, soos Jesus dit vir ons geopenbaar het deur sy woord en daad, in die verlossing van God in en deur Christus vir die wêreld. Die gelowige word deur sy geloofsband met die Seun van God opgeneem as kind  in die gesin van God, wat anders lewe as die wêreld, nie meer selfsugtig soos die wêreld nie,  maar in liefde vir God met my hele hart, vir medegelowiges soos Jesus my liefhet, en vir my naastes in die wêreld soos myself. Daardeur sal die wêreld glo dat die Vader vir Jesus gestuur het om die weg na God en sy verlossing oop te maak. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan