Jesus bid vir sy dissipels – hulle posisie in die wêreld (17:11-15)

Jesus bid vir sy dissipels – hulle posisie in die wêreld (17:11-15) – Francois Malan

17:11 Op die aarde het Jesus die Vader verheerlik deur sy lewe, werk en dood (17:4). Nou keer Hy terug na die Vader, en gaan Hy sy werk op die aarde voortsit deur sy volgelinge. Daarom bid Hy vir hulle, vir hulle lewenswyse en taak in die wêreld.

‘Heilige Vader’ – hierdie aanroep kom slegs hier in Johannes voor. Dit woord ‘heilig’ druk hier die goddelikheid van die Vader uit: sy andersheid, ontsagwekkendheid, heerlikheid, majesteit, grootsheid. Dit druk Jesus se houding teenoor die Vader en sy onderrig oor die Vader uit – die Vader se bonatuurlikheid; met ‘Vader’ druk Hy sy intieme verhouding met die Vader uit (in Mat.11:25 bid Jesus: Ek dank U, Vader, Here van hemel en aarde).

            ‘Bewaar hulle in U Naam, die Naam  wat U aan My gegee het’ – in verse 6-8 het Jesus sy bekendmaking van die Vader se Naam verduidelik saam met sy bekendmaking van God se woorde aan die dissipels. Om hulle ‘in U Naam te bewaar’ beteken dat die Vader die dissipels sal hou aan wat Jesus aan hulle geopenbaar het van die Vader se wil en eienskappe. Die doel van die bewaring in hulle toewyding aan die Vader is dat hulle een mag wees, soos die Vader en die Seun een is in hulle liefde en optrede. Slegs as die dissipels volhard in die waarheid wat Jesus aan hulle oor God geopenbaar het, kan hulle volhard in die toewyding van Jesus aan sy Vader, en so in die taak wat hulle nou kry om God se versoening met die mens te gaan uitlewe en verkondig. As gelowiges nie in versoening met mekaar lewe nie, openbaar hulle nie God se versoening met die mens aan die wêreld nie (17:17-23).

            ‘net soos Ons een is” – in hulle liefde en verbondenheid aan mekaar (vgl. die nuwe gebod van Jesus in 13:34: soos Ek julle liefhet). Dit is slegs moontlik as ons aan Jesus verbind is in ons toewyding aan God. Ons heiliging is ons liefde vir mekaar as mense wat met Christus Jesus verenig is. Met Hom sterwe ons aan onsself en staan saam met Hom op tot die nuwe ewige lewe in liefde (vgl. 1 Kor.1:30: Hy is ons heiliging).

 

17:12 Terwyl Jesus by hulle op aarde was, het Hy die volgelinge, wat die Vader vir Hom gegee het, in die Naam  van die Vader = die openbaring van die Vader, bewaar, deur hulle te hou by die wil en woorde van sy Vader wat Hy aan hulle oorgedra het. Van dié groep het slegs Judas ‘verlore gegaan’ (apooleto kan ook aandui dat Judas homself vernietig het). Jesus verwys na Judas as ‘die seun van vernietiging’ (apooleia soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse pêsja‘  kinders van ‘opstand en oortreding’ in Jes.57:4 weergee –  Mat. 26:8 gebruik dié Griekse woord vir die dissipels se afkeuring as ‘verkwisting’ van die reukolie wat op Jesus se kop uitgegiet is, vgl. Mat.7:13 vir die wye poort wat na die ‘verderf’ lei; 1 Tim 1:19 sê: omdat sommige hulle gewetens onderdruk het, het hulle geloof ‘skipbreuk gely.’). 2 Tes.2:3 gebruik die naam  ‘Seun van die verderf’ saam met  ‘man van wetteloosheid’ vir die  Antichris. Met ‘seun van verderf’ word Judas se boosheid en sy einde aangedui. Hy het reeds sy hakskeen teen sy Meester opgelig (vgl. 13:18 wat Ps.41:9 aanhaal). Die dood van sy Meester en sy selfvernietiging is reeds aan die kom. Waarom die uitsondering onder die dissipels moes wees, word toegelig met die woorde: sodat die Skrif vervul kan word. Dit verwys waarskynlik na Ps.41:9;  en Ps.109:4-13 se beskrywing van die verkragting van die Here se reg en eer, wat ‘n spieëlbeeld word van Christus se lyding, en van Judas se einde soos Ps.109:8 in Hand.1:20 aangehaal word). Judas het die duisternis liewer gehad as die Lig (Joh.3: 18-19) en ‘n simbool geword van  God se straf (Joh.3:36; vgl. Ps.69:25-27).

 

17:13 In verse 13-15 herhaal Jesus in sy gebed wat Hy reeds vir sy dissipels gesê het (vgl. 16:1,4). ‘Hierdie dinge’ wat Hy herhaal, wys dat sy vertrek na die Vader die klimaks is van sy verlossingswerk. Nou gaan die dissipels in hulle gemeenskap met die Vader die eenheid tussen die Vader en die Seun beleef. As ons tot die Vader nader, is dit in die wete dat alles wat Jesus gesê en gedoen het van die Vader af kom, dat die Vader dit goedgekeur het, en dat ons daarom met vrymoedigheid na die Vader kan gaan in gebed. Dit vervul Jesus met blydskap en sy volgelinge kan  ten volle deelhê aan sy vreugde (15:11). Dit is die vreugde dat my lewe ten volle aan God verbind is deur my verbondenheid aan Jesus. Ek is kind van God, deel van God se groot gesin van mense wat in Jesus glo deur die werking van die Heilige Gees wat in ons kom woon het. Vreugde is die grondtoon van die gelowige se lewe, en dit kan niemand en niks van ons wegneem nie.

 

17:14 Met sy vertrek bly sy dissipels agter in die vyandige wêreld, wat vir hulle haat omdat (i) hulle Jesus se woord oor die Vader aangeneem het as woord van God, (ii) daardeur wys die dissipels dat hulle, soos Jesus, aan God behoort en nie aan die mense van die wêreld en hulle lewenswyse, wat deur die woord van God veroordeel word nie.

 

17:15 Jesus herhaal sy gebed van 17:11 dat hulle uit die kloue van die Bose gehou sal word. Maar dit beteken nie dat hulle uit die wêreld weggeneem moet word nie. God gee die wêreld met sy opstand teen God nie prys nie. Die sterwe van sy Seun is juis die begin van sy proses om die wêreld te verlos van hulle sonde. Sy dissipels moet juis in die wêreld getuies wees van God se genade, wat opstandelinge wil vergewe en laat deel in die nuwe soort lewe in Christus.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se gebed vir die dissipels (17:6-19)

Jesus se gebed vir die dissipels (17:6-19) – Francois Malan

Na Jesus se gebed vir Homself, om die verheerliking van die Seun van God/Seun van die mens, deur sy kruisdood tot sy hemelvaart (1-5), bid Jesus vir sy dissipels(volgelinge)/apostels(gestuurdes): 6-11a: die rede vir die gebed, 11b-16: vir hulle situasie in die wêreld, en dat God hulle sal bewaar om in Hom te bly en uit die kloue van die Bose te bly, 17-19: vir hulle toewyding aan God  deur aan Jesus verbind te bly (17-19).

17:6 Ses redes word gegee waarom Jesus vir sy volgelinge bid: (1) die Vader het hulle aan Jesus gegee – Hy het hulle uit die wêreld gekies om aan sy Seun te behoort as sy volgelinge en dienaars; (ii) Jesus het die Vader se Naam aan hulle geopenbaar – dit is God se karakter en gesindheid, sy liefde vir die wêreld om hulle te red, sodat hulle vir Hom sal lewe as hulle God, wat oor hulle lewens die seggenskap het; (iii) hulle het die woorde van God wat die Seun aan hulle oorgedra het, bewaar – hulle daaraan probeer hou om daarvolgens te lewe. Vers 6 onderstreep dat die gemeente as volgelinge van Christus deur Jesus se woord tot stand gekom het.        

 

17:7 (iv) hulle het geleer en weet nou (net voor Jesus se kruisiging) dat alles wat God aan Jesus gegee het van die Vader af kom (Jesus doen niks op sy eie, sonder die Vader nie; 12:49-50) – veral na die twee gesprekke in hoofstukke 13-16 het hulle geloofskennis  tot rypheid gekom (16:29-30);

 

17:8 (v) die gawes van die Vader aan Jesus is juis die woorde wat Jesus aan hulle oorgedra het, die dissipels het die woorde aangeneem as die waarheid, as woorde wat van God af kom (in teenstelling met meeste van hulle tydgenote); (vi) hulle weet nou uit oortuiging dat Jesus inderwaarheid van die Vader af kom (dit wat die Jode nie wou aanneem nie), en glo dat Hy  God se sending kom uitvoer – om God te openbaar en sy reddende Koningskap te kom vestig. Omdat hulle Jesus as Seun van God aangeneem het en in Hom glo, is hulle bevoorreg om kinders van God te wees (1:12). Weet en glo verwys na dieselfde saak: hulle weet dat Ek van U uitgegaan het, en hulle glo dat U My gestuur het. Verse 7&8 stel die wese van die gemeente: sy oorsprong is uit God wat hulle gekies het en aan Jesus gegee het as sy eiendom. Deur sy woord het Jesus hulle uit die wêreld geroep en in hulle die geloof gewek dat Hy deur God gestuur is. So word hulle ‘n gemeenskap wat van die wêreld geskei is, en in die kennis en geloof in God en Christus leef.

 

17:9 Jesus se sending na die wêreld gaan Hy van nou af deur sy volgelinge voortsit. Daarom bid Hy vir hulle sodat Hy die wêreld deur hulle kan bereik (v18; in hierdie Evangelie word die woord erootao gebruik vir Jesus se gebede, wat minder dringend is as aiteoo wat vir die mens se (pleitende) gebede gebruik word – by Jesus is daar geen onsekerheid dat sy Vader Hom hoor en verhoor nie (6:11; 11:41-42). Die kerk vervul sy sendingroeping deur in liefde met mekaar te lewe en deur die eenheid van die kerk sal die wêreld erken dat Jesus deur God gestuur was (vv21-22). Jesus se gebed vir sy dissipels is indirek ook vir die wêreld. Die wêreld vir wie Jesus nie bid nie, is die vyandige mensheid wat ‘n stryd voer teen Christus en sy kerk (16:9), nie die mensheid as sodanig, na wie die Here sy volgelinge stuur nie, vir wie die Vader liefhet nie (3:16). Uit hierdie mensheid gee die Vader aan Jesus die mense wat aan Hom behoort (6:39,44,65; 10.:29; 17:2).

 

17:10 Alles/almal wat aan die Vader behoort, is ook Jesus s’n – daar is ‘n onbegrensde wederkerigheid tussen die Vader en die Seun. Hier verwys dit veral na die dissipels (in 16:15 verwys dit na die volle openbaring van God), die mense wat aan die Vader behoort, wat Hy uitgekies het, behoort ook aan die Seun, wat hulle geroep het om Hom te volg. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se toewydingsgebed (17:1-26)

Jesus se toewydingsgebed (17:1-26) – Francois Malan

Na Jesus se openbare onderrig  in die wêreld (1:19-12:50), het Hy sy groepie vriende dieper  ingelei in die geheim van sy liefde vir hulle, tot die uiterste toe (13:1-16:33). In hoofstuk 17 laat Hy hulle deel word van sy gebedslewe. Hy laat sy vriende insit in sy intieme gesprek met sy Vader. In verse 1-5 gaan dit om sy verhouding tot sy Vader; in 6-19 bid Hy vir sy dissipels; in 20-26 bid Hy vir die hele kerk wat deur hulle getuienis tot stand gaan kom. [Cyrillis wat in 412 n.Chr. biskop van Alexandrië in Egipte geword het, het al gepraat van die ‘hoëpriesterlike gebed’, na aanleiding van die verklaring van Jesus as ons hoëpriester in Hebr.4:14 tot 8:6. Die benaming is in die 16e eeu deur David Chitreus van Rostok in Duitsland gebruiklik gemaak]. Baie van die temas in hoostukke 13-16 word hier herhaal.

17:1 Na Jesus se verklaring dat Hy die wêreld oorwin het, kyk Hy op na die hemel met ‘n feestelike gebed om sy oorwinning te vier: ‘Vader (Aramees Abba – ‘n verkleinvorm van Ab Vader – soos kindertjies hulle pa aangespreek het as uitdrukking van hulle liefdes- en vertrouensverhouding) die uur het gekom!’ Deur die Evangelie het Hy telkens gesê: my uur het nog nie gekom nie (2:4; 7:6,8,30; 8:20) en van hoofstukke 12 en 13 af dat die uur wel gekom het. ‘Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik’ – dit is die grondtoon en samevatting van die gebed. Hier reg voor sy kruisiging is dit Jesus se begeerte dat Hy sy lewe in hierdie uur aan sy Vader sal wy as ‘n aanvaarbare offer vir die sonde van die wêreld (17:19); dat die Vader Hom uit die dood sal opwek tot die troon van heerlikheid (13:31-32); dat almal dit sal erken as die begin van die koms van God se koningskap oor die hele wêreld; dat die heerlikheid van die Vader sal straal uit sy liefde om mense te oortuig en te verlos.

 

17:2 Die heerlikheid van die Vader en die Seun word aangedui as die seggenskap van die Seun oor die mensheid (oor alle vlees). Hy oordeel oor alle mense. Dié wat in Jesus glo word nie veroodeel nie, maar het reeds die ewige lewe (3:18). Dit is hulle wat die Vader aan Hom gee om in Hom  te glo (6:37-40). Die Vader trek hulle na Jesus toe (6:44) en gee dit aan hulle om na Jesus toe te kom (6:65). Daarteenoor bly die straf van God op dié wat ongehoorsaam is aan Jesus en sal hulle die lewe nie sien nie (3:18). Joh. 12:37-42 verwys na Jes.53:1, na die mense wat nie in die lydende Kneg van die Here glo nie, en na Jes.6:10,13 na die volk wat doof bly en net ‘n stomp oorbly. Maar ‘n takkie sal uit die stomp spruit (Jes.11:1) en ‘n oorblyfsel sal terugkom na die almagtige God toe (Jes.10:21). Aan hulle wat in Jesus glo, skenk Hy die ewige lewe, die lewe saam met God, met die inwoning van die ewige God in ons (14:25).

 

17:3 Die ewige lewe word omskryf as ‘om die enigste ware God en sy gesant, Jesus Christus, te ken.’ Die Griekse woord ‘ken’ het die volgende aspekte: om te leer ken deur persoonlike betrokkenheid, om bekend te wees met, om te begryp en te erken. Die ewige lewe is ‘n persoonlike liefdesvriendskap met die ware God as die God vir wie ons lewe en as Vader wat vir ons sorg, en met sy Seun Jesus (as ons Verlosser uit die mag van sonde), die Christus (gesalf as ons Koning wat oor ons lewe heers met sy opofferende liefde).

 

17:4 Jesus se ganse bediening was tot verheerliking van sy Vader, wat die opdrag daartoe gegee het. Hy het die werk van sy Vader volbring. Met ‘dit is volbring’ sterf Jesus aan die kruis (19:30) as die kulminasie van sy verheerliking van sy Vader  – tot die dood getrou as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29) – van die God wat die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het (3:16).

 

17:5 Nou vra Jesus dat die Vader aan Hom die heerlikheid, wat Hy voor die skepping by die Vader gehad het, weer sal gee by die Vader self – terug in die gestalte van God (Flp.2:6), aan God se regterhand (Rom.8:34), sodat Hy as God in ons kan woon, en sy werk op aarde deur ons kan voortsit. Op aarde was sy goddelike heerlikheid verberg, en moes dié wat Hom in geloof aanvaar, dit uit sy woorde en optrede aflei, dat Hy vol genade en waarheid is (1:4); deur te glo dat sy wondertekens (2:11) openbarings is van die mag van God, om Hom te verheerlik (11:4,40). Soos sy heerlikheid van die begin af aan die liefde van die Vader verbind was (3:16), so is Jesus se heerlikheid ná sy hemelvaart steeds met dié liefde vervul en daardeur bepaal. Deur sy terugkeer na die Vader behou die Woord van God wat mens geword het (1:14) die heerlikheid van God in die volste sin van die woord as lig tot verligting van die nasies (Luk. 2:32; 2 Kor.4:4,6), as liefdesmag van God se genade (Ef.3:16-19), as openbaring van God se woord en wil aan die mensdom.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus het die wêreld klaar oorwin (16:25-33)

Jesus het die wêreld klaar oorwin (16:25-33) – Francois Malan

16:25 Tot nou toe het Jesus met hulle gepraat in beelde, metafore, om sy boodskap te verduidelik vir dié wat glo, en te verberg vir die ongelowiges (vgl. Mark. 4:11 se geheim van die koninkryk van God). Maar daar kom nou ‘n tyd waarin Hy reguit (openlik, met vrymoedigheid) vir hulle van die Vader sal vertel, sonder om iets te verberg. Dit sal Hy doen deur die inwoning van die Heilige Gees wat ons die volle waarheid sal inlei, en Jesus se woorde en werke vir ons sal laat verstaan  (Joh.16:12-15), sodat ons die God van liefde as ons liefdevolle Vader sal ken en vertrou (Joh.3:36; Rom.8:31,32) en Hom eendag  ten volle sal ken (1 Kor.13:12).

16:26-27 Jesus se opstanding lei ‘daardie dag’ in, waarop ‘n nuwe verstaan van sy openbaring begin, en die nuwe vrymoedigheid en effektiwiteit van gebed in sy Naam, namens Hom, op grond van wat Hy vir ons gedoen het, en deur ons eenheid met Hom (16:23-24). Hier lê die klem op die gemeenskap met die Vader, vir wie hulle sal ken as een met Jesus (lote in die ware wingerdstok). Die Vader hoor hulle gebede, want Hy het hulle self lief. In 15:13-15 het Jesus hulle sy vriende genoem, in sy vriendekring opgeneem. Hier sê Jesus, sy vriendekring is ook die Vader se vriendekring (die woord fileoo praat van liefde onder vriende). Die Vader het ons lief, omdat ons deel is van Jesus se vriendekring, mense wat aan Jesus met liefde verbind is.

 

16:28 Sonder beeldspraak som Jesus sy hele bediening en die hart van die evangelie op:  Hy, wat God is, het van die Vader af na die aarde gekom, mens geword; nou gaan Hy van die aarde af, nadat Hy sy versoeningswerk aan die kruis voltooi het en uit die graf opgestaan het, terug na die Vader. Hy het die mens se gemeenskap met God kom herstel en God se gemeenskap met die mens; Hy gaan sit ook as mens aan die regterhand van sy Vader as regeerder oor die ganse skepping, en sal ook altyd by ons wees (Mat.26:64; 28:18-20;Openb.5:6-7; 1 Kor.15:27-28). 

 

16:29-30 Vir die dissipels is dit nou duidelik dat Jesus alles weet van die verhouding tussen God en die mens, van oordeel en verlossing, en van God se koningskap oor die skepping. Hulle begryp nou Hy praat nie in beelde as Hy sê Hy kom van die Vader en gaan na die Vader nie. Niemand hoef Hom of sy kennis met vrae te toets nie (soos hulle in 16:16-24 gedoen het nie). Hulle glo dat Hy waarlik van God af kom, nou dat hulle weet (oortuig is) dat Hy alles weet (vgl. 16:27 vir die Vader se liefde).

 

16:31-32 Hulle entoesiastiese vertroue word egter deur Jesus geskok. ‘Glo julle nou?’  Hulle dink die tyd vir reguit praat het gekom, maar die donkerste uur/tyd in die skepping  is voor die deur. Dan gaan hulle getrouheid aan Jesus soos nog nooit tevore getoets word, en die broosheid van hulle geloof en hulle ontrou aan Jesus vir hulle duidelik word. Elkeen gaan net aan sy eie veiligheid dink en Jesus verlaat (Mark. 14:50). Die voorspelling van Sagaria 13:7 gaan nou in vervulling, en die skape gaan verstrooi word. Daarteenoor staan die getrouheid van die Vader wat Hom nie sal verlaat nie, en by Hom wees ook in sy diepste verwerping (vgl.8:29). 

 

16:33 Jesus sluit die tweede gesprek met sy dissipels af met ‘n bemoediging. Hy verwag ‘n spoedige herstel ná hulle ontsteltenis en lafhartigheid (Joh.14:27) tydens die toets van hulle geloof met sy gevangeneming, verhoor, kruisiging, en dood.  ‘Hierdie dinge,’ eintlik altwee sy gesprekke met hulle (hoofstukke 13-14 en 15-16), het Hy vir hulle gesê, sodat hulle in Hom, in die nouste verbondenheid met Jesus deur die Gees wat in hulle kom woon, vrede kan hê (bly in My en Ek in julle,14:.4-5,7). In 15:11; 16:22,24 het Hy aan hulle vreugde beloof; hier vrede, soos in 14:27, ‘n innerlike vrede wat voortvloei uit die regte verhouding met God. Hierdie vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees/lafhartigheid (deilia), selfs in die grootste moeilikheid, lyding en vervolging in die wêreld (thlipsis), want God het self in ons kom woon as ons Helper wat ons bystaan  (16:7).  Jesus roep hulle op om met vertroue op Hom, dapper te wees in gevaar en beproewing (tharseite 1983-vertaling: hou moed), want Hy het die wêreld met sy boosheid en sy owerste klaar oorwin (die werkwoord in die perfektum;  vgl.12:31) deur sy gehoorsaamheid aan sy Vader en sy onwankelbare liefde vir die Vader en sy skepping (14:30-31). In gemeenskap met Jesus het elke gelowige deel aan sy oorwinning. 1 Joh 5:4 sê ons oorwin die wêreld deur ons geloof/vertroue in/op God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan