Dink, voel, doen

Reading is an act of thinking – John Piper

Dink, voel, doen

 ‘n Tragedie is dat onder Christene die verstand nie altyd waardeer word nie. Die kerk word daarvan beskuldig dat hy anti-intellektueel is. In die verlede is Christene dikwels mense van die Boek genoem. In ‘n sekere sin beteken dit tog dat hulle denkers was. Ongelukkig vind ons dat Christene nie meer lees nie – hulle lees nie meer die Bybel of boeke van die groot Christelike denkers nie. Maar wat sê die Bybel? Jy moet die Here jou God liefhê … met jou hele verstand (Matteus 22:37); Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan (2 Timoteus 2:7); Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken (Spreuke 2:3 – 5). God het aan ons ‘n brein gegee – gebruik dit in sy diens.

 

Dink en sy metgesel lees is noodsaaklik vir normale, gesonde Christene. Maar groei in kennis is net een aspek van heiligmaking. Wat van die hart en die hande en voete? God gee om vir ons harte; Hy wil ons harte in besit neem. Dit beteken nie die brein is onbelangrik nie: Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge (Genesis 8:21); Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen aandeel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde verhard (Efesiërs 4:17 – 18). Net so beklemtoon die Bybel die belang van die hart: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:23); Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur oorlewering ontvang het (Romeine 6:17).

Die derde element van belang is om te doen: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22); God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Wat ons dink en voel van God moet in ons dade uitdrukking kry – aanbidding, gebed, praktiese liefdesdade, ens. Ons bestaan is multidimensioneel: ons word opgeroep om te dink, lief te hê en te doen – alles tot verheerliking van God.

Ongelukkig is ons selde in ons geestelike groei gebalanseerd. Een of twee aspekte is verder ontwikkel as die derde een. Dit geld vir beide die individuele en korporatiewe vlak. Dink, voel, doen. Werk aan al drie.