Basiese inligting oor Jesus se twaalf dissipels – Jan van der Watt

Die name van die twaalf dissipels van Jesus kry ons by die volgende plekke (Matt 10:2-4; Luk 6:13-16. Die naam van Natánael word ekstra in Joh 1:46-47 genoem).

 Simon Petrus (Cefas), seun van Jona, visserman uit Betsáida/ Kapernaum, broer van Andréas. Hy is ‘n sleutelapostel in die Nuwe Testament. Volgens tradisie is hy in Rome doodgemartel deur onderstebo aan ‘n kruis gehang te word. Sy beendere (na ‘n bietjie omswerwings) lê tans onder die altaar van die St. Petrus katedraal in die Vatikaanstad.

Andréas broer van Simon Petrus, seun van Jona, visserman uit Betsáida/ Kapernaum. Hy speel nie ‘n prominente rol in die Nuwe Testament nie. Daar is egter in die apokriewe boeke ‘n Handelinge van Andréas wat vertel hoe Andreas in die huidige Turkye die evangelie verkondig het, demone uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en dooies opgewek het. Hy het selibaat verkondig en is uiteindelik deur die leier van een van die gebiede langs die see gekruisig omdat hy die vrou van die leier (Maksimilla) tot bekering gebring het en sy het toe seksuele toenadering van haar man geweier.

Jakobus, die seun van Sebedéüs, ouer broer van Johannes (Jakobus die grotere/ ouere). ‘n Visserman in die groep van Petrus. Sy ma was een van die drie vroue wat by die kruis van Jesus was (Mat 27:56). Hy was die eerste dissipel wat as martelaar gesterf het (Hand 12:1-2) onder Herodus Agrippa I wat die guns van die Jode wou wen. Buite die Nuwe Testament is daar verskeie verhale oor Jakobus – daar word vertel dat die ‘polisieman’ wat Jakobus terrreggestel het, in die proses tot bekering gekom het. Ander verhale vertel van Jakobus wat in Spanje die evangelie verkondig het (hy is die beskermheilige van Spanje), ‘n Ander tradisie vertel dat sy liggaam op ‘n skip gesit is en deur engele na Santiago de Compostela (‘n beroemde bedevaartsoord) geneem is.

Jakobus, die seun van Alféüs (Jakobus die kleine/ jonger). Van hom is niks verder bekend nie.

Johannes, die seun van Sebedéüs, jonger broer van Jakobus. ‘n Visserman in die groep van Petrus. Sy ma was een van die drie vroue wat by die kruis van Jesus was (Mat 27:56). Hy word die geliefde dissipel genoem en word volgens die vroegste tradisie gesien as die skrywer van die Johannesevangelie en –briewe. Volgens tradisie is hy van Jerusalem na Efese waar hy ‘n ryp ouderdom bereik het en uiteindelik aan natuurlike oorsake oorlede is. Daar word vertel van sy suksesvolle bediening in Efese, waar hy kriminele tot bekering gelei het en selfs iemand uit die dood opgewek het. Volgens tradisie is sy graf in Efese.

Fillipus, uit Betsáida. Daar is buite-Bybelse verhale dat hy die evangelie met welslae in Turkye verkondig het en as gevolg daarvan doodgemartel is. Hy is uiteindelik in Hierapolis begrawe en sy waarskynlike graf is onlangs daar teen die berg gevind.

Tomas Didimus is veral bekend omdat hy nie wou glo voordat hy sy vingers in Jesus se wonde gesteek het nie (Joh 20:24-25). Buite-Bybelse inligting vertel dat hy besondere openbarings van die Here ontvang het en in die Handelinge van Tomas word daar vertel van sy verkondiging van die evangelie asook sy martelaarskap in Indië, ‘n tradisie wat tot vandag nog lewendig gevier word.

Matteus, die tollenaar, ook Levi genoem, wat waarskynlik die die Matteusevangelie geskryf het. Heelwaarskynlik is hy in Galilea gebore, met Alfeus as sy pa.

Simon Kananítes (Seloot/ Yweraar). Hy het waarskynlik aan die Selote behoort wat hipergetrou was aan die Wet en dit op hulle geneem het om die eer van die Wet te beskerm deur die oortreders van die wet te straf. Sy lewe moes radikaal verander het as dissipel van die Here.  

Judas, die seun van Jakobus (sien by Lebbéüs)

Judas Iskáriot, die een wat Jesus verraai het. In die geskiedenis bly sy daad van verraad steeds ‘n punt van diskussie. Oor die algemeen word sy lot vergelyk met die van mense wat teen God draai. In die resente tyd het daar teorieë die lig gesien (veral met die ontdekking van die Evanglie van Judas) wat Judas eerder as ‘n spesiale dissipel vir wie Jesus vertrou het, uitgebeeld het. Dit is egter nie oortuigend genoeg om die Bybelse beeld van Judas omver te gooi nie.

Bartholomeus word deur sommige met Natanael (sien hieronder) geïdentifiseer, maar dit is betwyfelbaar. Buite-Bybelse gegewens verwys wel na hom. Hy kom waarskynlik uit die huis van Naftali en is aanvanklik Johannes genoem. Hy het die naam verander ter wille van Johannes, die geliefde dissipel. ‘n Kerkvader (Eusebius) vertel dat hy die evangelie in Indië verkondig het, maar sy naam word ook met gebiede in Turkye en die huidige Irak en Iran verbind. Ander tradisies sê hy is in Armenia van sy vel gestroop en onthoof. Ander vertel dat sy liggaam in ‘n sak gesit is en in die see gegooi is.

Lebbéüs ( sy ‘van’) wat genoem word Thaddéüs (sy ‘naam’) (deur Matteus en Markus genoem – Matt 10:3; Mk 3:18). Lukas noem nie hierdie naam in sy lys nie, maar ook nie die van Judas die seun van Jakobus nie. Daar word gemeen dat die twee name wel na dieselfde persoon verwys, maar dat Matteus en Markus die naam Lebbéüs gebruik om misverstand rondom Judas Iskariot te voorkom. Nie veel is bekend oor die persoon nie, hoewel latere buite-Bybelse literatuur (Die Handelinge van Thaddéüs) wel vertel van Lebbéüs wat in Edessa in Irak die evangelie van die Here met sukses verkondig het.

Natanael, ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie (deur Johannes genoem – 1:46-47). Van die 9e eeu af is hy met Bartholomeus (sien hierbo) geïdentifiseer, maar dat dit so is lyk onwaarskynlik. Min is verder oor hom bekend.

Mattias, wat na die verraad in die plek van Judas Iskáriot gekies is (Hand 1:26). Min is verder oor hom bekend.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Kenmerke van dissipels

Look to the cross, think of the cross, meditate on the cross, and then go and set your affections on the world if you can. —J.C. Ryle

 

Kenmerke van dissipels

Hoe leer ons nuwe Christene hoe dit lyk om Jesus te volg? Deur van Jesus se eerste dissipels te leer.

  • Dissipels weet dat Jesus God is en hulle nie

Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” “Meneer,´antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” (Lukas 54 – 5). Jesus se versoek klink onredelik. ‘n Visserman met Petrus se ondervinding, sou darem maar skepties gewees het. Visvang was y kundigheidsveld. In wese sê hy: “Ek is moeg, maar U is God en ek nie. Daarom sal ek dit doen.”

 

Hoe reageer jy op God se woord as jy nie daarmee saamstem nie. Ons gehoorsaam dit nie of ons verwerp dit. Of ons probeer ‘n ander manier kry om die teks te interpreteer – ‘n manier wat pas by my siening. Ware dissipels van God weet dat God God is en dat hulle nie God is nie Ware dissipels soek nie skuiwergate nie – hulle luister en gehoorsaam.

 

  • Dissipels erken hulle sonde

Die dissipels gehoorsaam vir Jesus. Hulle gooi die nette uit en vang ‘n groot klomp vis – hulle nette wou skeur. Die skuite sink amper. Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.” Petrus sien met sy eie oë die mag van Jesus. Petrus se onmiddellike reaksie op die feit dat Jesus volmaak is en dat hy aan Hom getwyfel het, is erkenning en ‘n belydenis van sonde.

Ware dissipels erken dat hulle sondaars is en nie die liefde van God verdien nie. Dissipels van God is nie beter mense nie, maar mense wat weet hoe sleg hulle eintlik is. Dissipels is nie volmaak nie. Hulle word egter vrygekoop deur Hom wat volmaak is. Let op Petrus se nederig reaksie op Jesus se opdrag.

 

  • Dissipels verstaan hulle doel

Jesus gee aan sy dissipels ‘n nuwe doel: Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword. Hierdie mense was vissermanne met baie ondervinding – dit was hulle inkomste en hulle beroep. Nadat hulle Jesus ontmoet het en sy goddelikheid in aksie gesien het, los hulle alles net so en volg Hom. Hulle besef onmiddellik dat om mense te vang hulle lewensdoel was.

As volgelinge van Jesus kan ons maklik ons doel vergeet. Soms besef ons dat ons beroep nie werklik ons roeping is nie – ons beroep is nie dieselfde as ons roeping nie. Jesus vra nie vir almal om hulle beroep te los nie, maar Hy roep almal om Hom te volg. Ware dissipels besef dat hulle ware roeping in die lewe is om meer dissipels te maak.

 

 




Leer deur jou voorbeeld

The religion that makes a man look sick certainly won’t cure the world! —Phillip Brooks

 

Leer deur jou voorbeeld

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Die slegste ding wat jy kan doen, is om waarhede wat jy self nie uitleef nie aan ander te leer. Dit is vandag ‘n baie algemene kritiek teen die kerk en gelowiges. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in die spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik wat hy gesien het (Jakobus 1:22 – 25). Ons leer ander ook deur die voorbeeld wat ons stel. Mense bestudeer die leermeester se lewe. Daarom, as jy ‘n dissipelmaker wil wees, moet jy jou hele lewe gee. Ons moet Jesus Christus in elke aspek van ons lewe volg; ons moet bereid wees om ons lewe vir Hom af te lê.

 

Beteken dit nou dat ons eers volmaak moet wees voordat ons kan begin om dissipels te maak? Nee, want dit is ‘n lewenslange proses: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6). Dit beteken wel dat ek toelaat dat God se waarheid my lewe verander. As ons dissipels maak, sien ons hoe mense deur die krag van God se woord verander word. Maar as ons dit in ander wil sien gebeur, moet ek self ook hierdie verandering ondervind.

Die probleem is dat daar geen kitsoplossings is nie. Bid dat God jou die regte motivering sal gee om dissipels te maak, om die liefde vir Hom en die mense om jou te vermeerder en dat Hy jou sal bemagtig om die waarheid wat jy aan ander moet verkondig, uit te leef.




Die hart van die dissipelmaker

In forsaking the ability to change, they diminish the capacity for hope. – Kathleen Norris

 

Die hart van die dissipelmaker

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Hoekom wil ons nou juis dissipels maak? Die antwoord is baie belangrik. Doen ons dit vir die verkeerde motiewe, kan ons meer skade as goed doen. God sê herhaaldelik dat Hy meer vir die mens se hart omgee as vir uitwendige dinge. As Hy oor uitwendige dinge bekommerd was, sou die Fariseërs geloofshelde gewees het. Maar luister wat sê Jesus vir die Fariseërs: Hierdie volk eer my met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie (Matteus 15:8 – 9). Wat is dan vir God belangrik? Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (1 Samuel 16:7). God wil hê dat ons sekere dinge moet doen, maar die rede waarom ons dit doen is belangrik.

 

God wil hê dat ons met blydskap moet dien – om Hom te dien moet nie ‘n verpligting wees nie. God wil hê dat ons die voorreg en vreugde om ander te dien, moet ondervind. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7)

Ons moet altyd onthou dat ons mense van die Bybel is. Ons moet leer hoe om ‘n goddelike lewe te kan uitleef. Hierin is die rol van die leermeester baie belangrik. As ons ander leer as gevolg van die prestige wat daarmee gepaard gaan, moet ons weer dink. In 1 Korintiërs 13 maak Paulus dit baie duidelik dat kennis sonder liefde nutteloos is. As ons ander dien, moet liefde altyd op die voorgrond staan. Is jy bekommerd oor wat mense van jou dink of soek jy geleenthede om lief te hê en te dien? Liefdelose mense sien ander as ‘n manier om hulle eie doel te bereik.

Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ‘n mens behoort te hê nie.Maar as iemand God liefhet, ken God hom (1 Korintiërs 8:1 – 3). Dit gaan duidelik nie oor wat jy weet, of dink jy weet, nie, maar oor liefde. As ons nie bereid is om ons liefde vir God en ons naaste ons hoogste prioriteit te maak nie … stop. Wie nie liefhet nie, bly in die dood (1 Johannes 3:14).

Om dissipels te maak, beteken nie om mense bymekaar te maak om na jou te luister nie. Die doel is om getrou te wees aan God se oproep om ander mense lief te hê. As ek hulle genoeg liefhet, sal ek hulle help, maar ook hulle behoefte aan liefde raaksien. Ons moet hulle by die Verlosser bring en Hy sal hulle van die mag van sonde en die dood vrymaak.

Vraag: Hoeveel gee jy om vir die mense om jou? Wees eerlik – ook oor jou motiewe.