Dissipelskap: Die groot opdrag aan die kerk

                                                                                                              

Dissipelskap: Die groot opdrag aan die kerk

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

Jesus se opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20 geld nie net vir leraars en sendelinge nie – dit geld vir my ook.

Lees ons Handelinge sien ons dat al God se kinders saamgewerk het om sy opdrag uit te voer. Hulle reik uit na die mense om hulle; hulle vra die mense om Jesus Christus te volg; hulle leer hulle; hulle gehoorsaam alles wat Hy hulle geleer het; hulle doop die mense. Dissipels maak dissipels.  Hulle het Jesus se opdrag letterlik en ernstig opgeneem. Die gevolg is dat die evangelie gou oor die destyds bekende wêreld versprei het.

Is die maak van dissipels nog vir die kerk belangrik? Moet vandag se kerk dalk iets anders doen – ‘n ander opdrag kry? Hoekom doen die leraars en betaalde amptenare vandag al die werk in die kerk? Die lidmate woon eredienste by, sit iets in die kollektebord en gaan huis toe – geïnspireerd en gevoed! Meeste lidmate weet nie meer hoe dit lyk om dissipels te maak nie.

Een van die groot probleme is dat gemeentes op programme fokus. Ons het ‘n program vir alles wat ons doen. Maar om dissipels te maak, is meer as net ‘n program – dit is ons lewensroeping. Dissipels maak dissipels. Hoe lyk dit in die praktyk? In die Groot Opdrag is daar vier belangrike woorde: gaan, maak, doop en leer. Baie eenvoudig. Ons het beslis nie ‘n groot geleerdheid nodig om dit te verstaan nie. Die probleem is dat die praktyk nie so eenvoudig is nie.

God bring voortdurend nuwe mense en nuwe geleenthede oor ons pad. Ons moet bereid wees om die geleenthede aan te gryp en bereid wees om in die proses ‘n prys te betaal: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat … As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:18 – 20). Dissipels maak dissipels: maklik om te verstaan, duur om te implementeer.

As ons dissipels van Jesus Christus wil wees, moet ons tog vir die taak toegerus wees. Volgende keer kyk ons daarna.

Dissipelskap: Tel die koste

I divide all readers into two classes: those who read to remember, and those who read to forget. –Willia Lyons Phelps

Dissipelskap: Tel die koste

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

In Lukas 14:25 – 33 praat Jesus oor die eise van dissipelskap.

As dit dan ‘n prys gaan kos, hoekom moet ons dissipels maak? Jesus Christus het sy dissipels geroep. Soos hulle Hom gevolg het, sien hulle hoe Hy siekes genees, dooies laat opstaan, maar hulle sien ook  sy liefde vir sondaars. Dit pas nou nie juis in wat die mense van destyds verwag het dat die Messias sou kom doen nie. Hulle volg Hom tot die einde … en toe sterf Hy aan die kruis. Hulle hoop vir ‘n beter wêreld sterf saam met Jesus aan die kruis. Nou volg drie dae van verwarring en ontnugtering. Alles waarop hulle gehoop het, is weg. Het hulle drie jaar van hulle lewens gemors om Hom te volg?

Maar op die derde dag staan Hy uit die dood uit op; Hy het die sonde en die dood oorwin. Nou sal Hy sekerlik die stukkende wêreld heelmaak. Nee, Hy gee aan sy dissipels ‘n finale opdrag en vaar na die hemel op.

Wat is hierdie taak wat Hy vir sy dissipels gee? “Julle moet dit wat Ek begin het, voltooi. Neem die boodskap wat Ek verkondig het en leef dit uit.” En sy opdrag? Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels; doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:18 – 20).

Hoekom moet ons dissipels maak? Om dit ‘n opdrag is wat Jesus Christus aan ons gegee het. Volgende keer kyk ons na die opdrag aan die kerk.




Dissipelskap: Hoekom is dit belangrik?

The more a man studies to approach God, the more he proves himself to be endued with reason.” ~ Johannes Calvyn 

Dissipelskap: Hoekom is dit belangrik?

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs.

Die onderwerpe wat ek in hierdie reeks gaan hanteer, is:

 

  • Dissipelskap: Wat is ‘n dissipel? Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?
  • Dissipelskap: Dissipelskap: Tel die koste.
  • Dissipelskap: Die Groot Opdrag aan die kerk.
  • Dissipelskap: Toegerus vir die taak.
  • Dissipelskap: Neem die eerste stap.
  • Dissipelskap: Die hart van die dissipelmaker.
  • Dissipelskap: Leer ander deur jou voorbeeld.
  • Dissipelskap: Die rol van die kerk.
  • Dissipelskap: Dra mekaar se laste.
  • Dissipelskap: Die plaaslike gemeente.

Volgende keer begin ons met die vraag: Wat is ‘n dissipel? Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?




Dissipelskap – drie kontoere

Blog52c

I am commanded by the king to be brief, and since I am the king’s obedient servant, I will be. I die His Majesty’s good servant, but God’s first – Sir Thomas More. Hy wou nie die eed aflê dat die koning die opperste gesag, selfs bokant die kerk, is nie. Hy is tereggestel.

Dissipelskap – drie kontoere

Almal praat van dissipelskap, maar hoe lyk dit? Miskien is die beste plek om te begin by Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20: gaan … maak die mense my dissipels …doop hulle … leer hulle. Ons sien hier drie kontoere in die kultuur van dissipelskap:

 

  • Die maak van dissipels is ‘n doelgerigte proses van evangelisering van ongelowiges, vestiging van gelowiges in die geloof en die toerusting van leiers.

Maak dissipels impliseer doelgerigtheid en ‘n proses. Dit gebeur nie sommer net omdat daar ‘n gemeente is nie. kyk weer: gaan … doop … leer – dit is ‘n proses. Dit moet evangelisasie (gaan na nuwe mense en nuwe plekke), vestiging (doop en leer gehoorsaamheid) en toerus (leer dissipels om self dissipels te maak) insluit. Is dit wat ons gemeentes doen?

  • Die maak van dissipels gebeur binne die konteks van die plaaslike gemeente

Dit is ‘n gemeenskaps- en nie ‘n persoonlike projek nie. Die gemeenskap is die plaaslike gemeente. Dit gebeur nie net in koffiewinkels nie, maar ook in die gemeente waar die Woord gesing, gebid, gelees en verkondig word. Jesus het immers aan die kerk die gesag gegee om die evangelie te verkondig, mense te doop en hulle te leer om gehoorsaam aan Hom te wees.

  • Die maak van dissipels is Woord-gesentreerde en mens-tot-mens bediening

Jesus het twaalf manne op die stofpaaie van Palestina geleer om dissipels te wees. Om dissipels te maak, is die Woord van God wat mense vorm in egte verhoudings. Kyk net wat skryf Paulus aan die gemeente in Tessalonika: So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry (1 Tessalonisense 2:8). Dit is meer as saam eet (baie belangrik).

Dissipelskap is ‘n proses wat binne die gemeente plaasvind. Die fokus is op die woord van God en persoonlike verhoudings.