‘n Toe Hemel

‘n Toe Hemel – Francois Malan

Davina vra:

Ons dominee. het Sondag in sy preek gesê dat toe Jesus dood is, het die Engele die hemel toegemaak, omdat Jesus nou vol van ons sonde is. Jesus is nie in die hemel nie, maar God hou egter Jesus se hand vas. En Jesus hou weer ons hande vas. In ons geloofsbelydenis (wat ons elke Sondag hard opsê), sê ons dan “…wat opgevaar het na die Hemel en sit aan die regterhand van God…” Hoe kan ons dit sê, as volgens ons dominee. Jesus nie in die hemel is nie, maar tussen die hemel en die aarde?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybel ken nie ‘n toe hemel nie, maar ‘n hemel wat juis oopgemaak is toe Jesus uit die dood opgewek is, en so is sy offer aan die kruis aanvaar, ons sonde vergewe, en die hemel vir ons oopgemaak. Sy hemelvaart was ‘n triomftog van sy oorwinning wat met vreugde in die hemel gevier is.

In Openbaring 5 sien Johannes die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, wat die oorwinning behaal het, wat waardig is om die boek oop te maak met God se wil vir die skepping, en wat die sewe seëls wat die boek verseël kan oopmaak. Want Hy is die Lam wat geslag is. En toe Hy die boek neem het die vier lewende wesens wat die hele skepping verteenwoordig, en die 24 ouderlinge wat die kerk van die Ou Testament en die kerk van die Nuwe Testament verteenwoordig, en die groot menigte engele, en die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde  en op die see voor Hom gebuig en Hom geloof: Aan Hom wat op die troon sit (die Vader) en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.

Hebreërs 1:3 sê: Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van die sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

Romeine 8:34 sê: Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Daarom kan ons met vrymoedigheid na sy genadetroon toe gaan (Hebreërs 4:16).

Efesiërs 1:20-22 sê: deur sy krag het God Hom uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit: hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag waarvan daar sprake  mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.

1 Petrus 3:23 sê Jesus Christus is nou aan die regterhand van God nadat Hy die bose magte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

In Handelinge 7:56 sê Stefanus: Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.

Hebreërs 8:1 sê: ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. Hebreërs 7:25 sê: Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

Die engele is dienende geeste in sy diens!

Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit as die regter oor alle mense – so het Jesus gesê (Matteus 25:31).

Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld (Matteus 16:27)

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Na die dood?

Na die dood – Francois Malan

Hilda vra:

Waar gaan jy heen as jy sterf? Paradys of wag almal in die graf tot Jesus terugkeer?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vir die misdadiger aan die kruis wat vir Jesus gevra het om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom, het Jesus gesê: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Luk.23:42-43). In Lukas 16:19-31 vertel Jesus van die arm Lasarus wat deur die engele weggedra is na die ereplek langs Abraham, en die ryk man wat na sy begrafnis in die doderyk in pyn verkeer en kla dat hy verskriklik ly in hierdie vuur. Die gelykenis wil eintlik net sê dat daar ‘n skeiding sal wees tussen die geluksaliges en dié wat in pyniging tereg kom. Hoe dit daar sal uitsien, kan nie hieruit afgelei word nie. Die paradys en die boesem van Abraham is voorstellings van gelukkige gemeensaamheid in die hemel, soos die tuin van Eden waar die mense met God gemeenskap gehad het voor die sondeval, en ‘n herinnering aan God se genadeverbond met Abraham.


Die Joodse verwagting oor die lewe na die dood, waarby Jesus hier aansluit, het ‘n wye verskeidenheid van gedagtes daaroor gehad. Aan die begin is gedink dat die dooies in die doderyk slaap tot die algemene opstanding en oordeel. Langs dié verwagting het ‘n ander ontwikkel dat die siele van die regverdiges na hulle sterwe dadelik hemel toe gaan. Dit word deur Jesus bevestig met ‘vandag’ en ‘met My’. Die ‘ereplek langs Abraham’ (letterlik: aan die boesem van Abraham) verwys na die sitplek aan die feesmaal langs Abraham, soos in Johannes 13:23 gebruik, vgl. Matteus 8:11).

In die heel eerste brief wat ons van Paulus het, 1 Tessalonisense 4:13-17 praat hy van die mense wat in Christus geglo het en gesterf het, dat hulle sal opstaan/opgewek word met die wederkoms van Christus (vgl. 1 Kor 15:52). In 2 Kor. 5:1-10 skets Paulus tog ‘n ander prentjie. Wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word = doodgaan, dan het ons reeds ‘n vaste gebou in die hemel en dat God ons vir hierdie oorgang voorberei het. Ons wil graag daar gaan woon, maar of ons nou hier woon of daar, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil, want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn oor hoe ons op aarde gelewe het. En in die laaste brief wat Paulus geskryf het voor sy eerste verhoor in Rome, verwag hy die ergste van die aanstaande verhoor voor die keiser op wie hy hom beroep het. Hy skryf aan die Filippense 1:21,23,24 ‘om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins…Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.’

Om die twee gedagtes wat in die Skrif te vind is te akkommodeer, van dadelik na die Paradys gaan of eers met die opstanding, antwoord die Heidelbergse Kategismus vraag 57: Die troos van die opstanding van die vlees is dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (Lk 16:22; 23:43; Fil.1:21,23), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (Job 19:25,26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21).

Maar hoe dit presies gaan werk, bly vir ons ‘n verrassing. Dit weet ons vir seker, as ons as gelowiges sterwe, is ons by die Here – hoe en waar, weet ons nie. Paulus sê ons kyk nog soos in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken (1 Kor.13:12)

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die dood in die Nuwe Testament

Geloofsvrae: Die dood in die Nuwe Testament – Adrio König

Die dood in die Nuwe Testament

In die NT verkeer ons in ‘n ander wêreld. Wat in die OT ondenkbaar was, lees ons hier uitdruklik: `Om te sterwe is vir my wins’ (Fil 1:21). Totaal verskillend van die weersinwekkende dood in die OT! Waarom? Omdat daar intussen iets met die dood gebeur het: die leë graf. Jesus Christus het uit die dood opgestaan en só die mag van die dood gebreek. `Die dood het nie meer mag oor Hom nie’ (Rom 6:9).

Jesus het nie maar net weer lewendig geword nie, maar deur die dood deurgegaan, en anderkant uitgekom. Hy het die dood nou `agter die rug’! Hy het die sleutels van die dood en die doderyk (Openb 1:18). Daarom dink gelowiges in die NT anders oor die dood as dié in die OT.

Dit alles beteken natuurlik nie ‘n terugkeer na Plato nie. Omdat hy nie die moed gehad het om die dood in die oë te kyk nie, het hy ‘n goedkoop uitweg gesoek: daar is iets in die mens, die siel, wat sterker is as die dood – het hy gehoop – en daarom hoef jy nie die dood te vrees nie. Die gelowiges in die OT het nie hierdie volstruispolitiek gevolg nie maar die dood vierkantig in die oë gekyk en eerlik bely: ons sien nie kans daarvoor nie. En toe het God ‘n antwoord gestuur: nie iets in ons wat tog sterker as die dood is nie, maar sy Seun wat die mag van die dood gebreek het. Ons hoop lê dus in Hom, nie in ons nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament

Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament – Adrio König

Die dood in die Ou Testament

Ons dink meestal aan die dood as ‘n toestand: ‘n mens is dood. Maar die Ou Testament dink aan die dood allereers as ‘n plek (as ‘n mens doodgaan, gaan jy in die dood in, wat ook die doderyk of die graf genoem is), of ‘n mag (die dood kry ‘n mens in sy mag en dan sterf jy – Ps 71:20).

 

Die dood kan ‘n mens ook al in sy mag begin kry nog voordat jy regtig dood is. Die dood dring soos ‘n monster in ons lewe in sodat iemand wat in lewensgevaar verkeer of siek is, alreeds in die mag van die dood is. Daarom noem ons siekte ‘n voorvorm van dood.

 

Oor die dood of die doderyk as ‘n plek waar die dooies is, word ook baie realisties gedink. Daar is heelwat beskrywings van hierdie plek in die OT, en hierdie beskrywings is almal baie donker en negatief. Ook mense wat in lewensgevaar verkeer, het alreeds in die ruimte van die dood (die doderyk) ingegaan en verkeer alreeds tussen die dooies (Psalm 88:4-7; 40:2-3; 30:4 OAV). Die dood is ‘n magtige monster (Ps 18:5,6,17; Jes 5:14; Hab 2:5), een van die choasmonsters wat uit `die waters onder die aarde’ kom (Ps 69:2,3; 124:4,5). (22.3)

Wat is die houding van die gelowiges in die OT teenoor die dood? Daar is enkeles wat die dood as ‘n redelik natuurlike lewenseinde sien, maar vir die groot meerderheid is die dood ‘n skrikwekkende, weersinwekkende einde.

‘n Paar persone aanvaar die dood as die voltooiing van hul lewe, as iets natuurlik: Abraham, Dawid, Job (Gen 25:7,8; 1 Kon 2:2; 1 Kron 29:28; Job 5:26; 42:17). Dit beteken nie dat enigeen van hulle regtig na die dood uitgesien het – so ‘n siening kry ‘n mens nie in die OT nie – of die dood bo die lewe verkies het nie. Hulle het net gelate die dood aanvaar omdat hul lewe verby was. Hulle is egter die uitsonderings wat die reël bewys: die dood is negatief, sinloos, gemeenskapsverbrekend, afstootlik, vreesaanjaend.

Waarom? Omdat die dood die mens van God skei en vervreem. Die sin en die diepste betekenis van die lewe, die heil, is vir die gelowige in die OT hierdie lewe in gemeenskap met God. Gevolglik is die dood die einde van ons verhouding met God en van die heil. God dink nie aan dié wat in die dood is nie, en niemand in die doderyk sal Hom prys nie. Daar heers die ewige, sinlose, donker stilte (Ps 115:17; 94:17; 88:11-13; Job 10:20-22).

Die ervaring van koning Hiskia (Jes 38) is een van die aangrypendste voorbeelde van die negatiewe reaksie van gelowiges teen die dood, totaal negatief – juis omdat hulle gelowiges is.

Tot kort voor die einde van die OT is daar geen sprake van die opstanding uit die dood nie. Daar is ‘n paar uitsonderings van mense wat nie gesterf het nie, maar deur God in heerlikheid opgeneem is (Henog, Elia), maar dit skep geen verwagting by die ander gelowiges nie, behalwe in die een geval (Ps 73:24) wat egter nie duidelik is nie en ook nie ‘n algemene verwagting word nie.

Om van `lewe na die dood’ in die OT te praat, is om te vergeet dat lewe gemeenskap met God is en dat die dood dit afbreek. Dit is om te vergeet dat mense geskape is as bondgenote van God, en dat hulle daarom die sin van hul bestaan verloor as hulle sterf en uit die gemeenskap met God weggeruk word. Die skimbestaan in die doderyk is nie meer gemeenskap met Hom nie en juis daarom nie lewe nie – daarom is dit so weersinwekkend vir die gelowiges.

Die verwagting dat dooies sal opstaan, kom eers baie laat in die OT voor. Dit staan nie regtig in Jes 24-27 of Eseg 37 nie. Dit is alles verwysings na Israel wat weer `lewendig word’ by die terugkeer uit die ballingskap. Dan 12:2 is die enigste duidelike getuienis dat daar ‘n opstanding sal wees. Dit is ook heeltemal begryplik dat dit eers hier na vore kom, omdat dit deel is van ‘n ander wêreldbeskouing, die apokaliptiese of `bonatuurlike’ siening van wêreldgebeure wat eers tydens die ballingskap ontwikkel het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König