GROOT EN/OF KLEINDOOP OF DALK WEER- OF NOOIT-DOOP?

GROOT EN/OF KLEINDOOP OF DALK WEER- OF NOOIT-DOOP? – Kobus Kok

[Daar is baie vrae oor die doop. Hierdie artikel van Prof. Kobus Kok gee ‘n oorsig oor die doop. Sommige dele is ‘n bietjie akademies met heelwat Grieks wat gebruik word. Ons nie-teoloë kan maar oor die Grieks lees – daar is genoeg in om die strekking van die argument te verstaan. ‘n Aanvullende bron is Prof. Adrio König se boek: Christelike doop en bekeringsdoop (2005). Aan die einde van hierdie artikel is daar ‘n baie praktiese gedeelte waarin die meer algemene vrae oor die doop behandel word. Coen Slabber.]

 

  1. Inleiding

1. 1. Die noodsaak van ’n histories-diakroniese bewussyn

[Diakronies = dia – deur, oor; Khronos – tyd. Diakronies = hoe dinge oor tyd ontwikkel het]

Die Christelike geloof ontstaan nie in isolasie nie. Dit ontwikkel aanvanklik ten sterkste uit die Judaïsme en die heel eerste Christene sien hulself as Jode wat glo dat Christus die Messias is. Die eerste Christene se Bybel was die Ou Testament. Vanuit die Ou Testament, en die herinterpretasie van die Ou Testament het hulle hulle identiteit as Christus-navolgers verstaan. Hulle was nog steeds Jode, wie se Joodse geloof nuwe betekenis in Christus as die verwagte Joodse Messias gekry het. In die proses is die Tora nie weggegooi nie, maar op ’n nuwe wyse geïnternaliseer, geradikaliseer en selfs geïntensifiseer. Dink maar net aan die Joodse Matteus (vgl. 1:1vv) wat in die openingswoorde van sy evangelie die Joodse geslagsregister van Jesus beklemtoon en die verband met die OT wette beklemtoon as hy in Matteus 5:18vv Christus aanhaal wat sê dat Hy nie gekom het om die wet en die profete ongeldig te maak nie maar juis tot hulle volle betekenis te laat kom. Die eerste Christene, veral in die eerste paar dekades van die eerste eeu, het nog gereeld in die sinagoge aanbid en voor die val van die tempel gereeld in die tempel aanbid. Hulle het nog steeds die Joodse feeste gehou, alhoewel hulle die vervulling daarvan in Christus anders geïnterpreteer het. Dink maar net aan Johannes wat aantoon hoe Jesus telkens die vervulling van die Tabernakelfees en die Pasga is. Jakobus die broer van Jesus, en een van die pilare van die vroeë kerk, word in die tradisie beskryf as die een met die kameelknieë omdat hy so baie in die tempel gebid het. In die vroeë Christelike eredienste is die model van die sinagoge aanbidding gevolg. Die kerke is altyd na die Ooste georiënteer omdat die sonsopkoms die simbool was van Christus se wederkoms en glorie. In die een hoek van die gebou was die altaar en in die middel was die bema waarvandaan die Geskrifte gelees en geïnterpreteer was. Dit was ’n replika van die sinagoge. Eers later toe die Christene ondergronds moes verkeer en in huise en grotte kerk gehou het, en die uitbanning van die Christene uit die sinagoge plaasgevind het, het dit verander. Nog steeds, soos in die grotkerk van Petrus in Antiogië, het die eerste Christene ’n altaar en bema gehad, wat herinner aan die sinagoge.

Wanneer ons dus oor die doop en die besnydenis gesprekke in die vroeë kerk wil nadink, moet ons dit in die eerste plek nie ontwortel uit die kontekstuele diskoers van die eerste eeu nie. Dit is dikwels die fout wat in die gesprekke vandag gemaak word, naamlik dat die dooptekste gedekontekstualiseer word, en die verband tussen die Joodse en Christelike gebruike nie in ag geneem word nie. Dit is dus nodig dat mens in die eerste plek ’n historiese (re)konstruksie maak en die ontwikkeling rondom die doop diakronies interpreteer. In die eerste eeu self was daar verskeie ontwikkelinge in die tyd net voor Jesus se openbare bediening, soos die doop van Johannes die Doper, die doop van die dissipels tydens die aardse bediening van Jesus en die doop deur die dissipels nadat Jesus gekruisig is en opgestaan het. Die betekenis van die doop in al hierdie kontekste verskil van mekaar.

Soos genoem was die heel eerste Christene Jode. Eintlik moet mens nie praat van Christene nie, omdat die term Christianoi eers later as eienaam gebruik is. Met Paulus as apostel na die heidene het daar ’n nuwe fase ingetree. Nou het die tyd aangebreek waarop die meerderheid Christus navolgers nie meer Jode was nie, maar Heidene. Dit is dan ook die agtergrond van die gesprekke in die Nuwe Testament oor die betekenis van die doop en die verband daarmee met die besnydenis. Vir die Joodse Christene was dit nog altyd so dat besnydenis en doop hand aan hand gegaan het. Joodse proseliete is naamlik besny en gedoop. Net so het hulle gevoel dat Christus navolgers nie net gedoop moes word nie, maar ook besny moes word. Paulus het dit egter anders gesien. Hy het die besnydenis as ’n eksklusiewe Joodse kulturele merker gesien en het geglo dat God hom gewys het dat Heidene nie eers Jode moes word as hulle hulle tot Christus bekeer nie. Hulle moet net gedoop word. Deur die geloof word hulle deel van die verbondsvolk en die doop kort daarna is die sigbare teken dat hulle gereinig is. Vir die heidene wat hierdie reinigingsrituele geken het, was dit dus nie iets snaaks nie, aangesien sulke reinigingsrituele bekende fenomene in die religieuse kontekste was. Die doopritueel in religieuse kontekste was dus bekend, maar die inhoud en kosmologie daarvan het radikaal verskil. Vir die vroeë Christus navolgers uit die heidense kontekste was die bekeringservaring en die doop as teken niks anders nie as die bevestiging van ’n splinternuwe geboorte van ’n nuwe mens wat op geestelike vlak herskep is, en opgeneem is in die groot verbondsverhaal van die Een Ware God wat mense na hom toe trek en rekonsiliasie tussen Homself met hulle bewerkstellig.  In alle ander tekste waarin die woord rekonsiliasie voorkom, is dit altyd die godheid wat goedgesind gestem moet word en wat homself tot die gelowige moet versoen deur die gelowige se goeie dade of paaiende (placating) gebede. Die Christelike God is in hierdie sin radikaal anders. Hy is die een wat Sý Seun stuur om rekonsiliasie te kom bewerkstellig, wat nie gepaai hoef te word nie, maar wie se begeerte dit is dat mense hulself tot hom versoen. Deur geloof en in die teken van die reinigingsdoop word die rekonsiliasie uitgebeeld. Die doop is dus ’n teken van versoening en rekonsiliasie. In die Paulus se brief aan die Korintiërs, in ’n konteks waar daar spanning en skeuring is, motiveer hy hulle tot eenheid en versoening op grond van die feit dat hulle gedoop is, en dat hulle op grond van hulle eenheid en rekonsiliasie met God ook met mekaar versoen moet wees. Dieselfde argumente word in Galasiërs 3:28 en Kolossense 3:11 gebruik.

  1. Die betekenis van βάπτω en βαπτίζω in die Nuwe Testament

Die doophandeling kom nie vir die eerste keer in die geskiedenis by die Christene voor nie. Dit kom in verskeie kulture voor, wat wissel van die Egiptenare tot die Grieke en veral ook by die Jode. Indien die Christelike dooppraktyk vergelyk word met die heidense en Joodse gebruike, word die uniekheid van elkeen beter belig en kan die Christen sy/haar eie doop en die diepe Christelike betekenis daarvan beter verstaan.

2. 1. 1. Doop in die Ou Testament en Judaisme

In Judaïsme speel heiligheid, reiniging en dienooreenkomstige rituele ’n belangrike rol. In die LXX [Septuagint – ou vertaling van die Ou Testament – ongeveer 270 nC – van die Ou Testament van Hebreeus in Grieks] word die woord (βαπτίζειν, vgl. 4 Βασ‌. 5:14) in die plek van טָבַל    , “om te doop” gebruik. Instrumente wat gebruik word vir kultiese praktyke word volgens die reinigingswette van Levitikus gereinig (vgl. Lv. 4:6, 17; 11:32; 15:11, 13).

In die latere Joodse religieuse tradisie word priesters gereinig (vgl. טבל     [b. Ber., 2b; Joma, 3, 2ff. etc.]) en word verwys na die reiniging van Jode volgens voorskrifte (vgl. Jdt. 12:7; Gk. Sir. 31(34):30) en die reiniging van proseliete wat tot die Joodse geloof bekeer het (vgl. טְבִילָה    ).

In die eerste eeu na Christus vind ons ook menige tekste waar die betekenis van die proseliete doop bespreek word in die skole van Shammai en Hillel en daarvan kan ons lees in die Mishna (Pes., 8, 8; Ed., 5, 2: Str.-B., I, 102 f.). Sien ook b. Jeb., 46a, Str.-B., I, 106, R. Eleazer en R. Joshua [beide rondom 90–130 n.C.]) wat die noodsaaklikheid van besnydenis en doop bespreek het as voorvereiste vir ‘n proseliet om deel te word van die volk van God. Hulle bespreek ook die saak van die doop by die aartsvaders voor die verbond by Sinai. Dit is dus duidelik dat die verbond en inlywing daarin vir die Jode ‘n sentrale motief gespeel het in die doopritueel. Dit is mees waarskynlik die mees getroue wyse waarop 1 Korintiërs 10:1vv geïnterpreteer moet word, aangesien Paulus as Jood hierdie tradisies sou geken het. [Mishna = van die Hebreeuse woord wat “leer deur herhaling” beteken = ‘n versameling verklarende materiaal van die mondelinge tradisie van die Joodse wet. Dit is deel van die Talmoed.]

Alreeds in die eerste eeu het dit dikwels gebeur dat vroue hulself tot die Jodedom sou bekeer. Aangesien hulle nie besny kon word nie, moes hulle gedoop en het die doop die rite geword van deelwording van die Joodse verbondsvolk.

Wat belangrik is om te sien is dat die Joodse dooprituele verskil het van die heidense dooprituele in die sin dat die klem op die verbond en die transendentale begrip van God die ontmitologisering en “sacral magic” gedemper het en eerder in ’n forensiewe sin ontwikkel het. Die doel van hierdie rituele wassingsgebruik was gewoon om rituele reinheid te bewerkstellig en om as simbool te dien van inlywing sonder magiese attribute. Die proseliet word na afloop van die doop as ‘n “nuut gebore kind” beskryf, en dit word nie magies nie, maar forensies verstaan, naamlik dat die persoon ingesluit word in die verbondsvolk en ’n kind van die Een Ware God word. In die Joodse sin van die woord is daar min sprake van ’n natuurlike of etiese dood en regenerasie soos mens dit by die misteriekultusse kry.

Die metode van die Joodse doop is ook belangrik om te verstaan. Dit gaan oor “reiniging” en dit het daaroor gegaan dat die persoon gereinig of gewas is. Dit het glad nie gegaan oor onderdompeling of oor besprinkeling nie – die metode was nie die fokus nie, maar die betekenis van reiniging. Dit is wel baie interessant dat wanneer die Ou Testament oor die reinigingsgebruike praat, dit altyd gekoppel word aan besprinkeling deur water of bloed. Kom ek gee ‘n paar voorbeelde, en haal dit in Engels aan omdat die persoon wat die vraag gevra het Engels is:

In Esegiël 36:25 lees ons baie duidelik: 25And I will sprinkle clean water upon you, and ye shall be clean: from all your filthiness, and from all your idols, will I cleanse you. 26A new heart also will I give you, and a new spirit will I put within you; and I will take away the stony heart out of your flesh, and I will give you a heart of flesh[1].

In Levitikus 16:14-16 lees ons ook: 4and he shall take of the blood of the bullock, and sprinkle it with his finger upon the mercy-seat on the east; and before the mercy-seat shall he sprinkle of the blood with his finger seven times. [2]

In die Ou Testament is die reinigingsgebruike dikwels met besprinkeling gedoen. Dit is hierdie gebruike wat die eerste Christene as Jode ook sou ken. Daarom is dit nie vreemd nie, dat die skrywer van Hebreërs 9:13, 19 dit duidelik stel: “13For if the blood of goats and bulls, and the ashes of a heifer sprinkling them that have been defiled, sanctify unto the cleanness of the flesh: 14how much more shall the blood of Christ, who through the eternal Spirit offered himself without blemish unto God, cleanse your conscience from dead works to serve the living God? 19For when every commandment had been spoken by Moses unto all the people according to the law, he took the blood of the calves and the goats, with water and scarlet wool and hyssop, and sprinkled both the book itself and all the people. 21Moreover the tabernacle and all the vessels of the ministry he sprinkled in like manner with the blood. 22And according to the law, I may almost say, all things are cleansed with blood, and apart from shedding of blood there is no remission. 23It was necessary therefore that the copies of the things in the heavens should be cleansed with these; but the heavenly things themselves with better sacrifices than these.

In Hebreërs 10:19-22 word die reiniging van die Christen gelowige dan direk in verband gebring met die reinigingsgebruik van die Ou Testamentiese besprinkeling: 19Having therefore, brethren, boldness to enter into the holy place by the blood of Jesus, 20by the way which he dedicated for us, a new and living way, through the veil, that is to say, his flesh; 21and having a great priest over the house of God; 22let us draw near with a true heart in fulness of faith, having our hearts sprinkled from an evil conscience: and having our body washed with pure water,… [3]

Dieselfde gebeur in 1 Petrus 1:2 waar Petrus as een van die belangrikste leiers van die eerste gemeente in Jerusalem die volgende sê: “ 2according to the foreknowledge of God the Father, in sanctification of the Spirit, unto obedience and sprinkling of the blood of Jesus Christ: Grace to you and peace be multiplied. [4]

Die punt is baie duidelik. In die Ou Testament en in die Nuwe Testament word die reinigingsdimensie met besprinkeling uitgedruk. Die interessante is dat die argeologiese opgrawings van die vroegste kerke ook duidelik aantoon dat mense nie onder die water ingegaan het en onderdompel is en dan weer bo-uit die water uitgekom het nie. Die doopvont op verskillende plekke in hedendaagse Turkye en aan die ander kant van die see aan die Europese Griekeland was almal doopvonte wat maar kniediep was. Die antieke kuns beeld ook uit dat beide die persoon wat doop as die persoon wat gedoop word beide in die doopvont ingaan en dat water dan oor die dopeling besprinkel of gegiet word, sonder dat onderdompeling plaasvind. Myns insiens is moderne Gereformeerde en Charismatiese kerke ver verwyder van die vroegste maniere waarop die doop gedoen is. In die eerste plek was die doopvont kniediep en in die vorm van ’n kruis. In die tweede plek is die water oor die persoon gegiet. Dit is dus meer water as die besprinkeling wat vandag in die NG Kerk gebruik word en minder as wat vandag in die meeste Charismatiese kerke gebruik word. Kom ons wees dan nou maar eerlik dat dit nie in die eerste gemeentes van die vroegste kerk gegaan het oor hoe die doop moet gebeur nie, maar wat die betekenis daarvan was. Die betekenis het gegaan oor reiniging, en die doop was die teken daarvan dat die dopeling deur die geloof deur God as kind van God verklaar is.

Op ander plekke in die Nuwe Testament sien ons wel dat mense in die water ingaan en uitgaan, soos wanneer iemand in ’n rivier gedoop is. Hier is die betekenis weer die van reiniging en gaan dit nie oor die metode nie. Vervolgens gaan ons bietjie nader kyk na die betekenis van die doop in die Nuwe Testament en sien dat die doop van Johannes die Doper nie op dieselfde vlak gesien kan word as die doop wat die dissipels toepas voor die dood en opstanding van Jesus nie en ook verskil van die betekenis van die doop na die dood en opstanding van Jesus.

2. 2. Die doop van Johannes die Doper

In Mark 1:4–11; 11:27ff. en Jn. 1:25–33; 3:23 ff.; 10:40; Hand. 1:5; 11:16; 13:24; 18:25; 19:4 vind ons verwysings na die doop van Johannes die Doper. Dit is belangrik om te sien dat Johannes ’n Jood was en nie ’n Christen nie. Die betekenis van die doop van Johannes in die area rondom Palestina het dus nie Oosters-Mediterreense sinkretistiese dimensies nie, maar Palestiniaanse Joodse tempel- georiënteerde dimensies. Hy het mense opgeroep tot bekering tot God en die assosiatiewe reiniging, en verkondig dat die tyd aangebreek het waarop die Messias sou kom. Hierdie reinigingsritueel het sterk verband gehou met die Ou Testamentiese reinigingsgebruike. Ons sien dit baie duidelik in Johannes 3:25 waar die Joodse leiers meningsverskille gehad het oor die reinigingsgebruike van Johannes. Hulle het dit wat Johannes doen met ander woorde gekoppel aan die bekende wyse waarop die Jode reinigingsgebruike toegepas het. In daardie tyd was daar verskeie profete wat opspraak gemaak het omdat hulle soortgelyke oproepe gemaak het en daar was ook vele wat hulself as die Joodse Messias voorgedoen het. Jesus se bediening word gekoppel aan die oproep van die Joodse profeet Johannes die Doper. Sy doop roep mense op tot bekering tot God en voorspel dat die Messias, wat later in latere jare duidelik as Jesus van Nasaret geïnterpreteer is na sy dood en opstanding, aan die kom is en dat God ’n nuwe tyd gaan laat aanbreek soos dit in die OT verwag is. Johannes se oproep het baie mense tot aksie aangespoor en baie mense is gedoop. Jesus was een van die Jode wat hom laat doop het, nie om sy sondes te laat afwas nie, maar om homself gelyk aan mense te stel en onder die groter plan van God te stel. Dit was met ander woorde ook ’n teken dat Jesus as Seun van God ondergeskik aan God die Vader se plan met die mensdom staan.

Die naaste analogie vir die doop van Johannes, was die proseliete doop wat ’n eenmalige aksie was (vgl. Lk. 3:14). Waar proseliete doop ’n politieke en ritualistiese oriëntasie gehad het, het Johannes se doop ’n sterk etiese en eskatologiese oriëntasie. Hy het gefokus op die oproep van mense om hulle lewens, gesindheid, oriëntasie en dade te transformeer en in lyn te bring met die wil van God en die eskatologiese tyd van God en die koms van die Messias. Hierdie eienskappe is tipies Joods. Die doop van Johannes is dus ‘n:

initiatory rite for the gathering Messianic community. Linking up with prophetic passages like Is. 1:15 f.; Ez. 36:25 (cf. Is. 4:4; Jer. 2:22; 4:14; Zech. 13:1; Ps. 51:7), it is to be regarded as a new development. The very fact that in prophetic power John baptised others is striking. From now on there occurs the active, and in Christianity the predominantly passive, use of βαπτίζειν, whereas elsewhere on both Jewish and Gentile soil the mid. or refl. use is most common (though → 535, βεβαμμένος, 2nd cent. a.d.; → βαπτιστής).”[5]

Die basiese idee is steeds die van ‘n reinigingsbad, wat volg op die belydenis van sonde en dien as ‘n uitdrukking van bekering, spyt en ‘n nuwe verbintenis (vgl. βάπτισμα μετανοίας, Mk. 1:4; Lk. 3:3; εἱς μετάνοιαν, Mt. 3:11). Tog wil dit voorkom of die idee van ’n sakramentele reiniging met die oog op die komende aion veronderstel word (εἰς ἄφεσιν ἁμαρτιῶν, Mk. 1:4; Lk. 3:3). Die verskil tussen die doop van Johannes en die van die Christene na die dood van Jesus is dat die Christene se doop nie net met water is nie maar met die Heilige Gees (Mk. 1:8 en par.; vgl. Jn. 1:26; Hand. 1:5; 11:16; vgl. Hand 19:2 ff.; vgl. Doop met vuur , Mt. 3:11; Lk. 3:16; Hand. 2:3).

2. 2. 1. Die Christelike doop

Jesus laat homself doop deur Johannes die doper (Mk. 1:9 ff. and par.; Jn. 3:22, vgl. Ook 4:2). Twee probleme ontstaan: Johannes se doop was n doop tot bekering en reiniging van sondes, maar Jesus is sondeloos – so hoe kan dit ondergeskik wees aan die Johannes doop (vgl.  Mt. 3:14 f.; Hebr. Ev. 5). Die antwoord van geleerdes is dat Jesus homself ondergeskik maak aan God se plan en met sondaars assosieer en die voorbeeld en weg wys (vgl. Deutero-Jesaja; vgl. Mt. 3:14 f. En Jn. 1:29 ἀμνός, 338).

Jesus doop egter iemand nie, alhoewel sy dissipels mense doop (vgl. Johh 4:1vv). Dit is belangrik om in ag te neem dat daar ’n verskil is tussen die doop wat die dissipels doen tydens die aardse bediening van Jesus en die doop na die dood en die opstanding van Jesus toe die Heilige Gees uitgestort is.

Volgens Mk. 10:38 f.; Lk. 12:50, beskryf Jesus sy eie dood as ‘n babtisthenai (βαπτισθῆναι). Dit is ‘n moeilike teks omdat geleerdes nie seker is of dit ‘n proto-martelaarsteologie verteenwoordig nie waarvolgens martelaarskap beskou was as om gedoop te word in bloed. Heel waarskynlik het ons hier te doen met ’n linguistiese interpretasie van figuurlike idees wat mens in die OT vind (cf. Ps. 42:7; 69:1; Is. 43:2; Cant. 8:7; though never transl. βαπτίζειν in the LXX), en wat deur Hellenistiese idees beïnvloed is. Dit is heel waarskynlik nie die woorde van Jesus self nie, maar ‘n latere ontwikkeling wat tipies is van die misterie kultusse waarvolgens vrywillige dood gekoppel word aan doop.

Na die dood en opstanding van Jesus het die doop ’n belangrike rol gespeel (vgl. Hand 2:38, 41; 8:12 etc.; R. 6:3; 1 C. 12:13: ἐβαπτίσθημεν, en gaan terug na ongeveer 33 n.C.). In die missionêre opdrag van Matteus 28:18–20 en Markus 16:16, word dit duidelik dat daar ‘n vroeë bewuswording was van die opgestane Christus in die vorm van ‘n imperatief om te doop. Die uniekheid van die post-opstandingsdoop is dat dit gedoen word in die naam van Christus (εἰς Χριστόν of εἰς τὸ ὄνομα Χριστοῦ).

Die sintaktiese konstruksies van βαπτιζειν in the NT is soos volg: Die verband met die objek βαπτιζειν of βαπτίζεσθαι, βάπτισμα kom voor in Handelinge 19:4; Mk. 10:38 f.; Lk. 7:29: 12:50. Die wyse waarop dit plaasvind word uitgedruk in die datief van instrument (ὕδατι, Mk. 1:8; Lk. 3:16; Hand. 1:5; 11:6; πνεύματι ἁγίῳ, Mk. 1:8), en meer algemeen deur ἐν (ἐν ὕδατι, Mt. 3:11; Mk. 1:8 vl.; Jn. 1:26, 31, 33; ἐν τῷ Ἰορδάνῃ, Mt. 3:6; Mk. 1:5; ἐν πνεύματι ἁγίῳ [καὶ πυρί], Mt. 3:11; Lk. 3:16; Jn. 1:33; Hand 1:5; 11:16; in 1 Kor. 12:13, alhoewel ἐν ἑνὶ πνεύματι beteken “omhels deur een Gees”), en word net eenmaal uitgedruk deur → εἰς (Mk. 1:9; cf. Plut. Superst., 3 [II, 166a] → 532; Corp. Herm., IV, 4 → 532). Op ander plekke  word εἰς meestal gebruik om die doel van die doop uit te druk, naamlik tot bekering: εἰς μετάνοιαν, Mt. 3:11; εἰς ἄφεσιν τῶν ἁμαρτιῶν, Hand 2:38; εἰς ἓν σῶμα, 1 Kor 12:13. Die idee van ’n mistiese medium verstaan van die doop (“om onderdompel te word in Christus/ to be immersed in Christ etc.”) kan nie vanuit die NT teks geregverdig word nie. βαπτίζειν is ‘n tegniese uitdrukking wat gewoon beteken “om te doop in water”, en daarom word ’n medium nie gespesifiseer nie. Waar dit wel in die NT gedoen word, word dit byna nooit ingelei deur εἰς nie.

Die formule εἰς τὸ ὄνομα, indien dit bestudeer word in ander literatuur soos papirus tekste, toon aan dat dit ‘n tegniese term was in Hellenistiese handeldrywing (“to the account”). Die rekening dra die naam van die persoon wat dit besit, en in die geval van die doop word die naam van Christus verklaar, en bely deur die een wat die doophandeling verrig of die een wat gedoop word (vgl. Hand. 22:16). In Handelinge 19:3 sien ons dieselfde en hier is dit meer die geval van ’n forensiese/legalistiese as ’n mistiese verklaring. Hiermee word die feit van pneumatiese (= geestelike) eenwording met die gekruisigde en verrese Christus nie ontken nie.

2. 2. 2. Die reddened betekenis van die doop in Christus

Die doop in die Christelike tradisie loop uiteindelik uit op nuwe lewe hier en nou en die gevolglike ewige lewe. Tog is dit die geloof en nie die doop wat die revivifikasie (= nuwe lewe gee) en regenerasie bewerkstellig nie. Die doop is die teken en seël van dit wat in die geloof nuut begin het.

In lyn met die OT en Judaïsme is God heilig en dit sluit sonde uit. Diegene wat deel wil word van die geloofsgemeenskap word heilig en ’n afrekening met sonde moet plaasvind, daarom word die doop gekoppel aan ’n reinigingsbad (1 Kor. 6:11; Efes. 5:26; Hb. 10:22; vgl. Hand. 2:38; 22:16). Die vraag is egter of dit misties of misterieus verstaan moet word en of dit as teken en seël verstaan moet word. ’n Teken en seël wys heen na iets wat reeds gebeur het. In NT is dit nie die doop wat misties sonde afwas nie, maar die geloof – die doop en is die teken en seël daarvan. Deur die doop gee God die legalistiese en forensiese verklaring dat die persoon se status van vuil sondaar tot heilige kind van God verander het. Die doop ritueel is die teken en die seël daarvan. Vervolgens moet enige bygelowige of misterieuse dimensie afgewys word, maar net so ook ‘n blote simboliese dimensie. Dit is soos ’n troue – mense is getroud die moment wat die huweliksregister geteken word. Dit is die seël van die huwelik – maar in die handtekening vind daar nie iets misties plaas nie.

Daar moet gewaak word teen ‘n materialistiese en magiese interpretasie van die doop ten gunste van ’n meer realistiese interpretasie, wat reeds in die OT profetiese tradisie afgewys is – op grond van die transendentale verstaan van Jahweh (vgl. Dt. 10:16; 30:6; 1 S. 15:22 f.; Am. 5:21 ff.; Hos. 6:6; Is. 1:10 ff.; Jer. 2:22; 4:4; 7:3 ff.; 9:25; 31:31ff.; Eseg. 18:31; 36:26; Jl. 2:13; Ps. 51:10, 16, 17; Mk. 7:14 ff. and par.; R. 2:17–29; 1 Kor 10:1–11). Tog moet daar gewaak word teen ’n redusering van die geestelike dimensie waarin die doop gekoppel word aan eenwording met die geloofsgemeenskap en die verband daarmee met redding. In die NT word die blote realistiese en nie-magiese verstaan nie sonder die implikasie van die geestelike effek van die wedergeboorte en doop beskou nie (vgl. Hb. 9:9 f.; 1 Pt. 3:21; 1 Jn. 5:6: οὐκ ἐν ὕδατι μόνον). Wat belangrik is is dat die NT beklemtoon dat alhoewel die doopaksie bemiddel word deur mense wat die handeling verrig, is God die primêre handelende subjek deur die Christusgebeure (vgl. Eph. 5:26). Juis om hierdie rede, op grond van die passiewe gebruik van die werkwoord, wat dui op God wat die handeling verrig, is die herdoop problematies. Die mediumvorm van die werkwoord word net in Handelinge 22:16 gebruik (vgl. Ook 1 Kor 6:11: ἀπελούσασθε), en die refleksiewe aard daarvan nooit beklemtoon nie.

Die oorsprong van die doop lê in die krag van die rekonsiliërende aksie van God in Christus, en die plaasvervangende dood van Christus (1 Cor. 6:11; Eph. 5:25 f.; Tt. 3:4 f.; 1 Jn. 5:6 [→ διά, → αἷμα, 174, → ὕδωρ]; cf. Jn. 19:34; 1 Pt. 1:2; Hb. 10:22) (vgl. Breytenbach, Grace, Reconciliation and Concord). Die primêre handelende subjek is God, en dit plaas die mens in die objektiewe posisie in Christus, en ons word deur God herskep en oorgeplaas uit die sfeer van dood na die sfeer van lewe (vgl. Joh 5:24), van vyandskap na kindskap (vgl. Gl. 3:26 f. → ἐνδύω, cf. R. 5:18 f.). Die punt is dat dit nie ’n menslike reaksie is nie, maar ’n Goddelike oorspongsaksie. Indien die mens as subjek reageer en die doop se aksent op die menslike subjek geplaas word, word die passiewe Goddelike oorsprongsaksie misken. Deur die eerste doop doen God die aksie en verklaar dat die mens as objek ingesluit is in die verbond en van vyandskap na kindskap gebring word. Deur weer te doop, beteken dit dat die eerste doop en handeling van God ontken word. Daarom kan ’n tweede doop hoogstens ’n doopviering genoem word.

Die deel word van die geloofsgemeenskap wat in die doop as teken van God se forensiese verklaring doen, impliseer ‘n etiese lewe wat dienooreenkomstig die nuwe identiteit uitgeleef word (1 Kor 6:11 en Efes 5:26 ff.). Dit moet dus forensies en nie magies verstaan word nie. Forensiese regverdigingsverklaring lei tot ‘n lewe dienooreenkomstig die nuwe identiteit: Die iustitia Christi extra nos posita hou aan om die iustitia Christi intra nos posita te word. Die meedeling van δικαίωσις is δικαίωσις ζωῆς (R. 5:18) op forensiese vlak en lei tot ‘n etiese lewe wat deelneem aan die participatio Christi – deelname in die dood en opstanding van Christus (vgl. Rom. 6:1–14; Kol. 2:11–15; 3:1 ff.; en materieel Gl. 2:19 f.; 5:24; 6:14 ens).

In die tyd waarin die Charismatiese bewegings gegroei het, is die materialistiese en empiriese vermeng met die mistiese teen die agtergrond van die dominante idealistiese en simboliese paradigmas van die tydperk. Navorsing in die geskiedenis van religieë het ons egter gehelp om te sien dat die OT en NT die tipies Hellenistiese magiese nie onderskryf nie, op grond van inter alia ’n transendente Godsbegrip. Daar is baie interessante ooreenkomste tussen Paulus en die Hellenistiese Misterie kultusse, maar ook belangrike verskille. Dit is dikwels maklik om Paulus se siening van die deelwording van die gelowige aan Christus se dood en opstanding in ’n Hellenisties misterieuse sin van die woord te interpreteer. Belangrik is egter is dat die materialistiese dimensie van Paulus verskil van dit wat by die middel-Platonisme en die Hellenisme aanwesig was.

Aan die een kant is daar ’n tydlose en naturalistiese individualisme van regenerasie, en aan die ander kant ’n spiritueel-historiese verhouding – ’n herskepping van totaliteit wat eskatologies verstaan word. In die Christelike sin van die woord word die doop verstaan as ’n manifestasie van die komende wêreld in die hede waaraan die gelowige deel – dit is ‘n hysbak en nie trappe nie – dit is die oorbeweeg van een dimensie na ‘n volgende.[6]

Die NT sien ’n nabye verhouding tussen die opstanding van Christus en totale nie-mistieke of magiese regverdiging, en net so ook die basiese betekenis en uitwerking van hierdie regverdiging (vgl. Kol 2:12vv). Kittel et al[7] merk op:

Every interpretation of Paul’s view of baptism is thus mistaken which takes as its starting-point the subjective and naturalistic experience of baptism and not the objective situation in salvation history. The death and restoration of nature-gods take place again and again at the appropriate seasons. The consecration of the Mystery religions is renewed every twenty years or so. Baptism, however, shares with Christ’s death a strictly once-for-all character (ἐφάπαξ, R. 6:10, → 383). The phrase “Christ metaphysics” more correctly expresses the existential character of the Pauline statements than the unhappy “Christ mysticism.” On the other hand, a place must be found for the plenitude of pneumatic interconnections which are here felt by Paul and which may even be comprehended psychologically and empirically. Nevertheless, it must be emphasised that an immediate and almost magical transformation of human nature, in which sin is eradicated, is no more a part of Paul’s logic than an immediate destruction of suffering and death.

In 1 Korintiërs 10:1–13 beveg Paulus duidelik ‘n materialistiese en bygelowige interpretasie van van die betekenis van die doop en die nagmaal – naamlik dat dié wat gedoop is en aan die nagmaal deelneem vrygeskeld word van enige oordeel en met hulle liggame kan maak net wat hulle wil. Paulus beklemtoon die sakramentele en objektiewe verstaan van die doop en nagmaal in ’n forensiese sin van die woord en die gevolglike verantwoordelikheid van die individu om konkreet volgens die nuwe identiteit te leef en verantwoordelike keuses te maak.

Teen die einde van die eerste eeu het die Gnostiese sektes ook doop praktyke beoefen. ’n Vergelyking tussen die Christelike en Gnostiese dooppraktyke stel ons in staat om die verskil tussen die NT nie-materialisties en die magiese verstaan van die doop te begryp. Die Gnostiese sektes het in hulle dooprituele sterker op die Hellenistiese interpretasie van die magiese aard van die doop gesteun (vgl. 2 Makk 12:39–45) (Plat. Resp., II, 364bce; 365a, het verwysings na boetedoening/versoening vir/in die plek van die dooies. Orph. Fr. (Kern), 232, p. 245, Kern (ὄργια τʼ ἐκτελέσουσι, λύσιν προγόνων ἀθεμίστων μαιόμενοι) (Μεγάλη Μήτηρ Ἀναεῖτις. Ἀπολλώνιος Μηνοδώρου ὑπὲρ Διονυσίου τοῦ ἀδελφοῦ, ἐπεὶ, κατελούσετο καὶ οὐκ ἐτήρησε τὴν προθεσμίαν τῆς θεοῦ, ἀπετελέσετο αὑτόν (163 a.d.).

By Paulus is daar ‘n noue verband tussen die doop en die ontvangs van die Gees. In ‘n aantal gevalle in die NT word die πνεῦμα ἅγιον ontvang voor die doop as gevolg van die geloof  (Hand. 10:44 ff.; 18:25), maar meestal word doop en die ontvangs van die HG in nabye tydsduur geplaas en gekoppel aan die oplê van hande (→ πνεῦμα, → χείρ).

Latere NT dokumente soos die Deutero-Pauliniese (Tt. 3:5) en Johannese (Jn. 3:5) teologie lê nader aan die Hellenistiese denke van regenerasie en verskil so effens van dit wat mens by die outentieke Paulus materiaal vind, maar beweeg nie weg van die basiese lyn van die teologie af nie wat aan “salvation history” gekoppel word nie.

In die latere ontwikkeling in die vroeë kerk (vgl. Bv Hippolitus) word die doop uitgestel na ‘n lang kategese proses en die bewys van ‘n lewe wat op grond van ‘n getransformeerde geloof voortvloei. Dit dui ook aan dat in die vroeë kerk, nie die magiese betekenis van die doop nie, maar die forensiese vooropgestaan het.

2. 2. 3. Die doop as ’n sinkretistiese misterie – latere NT

In die latere strate van die NT bespeur ons ’n beweging in die rigting van Hellenisme. In die post-apostoliese tyd en daarna het hierdie tendens verder ontwikkel. Een belangrike verandering wat ingetree het teen die einde van die eerste eeu en daarna is die afwatering van die eskatologie wat van die begin af sterk aan die doop gekoppel was. Die eskatologie het steeds ’n element van die Bregündungszusammenhang gebly, maar nie die een van die fondasie pilare gebly nie. In die plek van die hoë eskatologie het ander elemente ingekom uit die Umwelt. Hierdie vreemde elemente moes egter van die begin af ‘n Christelike transformatiewe element ondergaan in die sin dat die tradisie en die oorgelewerde inhoud van “die geloof” hierdie vreemde elemente in lyn gehou het en daarom moes dit oor deurgaan deur die smeltkroes waarin die profetiese nie-magiese raamwerk wat die magiese Hellenisme sou demper. Met tyd het hierdie korrektiewe raamwerk effens verswak soos wat elemente van buite sterker geword het en so het die doop ’n  sinkretistiese misterie karakter ontvang.

Die kerkvader Ignatius (vgl. Efes., 18, 2) verwys na Jesus wat die water van die Jordaan reinig deur sy doop en sy lyding. Barnabas (Barn., 11) versamel verskeie OT tekste waarin water beskou word as aanduiding van die doop. In Tertullianus vind hierdie sakramentele materialisme sy hoogtepunt (vgl. Bapt., 4 en 9) waar hy oor die aard van die water besin. Dit toon die vergeesteliking van die water en die doop aan. Sedert die tyd toe God se Gees oor die water gesweef het tydens die skepping, het water buitengewone krag gekry.

Meer as dit, die doop ritueel het betekenis – meer as in die oorspongtyd van die Christelike geloof. Soos in die geval van die Isis konsekrasie, so moet die een wat doop en die een wat gedoop word beide vir ‘n aantal dae voor die doop vas (vgl. Did 7, 4). ‘n Magiese transformasie word verwag deur middel van die doop aksie: “Ons gaan onder in die water vol van sonde en onreinheid, maar dan verrys ons weer uit die water met nuwe vrug” (vgl. Barn., 11, 11). Ons sien dieselfde in Herm. s., 9, 16, 4: ἡ → σφραγὶς τὸ ὕδωρ ἐστίν· εἰς τὸ ὕδωρ καταβαίνουσι νεκροί, καὶ ἀναβαίνουσι ζῶντες. In hierdie tyd word baie ekstra seremonies bygevoeg soos salwing, nagmaal, bevestiging, ordening/bekleding by die eens eenvoudige doophandeling. Waar die klem in die begin geval het op die doop as teken van vergewing van sondes, word die doophandeling nou magies verbind aan revivifikasie/herlewing regenerasie. Hierdie nuwe benadering se klem lê ook anders as die aanvanklike doopritueel in die apostoliese tyd op die verbintenis van die gedoopte met die georganiseerde kerk. So vroeg as Ignatius byvoorbeeld, word die doop verbied sonder die teenwoordigheid van die geordende biskop (vgl. Sm 8, 2) en Tertullianus weier dat vrouens die doop toedien (vgl. Bapt., 17).

Sommiges het gevoel dat aangesien die doop so ’n belangrike rol speel, moet babas sommer van die begin af deel kry van die wonderlike effek en sakramentele genade van die doop en daarom is hulle so vinnig as moontlik gedoop. Die vraag het in hierdie tyd dan ook ontstaan wat dan gebeur met iemand wat as kind gedoop is en wat later afvallig word (Hb. 6:4 ff.; 10:26; vgl ook. 2 Kor. 12:21). Daar was geen sprake van ’n tweede doop nie. Die magiese verstaan van die doop het hierdie probleem net vererger. Teen die einde van die derde eeu het dit so erg geword dat baie mense die doop uitgestel het tot die doodsbed, omdat die doopritueel so sterk aan ‘n magiese dimensie van revivifikasie gekoppel was. Die bekendste voorbeeld is die van Konstantyn wat homself laat doop op sy doodsbed.

Die ontwikkeling van ‘n sakramentele teologie verteenwoordig ‘n latere ontwikkeling in die geskiedenis, en vind ‘n hoogtepunt in die Donatistiese[8] kontroversie en die Reformasie. Die woord sakrament kom nie in die NT voor nie. In die NT word die woord Misterion gebruik. In die dogmatiek word ‘n sakrament verstaan as: “an external rite or sign, which in some way conveys grace to believers” (McGrath 1997:494).  Die sakramentele teologie ontwikkel veral in die derde en vierde eeu in Noord Afrika met eksponente soos Tertullianus en Cyprianus van Carthage en Augustinus van Hippo. Hierdie persone was erg vervolg onder Diocletian (284-313) tot en met die edik van Milaan (313), en die kerk het in daardie tyd aansienlike klem geplaas op kerklike lojaliteit  en solidariteit wat die interpretasie en rol van de sakramente sou beïnvloed. Die sakramente het ‘n wyse geword waarop korporatiewe solidariteit onderhou en versterk sou word. Tertullianus was die een wat die Griekse woord mysterium met die Latynse sacramentum sou vertaal. Die interessante is dat die Griekse woord misterion in die enkelvoud gebruik word en dat Tertullianus die woord sakramentum in die meervoud aanwend in die sin dat die sakramente met die misterion verbind is. Daar was in die tyd van Tertullianus assosiatiewe konnotasies tussen die woord sacramentum en militêre eed waarin die soldaat absolute lojaliteit aan die Romeinse Ryk gesweer het. Teen die agtergrond van die vervolging en die behoefte aan die uitdrukking van solidariteit en absolute lojaliteit aan die kerk in die midde van vervolging, kry die sakramente ‘n nuwe betekenis. Dit was hierdie gedagte wat ‘n groot rol sou speel in die denke van die Switserse reformatoriese denker Huldrych Zwingli (vgl. McGrath 1997:496). Tydens die Donatistiese kontroversie, sou Augustinus die verband tussen die teken en die saak wat dit na verwys ondersoek. Vir Augustinus is daar baie tekens in die wêreld wat na iets anders verwys, soos rook wat na die realiteit van vuur verwys. Heilige tekens oorbrug die gaping tussen God en mens en dien as fisiese deurweg of hekke (vgl. stargate) na spirituele realiteite. Hy het gesê dat sakramente sigbare of fisiese vorme van onsigbare of geestelike genade is. Augustinus lê egter die klem daarop dat sakramente nie net tekens is wat heenwys na die geestelike realiteite nie, maar ook fisies iets doen aan die mens op geestelike vlak. Die definisie wat Augustinus gegee het van ‘n sakrament, naamlik dat dit enige teken van ‘n geestelike realiteit is, sou later problematies wees. Dit het uiteindelik die verering van allerlei heilige objekte behels, wat die Reformasie sou aanspoor. In die Middeleeuse teologie het die geleerdes ‘n onderskeid tussen die OT sakramente en die NT sakramente verduidelik deur te argumenteer dat die OT sakramente soos die besnydenis gewoon heenwys na geestelike realiteite terwyl die NT sakramente geestelike realiteite bewerkstellig. Duidelik te bespeur is die misterieuse en magiese verstaan van die sakrament wat nie Joods nie, maar eerder Hellenistiese karaktertrekke vertoon. Dit het veral duidelik geword in die Donatistiese kontroversie waar hierdie groep gemeen het dat die Traditores hulself buite die kerk geplaas het deur hulle dislojaliteit. Hulle het hulself beroep op Cyprianus wat gesê het dat geen sakrament geldig is wat buite die geïnstitusionaliseerde kerk gepleeg is nie. Die Donatiste het die argument gebruik om te argumenteer dat die Traditores hulself buite die kerk geplaas het en dat enige iemand wat deur so ‘n persoon gedoop is, ‘n ongeldige doop ontvang het. Augustinus het daarteen gereageer en daarop gewys dat wat die Donatiste doen is om die kwaliteit van die menslike agent vooropgestel word en dat die klem nie op die menslike agent nie, maar op God as handelende subjek en op die genade van God lê. Augustinus het gesê die sakramentele kousaliteit van die Donatiste is effektief ex opere operantis – dit is, “geldig op grond van die werk van die een wat die werk doen” (menslike agent), terwyl Augustinus van mening was dat die doop geldig is ex opere operato – dit is, op grond van die werk wat gedoen is, en nie op grond van die menslike persoon wat die werk doen nie. Hierdie siening is ook belangrik vir die huidige gesprek aangesien baie mense vandag van mening is dat hulle eerste doop ongeldig is. Hulle redeneer ex opere operantis en nie ex opere operato nie. In die Middeleeue het die debat aangegaan oor die dat en die hoe waarop die sakramente nie bloot tekens is nie maar ook die genade bewerkstellig.  Peter Lombard beklemtoon dat die sakramente die genade bewerk terwyl Peter van Aquila beklemtoon dat dit nie so verstaan moet word dat die sakramente op sigself die genade veroorsaak nie – maar dat God eerder die een is wat die genade bewerkstellig in die teenwoordigheid van die sakramente (maw causa sine qua non [indispensable presondition – en nie oorsake op sigself nie). Die reformatore het hierdie siening verwerp en meen dat Augustinus hier die punt mis. Aristoteles het onderskei tussen die essensiële wese (substance) en die diverse eienskappe (accidents – soos kleur, vorm, reuk) van ‘n objek. Die teorie van transubstansiasie meen dat die brood en wyn of water (die reuk, vorm, smaak) bly onveranderd in die moment van konsekrasie, maar die substansie daarvan word getransformeer van brood en wyn na die liggaam en bloed van Jesus. Die Protestante het dit sterk gekritiseer. Luther het in terme van hierdie saak die idee van konsubstansiasie ontwikkel waarvolgens die substansie van die brood en die wyn nie getransformeer word nie, maar dat albei teenwoordig is op dieselfde tyd omdat Christus teenwoordig was in die nagmaal – soos yster wat brand – dit is yster en vuur, albei is teenwoordig.

Uiteindelik in 1520 sou Luther in sy boek Die Babiloniese gevangenskap van die Kerk, die Katolieke sakramentele teologie skerp veroordeel. Hy het die nuutste humanisties filologiese ondersoekmetodes gebruik om aan te voer dat die Vulgaat  se aanwending van die term sacramentum onvoldoende was op die basis van die oorspronklike Griekse teks. Hy het die sakramente uiteindelik van sewe (doop, nagmaal, penance, huwelik, confirmasie, ordinasie en salwing) na twee (doop en nagmaal) gereduseer. Vir Luther was lg die groot tekens van God se genade en die belofte van die vergewing van sondes. Luther se goeie vriend uit Wittenberg Melanchthon, korrigeer die Middeleeuse Roomse Katolieke siening van die sakramente in sy boek Proposisies aangaande die nagmaal (1521) met die woorde: “Tekens is die wyse waarop ons nie net herinner word nie, maar ook verseker word van die woord van die geloof”. Die sakramente is tekens wat mens se geloof in die objektiewe waarheid van die geloofswaarhede help versterk. Hier word weg gedoen met die magiese karakter van die sakramente.[9]

  1. Konklusie
  • Hedendaagse besinning oor die doophandeling van die Christene moet nie gedekontekstualiseer word van die Umwelt waarbinne dit ontstaan het nie
  • Doophandelinge vind plaas in beide die Judaïstiese sowel as die Hellenistiese gelowe voor die Christenbeweging ontstaan
  • Die eerste Christene was Jode en die Christelike beweging was in die eerste fase ’n Joodse beweging. Die doop moet dus in lyn met die Joodse verstaan daarvan geïnterpreteer word.
  • Die Joodse dooppraktyk is nie-materialisties en nie-magies en funksioneer as ’n ritualistiese teken van afwassing van sondes in ’n forensiese konteks. Die nie-magiese dimensie is ’n uitvloeisel van die transendentaliteit van die Joodse monoteïstiese godsbegrip.
  • Die Hellenistiese praktyk se kosmologie verskil van die van die Jode en is materialisties en magies, en daarom word die doop by die misteriekultusse gekoppel aan revivifikasie.
  • In die apostoliese tyd is die doop sterk Joods in karakter. In die na-apostoliese tyd ontvang dit ’n meer Hellenisties sinkretistiese karakter.
  • Die Hellenisties sinkretistiese karakter daarvan lei tot bygelowigheid by die doop soos die uitstel van die doop tot op die sterfbed.
  • Bogenoemde verteenwoordig ’n wegbeweeg van die oorspronklike apostoliese interpretasie van die doop.
  • Die gevaar in die hedendaagse debat oor die doop is dat daar ’n Hellenistiese sinkretistiese dimensie in die interpretasie van die effek van die doop te bespeur is.
  • ’n Gebrek aan kennis en nadenke oor die implikasie van die verbond en ontkoppeling van die NT doop met die OT verbond, lei tot ’n verskraalde doop begrip.
  • Hedendaagse gesprekke oor die doop plaas alle tekste oor die doop op een vlak en maak nie ’n diakroniese onderskeiding nie. By nadere ondersoek is daar ten minste drie dooppraktyke in die NT, naamlik die Joodse doop van Johannes, die doop wat die dissipels verrig tydens die aardse lewe van Christus en die doop wat die dissipels verrig na die dood en opstanding van Jesus toe die Heilige Gees uitgestort is. Die betekenis van hierdie drie verskil radikaal van mekaar.
  • Die doop na die opstanding van Jesus moet ook verder onderskei word in historiese strata, naamlik die doop praktyke in die eerste gemeentes in Jerusalem voor Paulus en die dooppraktyke tydens die bediening van Paulus toe die Helleniste op die toneel gekom het. Uit die aarde van die saak het die Hellenistiese invloed die interpretasie van die doop effens anders daarna laat uitsien en dit nie net binne die dampkring van die Judaïstiese kontinuum geplaas nie.


Praktiese vrae en eenvoudige antwoorde

In hierdie gedeelte word praktiese vrae beantwoord wat ontvang is van inskrywers van die webtuiste Bybelkennis, wat in diepte vrae rondom die Bybel beantwoord.

Vraag 1: Ontvang mens nie die Gees as jy nie gedoop word nie?

In Handelinge 2:38 lees ons “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hier is dit duidelik dat dit in die konteks van bekering en in die konteks van tot die geloof kom plaasvind. Dus, die verband tussen tot geloof kom en die ontvangs van die Gees word nie hier uitgesluit nie, maar juis veronderstel. Die bedoeling van die teks is ook nie om ‘n resep te gee dat jy eers tot geloof kom en dan moet gedoop word en dan eers die Gees sal ontvang nie. Dit sou van die doop iets maak wat dit nie bedoel was om te wees nie. As die ontvangs van die Gees gekoppel sou word aan die handeling van die doop per se, beteken dit dat die ontvangs van die Gees nie moontlik sal wees sonder die handeling van die doop nie. Dit beteken dus dat die doop nie meer net ‘n teken sal wees wat heenwys na die feit dat iemand tot bekering gekom het nie, maar dat die doop as teken self een of ander magiese oordrag van die Gees tot gevolg het. Myns insiens werk die Bybel glad nie met hierdie beeld nie. In die Bybel is die doop ‘n teken wat heenwys na iets wat reeds gebeur het, naamlik dat iemand van die dood na die lewe oorbeweeg het (vgl. Joh 5:24) en dat dit die teken en seël daarvan is.

In die Bybel self sien ons byvoorbeeld ook die interessante verskynsel dat dit wel gebeur het dat mense tot bekering kom, die Gees ontvang en dan later eers gedoop word. Dit beteken dus dat die ontvangs van die Gees nie afhanklik van die doop is nie, maar dat die ontvangs van die Gees ‘n resultaat of sigbare teken is van die geloof. Vat maar net Paulus se eie bekering. Toe God hom op die Damaskus pad ontmoet en hy drie dae blind gemaak is (sien Hand 9), het hy uiteindelik tot bekering gekom omdat God se Gees hom laat glo het en hy Christus aanvaar het. Kort nadat sy blindheid genees is, is hy gedoop. Paulus het dus duidelik eers die Gees ontvang in en deur die geloof en is eers daarna gedoop. Handelinge 9:17 en verder lui:

En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom (Paulus) die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus. En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.

Daar is nog ander voorbeelde hiervan ook. Ek haal maar Paulus se geval aan omdat hy so ‘n prominente figuur in die vroeë kerk was en omdat die meeste van die tekste oor die doop in Paulus se dokumente voorkom.

Oor die algemeen kan verder aanvaar word dat die Nuwe Testament ‘n eenheid siening het as dit kom by die Vader en die Seun en hulle verhouding. Iets wat in die naam van Jesus gebeur is by implikasie iets wat in die naam van die Vader gebeur. Die duidelikste voorbeeld van hierdie denkwyse vind ons in Johannes 5 vers 19: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.” Mens kan dus argumenteer dat iemand wat in naam van Jesus gedoop is by implikasie ook gedoop is in die Naam van die Vader (Kyk bv Hand 10:48). In Handelinge (vgl. Hand 19:1-5) lees ons dat daar gedoop is in die naam van Johannes, maar met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees na Jesus se opstanding en hemelvaart is mense gedoop in die naam van Jesus:

doop1En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hier sien ons nou weer die ander kant van die munt waar mense gelowig word en nie die Gees ontvang het nie  – omdat hulle nie gedoop is in die naam van Jesus nie, maar die doop van Johannes. Die verklaring hiervoor is dat die mense op grond van Apollos se bediening nog nie die volle leer van die evangelie van Jesus gehoor het nie, maar eerder ‘n boodskap van bekering wat nader is aan die leer van Johannes. Paulus hulle het toe vir hulle die volle evangelie vertel en die geestelike dimensie wat met die Jesus-gebeure ingetree het, het toe eers deel van hulle lewe geword.

Ons sit dus hier met verskillende kontekste en mens moet dit eintlik baie fyn bestudeer en nie op dieselfde vlak met ander tekste lees nie omdat dit gewoon nie op dieselfde vlak is nie!

In kort- bekering lei tot die ontvangs van die Gees – maar Johannes herinner dat selfs bekering gebeur omdat die Gees dit bewerk (kyk Joh 3). Doop is ‘n resultaat van bekering en veroorsaak nie die ontvangs van die Gees nie. Mense kan dus tegnies gesproke die Gees ontvang sonder dat hulle gedoop word. Tog moet mens dit alles as ‘n eenheid sien – bekering – ontvangs van die Gees en die doop moet alles verkieslik in nabye historiese tydsverloop van mekaar plaasvind indien ons die model van die Nuwe Testament wil volg.

 

Vraag 2: Hoe is die eerste Christene gedoop? Onderdompel of besprinkel, groot of klein? Nuutste navorsing onthul

In die Buite Bybelse (apokriewe) boek “Die Didagé” word daar vir ons gewys hoe die vroegste Christene die doop benader het teen die einde van die eerste eeu tot en met die eerste helfte van die tweede eeu. Dit verteenwoordig van die vroegste getuienis wat ons het oor die lewe en gewoonte van die vroeë Christene. Die Didagé is in 1875 ontdek deur Breyennius in Konstantinopel nadat hy antieke Griekse manuskripte in die biblioteek van die Klooster van die Heilige Graf in Jerusalem ontdek het.  Die Didagé was een van die manuskripte. Volgens geleerdes dateer die inhoud van die Didagé uit ‘n tyd tussen 100-150 n.C., ‘n tyd wat baie naby is aan sommige boeke wat ons vandag in ons Bybel het.doop2

In Didagé 7:1-4 gee die skrywer raad oor hoe daar gedoop moet word. Hy sê:

“Met betrekking tot die doop, moet julle soos volg doop: “Vertel vir diegene wat gedoop gaan word allereers hoe hulle behoort te lewe, en doop hulle dan in die naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees. Doop hulle in lewende/lopende water. Indien daar nie lopende water is nie, doop hulle dan in stilstaande water. As jy nie in koue water kan doop nie, doop hulle dan maar in warm water. Indien daar nie warm of koue, lewende of stilstaande water is nie, gooi dan drie maal water oor die persoon se kop uit, in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Dit is belangrik dat die persoon wat gedoop gaan word voor die tyd moet vas. Die een wat gedoop word en al die ander wat betrokke is by die doop moet ook vas. Die een wat gedoop gaan word, moet een of twee dae voor die tyd vas”

Nuutste navorsing onthul

Onlangs het daar ‘n uitstekende boek verskyn deur Everett Ferguson (2009) oor die doop. Prof Ferguson is ‘n wêreldbekende geleerde in Amerika wat al vir meer as 50 jaar op die vroeë kerklike geskiedenis navorsing doen. Die boek se titel is: “Baptism in the Early Church: History, Theology and Liturgy in the first five centuries“, waar Ferguson die ontwikkeling van die doop in die eerste 5 eeue van die vroeë kerk bestudeer. In sy boek bekyk hy ook die voorgeskiedenis van die doop as verskynsel, nie net in die Joodse geloof nie, maar ook in die heidense gelowe. Ons moet in gedagte hou dat die doop as ritueel nie iets is wat die eerste keer uit die bloute uit gedoen is nie. Doop-rituele was praktyke wat vir eeue al in gebruik was. In die Christelike konteks kry die Christelike doop egter ‘n ganse nuwe betekenis! Tog was die praktyk van rituele wassing vir die antieke mense ‘n bekende gebruik in religieuse konteks.

Ferguson het ‘n interessante hoofstuk rondom pp 130 van sy boek waar hy voorbeelde gee van die doop in vroeë Christelike kuns, asook verskeie doopvonte wat in die argeologie na vore gekom het. In beide die kuns en die doopvonte sien ons hoe die vroeë kerk met die doop omgegaan het en hoe dit in verskillende kontekste verskil van mekaar.  Hierdie boek beslaan amper 1000 bladsye, en sal ‘n standaard verwysingsbron oor die doop in die vroeë kerk word.

Bo is ‘n voorbeeld van ‘n  vroeë Christelike kuns uitbeelding waar iemand gedoop word. Let daarop dat die water van bo af op die persoon gegooi word!

Ek was onlangs in Griekeland en het onder andere Filippi besoek, die stad waar Paulus die eerste kerk op Europese bodem geplant het. Dit was in Filippi waar Paulus vir Lidia en haar hele huisgesin in ‘n rivier gedoop het (Hand 16:11-15; vgl. Ook Hand 11:14; 10:47; 16:16; 16:31-34; 18:8 en 1 Kor 1:16). Ons was ook daar by die plek waar Lidia en haar huisgesin volgens oorlewering gedoop is. Die doopvont  wat u in die foto sien is vandag oor die stroompie gebou, in die vorm  van ‘n kruis.

doop3So entjie daarvandaan, naby die tronk van Paulus is daar die oorblyfsels van ‘n vroeë kerk met ‘n doopvont, ook  in die vorm van ‘n kruis, wat 1.5 meter diep was. In ‘n ander kerk het ons ook ‘n doopvont gesien soos die tipiese een wat ons vandag in die NG Kerk sien wat net vir besprinkeling gebruik kon word.  Skaf gerus die boek van Ferguson aan om die teologiese ontwikkeling en gebruike rondom die doop in die eerste vyf eeue te bestudeer. Dit is geweldig interessant. Nadat u die boek bestudeer het sal u verstaan hoekom ons vandag doen wat ons doen en waar die misverstande dikwels intree.

 

Bronne wat u kan raadpleeg:

  • Van der Watt, J.G., & Tolmie, F., Apokriewe Ou en Nuwe Testament, CUM, pp. 766-767
  • Ek verwys diegene wat oor die doop vrae het graag na die goeie artikel van Prof Adrio König wat op die webblad verskyn (http://www.bybelkennis.co.za/Die-Groot-Geloofswoordeboek/Die-Groot-Geloofswoordeboek-Doop.html ). Prof Konig het ook ‘n boek geskryf oor die doop wat op die Suid Afrikaanse gehoor gemik is. Daar is ook baie ander artikels op ons webtuiste wat reeds oor die tema van die doop verskyn het. Druk gewoon “doop” in die soekfunksie en u sal ‘n hele aantal artikels vind.
  • Vraag 3: Hoekom moes Jesus gedoop word?

Hoekom moes Jesus gedoop word, as die doop die groot teken was van die afwassing van sondes? Jesus het mos nie sondes gehad nie. Verder, hoekom ontvang Jesus die Heilige Gees met sy doop as Hy dan self God is? Hoe kan God Homself ontvang? Dit is die interessante vraag van een van ons intekenaars. Hierdie vraag sal beantwoord word deur op die evangelie van Markus te fokus en die doop van Jesus binne die groter konteks en verloop van Markus 1 te interpreteer.

Ons lees van die doop van Jesus in al die evangelies (vgl. Matt 3:13-17; Luk 3:21-22; Joh 1:29-34). Die evangelie van Markus begin so effens anders as die ander, en wel by die optrede van Johannes die Doper en nie soos sommige van die ander evangelies by die geboorte van Jesus nie.

Johannes die Doper het so te sê die geestelike pad vir Jesus se koms voorberei (Mark 1:1-3) en luidkeels verkondig: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mark 1:4). Johannes se bediening was ‘n profetiese bediening en hy het soos die profete van ouds die volk van God opgeroep om hulle harte weer terug te draai na God. Maar hy het die heeltyd vir mense duidelik gesê dat Iemand binnekort op die toneel gaan kom (vgl. Mark 1:7) – iemand wat ook gaan doop – maar Sy doop gaan bietjie anders wees – Hy gaan mense met die Heilige Gees doop (vgl. Mark 1:8). Johannes se bediening en Johannes se doop was dus ‘n teken wat heengewys het na die Een wat sou kom en die geestelike dimensie wat sou aanbreek die oomblik as Hy op die toneel verskyn.

In die volgende vers (Mark 1:9) lees ons dan hoe Jesus van Nasaret inderdaad op die toneel verskyn en deur Johannes in die Jordaan gedoop word. Jesus word hier gedoop – nie omdat hy sondes het en tot bekering moet kom nie – maar omdat hy sommer van die begin af wys dat hy deel uitmaak van die groter prentjie van God se plan met die wêreld. Daarom sien ons ook as Jesus uit die water uitkom, hoe die hemel oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe neerdaal (Mark 1:10) en dadelik ‘n stem uit die hemel kom waarin God die Vader sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug ek my.” Dit gebeur – nie omdat hy nie die Gees gehad het nie of omdat Jesus nie geweet het dat God sy Vader is nie, (so asof hy dit toe vir die eerste keer hoor nie) – maar eerder as bewys vir die mense dat hierdie Jesus inderdaad die gesalfde is – die gestuurde en gesanksioneerde Seun van God wat nou met die outoriteit en bemagtiging van God optree. Die doophandeling en oproep van Johannes het dus die ruimte geskep waarbinne mense hulle opnuut tot God kon wend – en die ruimte  voorberei waarop Johannes kon getuig van die ware Een wat aan die kom is. Dit is binne hierdie atmosfeer van verwagting waarin Johannes se oë die heeltyd oop was in die verwagting dat die Een wat God beloof het, binnekort sal kom.

Miskien het Johannes met die doop van Jesus aanvanklik gedink dit is maar net nog ‘n Jood wat in die ry af kom om gedoop te word. Maar nét toe Jesus uit die water uitkom (kyk Mark 1:10), het die hemel oopgeskeur. Johannes het waarskynlik net daar ook besef – hier is dit nou. Met die oopskeur van die hemel en  onder die geklank van God se stem het Johannes besef dat die gestuurde van God hier reg voor hom staan. Net daar het hy besef dat die tyd waarop hy gehoop het aangebreek het. Die uur is uiteindelik hier! Die Gees wat vanuit die hemel soos ‘n duif (let op die vergelyking) neergedaal het was ook die teken dat die verwagte uur aangebreek het – die uur waarop Jesus se publieke aardse bediening sou begin en dat hierdie Jesus nie sommer net enige man is nie – Hy is deur God gestuur. Ek kan persoonlik nie sien hoe dit anders kon gebeur het nie. Dit sou nie werk as Johannes hier in die Jordaan vir mense preek en hulle doop en sê dat die Een op pad is en Jesus aan die ander kant van die wêreld begin werk nie. Dit maak sin dat Jesus dáár, in die midde van die aksie, in die konteks van die doop van honderde mense wat tot bekering kom sou arriveer en dat Hy deel sou wees van dit wat God daar aan die doen was. Daarom is Jesus ook gedoop, omdat dit binne daardie ruimte was wat God Johannes geroep het om die weg voor te berei vir die Een wat hy sou stuur. As Jesus daar gedoop word, breek die nuwe dimensie egter deur – en word Jesus se publieke bediening in ‘n nuwe rat geplaas.

Onmiddellik na Jesus se doop en na die stem uit die hemel wat verklaar dat Jesus die gestuurde is, word Jesus deur die Gees die woestyn in geneem vir veertig dae (Mark 1:12-13). Soos verwag kom die grootste vyand van God, die duiwel daar aan en versoek Jesus, maar kom gou agter dat hierdie Jesus groter is as wat hy gedink het. Markus het nie eers nodig om meer as twee verse daaroor te skryf nie. Dit is sommer van die begin af ‘n uitgemaakte saak – hierdie Jesus is baie sterker…

In die volgende vers (Mark 1:14) begin Jesus om die goeie nuus van God te verkondig met die belangrike woorde wat tot vandag toe nog die preekwoorde van Jesus eggo: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (Mark 1:15).

Daarna, in die volgende vers loop Jesus langs die see van Galilea en roep die eerste dissipels – die manne wat uiteindelik op Pinksterdag, na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart self die uitstorting van die Gees sou beleef. Hieruit is dit ook duidelik dat die uitstorting van die Gees ná Jesus se dood, opstanding en hemelvaart anders is as die neerdaal van die Gees wat met Jesus se doop plaasgevind het.

Vraag 4: Om net te doop in die Naam van Jesus?

Myns insiens moet ons nie van die voorveronderstelling uitgaan dat die doop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees in Handelinge vervang word met die doop in die naam van Jesus nie. Laasgenoemde, “die doop in die naam van Jesus” was eerder die mees oorspronklike wyse waarop daar in die vroegste tye gedoop is. Dit is ook in die moderne vertalings nie ‘n weglating van “Vader” en “Heilige Gees” nie en dus nie ‘n vertalingsoorsig nie! (kyk Hand 19:1-5). Die formule “Vader, Seun en Heilige Gees” is eerder ‘n latere byvoeging as wat “in die naam van Jesus” ‘n weglating van “Vader, Seun en Gees” behels. In kort: Die doop in die naam van Jesus was eerder die mees oorspronklike formule (kyk Hand 19:1-5). Laat ek verduidelik:

Soos ek in die vorige artikel geargumenteer het word twee verskillende dope in die Nuwe Testament gevind.

  • Net voor en tydens die bediening van Jesus is mense gedoop binne die konteks van die Johannes-doop. Dit was die doop waartydens Johannes die doper mense opgeroep het tot bekering.
  • In dieselfde tyd en daarna het Jesus op die toneel verskyn, en sy dissipels het mense gedoop. Maar nou moet jy onthou dat Jesus toe nog nie opgestaan het nie, en daarom was die Gees nog nie uitgestort nie – juis om hierdie rede sal die dissipels nie gedoop het in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees nie.
  • Na Jesus uit die dood opgestaan het en hemel toe is, is die Heilige Gees uitgestort. Die dissipels het toe mense gedoop in die naam van Jesus wat in die naam van die Vader (en die werking van die Heilige Gees by implikasie ingesluit he).

Eers baie later in die vroeë kerk se geskiedenis is mense aan die hand van die vaste formule “Vader Seun en Gees” gedoop. Matteus 28:19 waar die formule voorkom, het na alle waarskynlik eers ontstaan in ongeveer 70 nC en Jesus is oorlede teen ongeveer 35/37nC. Dus, in die vroegste kerk (40-65) is mense oor die algemeen gedoop in die naam van Jesus wat eintlik by implikasie ook in die Naam van die Vader (en Gees) beteken het omdat Jesus en sy Vader een is. Mens moet dus nie dat dit jou ontstel nie. In die naam van Jesus het vir die antieke mense onlosmaaklik saamgehang met in die naam van die Vader (en die Gees) en dit eintlik geïmpliseer. [Miskien sal dit vir jou interessant wees om te verneem dat die drie-eenheidsleer nie in die tyd van die apostels geformuleer was nie maar eers baie later in die kerk se geskiedenis. Ons sal vra dat ‘n dogmatiese spesialis daaroor iets skryf]

Die teksgedeelte waarna jy verwys waar die apostels mense gedoop het in die naam van Jesus is nie ‘n vertaalfout of weglating nie. Dit staan so in die oorspronklike grondteks. Ons moet egter mooi verstaan dat in die naam van Jesus vir die vroegste kerk ook in die naam van die Vader geïmpliseer het. Die begrip in die naam van Jesus is gebruik om dit duidelik te onderskei van die doop van Johannes en van ander dergelike doop praktyke wat wel in die antieke tyd bestaan het.

Ek herinner jou weer aan die inhoud van die vorige artikel. Lees dit weer:

Oor die algemeen kan verder aanvaar word dat die Nuwe Testament ʼn eenheid siening het as dit kom by die Vader en die Seun en hulle verhouding. Iets wat in die naam van Jesus gebeur is by implikasie iets wat in die naam van die Vader gebeur. Die duidelikste voorbeeld van hierdie denkwyse vind ons in Johannes 5 vers 19: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.” Mens kan dus argumenteer dat iemand wat in naam van Jesus gedoop is by implikasie ook gedoop is in die Naam van die Vader (Kyk bv. Hand 10:48). In Handelinge (vgl. Hand 19:1-5) lees ons dat daar gedoop is in die naam van Johannes, maar met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees na Jesus se opstanding en hemelvaart is mense gedoop in die naam van Jesus:

En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.



[1] American Standard Version. 1995 (Eze 36:25–26). Oak Harbor, WA: Logos Research Systems, Inc.

[2] American Standard Version. 1995 (Le 16:14). Oak Harbor, WA: Logos Research Systems, Inc.

[3] American Standard Version. 1995 (Heb 10:19–22). Oak Harbor, WA: Logos Research Systems, Inc.

[4] American Standard Version. 1995 (1 Pe 1:2). Oak Harbor, WA: Logos Research Systems, Inc.

[5] Vol. 1: Theological dictionary of the New Testament. 1964- (G. Kittel, G. W. Bromiley & G. Friedrich, Ed.) (electronic ed.) (529–545). Grand Rapids, MI: Eerdmans.

[6] Vol. 1: Theological dictionary of the New Testament. 1964- (G. Kittel, G. W. Bromiley & G. Friedrich, Ed.) (electronic ed.) (529–545). Grand Rapids, MI: Eerdmans.

[7] Vol. 1: Theological dictionary of the New Testament. 1964- (G. Kittel, G. W. Bromiley & G. Friedrich, Ed.) (electronic ed.) (529–545). Grand Rapids, MI: Eerdmans.

[8] In die vervolging van die kerk en die edik van 303 moes alle Chirstelike boeke verbrand word en die kerke vernietig word. Sommige Christenleiers het die boeke oorhandig. Hulle is traditores genoem. Baie Christene was kwaad vir die leiers en het geëis dat hulle ontslaan word. Een so ’n traditor was Felix van Aptunga. Die Donatiste was van mening dat so ‘n persoon nie net uitgestoot moes word nie, maar dat die mense wat deur so ’n persoon gedoop is nie werklik gedoop is nie en oorgedoop moes word en dat Biskoppe en Priesters wat deur so iemand bevestig is afgesit moes word. Die traditores mag geensins enige sakramente bedien nie omdat hulle hulself buite die kerk geplaas het (vgl. McGrath 1997:463-464). Uiteindelik sou Augustinus biskop van Hippo word en ‘n leer ontwikkel wat beklemtoon dat die kerk uit sondige mense bestaan nie uit heiliges nie – die kerk is eerder ’n gemengde entiteit, ’n corpus permixtum wat bestaan uit heiliges en sondaars. Augustinus het gesê dat die Donatiste heeltemal verkeerd is omdat hulle die realiteit van die sondige aard en gemengde ligaam van die kerk ontken.

[9] Oor die kinderdoop – sien McGrath (1997:514-518). Barth meen dis onbybels, maak die genade van God goedkoop en Christelike lidmaatskap is die gevolg van gesosialiseerdheid omdat kinders gedoop word en Christene genoem word maar nooit self die keuse gemaak het nie. Bonhoeffer het ook gepraat van goedkoop genade. Barth sê dat die kinderdoop die verband tussen die doop en dissipelskap verbreek. As die doop ’n teken is wat ons geloof versterk, kan dit nie kinders se geloof versterk nie omdat hulle nie die keuse gemaak het nie. In die vroeë kerk het Cyprianus gesê dat die doop van kinders hulle sonde wegvat. Kinders wat nie gedoop is nie, kan ook nie hemel toe gaan nie. Agustinus het ook gesê dat babas wat nie gedoop is nie, hel toe gaan maar dat hulle nie so baie gestraf sal word soos mense wat lank geleef het en nooit gedoop is nie. Die Reformatore het aansienlik hiermee verskil en oorspronklike sonde en die feit dat die doop dit kan wegneem verwerp. Zwingli was ’n groot eksponent in die Reformasie wat oorspronklike sonde verwerp het. Zwingli het die doop beskou as voorsetting van die Besnydenis as teken van die feit dat die kind in die verbondsgemeenskap opgeneem is. Dit beteken egter nie dat die kind sondeloos gaan wees nie, maar dat die kind die verantwoordelikheid het om vokgens die wil van God te leef. In die 17de en 18de eeu het die Baptiste groot begin doop indien ’n persoon die tekens toon van bekering en nuwe lewe en hulle het die kinderdoop verwerp, op grond van ’n bepaalde verstaan van die doop en die stilswye van die Bybel rondom die saak. Van die begin af in die Christelike tradisie was daar ’n vraag of die doop ’n kousatiewe of  dekleratiewe aard het, maw, veroorsaak die doop die vergewing van sonde of verklaar dit dat die persoon vergewe is. Die grootdopers sê die volwassene moet dekleratief gedoop word as bewys van bekering, tewyl die Gereformeerdes ook dekleratief argumenteer maar sê dat die kind forensies as kind van God ‘n deel van die geloofsgemeenskap word, en dat dit ’n deklerasie van God se kant af is.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




NG Kerk en Pinkster Protestantse Kerk – Vraag

NG Kerk en Pinkster Protestantse Kerk – Francois Malan

‘n Leser vra:

My dogter is NG lidmaat. Haar man is PPK. Hulle verwag hulle eersteling. Kan hulle die baba in die NG kerk laat doop.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die baba kan in die NG Kerk gedoop word, maar wat sê die pa daarvan? Die PPK aanvaar nie die kinderdoop nie, maar verwag dat die dopeling eers sy/haar sonde moet bely en die Here Jesus Christus in die geloof moet ontvang voordat hy/sy gedoop kan word as ‘n belydenis van identifikasie met Christus. Die PPK se belydenis sê die volgende:

We believe that all who repent of their sin and receive the Lord Jesus Christ by faith are born again of the Holy Spirit and thereby become children of God.

With regards to submission to authority, we believe in the principle of being in authority because you are under authority.  As such, it is understood that membership shall be subject to submission to authority in matters pertaining to church governance, doctrine and personal behaviour. 

We believe that the one true church is the whole company of those who have been redeemed by Jesus Christ and regenerated by the Holy Spirit;  that the local church on earth should take its character from this concept of the Church spiritual and therefore, that the new birth and personal confession of Christ are essentials of church membership. 

We believe that the Lord Jesus Christ appointed two ordinances – Baptism in water and the Lord’s Supper to be observed as acts of obedience and as perpetual witnesses to the cardinal facts of the Christian faith,  that Baptism is the immersion of the believer in water as a confession of identification with Christ in burial and resurrection and that the Lord’s Supper is the partaking of the emblems symbolic of the Saviour’s broken body and shed blood, in remembrance of His sacrificial death, until he comes.

Die NG Kerk aanvaar ook die doop van groot mense, soos Jesus in Matteus 28:19-20 gesê het: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (leerlinge en volgelinge): doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

As jy na die nasies toe gaan, doop jy die mense wat in die Here Jesus begin glo, maar dit sluit volgens Handelinge 16:14,15 vir Lidia en haar huisgesin in, en volgens Handelinge 16:31-33 die tronkbewaarder van Filippi en sy huisgesin. Petrus verduidelik dit ook op die Pinksterdag in Handelinge 2:38-39: die mense moes hulle bekeer en hulle laat doop in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God hulle sondes vergewe, en hulle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.

Toe God vir Abraham uit die heidendom geroep het, en uit sy genade aan Hom verbind het, met sy verbond van liefde met Abraham en sy huisgesin, het God as teken van die verbond die besnydenis gegee. Elke seun onder hulle van agt dae oud moes besny word, selfs van die slawe in sy gesin, so sou sy verbondsteken aan hulle liggame wees as ‘n blywende verbond (Genesis 17:1-13). Toe Jesus uit die hemel kom mens word, het Hy ‘n nuwe verbond van genade met ons mense kom maak deur sy bloed wat vir baie mense vergiet is aan die kruis tot vergewing van sondes (Matteus 26:28; Markus 14:24; Lukas 22:20; 1 Korintiërs 11:29). Daarvan is die nagmaalsbeker die teken wat ons telkens aan sy dood herinner. Maar in plaas van die besnydenis net van die manlike geslag van agt dae oud, word ons, seuns en dogters, deur ons verbondenheid aan Jesus, ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat ons toe saam met Hom begrawe is. Deur ons verbondenheid aan Hom is ons ook saam met Hom opgewek tot ‘n nuwe lewe saam met Hom (vgl. Kolossense 2:9-12). In 1 Korintiërs 7:14 sê Paulus selfs dat die ongelowige man by God aanneemlik is deur die band met die gelowige vrou, en dat die ongelowige vrou by God aanneemlik is deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.

Die kardinale vraag is of die ouers van die kind in die Here Jesus glo; dat Hy as die Seun van God aan die kruis vir ons sondes gesterf het, en dat ons saam met Hom opstaan tot ‘n nuwe lewe, waarin God die Heilige Gees in ons woon, om ons tot dié geloof te lei en ons daagliks in ons lewe te lei en te ondersteun, sodat ons as kinders van God kan lewe (lees Romeine 8:1-17); en of die ouers hulle voor God en die gemeente verbind om die baba wat die Here vir hulle gegee het, as sý kind wat aan Hom behoort, groot te maak. Dit beteken dat hulle dié kind sal voorgaan deur hulle lewe, as self kinders van God, om deur hulle voorbeeld en deur hulle daaglikse onderrig van die kind in die Bybel en gebed, die kind in te lei in die lewe van ‘n kind van God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die Doop: Besprinkeling of onderdompeling

Geloofsvrae: Die Doop: Besprinkeling of onderdompeling – Adrio König

Besprinkeling of onderdompeling?

Die metode van doop is nie in die NT ook maar enigsins ‘n kwessie nie. Dit is dus goed dat die Gereformeerde tradisie beide besprinkeling én onderdompeling erken (vgl die klassieke doopsformulier), net soos ons beide vorme van doop erken (grootdoop en kinderdoop).

Dit is jammer dat sekere kerke van die metode van doop ‘n kwessie maak deur die besprinkeling te verwerp en aan te dring op onderdompeling. Hierdie kerke is egter oortuig dat hierdie doopmetode baie duidelik in die NT geleer word en dat die betekenis van die doop direk daarmee verband hou.

Daar is hoofsaaklik drie argumente ter ondersteuning van onderdompeling. Die eerste is dat die Griekse woord vir doop onderdompeling beteken. Dit is egter ‘n kwalike argument aangesien daar genoeg voorbeelde in die NT is waar dit nie die geval is nie (o.a. 1Kor 10:2; Mark 10:38ev; Heb 9:10 waar die reinigingsgebruike in die OT `dope’ genoem word en ons weet dit is deur besprinkeling gedoen; ook die volgende tekste in onderlinge samehang: Mat 23:25; Mark 7:4; Luk 11:39). Die argument dat die Griekse woord vir doop wel altyd onderdompeling beteken wanneer dit vir die waterdoop gebruik word, is natuurlik `begging the question,’ en vra nou spesifiek ons aandag.

Die tweede argument is dan inderdaad dat dit duidelik is dat die apostels die mense deur onderdompeling gedoop het. Die klassieke voorbeeld is die doop van die Etiopiër (Hand 8:38-39). Maar die probleem is dat beide die Etiopiër en Filippus `in die water in gaan’ en `uit die water kom.’ Is beide die gedoopte én die doper dan onderdompel? Nee. Die `in en uit gaan’ sê niks oor hoe gedoop is nie, net dat hulle in die rivier ingegaan het om te doop.

Omdat die meeste kerke vandag met ‘n paar druppels water besprinkel, meen sommige tog dat die blote feit dat hulle in die water ingegaan het, moet beteken dat hulle baie water wou hê omdat hulle onderdompel het. Hulle is oortuig dat onderdompeling verder ook bevestig word deur die feit dat die doop dikwels ‘n bad of ‘n wassing genoem word (1 Kor 6:11; Tit 3:5 OAV; Heb 10:22). As ‘n mens dan nog lees dat Johannes by Enon doop `waar daar baie water was’ (Joh 3:23), lyk dit of die saak besleg is.

Die probleem is dat hierdie oortuiging uitgaan van die standpunt dat die besprinkeling met min water gedoen word. En dit word gesteun deur die huidige praktyk van die kerke wat besprinkel. Maar dit was nie onder die vroeë Christene die gebruik nie. Dink maar net aan die bekende kliptekening uit die vroeë kerk waar Johannes vir Jesus doop deur ‘n klomp water oor Hom gooi terwyl albei in die water staan. En dink verder aan die OT waar reiniging deur besprinkeling plaasgevind het, en waar ons telkens lees van reiniging deur bad of was, terwyl ons weet daar was geen onderdompeling in die OT nie (Lev 14:7-9; 15:5-8; 16:14-19, 26-28; Num 19:4-20). Trouens was of bad beteken natuurlik nie om onder die water in te gaan nie. In Esegiël 16:4 word na die gebruik verwys om ‘n pasgebore baba te `bad.’ Maar niemand sal dink dat die baba onder die water ingedruk is nie. Bad is om in water te sit en dan die water oor jou te gooi. Dit is presies wat besprinkeling met baie water is. Dit is dus glad nie vreemd dat die vroeë Christene deur besprinkeling gedoop het en dat dit was of bad genoem word, en daar na `baie water’ verwys word nie (Joh 3:23). Waar sou die tekening anders vandaan kom van Jesus wat deur Johannes met baie water besprinkel word?

Die derde en groot argument ten gunste van onderdompeling is dat ons in die doop saam met Christus begrawe word en saam met Hom opstaan, en dat ons dus onder die water moet verdwyn en weer bo die water moet verskyn. Dis ‘n duidelike misverstand. Dit is volkome waar dat ons deur die doop saam met Christus begrawe word en saam met Hom opstaan, maar die waarheid is nog groter: ons word ook saam met Hom gekruisig en sterf saam met Hom (o.a. Rom 6:3,6; Gal 2:19-20). Hoe kan die doopmetode dit alles simbolies voorstel? Hoe sal ons dit in die doophandeling simbolies voorstel dat ons saam met Hom gekruisig word? En is dit nie belangriker as om saam met Hom begrawe te word nie? Is dit nie ‘n bietjie willekeurig dat juis die (onbelangriker) begrafnis bo die (belangriker) kruisiging gekies word as simbool nie?

Maar kom ons bly tog ‘n oomblik by Christus se begrafnis. Die doop is nie ons eie begrafnis nie, maar deur die doop word ons saam met Hom begrawe en opgewek (Rom 6), of ook anders gesê: ons kry deur die doop deel aan sy begrafnis en opstanding. Maar hoe is Hy begrawe en hoe het Hy opgestaan? Hy is tog nie vertikaal begrawe (in ‘n gat in die grond) nie, maar horisontaal in die grot ingedra. Aan hierdie begrafnis kry ons deel. Hoe kan dít simbolies deur onderdompeling voorgestel word?

Verder sou ‘n mens nog kon byvoeg dat die doop natuurlik ‘n oneindig ryker betekenis het as net ons vereniging met Christus. Wat van die ander sewe betekenisse? Hoekom moet net een betekenis simbolies voorgestel word deur die doopmetode, en geen van die ander nie? Trouens waar in die NT kom die gedagte voor dat die doopmetode simbolies die betekenis van die doop moet voorstel? En waar sou ‘n mens ‘n metode kon kry wat die verskeidenheid betekenisse van die doop sou kon simboliseer?

Dit kan min twyfel lei dat die vroeë Christene deur besprinkeling gedoop het. Daar word minstens twee keer in die NT verwys na `besprinkeling’ wat moeilik op iets anders as die doop betrekking kan hê (Heb 10:22 OAV; 1Pet 1:2).

Die verwysing in Heb 10:22 verdien verdere aandag. Die reiniging van die OT, wat deur besprinkeling gedoen is, word in Hebreërs met die Griekse woord vir `doop’ aangedui (9:10). Hierdie `doop’ word direk met die reiniging deur die bloed van Christus verbind (9:13ev; dit word herhaal in 9:15-28 en weer in 10:11). Die reiniging van die OT en die reiniging deur die bloed van Christus word dus direk aan mekaar verbind.

Wat verder opval, is dat die Hebreërbrief na die reiniging van die OT deur besprinkeling verwys (9:13,19,21; vgl Eks 24:8; Lev 14:14-16; Num 19) én na die reiniging deur die bloed van Christus deur besprinkeling (12:14), én na `die besprinkeling van ons harte’ wat tog seker nie na iets anders as die doop kan verwys nie (10:22).

Dit alles vorm die agtergrond om die opvallende verwysing in Joh 3:25 te verstaan. Direk nadat Johannes vermeld het dat Johannes die doper by Enon gedoop het, sê hy dat daar `tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood ‘n woordewisseling ontstaan het oor die reiniging.’  Daar is skynbaar net een sinvolle verklaring vir dié vreemde verband: Johannes se doop moes aan die reiniging van die OT herinner het – wat net kan beteken dat Johannes deur besprinkeling gedoop het.

Hierdie hele verduideliking oor die doopmetode sou heeltemal onnodig gewees het as dit nie was dat sekere kerke daarop staan dat doop deur onderdompeling moet plaasvind nie. In die NT is die metode van doop onbelangrik. En daar kan geen rede wees waarom ons vandag juis een van die bestaande metodes moet vereis nie – al is dit waar dat besprinkeling ‘n eeueoue reinigingstradisie in die Bybel is. Trouens daar kan selfs geen beswaar wees dat sekere Christene onderdompeling verkies omdat hulle daarin ‘n simbool wil sien van die einde van hul ou sondige lewe en die begin van hul lewe in Christus nie. Hulle moet net nie sê dit kom uit die Bybel en dit verpligtend vir alle Christene wil maak nie.

‘n Mens behoort selfs nog verder te gaan en te sê dat ons as Gereformeerdes ons eie klassieke doopsformulier ernstig moet neem en geleenthede moet skep waar onderdompeling gebruik word. Dit sal beklemtoon dat ons beide metodes erken. Verder sal dit ook iets bydra tot die groot behoefte aan meer liggaamlike betrokkenheid in die Gereformeerde spiritualiteit terwyl ons intussen in elk geval moet oorweeg om regtig te besprinkel soos Johannes vir Jesus, en nie net ‘n druppel water op iemand se kop te sit nie. Ons stem tog saam dat die NT van die doop praat in terme van `was’ en `bad.’

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die Kinderdoop

Geloofsvrae: Die Kinderdoop – Adrio König

Die kinderdoop

Dit is ‘n eeuoue vraag wat die vroeë Christene met hul kinders gedoen het. Daar is geen absolute duidelikheid in die NT nie. Daar is geen direkte verwysing na babas wat gedoop is nie, maar ook nie na kinders van gelowiges wat self eers moes glo voor hulle gedoop is nie. Daar is dus nie ‘n direkte beroep op die NT moontlik deur enige groep nie.

Indirek beroep die kerke wat teen die kinderdoop is, hulle op die sendingdoop: soos heidene wat tot geloof kom en dan gedoop word, moet ook kinders van gelowiges eers self tot geloof kom voor hulle gedoop word. Hierdie kerke doen dit nie regtig soos dit in die NT gedoen is nie. Dáár is heidene dadelik gedoop nadat hulle tot geloof gekom het, terwyl die kerke wat die kinderdoop verwerp, normaalweg lank met die doop wag nadat ‘n jong kindjie tot geloof gekom het.

Allerlei argumente word aangevoer soos dat die kind eers die doop goed moet verstaan, eers goed gevestig moet wees in die geloof, eers self moet vra om gedoop te word, en nog ander, waarvan nie een enige verband het met die wyse waarop daar in die NT gedoop is nie. Die feit dat die hoë betekenis van die doop in die NT verband hou met die feit dat hulle dadelik gedoop het, funksioneer ook nie. Die doop van kinders jare na hulle tot geloof gekom het, is dan nie meer ‘n doop soos ons dit in die NT kry nie (inlywing in die heilsgemeenskap), maar op die meeste ‘n doopviering of ‘n persoonlike getuienis van geloofsoorgawe (wat ongetwyfeld groot waarde het maar nie meer doop genoem kan word nie).

Kerke wat die kinderdoop aanvaar, bied verskillende gronde daarvoor aan waarvan die meeste min verband hou met die NT. Een van die redes waarom die doop so graag ‘n belofte en seël genoem word (al is daar min sprake hiervan in die NT), kan verband hê met die feit dat ‘n baba wel ‘n belofte en ‘n seël kan ontvang, al kan die kind nie self glo nie.

Daar is ‘n paar sake wat uit die betekenisse van die doop na vore gekom het, wat ons aandag vra as ons oor die kinderdoop nadink. Die eerste is dat die doop soos die besnydenis in die Abrahamverbond inlyf (Gal 3:26-29), die verbond wat Christus ook vir heidene oopgestel het deur sy kruisdood (Gal 3:14). Abraham is deur die geloof geregverdig (Gen 15:6; Gal 3:6), en daarom is hy die vader van alle gelowiges (Rom 4:16). God het van die begin af die Abrahamverbond bedoel as die genadeverbond waarin Hy alle nasies wou opneem (Gen 12:2).

Die doop het aanvanklik waarskynlik net die betekenis van vergifnis en reiniging gehad, maar gaandeweg het die ander betekenisse na vore gekom soos die inlywing: in die gemeente, in die dood en opstanding van Jesus, en in die verbond. Die doop as insluiting in die genadeverbond roep as vanself die vraag op na die kinders van die gelowiges omdat hulle altyd deel gehad het in die Abrahamverbond. Hierdie verbond sou van karakter moes verander as gelowiges se kinders nie langer saam met hul ouers daarin opgeneem kon word nie. Daarvan is geen getuienis in die NT nie.

Inteendeel. Daar is aanduidings dat die insluiting van kinders kon voortgegaan het. Daar is ‘n aantal gesinsdope, en alhoewel die nie seker is dat daar babas in hierdie gesinne was nie, is dit opvallend dat die terminologie wat gebruik word (dat iemand en sy/haar gesin gedoop word, Hand 10:47ev saam met 11:14; 16:15, 33; 18:8; 1 Kor 1:16), sterk herinner aan die insluiting van kinders in die OT. Hierdie verbondsterminologie is trouens reg van die begin af in Handelinge gebruik. Petrus verwys in sy Pinksterpreek na drie groepe. Hy sê die belofte van God (wat ‘n term vir die Abrahamverbond is, Hand 7:17; 13:32; 26:6; Rom 4:13-22) is `vir julle en vir julle kinders, en vir almal wat daar ver is’ (Hand 2:39). Hy verwys na drie groepe i.p.v. na die gewone tweedeling van die mensdom in Jode en heidene (Rom 1:16; 3:29; Ef 2:11,17). Dit is die bekende driedeling van die Abrahamverbond waarby die kinders van gelowiges van die begin af ingesluit was (Gen 12:2,3,7; Rom 4:11ev). Verder lê Petrus ook alreeds in hierdie vroeë stadium die verband tussen die Abrahamverbond en die Gees wat later deur Paulus ontwikkel word (Gal 3:14; 4:28-29; indirek ook 3:5-6).

Die bewyslas lê dus by diegene wat ontken dat kinders van gelowiges ook in die NT kragtens hulle ouers se geloof in die Abrahamverbond ingesluit is. Terloops moet ‘n mens net daarop let dat die argument dat daar nie babas in die gesinne wat gedoop is, ingesluit kon gewees het nie omdat daar ook dinge oor dié gesinne gesê word wat nie van babas geld nie, ‘n misverstand is oor hoe taal werk.

As ‘n mens aanvaar dat die kinderdoop van die begin af in die kerk gegeld het, is dit natuurlik ‘n vraag hoe dit moontlik is dat die volle betekenis van die doop vir babas kan geld. Hoe kan babas se sonde vergewe word en hoe kan hulle in die dood en opstanding van Christus ingelyf word? Dit is egter nie ‘n probleem waarvoor die Abrahamverbond eers in die NT te staan kom nie. Dit is ‘n probleem reg van die begin af. Die besnydenis was ‘n seël wat bewys dat God vir Abraham vrygespreek het omdat hy geglo het (Rom 4:11). Hierdie geestelike betekenis is goed aan die profete bekend want volgens hulle eis die besnydenis dat ‘n mens se hart, lippe, ore besny moet wees, dus dat ‘n mens ‘n nuwe lewe moet lei. Hoe kon die babas dan in die OT besny word?

Wat die antwoord ookal is, en al sou ons geen goeie antwoord daarop vind nie, maak dit nog nie kinderdoop ongeldig nie omdat dit ook kinderbesnydenis in dieselfde verbond in die OT ongeldig sou maak.

Die profete het dit skynbaar só verstaan dat hulle agterna die besnedenes kon oproep om die volle betekenis van die besnydenis (‘n nuwe lewe) in hul lewe waar te maak. Presies daartoe roep die apostels ook die gelowiges in die NT op. Hulle word ná hul doop geleer om diens te weier aan die sonde en hul lewe volkome aan God te wy omdat hulle deur hul doop met die dood en die opstanding van Christus verenig is (Rom 6; Kol 2-3). Dit klop ook met die feit dat mense dadelik gedoop is, voordat hulle ook maar enigsins die volle, ryk betekenis van hul doop kon verstaan (Hand 16:29-34!), omdat gedooptes agterna die betekenis aan die doop geleer het in die gewone gang van die gemeentelewe. Babas kan ook eers gedoop word, soos hulle in die OT besny is, en dan agterna die betekenis van die doop leer en in hul lewe waarmaak. Omdat God in die doop handel, en dit nie ons getuienis of belydenis is nie, kan Hy die volle betekenis van die doop in die gedoopte realiseer al verstaan die gedoopte dit nog nie, en ons kan dan agterna leer wat dit beteken en dit toepas.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König