Doopgebruike

Doopgebruike – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ons wil graag uitvind wat is die regte formulier van die doop –  by voorbeeld wie moet die kleintjie in bring en wat is die rol van die peet ouers ten tye van die diens. Ons hou `n privaat diens met vriende en familie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is nie ʼn vaste formulier vir die doop nie en die gebruike rondom die doop is ook meer kerk en tradisie gebonde. Dit sien ʼn mens as jy na die verskillende maniere kyk waarop verskillende kerke oor die hele wêreld doop. Net ʼn paar opmerkings:

 

a)      Die lang formulier wat gewoonlik in kerke gelees word se doel is om seker te maak die mense weet waaroor die doop gaan.

b)      Die doop is ʼn gemeenskapsgebeurtenis, met ander woorde, dit word tussen medegelowiges in die gemeente gedoen. Dit beteken nie dat julle nie privaat saam met ʼn groepie gelowiges dit kan doen nie, want so ʼn versameling van gelowiges word in die Nuwe Testament ook ʼn gemeente genoem. Die belangrike is dat die kind nie alleen deur die ouers nie, maar ook deur die mede-gelowiges geestelik versorg moet word. Daarom is die gemeente betrokke.

c)       Die ouers lê namens die kind en voor die kind ʼn belofte af as julle ʼn baba doop. Die ouers beloof dat hulle die kind sal grootmaak binne die riglyne wat God gee, sodat as die kind groot is, hy of sy eintlik niemand anders sal wil dien as God nie.

d)      Die inbring van die kindjie is net ʼn tradisie en nie ʼn Bybelse voorskrif nie. Julle kan doen wat julle voel die beste is.

e)      Peetouers kom uit die verlede uit toe daar gereël moes word wie na die kind kyk as die ouers doodgaan. Die hedendaagse wêreld het egter so baie verander dat pleegouers eintlik nie meer nodig is nie. Dit word gewoonlik via testamente of so iets gereël. Peetouers is deesdae meer ʼn simbool as iets anders. Daar is egter kulture waarin die peetouers nog ʼn belangrike rol speel, maar sover ek weet is dit nie meer so in die Afrikaanse kultuur nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Groot- of klein doop? – Vraag

Groot- of klein doop? – Jan van der Watt

Estelle vra:

Ek en my man was deel van ʼn so te sê AGS kerk. Ons altwee was groot gedoop. Ek was eers NG (so klein gedoop). Na my seun se geboorte het ons maar selde kerk toe gegaan, want dit was so bietjie moeilik met hom. Hy is nog nie gedoop nie. Ons is geleer dat wanneer jy verstaan wat dit beteken is om gedoop te word dan kan jy gedoop word. Ek voel baie skuldig dat my kind nog nie gedoop is nie. My man bly vir my se ek moet nie want hy is nog te jonk om ter verstaan. Ons kan nou die geleentheid kry om hom te doop. My man bly staan dat hy nie gedoop moet word nie. Wat is die regte opsie. Ek worry verskriklik oor dit.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons kan ongelukkig nie vir jou sê wat jy moet doen nie, maar hopelik help die volgende inligting so bietjie sodat jy jou besluit met meer vertroue kan neem. Kyk ook weer na die artikels oor die doop op www.bybelkennis.co.za Daar is heelwat inligting. In die lig daarvan gaan ek die volgende byvoeg en weer onderstreep.

Daar is verskillende opvattings onder Christene oor wat die doop presies is.

a)      Die Rooms-Katolieke en Ortodokse Kerk sien die doop as iets wat redding bring. As jy gedoop is, kan jy weet jy is gered. As jy gebore word, is jy soos ‘n half vol glas van God se genade. Die doop maak die glas vol van God se genade en dan is jy gered. As jy dus nie gedoop is  nie, mag dit wees dat jy nie gered is nie.

b)      Luther en die Protestante het hierteen gereageer en gesê redding kom alleen deur geloof en nie deur die doop nie. Hulle moes toe sê wat die funksie van die doop is. As sakrament het hulle dit as ‘teken’ van die verhouding tussen God en mens beskryf. Die doop doen self dus nie soveel nie, maar is net die teken van dit wat tussen die persoon en God gebeur het. Daarom sê die Protestante dat as jy nie gedoop is nie, jy nie noodwendig verlore sal gaan nie, want dit is nie die doop wat jou red nie, maar God deur jou geloof in Jesus.

Die debat het egter verder gegaan in die tyd van die Reformasie en daarna. Die opinies het toe so uitmekaar geloop:

a)      Die gebruik in die kerk tot op daardie stadium was om kinders ook te doop, maar daar was reaksie daarteen. Sommige mense het gesê dat in die Bybel lees ons nie van die doop van kinders nie – net van die doop van mense wat tot bekering gekom het. Dit beteken dat die persoon moes kon verstaan wat dit beteken om Jesus in geloof aan te neem. Dit het bekend geword as die sogenaamde bekeringsdoop.

b)      Daarteenoor het die standpunt in die hoofstroom Protestantse kerke ontwikkel dat kinders gedoop kan word, maar as mens as kind nie gedoop is nie, jy ook gedoop kan word as jy tot bekering kom. As jy egter as kind gedoop is en later voel jy het nou werklik jou lewe (weer of vir die eerste keer) vir God gegee, hoef jy jou nie weer te laat doop nie, want jou eerste doop bly nog geldig. Dit hang dus af van jou situasie.

In bogenoemde lig moet die vraag nou beoordeel word. Die volgende kan ‘n mens dus sê:

a)      As jou kind nie gedoop is nie, beteken dit nie dat hy of sy verlore sal gaan nie.

b)      Kinders word gedoop omdat die ouers kinders van God is. Eenvoudig gestel: as jy ‘n kind van God is, leef jy in die familie van God. Jy is syne. As Hy vir jou ‘n kind gee, beteken dit nie dat God die kind nou as vreemdeling beskou en uit sy familie gooi nie. Nee, God hou sy hand ook uit na die kind. Op grond daarvan dat jy deel van God se familie is, is jou kind wat Hy vir jou gegee het ook deel. Daarom moet die ouers die belofte namens hulle kind aflê – hulle bely hulle is deel van God se familie en dat die kind binne die raamwerk van die familie grootgemaak gaan word. Hulle gaan alles in hulle vermoë doen om die kind so groot te maak dat hy of sy, soos hy of sy verstand kry, net een ding sal wil doen en dit is om ook as gehoorsame kind in God se familie te woon en te lewe. Om te sê dat die kind so binne die familie groot word veronderstel nog dat hy soos hy groter word ‘n lewendige verhouding met God moet ontwikkel – dit is die veronderstelling. Die doop is in hierdie geval die teken dat God vir die kind sê dat hy welkom is in sy familie, mits die kind natuurlik ook van sy kant af deel van die familie sal wees.

c)       As die kind egter grootword en nie so ʼn lewende verhouding met God ontwikkel nie en nooit regtig op God se liefde reageer nie en uiteindelik soos die verlore seun (Lukas 15) van God af wegloop, beteken dit dat die kind weg van God se gawes en huis gaan lewe. Daar in die vreemde land gaan hy sterf. Hierdie gedagte is algemeen in die Ou Testament – God gee aan sy volk beloftes, maar as hulle dit nie nakom nie, straf God hulle byvoorbeeld deur hulle buite die beloofde land te laat sterf.

d)      Dus: dit maak baie sin binne die Christelike teologiese tradisie om kinders te laat doop en daarom is dit ook deur al die eeue gedoen. Dit word egter nie eksklusief gesien nie (maw – dat jy nie groot gedoop mag word nie. As jy nie as kind gedoop is nie, kan jy dit ook doen as jy groot is).

e)      Die doop is dus nie reddend nie, maar wil iets duidelik sê: dit is ‘n sogenaamde ‘oorgangsrite’ – met ander woorde, dit wil sê dat iemand van een plek na ‘n ander oorgegaan het. Dit wil vir almal sê in watter familie jy woon. Dit het dus byna dieselfde funksie as ‘n trouring – dit wil jou status (as iemand wat in die familie van God deel) aandui.

Daar kom egter iets anders by: wat nou as daar onmin in die familie is oor die doop van ‘n kind? In die Bybelse tradisie het dit dikwels gebeur dat twee ‘beginsels’ bots, byvoorbeeld, of iemand besny moet word op die sabbat of nie. Hier bots die Sabbatsgebod en die gebod om besny te word. Of as die kalf in die put val op die Sabbat – moet die kalf gered word (die wet om lewe te beskerm) of moet die Sabbat gehou word (die Sabbatswet)? As gebooie so bots, word die gebod wat lewe bewaar elke keer voorrang gegee. Met ander woorde, ‘n mens moet vra: wat gaan mense en myself die minste seermaak en skade berokken? So kies mens vir die lewe. Konkreet sou dit dus beteken dat mens nie jou verhouding met jou eggenoot moet opoffer ter wille van die doop nie. Doop is ‘n teken en jou kind sal daarsonder nog gered wees – as jy jou huwelik daarvoor opoffer of selfs net spanning in jou huwelik daaroor aanblaas, verloor jy ‘n stuk van die lewe wat God vir jou gegee het.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Doop met die Heilige Gees

Doop met die Heilige Gees – Jan van der Watt

Frans Steenkamp vra:

Is daar iets soos doop met die Heilige Gees waarvoor ek moet bid en daarvoor vra?  En dan sal ek daarna ongewone tale of klanke gebruik wat die sigbare teken sal wees dat ek gedoop is met die Heilige Gees?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar bestaan heelwat opinies oor wat die doop met die Gees is. Veral in sommige Charismatiese kringe het die begrip ‘doop met die Gees’ ʼn spesiale betekenis aangeneem. Dit word deur sommige verstaan dat die Gees so spesiaal op jou kom.

In die Bybel is daar heelwat verskillende maniere waarop daar gepraat word oor hoe die verhouding met die Gees verstaan moet word. ʼn Paar riglyne sal miskien help om verder oor die saak te dink.

In Johannes beteken die doop met die Gees eenvoudig dat die Gees aan Christene gegee word. In Johannes 1:33 word daar gesê dat Jesus met die Gees gaan doop. Dit gebeur dan ook in Johannes 20:22 waar Jesus aan sy dissipels die Gees gee (lees ook Johannes 7:38-39). Van toe af het die gelowiges die Gees by hulle gehad (Johannes 16:7). Elkeen wat gelowig word, het dus die Gees van God. Paulus stem hiermee saam as hy gelowiges die tempel van God noem (1 Korintiërs 3:16 en 6:19). ʼn Tempel is die huis van God wat beteken dat Hy daar bly. Elke Christen het dus die Heilige Gees in hom of haar – dit is wat Paulus ook bedoel in 1 Korintiërs 2:1-5. Doodgewoon om Christen te wees beteken dat die Gees in jou gewerk het en jou nuut gemaak het. Johannes noem dit die wedergeboorte (Johannes 3:1-5).

Daar is egter mense wat meen dat die Gees spesiaal op jou kom (nog ekstra bo en behalwe wat hierbo genoem is) en dat dit gepaard gaan met spesiale ervarings. Dit sou dan ook jou spesiale posisie as gelowige bewys.

Eers moet gesê word dat ʼn mens natuurlik spesiale ervarings van die Gees kan hê. Daarvan is die Bybel vol. MAAR, hoe moet ʼn mens dit sien. Is dit ʼn ‘ekstra doop’? Die ekstra ervarings moet eerder vergelyk word met ʼn huweliksverhouding. Jou verhouding met jou man of vrou is nie altyd dieselfde nie. Soms gaan dit beter en soms slegter. Daar is tye wat julle baie naby aan mekaar voel en soms ver van mekaar af. Die wisseling in gevoelens beteken egter nie dat die huwelik soms ophou en dan weer moet begin nie. Die huwelik is altyd daar, maar die ervaring daarvan wissel soms. So is dit ook met die verhouding met die Gees. Soms voel ʼn mens baie na aan Hom en oorweldig emosies en ander dinge jou. Soms voel jy ver van Hom af. Dit beteken egter nie dat jou verhouding met die Gees soms ophou nie. Wat wel gebeur as dat die verhouding soms afkoel en soms opwel.

Nou: as mens die doop met die Gees sien as iets wat gebeur omdat die verhouding met God nie daar was nie en nou daar is, is dit reg. Maar as mens die Gees eenmaal het, staan jy in ʼn verhouding met hom (al wissel die verhouding). Dan hoef jy, by wyse van spreke, nie weer te ‘trou’ nie, met ander woorde, die Gees van voor af te kry nie.

As ʼn gelowige dus die Gees het, het hy of sy die Gees. As jy dan binne jou tradisie die oomblikke wat jy naby die Here voel ‘doop met die Gees’ wil noem, sonder om daarmee te kenne te gee dat jy nou eers die Gees kry, kan ʼn mens dit seker so noem, maar dan moet mens seker wees wat jy bedoel. ʼn Mens moet egter waak teen die gedagte dat die Heilige Gees soos water in ʼn glas in jou ingegooi word en dan weer verdamp tot ʼn volgende keer. So werk geen verhouding nie, ook nie die verhouding met die Gees nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Doop – Vraag

Die Doop – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ek sit gereeld in ander kerke as die NG Kerk vanweë my belangstelling in die ekumene, en hoor mooi goed, maar ook goed wat ek wonder waar hulle dit vandaan kry! ‘n Kort vraag hieroor: In n preek in ‘n AGS verwante gemeente hoor ek ‘n doop preek wat probeer motiveer waarom die inseëning daar is (waar ouers babas inbring om in die kerk ingeseën te word , in plaas van om gedoop te word), en waarom die groot bekeringsdoop daar is. Dit word soos volg gemotiveer: Jy is aan die begin nie ‘n volwaardige kind nie (nepios) [maar kan darem ingeseën word] en word met die bekeringsdoop nou ‘n volwaardige kind (huios). Die ondersteunende argumente klink soos volg: Ek haal aan: ” Wat gebeur by die doop? Jy neem jou erfenis in besit en beklee jou met die nuwe identiteit (Jy word nou aangeneem as volwaardige Seun “Huios” en is nie meer net ʼn kind “Nepios” nie). Al was jy ʼn erfgenaam van die Nuwe Testament (met ander woorde na Jesus se dood), kan jy met die doop eers ten volle jou erfenis ontvang en gebruik. Net so is Jesus se bediening op aarde eers geloods na hy gedoop is. God het oor Jesus uitgeroep: “Dit is my geliefde Seun (huios).” Galasiërs sê ook dat ‘n kind verskil niks van ʼn dienskneg totdat hy sy erfenis opgeneem het nie. Hierna daag die duiwel juis vir Jesus uit oor sy Seunskap: “As jy dan die Seun (huios) van God is. Galasiërs 3: 24 “But now that the faith has come, we are no longer under a trainer (the guardian of our childhood). For in Christ Jesus you are all sons of God through faith. For as many of you as were baptized into Christ have put on and clothed yourself with Christ. (Beklee jouself met Christus – nuwe identiteit) There is now no distinction, neither Jew nor Greek, there is neither slave nor free, there is not male nor female, for you are all one in Christ Jesus.

Vraag 1: Ek hoor graag julle reaksie op die nepios/huios interpretasie – kinders nog nie volwaardig deel van die gesin nie. Ek kan nie herroep of daar êrens in die kerkgeskiedenis hierdie koppeling van doopteologie gekoppel aan Joodse inlywing tot mondigwording is nie. Is dit nuut of is dit al ‘n ou gedagte?

2. Skryf asseblief  n’ artikel oor die gebruik van inseëning in sekere Pinksterkerke – in plaas van doop. Is dit ‘n nuwe ding of is daar ander voorbeelde in die kerkgeskiedenis? Het dit ontstaan uit die sielkundige behoefte van baie NG mense wat na Pinksterkerke toe oorgegaan het en op ‘n manier gewoond was om hulle kinders te betrek deur die doop? Of uit die debat oor die doop dat mense iets van die polariteit begin verstaan dat jy nie buite die huisgesin van God staan en eers ingesluit word as jy eendag tot bekering kom en jou dan laat doop nie? Is dit ‘n kunsgreep om die polariteit te verklaar met die nepios/huios interpretasie?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is natuurlik ʼn moeilike vraag. Die eerste Protestantse martelaar wat deur ander Protestante vir sy geloof doodgemaak is, was iemand wat die groot doop aangehang het. Dit is dus ʼn baie emosionele saak. Ek antwoord net in breë lyne, want daar is reeds heelwat inligting oor die doop op www.bybelkennis.co.za .

Die onderskeid tussen die kinders (uios/nepios) is kunsmatig. As dit gaan oor kind van God of nie, gaan dit nie oor kleiner of groter kinders nie. Jy is of kind van God of nie. Die verwysing na kleiner kinders gaan gewoonlik oor geestelike groei en ʼn ouer persoon kan dus ook kleiner wees as hy agter is in sy spiritualiteit. Die ontvang van die erfnis gebeur ook eers later en lê dus nog in die toekoms (byvoorbeeld 1 Petrus 1:4). Om te sê jy kry jou erfnis by die doop is nie korrek nie. Die voorbeelde wat  jy noem is ook tipies van dogmatiese lees van tekste, naamlik om verskillende aspekte van die Bybel saam te voeg ten einde ʼn argument te vorm. As sodanig is die nie verkeerd nie, maar daar moet erken word dat dit eie dogmatiese konstrukte is. Die belangrike is dan hoe daar getoets moet word of dit geldig is of nie: as die kontekste van die gedeeltes wat gemeng word nie almal verband hou met die doop nie, dan het ʼn mens gewoonlik ʼn probleem.

Wat die gedagte van inseën betref. Dit is nie ʼn Bybelse saak nie, maar ʼn dogmatiese konstrukt (Uit gegewens, reëls aflei – HAT). Dit moet as sodanig hanteer word. Dit beteken nie dat dit sonde is of verkeerd is om jou kind in te seën nie. Ons het baie gebruike wat later ontwikkel het en nie noodwendig so uit die Bybel kom nie. Dit maak dit nie verkeerd nie, want daar is baie ander sulke dinge in omloop onder gelowiges wat tot die welwese van die kerk behoort. As dit dus vir gelowiges iets beteken, waarom dit dan probeer wegvat? Ons moet net nie die ideë laat onstaan dat ons hier met die Bybelse wese van die kerk besig is nie.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt