Was Jesus volkome mens voor sy doop?

Was Jesus volkome mens voor sy doop? – Jan van der Watt

Die volgende stelling is gemaak: Jesus het slegs as volkome mens na die aarde toe gekom. Hy was nie in staat om wonderwerke te kon doen, alvorens Hy nie gedoop is nie. Met Sy doop het die Heilige Gees Hom bekragtig en daarna kon Jesus eers wonderwerke doen. My vraag is : Hoe bekragtig God Homself? Is hierdie soort stelling nie lynreg teen wat ons glo en spesifiek dan ook in teenstelling met die Kerk se belydenis nie?

Antwoord:

Jesus se doop speel ‘n belangrike rol in sy lewe. Dit dui die beginpunt van sy openbare bediening aan en daar word verder gesê dat die Gees toe op hom neergedaal het soos ‘n duif (Matteus 3:16; Johannes 1:32). Van toe af het Hy begin om te preek en wonders te doen. Voor die tyd (en dit was ongeveer 30 jaar) het Jesus geen wonders gedoen wat ons van weet nie. Die vraag is nou of Jesus wonders kon doen voor die tyd en of hy maar net ‘n gewone mens was tot met sy doop?

Daar was groepe (die Gnostici) wat van die tweede eeu na Christus af beweer het dat Jesus ‘n gewone mens was tot met sy doop, toe die Gees gekry het (wat Hom Christus gemaak het) en met sy kruisiging weer teug verander het na die gewone mens Jesus toe Hy die ‘Gees gegee het’. Die standpunt is egter deur die vroeë kerk as dwaalleer verwerp. Jesus het nie eers geword wat Hy was toe die Gees met sy doop op Hom gekom het nie. Hy was dit vir altyd. In Johannes 1 word hy God genoem, selfs voor die skepping. Hy ‘word’ dit nie eers later nie.

Maar wat dan nou van die Gees met Jesus se doop? Soos met die ou profete en konings het hulle openbare bediening begin met die ‘salwing van die Gees’. Dit was die teken dat God spesiaal by hulle is. In Jesus se geval word daar met die doop bevestig dat God met Jesus is en dat dit wat Hy doen deel van die werk van God se Gees is.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Moet ek my weer laat doop?

Moet ek my weer laat doop? – Jan van der Watt

Vraag:

Is as kind gedoop, groot geword in “Christelike ” huis, het afgedwaal, maar in Sy groot genade het die Vader my weer vergewe. Ek het nou lewende en groeiende verhouding met my Verlosser. Ek word nou gekonfronteer(in positiewe sin) dat ek my moet laat doop, ek het ook die begeerte in my hart! Waarom laat mens jou weer doop! Moet ek?

Antwoord:

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Elders op die webblad word die doop bespreek – ek gaan nie weer alles herhaal wat daar staan nie. Kom ons kyk egter net na wat gebeur as mens afdwaal en weer terugkom.

A)     Die doop is ‘n sigbare gebruik wat wil sê dat ‘n mens van een familie na ‘n ander oorgegaan het. Jy behoort nie meer aan die duiwel se familie nie, maar is ‘n kind van God. Klein kinders word gedoop omdat hulle ouers deel van die familie van God is. God vat nie ‘n kind van sy kinders en gooi hom of haar uit die familie om daar buite in die duisternis groot te word en wag dan tot die kind daar buite in die duisternis die insig ontwikkel om na God toe te kom nie. Nee, God gee die kind van sy kinders die kans om in die familie groot te word, met ouers wat hom of haar moet leer hoe om te leef soos ‘n kind van die familie. Daarom lê die ouers ook ‘n belofte af met die doop. Hulle moet hulle kind grootmaak soos ‘n kind van God.

B)      Wat gebeur as so kind afdwaal? Die beste voorbeeld is die verlore seun (Lukas 15). Daar sien ons presies hoe dit werk. Die jongste seun was deel van die familie. Hy draai toe sy rug op die familie. Daar in die vreemde land het hy nie meer al die voorregte wat ‘n kind het nie en sy pa sorg nie meer vir hom nie. As hy daar sou doodgaan, sou hy weg van sy pa af doodgegaan het. Dit is so as iemand van God af wegdraai. Dit is sy keuse en hy of sy moet die gevolge van die keuse dra.

C)      Die seun besluit om weer terug te draai na sy pa toe. Toe hy by die huis aankom, laat sy pa hom nie weer van voor af aanneem nie. Hy hoef nie vorms in te vul of iets spesiaals te doen nie. Sy pa ontvang hom met oop arms, omdat hy ‘n genadige en liefdevolle pa is. So is dit met iemand wat weer terugkeer na sy geestelike familie toe. Hy hoef nie weer van voor af te begin of van voor af kind te word nie. Hy hoef nie weer gedoop te word nie. Sy bestaande kindskap word deur die oop arms van God bevestig. As hy nie teruggekom het nie, sou hy nooit die oop arms van sy Vader leer ken het nie.

D)   Daar word wel ‘n groot fees gehou met die terugkeer, maar dit is nie ‘n inlywingsritus soos die doop nie. Dit is ‘n vreugdefees. Daar is dus niks verkeerd om jou kindskap en ook jou terugdraai na God te vier nie. Maar jy hoef nie weer van voor af te begin of gedoop te word nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Om net te doop in die Naam van Jesus?

Om net te doop in die Naam van Jesus? – Kobus Kok

Jan Smith vra na aanleiding van sy vorige vraag: “Hoekom moes Jesus gedoop word?” ʼn verdere vraag:

Word doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees vervang deur doop slegs in die Naam van die Here Jesus. Is dit maar net ‘n vertalingsoorsig? Dit lyk so of die Vader en Heilige Gees uitgesluit word en indien so wonder oor welke rede Petrus en Paulus so doen?

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Myns insiens moet ons nie van die voorveronderstelling uitgaan dat die doop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees in Handelinge vervang word met die doop in die naam van Jesus nie. Laasgenoemde, “die doop in die naam van Jesus”, was eerder die mees oorspronklike wyse waarop daar in die vroegste tye gedoop is. Dit is ook in die moderne vertalings nie ʼn weglating van “Vader” en “Heilige Gees” nie en dus nie ‘n vertalingsoorsig nie! (kyk Handelinge 19:1-5). Die formule “Vader, Seun en Heilige Gees” is eerder ‘n latere byvoeging as wat “in die naam van Jesus” ‘n weglating van “Vader, Seun en Gees” behels. In kort: Die doop in die naam van Jesus was eerder die mees oorspronklike formule (kyk Handelinge 19:1-5). Laat ek verduidelik:

Soos ek in die vorige artikel geargumenteer het word twee verskillende dope in die Nuwe Testament gevind.

  • Net voor en tydens die bediening van Jesus is mense gedoop binne die konteks van die Johannes-doop. Dit was die doop waartydens Johannes die Doper mense opgeroep het tot bekering.
  • In dieselfde tyd en daarna het Jesus op die toneel verskyn, en sy dissipels het mense gedoop. Maar nou moet jy onthou dat Jesus toe nog nie opgestaan het nie, en daarom was die Gees nog nie uitgestort nie – juis om hierdie rede sal die dissipels nie gedoop het in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees nie.
  • Na Jesus uit die dood opgestaan het en hemel toe is, is die Heilige Gees uitgestort. Die dissipels het toe mense gedoop in die naam van Jesus wat in die naam van die Vader (en die werking van die Heilige Gees by implikasie ingesluit het).

Eers baie later in die vroeë kerk se geskiedenis is mense aan die hand van die vaste formule “Vader Seun en Gees” gedoop. Matteus 28:19, waar die formule voorkom, het na alle waarskynlik eers ontstaan in ongeveer 70 nC en Jesus is oorlede teen ongeveer 35/37nC. Dus, in die vroegste kerk (40-65) is mense oor die algemeen gedoop in die naam van Jesus wat eintlik by implikasie ook in die Naam van die Vader (en Gees) beteken het omdat Jesus en sy Vader een is. Mens moet dus nie dat dit jou ontstel nie. In die naam van Jesus het vir die antieke mense onlosmaaklik saamgehang met in die naam van die Vader (en die Gees) en dit eintlik geïmpliseer. [Miskien sal dit vir jou interessant wees om te verneem dat die drie-eenheidsleer nie in die tyd van die apostels geformuleer was nie maar eers baie later in die kerk se geskiedenis. Ons sal vra dat ‘n dogmatiese spesialis daaroor iets skryf]

Die teksgedeelte waarna jy verwys waar die apostels mense gedoop het in die naam van Jesus is nie ‘n vertaalfout of weglating nie. Dit staan so in die oorspronklike grondteks. Ons moet egter mooi verstaan dat in die naam van Jesus vir die vroegste kerk ook in die naam van die Vader geïmpliseer het. Die begrip in die naam van Jesus is gebruik om dit duidelik te onderskei van die doop van Johannes en van ander dergelike doop praktyke wat wel in die antieke tyd bestaan het.

Ek herinner jou weer aan die inhoud van die vorige artikel. Lees dit weer:

Oor die algemeen kan verder aanvaar word dat die Nuwe Testament ʼn eenheidsiening het as dit kom by die Vader en die Seun en hulle verhouding. Iets wat in die naam van Jesus gebeur is by implikasie iets wat in die naam van die Vader gebeur. Die duidelikste voorbeeld van hierdie denkwyse vind ons in Johannes 5 vers 19: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.” Mens kan dus argumenteer dat iemand wat in naam van Jesus gedoop is by implikasie ook gedoop is in die Naam van die Vader (Kyk bv. Handelinge 10:48). In Handelinge (vgl. Handelinge 19:1-5) lees ons dat daar gedoop is in die naam van Johannes, maar met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees na Jesus se opstanding en hemelvaart is mense gedoop in die naam van Jesus:

En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ʼn Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Outeur: Dr. Kobus Kok

 




Ontvang mens nie die Gees as jy nie gedoop word nie?

Ontvang mens nie die Gees as jy nie gedoop word nie? – Kobus Kok

Dorette Kruger vra:

Wat word bedoel in Handelinge 2:38 waar gesê word jy moet jou bekeer en laat doop (in die naam van Jesus Christus) en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang? Beteken dit as jy jou nie laat doop nie, jy nie die Heilige Gees ontvang nie? Ek het verstaan dat as jy jou bekeer, jy outomaties die Heilige Gees ontvang, maar is nou glad nie seker nie. Nog ‘n vraag: wat is die verskil tussen die ‘Johannes Doop’ (afwas van sonde/reddingsdoop), Jesus se doop in ‘Naam van Vader, Seun en Heilige Gees’ en laastens die doop in ‘Naam van Jesus Christus’? Ek het gedog daar is net twee naamlik die eerste twee?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

In Handelinge 2:38 lees ons “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Hier is dit duidelik dat dit in die konteks van bekering en in die konteks van tot die geloof kom plaasvind. Dus, die verband tussen tot geloof kom en die ontvangs van die Gees word nie hier uitgesluit nie maar juis veronderstel. Die bedoeling van die teks is ook nie om ʼn resep te gee dat jy eers tot geloof kom en dan gedoop moet word en dan eers die Gees sal ontvang nie. Dit sou van die doop iets maak wat dit nie bedoel was om te wees nie. As die ontvangs van die Gees gekoppel sou word aan die handeling van die doop per se, beteken dit dat die ontvangs van die Gees nie moontlik sal wees sonder die handeling van die doop nie. Dit beteken dus dat die doop nie meer net ʼn teken sal wees wat heenwys na die feit dat iemand tot bekering gekom het nie, maar dat die doop as teken self een of ander magiese oordrag van die Gees tot gevolg het. Myns insiens werk die Bybel glad nie met hierdie beeld nie. In die Bybel is die doop ʼn teken wat heenwys na iets wat reeds gebeur het, naamlik dat iemand van die dood na die lewe oorbeweeg het (vgl. Johannes 5:24) en dat dit die teken en seël daarvan is.

In die Bybel self sien ons byvoorbeeld ook die interessante verskynsel dat dit wel gebeur het dat mense tot bekering kom, die Gees ontvang en dan later eers gedoop word. Dit beteken dus dat die ontvangs van die Gees nie afhanklik van die doop is nie, maar dat die ontvangs van die Gees ʼn resultaat of sigbare teken is van die geloof. Vat maar net Paulus se eie bekering. Toe God hom op die Damaskus pad ontmoet en hy drie dae blind gemaak is (sien Handelinge 9), het hy uiteindelik tot bekering gekom, omdat God se Gees hom laat glo het en hy Christus aanvaar het. Kort nadat sy blindheid genees is, is hy gedoop. Paulus het dus duidelik eers die Gees ontvang in en deur die geloof en is eers daarna gedoop. Handelinge 9:17 en verder lui:

En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom (Paulus) die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ʼn paar dae saam met die dissipels in Damaskus. En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.

Daar is nog ander voorbeelde hiervan ook. Ek haal maar Paulus se geval aan omdat hy so ʼn prominente figuur in die vroeë kerk was en omdat die meeste van die tekste oor die doop in Paulus se dokumente voorkom.

Oor die algemeen kan verder aanvaar word dat die Nuwe Testament ʼn eenheid siening het as dit kom by die Vader en die Seun en hulle verhouding. Iets wat in die naam van Jesus gebeur, is by implikasie iets wat in die naam van die Vader gebeur. Die duidelikste voorbeeld van hierdie denkwyse vind ons in Johannes 5 vers 19: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.” Mens kan dus argumenteer dat iemand wat in naam van Jesus gedoop is by implikasie ook gedoop is in die Naam van die Vader (Kyk byvoorbeeld Handelinge 10:48). In Handelinge (vgl. Handelinge 19:1-5) lees ons dat daar gedoop is in die naam van Johannes, maar met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees na Jesus se opstanding en hemelvaart is mense gedoop in die naam van Jesus:

En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ʼn Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hier sien ons nou weer die ander kant van die munt waar mense gelowig word en nie die Gees ontvang het nie  – omdat hulle nie gedoop is in die naam van Jesus nie, maar die doop van Johannes. Die verklaring hiervoor is dat die mense op grond van Apollos se bediening nog nie die volle leer van die evangelie van Jesus gehoor het nie, maar eerder ʼn boodskap van bekering wat nader is aan die leer van Johannes. Paulus hulle het toe vir hulle die volle evangelie vertel en die geestelike dimensie wat met die Jesus-gebeure ingetree het, het toe eers deel van hulle lewe geword.

Ons sit dus hier met verskillende kontekste en mens moet dit eintlik baie fyn bestudeer en nie op dieselfde vlak met ander tekste lees nie omdat dit gewoon nie op dieselfde vlak is nie!

In kort- bekering lei tot die ontvangs van die Gees – maar Johannes herinner dat selfs bekering gebeur omdat die Gees dit bewerk (kyk Johannes 3). Doop is ʼn resultaat van bekering en veroorsaak nie die ontvangs van die Gees nie. Mense kan dus tegnies gesproke die Gees ontvang sonder dat hulle gedoop word. Tog moet mens dit alles as ʼn eenheid sien – bekering – ontvangs van die Gees en die doop moet alles verkieslik in nabye historiese tydsverloop van mekaar plaasvind indien ons die model van die Nuwe Testament wil volg.

 

Outeur: Dr Kobus Kok