Ontvang mens nie die Gees as jy nie gedoop word nie?

Ontvang mens nie die Gees as jy nie gedoop word nie? – Kobus Kok

Dorette Kruger vra:

Wat word bedoel in Handelinge 2:38 waar gesê word jy moet jou bekeer en laat doop (in die naam van Jesus Christus) en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang? Beteken dit as jy jou nie laat doop nie, jy nie die Heilige Gees ontvang nie? Ek het verstaan dat as jy jou bekeer, jy outomaties die Heilige Gees ontvang, maar is nou glad nie seker nie. Nog ‘n vraag: wat is die verskil tussen die ‘Johannes Doop’ (afwas van sonde/reddingsdoop), Jesus se doop in ‘Naam van Vader, Seun en Heilige Gees’ en laastens die doop in ‘Naam van Jesus Christus’? Ek het gedog daar is net twee naamlik die eerste twee?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

In Handelinge 2:38 lees ons “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Hier is dit duidelik dat dit in die konteks van bekering en in die konteks van tot die geloof kom plaasvind. Dus, die verband tussen tot geloof kom en die ontvangs van die Gees word nie hier uitgesluit nie maar juis veronderstel. Die bedoeling van die teks is ook nie om ʼn resep te gee dat jy eers tot geloof kom en dan gedoop moet word en dan eers die Gees sal ontvang nie. Dit sou van die doop iets maak wat dit nie bedoel was om te wees nie. As die ontvangs van die Gees gekoppel sou word aan die handeling van die doop per se, beteken dit dat die ontvangs van die Gees nie moontlik sal wees sonder die handeling van die doop nie. Dit beteken dus dat die doop nie meer net ʼn teken sal wees wat heenwys na die feit dat iemand tot bekering gekom het nie, maar dat die doop as teken self een of ander magiese oordrag van die Gees tot gevolg het. Myns insiens werk die Bybel glad nie met hierdie beeld nie. In die Bybel is die doop ʼn teken wat heenwys na iets wat reeds gebeur het, naamlik dat iemand van die dood na die lewe oorbeweeg het (vgl. Johannes 5:24) en dat dit die teken en seël daarvan is.

In die Bybel self sien ons byvoorbeeld ook die interessante verskynsel dat dit wel gebeur het dat mense tot bekering kom, die Gees ontvang en dan later eers gedoop word. Dit beteken dus dat die ontvangs van die Gees nie afhanklik van die doop is nie, maar dat die ontvangs van die Gees ʼn resultaat of sigbare teken is van die geloof. Vat maar net Paulus se eie bekering. Toe God hom op die Damaskus pad ontmoet en hy drie dae blind gemaak is (sien Handelinge 9), het hy uiteindelik tot bekering gekom, omdat God se Gees hom laat glo het en hy Christus aanvaar het. Kort nadat sy blindheid genees is, is hy gedoop. Paulus het dus duidelik eers die Gees ontvang in en deur die geloof en is eers daarna gedoop. Handelinge 9:17 en verder lui:

En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom (Paulus) die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ʼn paar dae saam met die dissipels in Damaskus. En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.

Daar is nog ander voorbeelde hiervan ook. Ek haal maar Paulus se geval aan omdat hy so ʼn prominente figuur in die vroeë kerk was en omdat die meeste van die tekste oor die doop in Paulus se dokumente voorkom.

Oor die algemeen kan verder aanvaar word dat die Nuwe Testament ʼn eenheid siening het as dit kom by die Vader en die Seun en hulle verhouding. Iets wat in die naam van Jesus gebeur, is by implikasie iets wat in die naam van die Vader gebeur. Die duidelikste voorbeeld van hierdie denkwyse vind ons in Johannes 5 vers 19: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.” Mens kan dus argumenteer dat iemand wat in naam van Jesus gedoop is by implikasie ook gedoop is in die Naam van die Vader (Kyk byvoorbeeld Handelinge 10:48). In Handelinge (vgl. Handelinge 19:1-5) lees ons dat daar gedoop is in die naam van Johannes, maar met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees na Jesus se opstanding en hemelvaart is mense gedoop in die naam van Jesus:

En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ʼn Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hier sien ons nou weer die ander kant van die munt waar mense gelowig word en nie die Gees ontvang het nie  – omdat hulle nie gedoop is in die naam van Jesus nie, maar die doop van Johannes. Die verklaring hiervoor is dat die mense op grond van Apollos se bediening nog nie die volle leer van die evangelie van Jesus gehoor het nie, maar eerder ʼn boodskap van bekering wat nader is aan die leer van Johannes. Paulus hulle het toe vir hulle die volle evangelie vertel en die geestelike dimensie wat met die Jesus-gebeure ingetree het, het toe eers deel van hulle lewe geword.

Ons sit dus hier met verskillende kontekste en mens moet dit eintlik baie fyn bestudeer en nie op dieselfde vlak met ander tekste lees nie omdat dit gewoon nie op dieselfde vlak is nie!

In kort- bekering lei tot die ontvangs van die Gees – maar Johannes herinner dat selfs bekering gebeur omdat die Gees dit bewerk (kyk Johannes 3). Doop is ʼn resultaat van bekering en veroorsaak nie die ontvangs van die Gees nie. Mense kan dus tegnies gesproke die Gees ontvang sonder dat hulle gedoop word. Tog moet mens dit alles as ʼn eenheid sien – bekering – ontvangs van die Gees en die doop moet alles verkieslik in nabye historiese tydsverloop van mekaar plaasvind indien ons die model van die Nuwe Testament wil volg.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Hoekom moes Jesus gedoop word?

Hoekom moes Jesus gedoop word? – Kobus Kok

Hoekom moes Jesus gedoop word, as die doop die groot teken was van die afwassing van sondes? Jesus het mos nie sondes gehad nie. Verder, hoekom ontvang Jesus die Heilige Gees met sy doop as Hy dan self God is? Hoe kan God Homself ontvang? Dit is die interessante vraag van een van ons intekenaars. Hierdie vraag sal beantwoord word deur op die evangelie van Markus te fokus en die doop van Jesus binne die groter konteks en verloop van Markus 1 te interpreteer.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Hoekom moes Jesus gedoop word, as die doop die groot teken was van die afwassing van sondes? Jesus het mos nie sondes gehad nie. Verder, hoekom ontvang Jesus die Heilige Gees met sy doop as Hy dan self God is? Hoe kan God Homself ontvang? Dit is die interessante vraag van een van ons intekenaars. Hierdie vraag sal beantwoord word deur op die evangelie van Markus te fokus en die doop van Jesus binne die groter konteks en verloop van Markus 1 te interpreteer.

Ons lees van die doop van Jesus in al die evangelies (vergelyk Matteus 3:13-17; Lukas 3:21-22; Johannes 1:29-34). Die evangelie van Markus begin so effens anders as die ander, en wel by die optrede van Johannes die Doper en nie soos sommige van die ander evangelies by die geboorte van Jesus nie.

Johannes die Doper het so te sê die geestelike pad vir Jesus se koms voorberei (Markus 1:1-3) en luidkeels verkondig: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Markus 1:4). Johannes se bediening was ʼn profetiese bediening en hy het soos die profete van ouds die volk van God opgeroep om hulle harte weer terug te draai na God. Maar hy het die heeltyd vir mense duidelik gesê dat Iemand binnekort op die toneel gaan kom (vgl. Markus 1:7) – iemand wat ook gaan doop – maar Sy doop gaan bietjie anders wees – Hy gaan mense met die Heilige Gees doop (vgl. Markus 1:8). Johannes se bediening en Johannes se doop was dus ʼn teken wat heengewys het na die Een wat sou kom en die geestelike dimensie wat sou aanbreek die oomblik as Hy op die toneel verskyn.

In die volgende vers (Markus 1:9) lees ons dan hoe Jesus van Nasaret inderdaad op die toneel verskyn en deur Johannes in die Jordaan gedoop word. Jesus word hier gedoop – nie omdat hy sondes het en tot bekering moet kom nie – maar omdat hy sommer van die begin af wys dat hy deel uitmaak van die groter prentjie van God se plan met die wêreld. Daarom sien ons ook as Jesus uit die water uitkom, hoe die hemel oopskeur en die Gees soos ʼn duif na Hom toe neerdaal (Markus 1:10) en daar dadelik ʼn stem uit die hemel kom waarin God die Vader sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug ek my.” Dit gebeur – nie omdat hy nie die Gees gehad het nie of omdat Jesus nie geweet het dat God sy Vader is nie, (so asof hy dit toe vir die eerste keer hoor nie) – maar eerder as bewys vir die mense dat hierdie Jesus inderdaad die gesalfde is – die gestuurde en gesanksioneerde Seun van God wat nou met die outoriteit en bemagtiging van God optree. Die doophandeling en oproep van Johannes het dus die ruimte geskep waarbinne mense hulle opnuut tot God kon wend – en die ruimte  voorberei waarop Johannes kon getuig van die ware Een wat aan die kom is. Dit is binne hierdie atmosfeer van verwagting waarin Johannes se oë die heeltyd oop was in die verwagting dat die Een wat God beloof het, binnekort sal kom.

Miskien het Johannes met die doop van Jesus aanvanklik gedink dit is maar net nog ʼn Jood wat in die ry af kom om gedoop te word. Maar nét toe Jesus uit die water uitkom (kyk Markus 1:10), het die hemel oopgeskeur. Johannes het waarskynlik net daar ook besef – hier is dit nou. Met die oopskeur van die hemel en  onder die geklank van God se stem het Johannes besef dat die gestuurde van God hier reg voor hom staan. Net daar het hy besef dat die tyd waarop hy gehoop het aangebreek het. Die uur is uiteindelik hier! Die Gees wat vanuit die hemel soos ʼn duif (let op die vergelyking) neergedaal het was ook die teken dat die verwagte uur aangebreek het – die uur waarop Jesus se publieke aardse bediening sou begin en dat hierdie Jesus nie sommer net enige man is nie – Hy is deur God gestuur. Ek kan persoonlik nie sien hoe dit anders kon gebeur het nie. Dit sou nie werk as Johannes hier in die Jordaan vir mense preek en hulle doop en sê dat die Een op pad is en Jesus aan die ander kant van die wêreld begin werk nie. Dit maak sin dat Jesus dáár, in die midde van die aksie, in die konteks van die doop van honderde mense wat tot bekering kom, sou arriveer en dat Hy deel sou wees van dit wat God daar aan die doen was. Daarom is Jesus ook gedoop, omdat dit binne daardie ruimte was wat God Johannes geroep het om die weg voor te berei vir die Een wat Hy sou stuur. As Jesus daar gedoop word, breek die nuwe dimensie egter deur – en word Jesus se publieke bediening in ‘n nuwe rat geplaas.

Onmiddellik na Jesus se doop en na die stem uit die hemel wat verklaar dat Jesus die gestuurde is, word Jesus deur die Gees die woestyn in geneem vir veertig dae (Markus 1:12-13). Soos verwag kom die grootste vyand van God, die duiwel daar aan en versoek Jesus, maar kom gou agter dat hierdie Jesus groter is as wat hy gedink het. Markus het nie eers nodig om meer as twee verse daaroor te skryf nie. Dit is sommer van die begin af ‘n uitgemaakte saak – hierdie Jesus is baie sterker…

In die volgende vers (Markus 1:14) begin Jesus om die goeie nuus van God te verkondig met die belangrike woorde wat tot vandag toe nog die preekwoorde van Jesus eggo: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15).

Daarna, in die volgende vers loop Jesus langs die see van Galilea en roep die eerste dissipels – die manne wat uiteindelik op Pinksterdag, na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart self die uitstorting van die Gees sou beleef. Hieruit is dit ook duidelik dat die uitstorting van die Gees ná Jesus se dood, opstanding en hemelvaart anders is as die neerdaal van die Gees wat met Jesus se doop plaasgevind het.

In die toekoms sal ek ʼn artikel skryf oor die verskil. Hier is dit miskien genoeg om net daarop te wys en sensitief daarvoor te wees.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok

 




Klein-doop én Groot-doop in die Bybel?!

Klein-doop én Groot-doop in die Bybel?! – Kobus Kok

Martin Geustyn vra:

Ek wil baie graag meer weet oor my lewe (siel of gees) na my dood. Ek weet dat wanneer Jesus kom ek opgewek sal word om saam met Hom te wees. Dan wil ek ook weet hoekom ons klein doop en nie die kindertjies inseën vir God nie? Is die doop dan nie ook n wilsbesluit soos bekering nie?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Hierdie tema is natuurlik ‘n gevaarlike terrein om op te beweeg, want as jy die een kant toe gaan dan raak die ander kant se ouens vir jou kwaad. Daarom wil ek sommer van die begin af sê ek het die grootste respek vir my NG dominee en kollegas en dalk nog meer vir ‘n AGS pastoor-vriend van my wat jare saam met my die Here dien en by wie ek baie geleer het. In hierdie artikel wil ek daarom sommer gewoon op teksgedeeltes wys wat ons in die Bybel kry om sodoende die tafel bietjie breër te dek as wat mense gewoonlik doen. Ons ken almal die afgesaagde dogmatiese redes waarom die een kerk klein doop en die ander kerk groot doop. In hierdie artikel wil ek gewoon ‘n paar interessante brokkies inligting vir u gee waaroor u verder kan gaan dink.

Het jy geweet dat die woord “doop” van die Griekse woord “baptiedzoo” af kom en dit beteken “om te was,” “om te reinig,” “om te onderdompel” en selfs om met “water te besprinkel” maar altyd met die konnotasie van skoonmaak of reinig? Het jy geweet dat voor Jesus se bediening bestaan het, daar alreeds in sommige van die heidense kulture sulke doopreinigingsrituele was? Het jy geweet dat die Jode voor Jesus se tyd al iets gehad het soos die doop van proseliete, met ander woorde die reiniging van heidene wat hulle tot die Judaïsme bekeer het?

As ons dus oor die doop praat moet ons nie in die eerste plek dink dat dit sommer net uit die bloute skielik met Jesus begin het nie. Dit het nie! Mens moet dit verstaan teen die agtergrond van die antieke wêreld en hoe dit daardie tyd verstaan is. Vat maar net vir Johannes die Doper. Johannes was ‘n Joodse profeet wat gesê het dat die mense hulle tot God moet bekeer en dat hulle ge-baptiedzoo of gereinig moes word – nie omdat die water iets magies doen nie, maar omdat dit ‘n sigbare teken sou wees dat iets in hulle harte alreeds gebeur het en dat hulle deur middel van die doop dan wys dat hulle hulle lewe weer hertoewy aan God. En dan, as jy bv. Johannes 1 lees, sal Johannes sê dat hy eintlik maar net mense bewus wil maak van die Groot Een, die Lam van God wat binnekort gaan kom, Hy wat die sondes van die mense sal wegneem.

En so gebeur dit toe dat Jesus uiteindelik preek, sterf, opstaan en die dissipels beveel dat hulle die evangelie na die ganse mensdom moet neem en die wat tot bekering kom, moet doop… (Matt 28:19). Verbeel jou net – daar staan 12 dissipels en miljoene potensiële gelowiges voor hulle wat nog nie van Jesus gehoor het nie, wat sondig leef en wat tot bekering moet kom. En daar trek hulle los en preek laat dit klap en doen wonders wat almal verbaas laat en mense bekeer links en regs. Geen wonder nie, dat ons so baie lees van grootmense wat die evangelie hoor, dit glo en dan gedoop word as teken daarvan dat God hulle nuwe mense gemaak het en hulle vergewe het. In die begin, sou mens met ander woorde in die heel eerste plek duisende en duisende grootmense gekry het wat gedoop is. Dit is tog logies. Maar met tyd sou dit ook gebeur dat kinders gedoop sou word. Ja, van die begin af is daar aanduidings dat kinders ook gedoop is!

Wat verstaan jy as ek vir jou sê daardie twee mense is ‘n paartjie? Wel, ‘n paartjie bestaan uit ‘n man en ‘n vrou nie waar nie. En wat verstaan jy onder die woord “gesin”? Wel, dit sal uit die aard van die saak bestaan uit ‘n paartjie (man en vrou) en uit ‘n kind of twee.

Nou vir die interessante. Ons lees baie van individue, mense wat groot gedoop is. Maar lees ons êrens van gesinne wat gedoop is? Kyk bietjie wat lees ons in die boek Handelinge wat die groot boek is wat vir ons die geskiedenis van die vroegste kerk vertel kort nadat Jesus opgevaar het en die Heilige Gees uitgestort is op die dissipels. In Handelinge 16 lees ons die volgende:

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ‘n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was ‘n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop.

In Handelinge 16 lees ons van die Tronkbewaarder:

29Toe het die bewaarder ‘n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop.

In die Grieks word die woord oikos gebruik vir gesin en dit het in die antieke tyd eintlik baie meer ingesluit as net die gesin. Dit het die hele huishouding ingeluit, wat slawe, slavinne, hulle kindertjies, en almal anders ingesluit het. Dikwels lees mense hierdie tekste heeltemal mis.

Daar sal later deur myself of deur ander geleerdes dieper gedelf word rondom hierdie saak. Hierdie artikel is gewoon geskryf om jou so bietjie aan die dink te sit en anders na die saak te kyk as wat daar gewoonlik gekyk word.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok

 




Die Doop

Die Doop

Daar is seker in die teologie of kerk nie nóg ‘n onderwerp waaroor meer ver­skil word as die doop nie. Waarskynlik sal dit ook nie baie anders in hierdie kring wees nie. Ek gaan ook nie nou poog om ‘n breedvoerige teologiese daarstelling van die doop met al die tersaaklike probleme te bied nie, maar gaan ‘n soort van klankbord daarstel waarteen die twee voorgestelde formuliere geresoneer kan word.

Die Westerse teologie het die doop vanuit ‘n subjek-objekskema beoordeel. Hiervolgens is die klem óf op die objektiewe handeling van die doop óf op die subjektief-persoonlike ingesteldheid van die dopeling gelê. Die RKK het geleer dat die doop ‘n insigself werkende krag (ex opere operato) het en ook die erfsonde afwas (Augustinus). En omdat gemeen is dat ook babas in sonde ontvang en gebore word, was die argument, het hulle beslis ook die doop nodig. Die amptelike bediening van die doop deur die kerk (ex opere operantis) was ook van beslissende belang, soos in die stryd met die Donatiste al na vore gekom het.

Soos die Weste gaandeweg al hoe meer plek vir die individu en die mens se intrinsieke goedheid gemaak het, is die suigelingsdoop toe gevolglik deur die Waldense, Anabaptiste en Baptiste verwerp. Veral in Amerika het die Baptiste Beweging met ‘n sterk nadruk op die persoonlike geloofsbeslissing geweldig uitgebrei. Die doop word dus net aan belydende gelowiges bedien (believer’s baptism). Die 20e-eeuse Pinksterbeweging het hierdie opvatting oorgeneem en ook Karl Barth het die kinderdoop (alhoewel met ander argumente) afgewys.

Hierdie twee pole van objektiwiteit en subjektiwiteit staan dus teenoor mekaar (uit die perspektief van die mens), soos gawe en opgawe, passie en aksie. Metafories sou ons kon sê dat eers­genoemde is soos om in ‘n familie gebore te word en laasgenoemde is soos om in ‘n familie te trou. Albei hierdie aksente het ook stewige Bybelse grond.

Die probleem kom egter na vore wanneer die “Protestantse beginsel” (Paul Tillich) van die genade wat in geloof ontvang word, by die doop van ‘n kind ter sprake gebring word. Zwingli byvoorbeeld het daarom ‘n ander argument vir die regverdiging van die kinderdoop gevolg as Augustinus met sy erfsonde-leer, naamlik dat die doop die vaandel van die inlywing in die geloofs­gemeenskap is. Luther erken ook die band tussen geloof en doop onteenseglik, maar ontken ‘n voorskriftelikheid in die kronologie van die lewe van die individu. Verwerping van die kinderdoop, sê hy, en die gepaardgaande vereiste van die individu se persoonlike geloof, is volgens hom net ‘n bedekte vorm van werkgeregtigheid.

Dit behoort reeds duidelik wees dat ons in terme van hierdie twee pole, nie tussen die een of die ander hoef te kies nie. Ons kan en moet albei hierdie pole erken. Dit is immers ook ‘n misverstand dat sekere kerke téén grootdoop is – hulle verwerp net dat mense oorgedoop moet word. Boonop het Calvyn reeds gesê dat die doop altyd slegs kinderlik ontvang kan word – “alle” doop is dus wesenlik kinderdoop, ook grootdoop.

Die volgende drie stellings is samevattend vir ons van belang:

  • Die doop konstitueer die Christelike identiteit

Die gedoopte is één met Christus (se dood en opstanding) en is daarom ‘n nuwe mens. Die doop is dus meer as ‘n teken; die status van die betrokkene word verander. Dit is alleen moontlik omdat Gód sy Heilige Gees as die Bron van die lewe skenk. P T Forsyth sê dan ook dat soos wat doop op grond van geloof plaasvind, dit egter ook verstaan kan word as dat doop die induksie (inleiding) in die geloof (-gemeenskap) is.

  • Die doop het ‘n onlosmaaklike plek in die heilsgebeure

Geloof, bekering en wedergeboorte word dikwels met die doop in die NT verbind. Boonop word dit ook heel eksistensieel gedoen. Luther beklemtoon daarom ook die noue verband tussen doop en byvoorbeeld berou. Die eens-en-vir-altyd-wees (Romeine 6:10) van die doop in Christus word dus daagliks deur die gedoopte in die bekering bevestig. Die doop moet dus komprehensief verstaan word en wel in die sin dat die toekomstige dood en opstanding nou reeds (antisipatories) uitdrukking vind. Dit is ook die rede waarom die Nagmaal komplementêr tot die doop verstaan moet word: hierdie toe-eiening van die heilsgebeure duur die mens se hele lewe lank.

  • Die doop is inwydingsrite van die kerk

Die doop is altyd ‘n kerklike handeling. Dit gaan immers om die inlywing in die gemeenskap van gelowiges. Tog is die primaat die individu se gemeenskap met Christus. Die klassieke uitleg van die Twaalf Artikels se communio sanctorum, nl. dat die gemeenskap aan die “heilige dinge” (d i die sakramente, dus Christus), die gemeenskap aan die “heilige mense” voorafgaan, is dus ook hier van toepassing. Hierdie is ook die rede waarom die doop vandag toenemend in die ekumene diensbaar gemaak word.

Ten slotte moet ons altyd daarop bedag wees dat ons nie tradisie-ryke sakraments­teologieë in NT tekste indra nie (illegitimate totality transfer). Daar is seker min ander woorde in die Bybel wat soos ‘n “konsertina” (James Dunn) aangewend word. Tog beteken dit ook nie dat daar nou by twee duisend jaar se intense worsteling hieroor verbygegaan durf word nie. Oor ons koppe is immers die “sacred canopy” (Peter Berger) wat ons verwysingsraamwerk omspan. Ons betoog moet vanuit ‘n konsistente teologiese ontwerp geskied, en in ons geval, Bybels-Reformatories.

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag