Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (2)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (2) – Adrio König

7.2 Die betekenis van Abraham 

Uit stellings 1-7 is dit duidelik dat Abraham ‘n besondere plek in ons geloof inneem. In Romeine 4 soek Paulus ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens gered word. Hy kies nie een van sy eie dissipels nie, hy kies vir Abraham: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek” (4:3). Hoe word ons dan gered? Deur in God te glo, of soos ons dit in die Nuwe Testament kry: Deur op Jesus as ons Verlosser te vertrou.

Maar Abraham is nie net ons voorbeeld van redding nie, hy is ook ons geestelike vader (Rom 4:16-17). Deur die geloof is ons sy kinders (Gal 3:7), en deur die doop het ons sy nakomelinge geword (Gal 3:27, 29).

 

Kinders en nakomelinge erf van hul vader. Wat erf ons van hom? Ons word “saam met die gelowige Abraham geseën” (Gal 3:9). Dis ‘n opvallende uitspraak. Hoe kan ons saam met Abraham geseën word? Hy is lankal geseën en net so lank al dood. Maar onthou die “saam met”-beginsel by Paulus. Deur die doop word ons só met Christus verenig dat ons eintlik “saam met” Hom gekruisig is en “saam met” Hom opgestaan het (Rom 6:2-6). Ons kry dus ‘n aandeel aan sy kruis en sy opstanding. As ons dan deur die geloof en die doop nakomelinge van Abraham word (Gal 3:27, 29), word ons saam met hom geseën, dit beteken ons kry deel aan die seën wat God aan Hom gegee het toe Hy beloof het al die nasies van die aarde sal in Abraham geseën wees, sal deel in die seën wat Hy aan Abraham gegee het (Gen 12:3; 18:18; 22:18; 24:1).

 

Ek verstaan dit só dat God eintlik een groot voorraad seën aan Abraham gegee het. Dit is sy volle seën vir die hele wêreld en vir alle tye. Deur die geloof kry ons deel aan daardie seën, of miskien liewer: skakel ons in daardie seën in. Ons word “saam met die gelowige Abraham geseën” (Gal 3:9).    

 

Hierdie seën van Abraham is aan die kruis oopgebreek vir die heidene, dis vir ons wat nie Jode is nie (Gal 3:14).

 

In die lig hiervan is dit natuurlik vreemd dat mense kan dink die verbond met Abraham is die ou verbond wat afgeskaf is. Die verbond met Abraham is die genadeverbond, die geloofsverbond, die verbond wat self ook die evangelie is: Glo en jy word gered. As hierdie verbond afgeskaf is, hoe word ons dan gered? Die verbond wat afgeskaf is, is die wetsverbond wat by Sinaï gesluit is (Jer 31:31ev), die verbond wat 430 jaar ná die Abrahamverbond gesluit is.  

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (1)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (1) – Adrio König

7 Die Christelike doop

7.1 Stellings oor Abraham en oor die doop   

Dis opvallend dat die doop dikwels ook ter sprake kom as mense wil terug na die Ou Testament. Dit lyk my nie of die regtig pas nie, want daar was nie doop in die Ou Testament nie. Dit sou eerder pas om die besnydenis te oorweeg. Ons het klaar daarna gekyk (6.3).

Die opskrif is “Die Christelike doop” omdat daar ook ander dope in die tyd van die Nuwe Testament was soos die doop van Johannes die doper en die Joodse proseliete-doop. Maar wanneer ons normaalweg praat, praat ons maar net van “die doop”, maar ons bedoel die heeltyd die Christelike doop. 

 

Gewoonlik begin mense huiwer oor die kinderdoop, maar ‘n mens kan nie die kinderdoop behandel sonder om na die doop as sodanig te kyk nie.

  • Enersyds kan ons nie met die kinderdoop voortgaan as dit nie inpas in die boodskap oor die doop in die Nuwe Testament nie.
  • Ons kan nie ander beginsels vir die kinderdoop aanvaar as vir die doop as sodanig nie.
  • En andersyds lyk dit my ‘n mens verstaan eers die kinderdoop as jy die doop as sodanig verstaan.

 

Kom ons kyk net eers in ‘n paar stelling kortliks na die doop en die rol wat Abraham daarin speel. Dan kan ‘n mens agterna die stellings verduidelik. 

 

Abraham

1   As ons verstaan wie Abraham is, verstaan ons die doop.

2   Abraham is die vader van alle gelowiges in die Ou Testament en in die Nuwe.

3   Abraham is dié voorbeeld van hoe ‘n mens gered word.

4   Jesus het deur die kruis die verbond met Abraham ook vir ons, wat heidene is, oopgemaak.

5   Wanneer die Here ons seën, seën Hy ons saam met Abraham, gee Hy ons deel aan die seën wat Hy vir Abraham gegee het.

6   Die doop lyf ons in in die verbond wat God met Abraham gemaak het.

7   Die ou verbond wat afgeskaf is, is nie die verbond met Abraham nie, dis die verbond van die wet by Sinaï.

 

Hierteenoor ‘n paar stellings wat vir my verkeerd lyk.

8   Dit is nie so dat die Abrahamverbond die ou verbond is nie.

9   Dit is dus ook nie so dat die Abrahamverbond ooit afgeskaf is nie.

10  Dit is nie so dat ‘n kerk moet kies tussen kinderdoop en grootdoop nie. Elke kerk behoort beide te bedien.

11  Dit is nie so dat ‘n kerk moet kies tussen besprinkeling en onderdompeling nie. Elke kerk behoort albei te gebruik.

 

Die doop

Nou ‘n paar stellings oor die doop.

12   Die doop red nie ‘n mens nie.

13  Die betekenis van die doop hou direk en uitsluitlik verband met dit wat God doen, nie met dit wat die mens doen nie.

14   Dit is ‘n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Maar daar is verband tussen die betekenis van die doop en van die besnydenis.

15  Dit wat die Christelike doop die Christelike doop maak, in onderskeid van ander vorms van doop soos Johannes die doper se doop of die Jode proseliete-doop, is nie die water of die manier van doop nie, maar die doopformule: “Ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”.

         16  Die Christelike doop behoort nie meer as een keer bedien te word nie. Die eenmaligheid hang direk saam met sy betekenis.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 8.4 Besware teen die bekeringsdoop

Leef uit jou Doop: 8.4 Besware teen die bekeringsdoop – Adrio König

8.4 Besware

Daar sal seker besware wees teen so ’n bekeringsdoop. Die sterkste beswaar sal seker wees dat dit verwarring sou kon skep asof die kerk iemand “twee keer doop”. Dit sal natuurlik die waarheid wees, maar die bekeringsdoop is nie ’n herhaling van die Christelike doop nie.

Dit kan nie in beginsel verkeerd wees om iemand twee keer te doop nie. Wat dan van Paulus? (Hand 19:1-6) Dit is net verkeerd om die Christelike doop te herhaal omdat dit daarin gaan om God se werk in ons lewe.

 

Trouens so ’n doop in ’n erediens sou die heerlikste geleentheid skep om die verskil te verduidelik tussen ’n doop wat ’n sakrament is omdat God daarin handel, en ’n doop wat net ’n mens se reaksie op God se genade is. Dit sou ook ’n geleentheid wees om die verbond te verduidelik: twee kante: God en mens, maar die inisiatief kom altyd van Hom. Daarom eers die Christelike doop, en dan die bekeringsdoop.

 

Dit moet egter duidelik wees dat dit net gaan om mense wat die volle waarde van hulle eerste (Christelike) doop erken. En dit geld twee groepe:

♦   lidmate van die historiese kerke wat deur ’n tweede doop wil getuig van hulle oorgawe aan die Here,

♦   en lidmate van Pinkster-, Charismatiese, of Baptistekerke wat ook probleme met hulle eerste (Christelike) doop ontwikkel het en deur ’n tweede doop wil getuig dat hulle nou in die regte verhouding met die Here is.

 

Intussen moet dit duidelik wees dat hierdie oproep om mense ’n tweede keer te doop, nie uit ’n suiwer teologiese motief kom nie, en daarom nie as noodsaaklik beskou kan word en ’n algemene reël behoort te word nie. Dit kom uit ’n pastorale bewoënheid met lidmate wat oortuigings het wat nie mooi inpas in dié van hulle kerkgenootskap nie. Dit is iets soos ’n noodmaatreël om hulle tegemoet te kom sodat hulle deel van die gemeente kan bly en sinvol verder begelei kan word op hulle pad met die Here, miskien ook tot selfs nog ’n voller verstaan van die doop.

 

 

leefuitjoudoop

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 8.3 ‘n Tweede doop as bekeringsdoop

Leef uit jou Doop: 8.3 ‘n Tweede doop as bekeringsdoop – Adrio König

8.3 ’n Tweede doop as ’n bekeringsdoop

’n Bekeringsdoop is nie ’n herhaling van die Christelike doop nie eenvoudig omdat die Christelike doop nie ’n bekeringsdoop is nie, maar ’n sakrament, God se gawe aan ons. In ’n bekeringsdoop antwoord ek, aanvaar ek wat God my in my Christelike doop (klein of groot) gegee het.

Maar dit beteken dat die bekeringsdoop op ’n bepaalde wyse bedien moet word. Dit word nie bedien “In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” nie omdat dit dan ’n Christelike doop sou wees. Dit word eerder bedien in die naam van die persoon wat gedoop word. Die doper sou iets kon sê soos:

“   Jy getuig dat jy die Here Jesus as jou Verlosser aangeneem het/dat jy ’n nuwe oorgawe aan die Here Jesus gemaak het. Daarom doop ek jou as deel van jou getuienis. Jy verklaar jy het die genade en die verlossing aanvaar wat God in jou Christelike doop aan jou gegee het, en jy vertrou net op Jesus as jou Verlosser.”

♦    Dit sou ook gepas wees as die gedoopte persoon dan iets vertel van sy/haar verhouding met die Here.

 

leefuitjoudoop

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König