Leef uit jou doop: 7.1 Die verlede

Leef uit jou doop: 7.1 Die verlede – Adrio König

7.1 Die verlede

Daar was altyd in alle kerkgroepe mense wat ’n tweede keer gedoop wil word. In die kerke wat naas die grootdoop ook die kinderdoop bedien, was daar altyd lidmate wat onseker geraak het oor hulle doop as babas, en weer gedoop wou word.

Ook by kerke wat die kinderdoop verwerp, was daar altyd lidmate wat grootgedoop is, maar onseker oor hulle doop geraak het. In die meeste gevalle was hulle oortuig dat daar iets by hulle doop verkeerd was. Sommige het nog nie regtig die Here geken nie, ander het besware ontwikkel oor die persoon wat hulle gedoop het of die omstandighede en gebruike tydens die doop. Ook hulle vra dan om weer gedoop te word.

 

Die kerke wat die kinderdoop verwerp, is nie eenstemmig oor hoe om hierdie lidmate te hanteer nie. Die groter kerke probeer die lidmate tevrede stel omdat hulle oortuig is dat die doop nie ’n tweede keer bedien behoort te word nie. Daar is egter kleiner Pinksterkerke wat so ’n lidmaat weer doop. En eintlik is hulle konsekwent as ’n mens onthou hoe die Pinksterkerke die doop verstaan. Die Pinksterwêreld het ’n ander siening van die doop as die een in hierdie boek. In hierdie boek word uitgegaan van die doop as die werk van God in ons lewe. Die betekenisse van die doop het in dié rigting gewys (hoofstuk 2). Dit is God wat sy naam (sy gesag) oor ons laat afkondig, wat ons met Christus verenig, wat ons sonde vergewe, wat ons in die verbond en in die gemeente opneem. Ons kan dit nie doen nie. Dis sy gawes. Omdat die doop sy werk in ons lewe is, noem ons dit ’n sakrament.

 

Maar die grootste deel van die Pinksterwêreld sien die doop anders. Hulle lê besondere klem op die feit dat dit gelowiges is wat gedoop is in die Nuwe Testament. Volgens hulle beteken dit dat die doop ons belydenis, of ons getuienis, of ons vereenselwiging met Christus is, of ons oorgawe aan God. Dit sou dus in die doop nie gaan oor wat God doen nie, maar oor wat ons doen. Daarom praat hulle graag van geloofsdoop, getuienisdoop, belydenisdoop. Indien dit die betekenis van die doop is, is daar natuurlik geen probleem om iemand ’n tweede keer te doop nie. As die persoon nog nie regtig die Here by sy/haar eerste doop geken het nie, was die doop dan ongeldig omdat die persoon nog nie sy/haar geloof kon bely nie. Dan moet sulke persone eintlik ’n tweede keer gedoop word om hulle ’n kans te gee om werklik hulle geloof te bely.

 

Trouens selfs al was die persoon al ’n kind van die Here by die doop, kan daar tog niks mee verkeerd wees om weer gedoop te word sodat jy weer jou geloof kan bely, jou weer met Christus kan vereenselwig, jou lewe weer aan God oor te gee nie. Hierdie kleiner Pinksterkerke is dus eenvoudig konsekwent as hulle sulke lidmate weer doop. Dis ’n goeie geleentheid vir nog ’n oorgawe en nog meer toewyding.

 

Maar die siening van die doop in hierdie boek maak ’n tweede doop ’n baie moeilike saak. As dit in die doop gaan om God se werk in ons lewe, om sy gesag oor ons, om sy werk om ons met Christus te verenig, om ons in die verbond op te neem, is dit tog moeilik om ’n tweede doop te regverdig. God hoef tog nie weer sy gesag oor ons te laat afkondig of ons weer met Christus te verenig en in die verbond op te neem nie. Wat Hy eenmaal gedoen het, is tog gedoen.

 

In terme van ons siening van die doop, is dit dus volkome konsekwent as ons huiwer om iemand weer te doop. Maar presies op hierdie punt het sake in die verlede dan erg skeefgeloop. Lidmate wat weer gedoop wou word, is dan veral deur die Pinksterkerke oorgedoop. En daar is waarskynlik niks wat in die vorige eeu die verhouding tussen die Pinksterkerke en die Gereformeerde kerke slegter beïnvloed het nie (hoofstuk 1).

 

Maar ’n mens moet versigtig wees wat jy in hierdie verband skryf. Daar is verskillende sienings. Indien ’n mens die kinderdoop aanvaar, is jy oortuig dat hierdie lidmate  oorgedoop word, ’n tweede keer gedoop word. Maar ’n Pinksterkerk of ’n Baptistekerk wat nie die kinderdoop aanvaar nie, is oortuig dat hierdie mense nog glad nie regtig gedoop is nie eenvoudig omdat die kinderdoop nie regtig ’n doop is nie, en daarom meen hulle dat hulle hierdie mense nou eers regtig doop.

 

Maar hoe ’n mens ook al hierdie verskille verstaan, dit het erge spanning en verwydering tussen hierdie groepe kerke gebring. Die wyse waarop die Pinksterkerke die mense hanteer het, het verdere aanstoot gegee. In die meeste gevalle is hierdie mense eenvoudig gedoop en gelos. Daar is nie van hulle verwag om lidmate van die Pinksterkerk te word nie. Dit het beteken dat hierdie kerke opgetree het sonder veel respek vir die kerk van waar hierdie mense gekom het. Ironies was dit eintlik ook nie vir die Pinksterkerke nodig om hierdie mense as lidmate te probeer werf nie. Die kerke waaruit hulle gekom het, het so negatief teen hulle opgetree dat hulle eenvoudig oorgegaan het na die Pinksterkerke en later ook na die Charismatiese kerke.

 

Kom ons neem die NG Kerk se optrede as voorbeeld. Tot in die laaste dekade van die vorige eeu het die NG Kerk nog van hierdie lidmate verwag om hulle nuwe oortuigings te laat vaar, te bely dat hulle verkeerd gedoen het, en “terug te kom”. Hulle is uit sinvolle deelname aan die gemeentelewe uitgesluit. Hulle kon onder tug kom, dus van die nagmaal weerhou word, en selfs uit die gemeente en die “koninkryk” uitgesluit word met die kerklike ban! Indien jy nie verstaan presies wat dit beteken nie, is dit ook maar goed. Maar dis erg!

 

’n Mens moet jou die verwarring in die gemoed van hierdie “oorgedoopte” lidmate probeer voorstel. In ’n ondersoek na die redes waarom lidmate van die NG Kerk hulle laat oordoop ((Oor-)doop – Waarom? En daarna? 1997), is bevind dat 93% twee antwoorde gegee het:

♦   Hulle is gelei deur die Gees.

♦   Hulle doop was vir hulle ’n stap van gehoorsaamheid aan die Here.

 

Om nou van hierdie mense te verwag om te bely dat hulle verkeerd was, en boonop binne ’n kort tyd tot hierdie belydenis te kom, was nie net onsinnig nie, maar ook ongevoelig. Dit het geen begrip getoon van hoe mense se godsdienstige gevoelens en oortuigings werk nie. Dit het net so min respek vir hierdie lidmate getoon as wat die Pinksterkerke vir hierdie kerke getoon het. Kort voor die einde van die eeu het die NG Kerk ander besluite geneem. Daar sou voortaan net gepoog word om hierdie lidmate tot beter insigte terug te bring, maar hulle kon sinvol voortgaan in die gemeente. Dit is dan ook wat in die algemeen in die gemeentes van die NG Kerk gebeur, in elk geval in die vernuwingsgemeentes.

 

Maar intussen het die kerke wat die kinderdoop erken, honderd-duisende lidmate op hierdie manier verloor. Verreweg die grootste deel van die Pinksterkerke en die Charismatiese kerke se lidmate kom uit die NG Kerk, of is kinders van oud-NG lidmate.

 

Dit sal interessant wees om nou na twee sake te kyk.

♦   Waarom kry soveel lidmate probleme met die kinderdoop?

♦   Is oordoop regtig ’n doop?

In beide gevalle word gevra of ’n bepaalde vorm van doop  (oordoop en kinderdoop) regtig nog die ryk betekenis van die doop volgens die Nuwe Testament kan hê.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou doop: 6.2 Georganiseerde doopvierings

Leef uit jou doop: 6.2 Georganiseerde doopvierings – Adrio König

6.2 Georganiseerde doopvierings

Gemeentebyeenkomste

Intussen weet ons dit werk nie goed as ons eenvoudig van ons godsdiens sogenaamd ’n “elke dag-godsdiens” maak sonder struktuur en beplanning nie. Dit werk nie goed as iemand sê: “Ek dien die Here elke dag oral, ek hoef nie spesiaal kerk toe te gaan nie.” Deur kerk toe te gaan, word jy (hopelik!) geïnspireer om die Here elke dag te dien. En ek dink ’n mens kan juis deur jou “elke dag-godsdiens” die behoefte versterk om ook by ander te kom wat dit ook doen, en so mekaar onderling te inspireer.

 

 

Daarom is daar ook spesiale geleenthede nodig, onder andere om ons doop beter te verstaan en intenser te beleef en te vier. Die erediens, en veral die doopdiens, is ’n wonderlike geleentheid om jou eie doop te herbeleef. Daarom is dit nodig dat predikante/priesters/pastore by doopdienste op die heilsbetekenis van die doop konsentreer. In kerke waar daar hoofsaaklik babas gedoop word, mag nie net op kinderopvoeding klem gelê word nie, maar moet die volle heilsbetekenis van die doop verkondig word (hoofstuk 2).

 

Die eintlike plek waar bekeerlinge in die vroeë kerk oor hulle doop en oor die evangelie in die algemeen onderrig is, is juis in gemeentebyeenkomste. Dis immers juis in die Briewe aan gemeentes waarin die doop verduidelik word. Hierdie Briewe is in die byeenkomste voorgelees. Dit moet net so voortgaan.

 

Daar kan ook spesiale byeenkomste in die gemeente gereël word. Tydens die Pinksterfees kan water oor die hele gemeente gesprinkel word terwyl hulle hulle geloof voor God en voor mekaar bely. Die Katolieke Kerk het so ’n gebruik.

 

Gesins- en groepsdoopvierings

Gesinne en groepe kan op verskillende maniere hulle doop vier. ’n Gesin kan ’n ouer of ’n kind se doop op die doopdatum vier. Deesdae gee gemeentes dikwels ’n kers by die doop. Om die kers in die aand in ’n donker kamer aan te steek, kan ’n wonderlike simboliese betekenis hê. Christus het immers gesê Hy is die lig van die wêreld (Joh 8:12). Daarom vier ons sy teenwoordigheid (én sy Vader en sy Gees se teenwoordigheid) in die doop en in ons lewe. Dit is ’n goeie geleentheid om oor die betekenis van die doop, en daarom van die evangelie te gesels, om oor ons lewe as gesin met mekaar te praat, en vir mekaar te bid. Sommige van ons jaag deur die lewe, en daarom is so ’n paar gereelde, beplande geleenthede per jaar van onskatbare waarde.

 

Kleingroepe (selgemeentes) is ook ideale geleenthede. Paulus se gemeentes was eintlik maar selgemeentes. Dáár is veel meer persoonlike gemeenskap en ondersteuning moontlik as in ’n groot gemeente. Dit is selfs goeie geleenthede om die doop te bedien aan buitestanders wat in die sel ingetrek is, en aan die kinders van sellede. Die een voordeel is dat almal teenwoordig direk by die dopeling betrokke is, anders as in ’n groot gemeente. Dit maak die er varing baie persoonliker en ryker aan inhoud. Vir ’n bekeerling is dit veel makliker om te getuig voor die mense wat hy/sy ken, en vir ouers om self aan die doop van hulle kind deel te neem deur byvoorbeeld ’n gebed na die doop.

Hierdie kleingroepe is eintlik die geloofsgemeenskap waarvan ’n nuweling deel word of waarin ’n verbondskind opgeneem word.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou doop: 6.1 Die lewe as ’n doopviering

Leef uit jou doop: 6.1 Die lewe as ‘n doopviering – Adrio König

6.1 Die lewe as ’n doopviering

Dit is nie ’n ou gebruik in ons kringe om jou doop doelbewus te vier nie. Trouens veral in die Gereformeerde tradisie is die doop eintlik verwaarloos. Een van die redes mag wees dat omtrent net babas gedoop is. Dit het die doop eintlik weggeneem uit die lewe van volwassenes, en die groot saak wat ter sprake was, was die regte opvoeding van die kinders, “om hulle vir die Here groot te maak”. Natuurlik het dit sy eie onvervangbare waarde, maar dit het nie regtig die volwassenes aangespreek oor hulle eie doop en hulle eie lewe nie.

In die Nuwe Testament was dit heeltemal anders. Dáár het veral Paulus die gemeente direk en ernstig aangespreek as hy oor die doop geskryf het. Hy het die wonderlike ryk betekenis van die doop in besonderhede uitgespel. Dink maar net aan Romeine 6 en Kolossense 2-3. En daar is talle kort verwysings na die doop wat ook die lewe van gelowiges direk aanspreek, soos 1 Korintiërs 6:9-11; Galasiërs 3:26-29; Titus 3:4-6.

 

Paulus spreek eintlik sy verbasing uit dat die gemeente nie besef hulle is deur hulle doop dood vir die sonde nie (Rom 6:1-3). In ons tyd sal die meeste Christene dalk hulle verbasing uitspreek dat iemand kan beweer hy/sy is vir die sonde dood, en dit boonop nog met die doop in verband bring. Ek het dit soms uitgetoets in ’n gemeente: “Wie van julle is vir die sonde dood”, en dan omtrent geen reaksie gekry nie. Dit is eenvoudig nie die terme waarin mense aan hulle doop dink nie, indien hulle ooit werklik aan hulle doop dink!

 

Maar vir Paulus lê dit in die hart van die evangelie. Hy roep die gemeente op om dit die uitgangspunt van hul lewe te maak. Nee, eintlik beveel hy hulle dat dit die uitgangspunt van hulle lewe moet wees! (Rom 6:11) In Romeine 6 verduidelik hy in besonderhede die een aspek van die betekenis van die doop: Ons is verenig met Christus.

 

Dit beteken:

♦  Ons neem aan sy hele lewe deel.

♦  Ons is dood vir die sonde omdat Hy vir die sonde gesterf het.

♦  Ons lewe net vir God omdat ons verenig is met sy opstandingslewe wat Hy net aan God wy.

 

Twee dinge is nog belangrik. Paulus sien dit as die uitgangspunt van ons hele lewe. Eintlik gee hy dit as ’n opdrag: Ons moet só oor ons lewe dink (6:11). En daarna vloei sy vermanings oor ons lewe dan soos ’n stroom daaruit voort: Ons moet end kry met ons diens aan die sonde, ons moet ons lewe volkome aan God wy deur elke deel van ons lewe in sy diens te stel (6:12-14).

 

Wat kan dit alles anders beteken as dat ons ons hele lewe in terme van ons doop moet leef, dat ons doop die uitgangspunt van ons lewe moet wees? Natuurlik beteken dit in werklikheid dat God se reddende genade die uitgangspunt van ons lewe moet wees, dat Jesus se kruis en opstanding die uitgangspunt van ons lewe moet wees, want dit is waaroor dit in die doop gaan.

 

Die tweede ding is dat Paulus eintlik verbaas is dat dit nie alreeds die geval met die gelowiges is nie. Trouens hulle verstaan nog nie eens regtig die volle betekenis van hulle doop nie. Luister na sy inset: “Weet julle dan nie … ?” (6:3). Dis byna iets van ’n verwytende opmerking soos die woorde van die skrywer aan die Hebreërs: “Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig” (5:12).

 

Die doop behoort die uitgangspunt van ons hele lewe te wees. Dit kan tog niks anders beteken nie as dat ons hele lewe ’n bewuste belewing van ons doop sal wees, wat natuurlik beteken ’n bewuste belewing van God se werk in ons lewe, van ons deelname aan Jesus se lewe. Paulus se behandeling van die doop in Kolossense 2-3 is eintlik nog aangrypender. Ook hier begin hy met die doop as die uitgangspunt van ons lewe (2:11-12). En dan word die hele deel wat hierop volg tot by hoofstuk 4 hierop gebou. En die inhoud van hierdie deel is eenvoudig hoe ons moet lewe. Hierdie hoofstukke is ’n deurlopende geheel wat deur ’n aantal voegwoorde as eenheid saamgebind word. Onderstreep die volgende voegwoorde, en kyk dan hoe ons hele lewe uit die doop voortvloei: Daarom (2:16); dus (2:20); aangesien (3:1); daarom (3:5); want (wat ongelukkig weggelaat is in sommige vertalings in 2:9); daarom (3:12). Kort saamgevat loop die beskrywing wat Paulus van ons lewe gee, dan só:

Omdat julle gedoop is en deur die doop met Christus verenig is sodat julle klaar is met julle ou lewe en aan Christus se lewe deelneem:

Daarom is julle nie meer gebonde aan die feesgeleenthede van die Ou Testament nie (2:16-19).

Dus moet julle nie wetties allerhande reëls probeer hou nie (2:20-23).

Aangesien julle deur die doop met Christus verenig is, moet julle julle gedagtes op Hom rig. Hy is immers julle lewe (3:1-4).

Daarom moet julle breek met die aardse dinge, die sonde (2:5-8).

Want julle lewe nou die lewe van die nuwe mens waar Christus alles en in almal is (2:9-11 – die “want” is on gelukkig soms weggelaat).

Daarom moet julle ’n lewe lei van ’n bepaalde kwaliteit en styl (3:12-4:1).

 

Ons totale lewe moet gebou word op ons doop, omdat ons doop God se werk in ons lewe is, ons vereniging met Christus.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 5.9 Die ryk betekenis van die doop en die kinderdoop?

Leef uit jou Doop: 5.9 Die ryk betekenis van die doop en die kinderdoop? – Adrio König

5.9 Die ryk betekenis van die doop en die kinderdoop?

Daar is geen aanduiding in die Nuwe Testament oor hoe die vroeë Christene se kinders gedoop is nie. Is hulle as babas gedoop, of moes hulle self eers tot geloof kom? Wat ons dus vandag ook al met hulle doen, berus op ander gegewens uit die Skrif wat ons gebruik om afleidings of gevolgtrekkings te maak.

Die een standpunt is dat dit duidelik is hoe daar gedoop is. Mense moes eers tot geloof kom. Daar is ook uitsprake wat dit sê. Al is daar dus geen gevalle waar gemeentekinders só hanteer is nie, waar hulle eers self tot geloof gekom het en toe gedoop is nie, aanvaar hierdie siening dat ons met hulle moet handel soos met die buitestanders wat ingekom het. Dit is nie ’n vergesogte en onredelike standpunt nie. ’n Mens moet begrip hê dat mense dit kan aanvaar.

 

Die ander standpunt is dat Paulus uitdruklik skryf dat die doop ons in die verbond met Abraham inlyf en dat daar van die begin af plek in dié verbond was vir sowel heidene wat van buite kom en eers self moet glo, en óók vir gelowiges se kinders wat besny is en daarna self tot geloof moes kom. Hierdie groep aanvaar dus dat hulle vandag nog dieselfde pad met hulle kinders kan loop.

 

Sou die groepe wat die kinderdoop verwerp, ook bereid wees om te erken dat hierdie nie ’n vergesogte en onredelike standpunt is nie? Uit die bespreking tot dusver is dit duidelik genoeg dat my eie voorkeur hier lê. Maar het ek nie myself in die voet geskiet met die ryk betekenis van die doop wat ek uit die Nuwe Testament gehaal het nie? Is dit nie eenvoudig onmoontlik dat die kinderdoop hierdie ryk betekenis kan hê soos vereniging met Christus, vergifnis en reiniging van sonde nie? Sou dit nie “veiliger” gewees het om net by die opname in die verbond te bly nie?

 

Maar ons het vroeg al aanvaar dat ons nie vir die kinderdoop ander teologiese beginsels moet aanvaar nie, maar dat die kinderdoop moet berus op die betekenis van die doop in die Nuwe Testament.

Hoe nou?

Uit die betekenis van die doop het alreeds ’n paar perspektiewe voortgevloei wat wel ruimte vir die kinderdoop gegee het.

Die feit dat dit God is wat in die doop handel, en Hy kan dit ook aan kinders doen.

Die feit dat die dopeling passief is in die doop. Dit pas volkome by die kinderdoop.

Die feit dat die dooponderrig eers ná die doop gekom het, wat ook vir die kinderdoop ruimte laat.

Die feit dat die nuwe lewe volledig op die doop gebou word (soos blyk uit die lang vermanende gedeeltes in Rom 6 en Kol 2-3, dele waaraan in hoofstuk 6 nog vollediger aandag gegee word). Dit beteken dat die doop eintlik sy groot betekenis het vir die lewe ná die doop wat ook weer ruimte laat vir die kinderdoop.

 

Maar nou die vraag na die ryk betekenis van die doop soos vereniging met Christus, vergifnis en reiniging van sonde. Maar werk die doop nie net soos die kruis nie? Dis tog God wat in beide handel. En wat Hy deur Jesus aan die kruis vir ons gedoen het, word tog nou juis deur die doop in ons lewe ingedra.

 

Hoe werk die kruis? Kom ons kyk na die klassieke deel uit 2 Korintiërs 5:17-21. Hier word die vernuwing van die mens en die betekenis van die kruis direk aan God toegeskryf. Paulus skryf dan oor die betekenis van die kruis: “dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredings nie toereken nie” (5:19). Kan ons dit regtig glo? Hier staan tog eintlik dat God op grond van die kruis aan geen enkele mens op aarde een sonde toereken nie!? Dan is alle mense mos vry en gered?

 

Dan kan ons maar net vir alle mense gaan vertel hulle is klaar vergewe. Ja, as ons nie klaar lees nie. Paulus gaan ’n bietjie verder: “Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het” (2 Kor 5:20). Wat beteken dit? Dat God alles klaar gedoen het, maar dat ons dit moet aanvaar anders geld dit nie vir ons nie. God het die wêreld versoen. Die wêreld moet die versoening aanvaar. Om die versoening te aanvaar, is nie ons bydrae by wat God gedoen het nie. Dit is ons erkenning dat Hy alles klaar gedoen het en dat ons daaruit kan leef. Maar as ons dit nie aanvaar nie, geld dit nie vir ons nie. Miskien kan ’n mens dit vergelyk met ’n skenking van geld in jou bankrekening. Dis daar, net om gebruik te word. Maar as jy dit nie gebruik nie, help dit jou nie.

 

So werk die versoening, én so werk die doop. In die doop gee God die volle heil. Dink maar aan al die doopbetekenisse. In die geloof kan ons dit alles aanvaar, net soos ons die volkome versoening deur die kruis van Jesus aanvaar. Maar ek moet dit aanvaar. Dit help nie om daarop te roem dat ek gedoop is, maar ek gee nie my lewe vir die Here nie. Simon is ook gedoop, maar hy het nie die gawes in sy doop aanvaar nie (Hand 8:13-24). Omdat God in die doop géé, en ons in die geloof moet aanvaar, kan Paulus agterna, nadat mense gedoop is en deel van die gemeente geword het, alles oor die betekenis van die doop aan hulle skryf. En as hulle dan eers iets meer oor die betekenis van hulle doop begryp, hoef hulle nie weer gedoop te word nie, hulle kan nou net in die geloof hierdie gawes van God aanvaar. Die tronkbewaarder het waarskynlik die nag toe hy gedoop is, nog niks van hierdie ryk betekenis begryp nie. Maar omdat dit God is wat in die doop gee, kon hy agterna in die gemeente geleidelik al meer van hierdie betekenis besef en aanvaar en beleef.

 

Dit is ook hoe dit in die kinderdoop werk. God gee al die wonderlike gawes, trouens die volle heil in al sy aspekte. Maar agterna moet die gedoopte dit geleidelik besef en aanvaar, of jy nou groot of klein was by jou doop. God gee in die doop vergifnis en vereniging met Christus, maar agterna moet die gedoopte (groot of klein) dit in die geloof aanvaar en daaruit leef.

 

Het dit veel anders gewerk toe God die genadeverbond met Abraham gesluit het? Het Abraham regtig ten volle besef wat God hom in beginsel alles gegee het? Of het hy dit maar geleidelik besef en aanvaar en beleef soos wat hy God leer ken het? En was dit nie met Isak presies net so nie? Hy is as baba besny, en geleidelik het hy geleer wat dit beteken, wat God beloof het, en hoe hy op God se

gawes moet reageer. Presies hoe ryk die betekenis van die doop is, het dus geen invloed op die vraag hoe die doop werk nie. In die doop gee God, en die gedoopte moet agterna leer om daar uit te leef. Dit geld vir die grootdoop (“geloofsdoop”) én die kinderdoop.

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

Skrywer: Prof Adrio König