Binding van Satan en demone – Hermie van Zyl

Mariana vra:

Kan Satan en demone “gebind” word? Kan gelowiges deur demone beïnvloed word? Die antwoord op demoniese beïnvloeding: “Onderwerp julle aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan…” (1 Pet. 5:8, My beklemtoning). “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:11). (Let wel, weereens word daar niks gesê van die duiwel of demone wat gebind moet word nie). Hoe onderwerp jy jou aan God en hoe weerstaan jy die duiwel? Wat van Matt. 18:18?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is twee sake ter sprake: 1. die binding van die duiwel/demone, en 2. die moontlike beïnvloeding van gelowiges deur die duiwel/demone.

Ek vermoed die agtergrond van die vrae is die hele verskynsel van duiwelbesetenheid en gevolglike “geestelike oorlogvoering” waar die duiwel “gebind” moet word, en nie maar net die algemene stryd wat elke gelowige daagliks teen die bose voer nie. My antwoord neem dus hierdie agtergrond in ag.

Eerstens die kwessie van die binding van die duiwel of demone. Ons lees net op een plek in die Nuwe Testament van die binding van die duiwel, naamlik Op 20:2 waar ‘n engel die duiwel bind en in die onderaardse diepte gooi, waar die duiwel vir ‘n duisend jaar opgesluit word, waarna hy vir ‘n kort rukkie vrygelaat word om sy verwoestingswerk aan te rig, net voordat hy en sy trawante finaal verslaan word (Op 20:10).

Ons moet onthou dat Openbaring ‘n apokaliptiese geskrif is wat oorvloedig van beeldspraak gebruik maak om sy boodskap oor te dra. Tradisioneel is daar ‘n verskeidenheid van interpretasies van Op 20, waarvan die chiliastiese interpretasie een is. Hiervolgens lê die duisendjarige vrederyk nog in die toekoms. Christus keer dan terug vir die eerste keer, bind die duiwel en heers letterlik vir ‘n 1000 jaar (die sg Messiaanse vrederyk), waarna die duiwel dan losgelaat word om vir ‘n kort rukkie “te heers”, net om by die tweede en finale wederkoms van Christus finaal in die poel van vuur, waar die draak en vals profeet reeds is, gegooi te word.

By verre die meerderheid van geleerdes lê Op 20 egter so uit dat die binding van Satan reeds plaasgevind het met die eerste koms van Christus 2000 jaar gelede, en dat ons nou in die simboliese duisendjarige vrederyk leef waar die werk van Satan, hoewel dit steeds voortgaan, beperk word deur die oorwinning wat Christus aan die kruis en deur sy opstanding en hemelvaart behaal het. Slegs “aan die einde van die tyd” (niemand weet wanneer nie) sal Satan sy “normale” verwoestingswerk intensiveer (hy word “losgelaat”), waarna die eindoordeel sal aanbreek. Volgens hierdie hoofstroominterpretasie – wat volle erkenning gee aan Openbaring as simboliese boek wat Christus se oorwinning oor Satan telkens in konsentriese sirkels regdeur die geskrif weergee – is Satan tans gebind (natuurlik relatief gesproke) en leef ons nou in die tyd van die wêreldwye verkondiging van die verlossing en oorwinning wat Christus gebring het met sy eerste koms. (Terloops, 1000 is ‘n simboliese getal – tien [volmaakte getal] tot die mag drie, wat dan die volkome mag van God oor die bose uitdruk.) Punt is: hierdie “binding” van Satan het die algemene betekenis dat die werk van Satan aan bande gelê is met die koms van Christus. Dit is dus slegs ‘n ander – simboliese – manier van beskrywing van wat ons in die Evangelies aantref waar ons lees dat Jesus die duiwels of demone uitgedryf het. So gesien is die binding van Satan saaklik gelyk aan die uitdrywing van die demone deur Jesus. En laasgenoemde het op sy beurt weer die betekenis dat met die koms van Christus die mag van die Bose gebreek is. Jesus is die sterker Een wat die koninkryk van God op aarde vestig en die greep wat die bose het op die mens, verbreek (vgl Luk 11:20).

Verder, Matt 18:18 (“wat julle op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees”) het niks te make met die binding van die duiwel nie. Dit handel hier oor die leer- en dissiplinêre gesag van die kerk. “Bind” en “ontbind” is tegniese terme wat met die gesagvolle optrede van die kerk te doen het. Wanneer die kerk optree teenoor lidmate wat volhardend sondig, en hierin volgens die liefdeswil van God optree, dan sal God die kerk se optrede in die hemel bevestig. Daar is dus ‘n korrelasie tussen wat die kerk op aarde “bind” en “ontbind” en God se optrede in die hemel. Die kerk is so die verteenwoordigers van God se wil op aarde. Maar dit is saak vir ‘n ander gesprek.

Oor die tweede vraag – of gelowiges deur die duiwel/demone beïnvloed kan word – is die kort antwoord “nee”. Gelowiges wat naby Christus leef, het niks te vrees vir die bose nie. Uiteraard hét ons in die algemeen ‘n stryd teen die bose wat altyd gereed staan om ons te verlei tot die kwaad, maar dit het niks te make met toevallige binding en beïnvloeding soos om aan ‘n “heidense” voorwerp te raak waardeur die bose téén die wil van die gelowige toegang tot sy/haar lewe verkry nie. Die enigste manier waarop die bose beslag kan lê op ‘n mens, is wanneer jy doelbewus van God se pad afdwaal en jou met die werk van die bose begin besig hou. Maar so ‘n beslaglegging volg eers na ‘n lang tydperk van volhardende afdwaling, en het ook nie noodwendig “duiwelbesetenheid” tot gevolg nie. Die gelowige wie se hartlike begeerte dit is om in liefde en toegewydheid teenoor God en die naaste te lewe, het niks te vrees vir die binding deur die duiwel of toevallig duiwelse beïnvloeding nie. Die tekste wat die vraagsteller hierbo aanhaal (Jak 4:7; 1 Pet 5:8; Ef 6:11) sê ook duidelik dat daar maniere is om met “duiwelse beïnvloeding” te handel in die normale gang van sake.

Die groot saak is dat ons nie duiwelgefokus of duiwelbehep moet lewe nie. En ek is bevrees dat die hele bedryf rondom “geestelike oorlogvoering” ‘n vorm van duiwelbeheptheid is. Ons fokus moet op Christus en God wees, nie op die duiwel nie. Die duiwel en sy trawante is slegs die donker skaduwees wat sigbaar word wanneer die helder lig van Christus se oorwinning oor alle vyandelike magte in die wêreld, daarop val. Solank ons op die Lig fokus, hoef ons ons nie te veel aan die skaduwees te steur nie. Die duiwel is nie ons aandag, kragte en energie werd nie. Dan bekom hy ‘n status wat hy nie verdien nie. Soos Paulus in Kol 3:2 sê, ons moet ons gedagtes rig op die dinge daarbo, nie op die dinge wat op die aarde is nie. (Met “dinge op die aarde” word bedoel alles wat ons hier kan betower en kan aftrek van ons lewe saam met Christus.) Natuurlik moet ons nie naïef wees oor die verwoestingswerk wat deur die bose aangerig kan word nie. Maar die manier waarop die bose beveg moet word, is nie deur op hom te fokus nie; fokus eerder op die Een wat sterker is. By Hóm skuil ons. En hoe langer en meer ons dit doen, hoe minder word die behoefte om notisie te neem van die bose.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Aan die duiwel oorgegee

Aan die duiwel oorgegee – Francois Malan

Jan vra:

‘n Vriend bel my eendag en vra wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee? In 1 Kor 5: 1 tot 5 praat Paulus oor die sedeloosheid van die Korinthiërs. Daar is hoerery en in die opsig is daar selfs iemand wat sy vader se vrou het. Paulus sê dan in vers 5: om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. Wat is hier aan die gang, asseblief?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Paulus se reaksie op die berig wat hom bereik het, is een van verontwaardiging, dat die gemeente oor so iets kan spog. As gesant van Jesus Christus, wat as die Here oor sy kerk regeer, spreek Paulus ‘n woord in die Naam van die Here. Die woord moet deel word van die gemeente se besluitneming, deurdat die Heilige Gees die gemeente lei om aan die woord wat van die Here deur Paulus kom, uitvoering te gee. Die gemeente moet oortuig word dat dit die pad is wat die Here vir hulle aanwys.

Om die lidmaat tot inkeer te bring, moet die hele gemeente eers tot inkeer kom en hulle siening van die seksuele lewe verander. Dit word in hoofstuk ses en sewe van 1 Korintiërs weer aangespreek. Dat hulle hulle liggame sal begin sien as ‘n tempel van God waarin die Heilige Gees woon , en dat die mens se liggaam nie vir seksuele losbandigheid bedoel is nie, maar vir diens aan die Here. Vir die verlossing van die seksuele lewe uit die kloue van die duiwel het Jesus sy lewe aan die kruis afgelê (1 Korintiërs 6:13,19-20).

In Matteus 18:15-20 word ‘n prosedure voorgestel in ‘n ander verband, wat ‘n aanduiding kan gee hoe opgetree moet word.

In Job 2:8 gee die Here Job oor in die mag van die Satan, met ‘n enkele beperking. Maar dit is ook weer ‘n ander situasie, want Job het nie in sonde verval nie.

Die pad wat Galasiërs 5:24-5 en Romeine 7:5-6 vir die gelowige aanwys, is om jou sondige natuur te kruisig deur ons aan die beheer van die Gees oor te gee. Dit sou die aangewese weg wees vir die man wat in bloedskande leef, om weer in die gemeente opgeneem te word. Maar as hy sou volhard op die pad van die sondige natuur, is hy op die pad na die ewige dood (vgl. 1 Korintiërs 6:9-11).

‘Wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee?’ – ek sal versigtig wees om dit te doen. Gewoonlik gee mense hulle self aan die duiwel oor deur Jesus te verlaat. Paulus sê dat die toorn van God kom oor mense wat Hom nie eer en dank nie, en sy toorn is dat Hy hulle oorgee aan hulle eie begeertes om hulle eie lewe daardeur te verwoes (vgl. Romeine 1:18,24-32 se lys sondes). 1 Johannes 5:16-17 onderskei tussen sonde wat nie tot die dood lei nie en dat ons vir so iemand moet bid, en sonde wat tot die dood lei, waarvoor hy nie sê dat ons vir so ‘n persoon moet bid nie – al verbied hy nie sulke voorbidding nie – die sonde tot die dood gaan oor mense wat die geloof in Jesus as Seun van God wat mens geword het, verwerp, en God se gebod van onderlinge liefde versaak (2 Johannes 7-9).

 

Prof Francois Malan

 




Die duiwel het my dit laat doen!

A Christian community should do as Jesus did: propose and not impose. Its attraction must lie in the radiance cast by the love of brothers.” ~Jean Vanier

 Die duiwel het my dit laat doen!

Ek het pas gesondig. Het die duiwel my dit laat doen?  Ons lees: Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam (2 Timoteus 2:26). Hier verwys Paulus na dwaalleraars. Hy verwys ook na ouderlinge wat maar onlangs tot geloof gekom het en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland … en hy in die strik van die duiwel beland nie (1 Timoteus 3:6 – 7).

 

 As Paulus egter met gelowiges oor hulle sondes praat, doen hy dit direk – soos in Efesiërs 4:25 – 32.  Paulus praat wel van die duiwel in hierdie gedeelte: Moenie die duiwel vatkans gee nie. Ons moenie die duiwel vatkans gee deur kwaad te word en die dag kwaad af te sluit nie. Ons sonde mag aan Satan die geleentheid gee om sy agenda deur ons te bevorder, maar Paulus sê nie dat ons sonde deur die duiwel veroorsaak word nie. Paulus sê vir hulle hierdie dinge is ontoepaslik en dat God se kinders niks hiermee te doen moet hê nie. Sonde is ongehoorsaamheid en ons het nie ‘n graad in duiwelkunde nodig om gehoorsaam te wees nie.

C. S. Lewis waarsku dat Satan gelukkig is met ons onkunde en ook ons obsessie met hom. Die Bybel sê dat Satan ‘n werklikheid en gevaarlik is, maar gelowiges is nie aan sy genade oorgegee nie. Die verlossing wat Christus bewerk het, stel ons vry van Satan se tirannie. Ons is nie meer slawe van sonde en die dood nie. Nee, ons is onder gesag van die Heilige Gees en dra sy vrug in ons lewe.

Moet ons van die duiwel bewus wees? Ja.

Moet ons van sy motiewe en optrede bewus wees sodat ons hom kan vermy? Beslis.

Moet ons vir ‘n duiwel agter elke sonde soek? Nee.

 Moet ons bewe vir sy mag? Onder geen omstandighede nie.

Satan se kennis en mag is beperk; sy vernietiging is verseker. Hy verdien nie ons obsessie, tyd en emosies nie. Nee, ons lewe met ons oë op Jesus gerig – Hy het ons van Satan se toorn gered en ons weet dat eendag sal ons vir altyd van hom ontslae wees.




Woorde uit die Bybel – Die duiwel (2)

Talmoed

Woorde uit die Bybel – Die duiwel (2)

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

In die vorige gedeelte oor die duiwel het ons gepraat van oorlogvoering en wapens en terugveg. Voordat ons na God se wapenrusting kyk net twee dinge:

  • Ons hoef nie bang te wees vir die uitslag van hierdie geveg nie. Die duiwel is klaar oorwin. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het (1 Korintiërs 10:13)
  • Die duiwel vlug as ons weerstand bied. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ‘n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie (Jakobus 4:7)

Paulus maak dit duidelik dat ons nie hier met ‘n oorlog tussen mense te doen het nie – ons moet teen die onsigbare geestelike magte van Satan veg. Dan beskryf hy God se wapenrusting:

  • Die belt om jou middel = die waarheid
  • ‘n Staal borsplaat = die wete dat God jou van al jou sondes vrygespreek het.
  • Die skoene aan jou voete = gereedheid om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring.
  • ‘n Skild om die giftige aanvalle van die Bose te keer = geloof, die intieme verhouding met die Here.
  • ‘n Ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm = die wete dat jy gered is.
  • ‘n Swaard = die boodskap van God wat die Heilige Gees aan jou gee om die stryd mee te voer.

Wat baie interessant is, is dat hier niks is om die rug te beskerm nie. Is dit omdat daar geen beskerming is as ons sou weghardloop nie?

Volgende keer begin ons met ‘n bespreking oor genade.