Woorde uit die Bybel – Die duiwel (1)

Talmoed

Woorde uit die Bybel – Die duiwel (1)

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

Daar is baie mense wat nie aan die bestaan van die duiwel glo nie. Daar is selfs boeke geskryf deur Christene wat die bestaan van die duiwel bevraagteken. Maar wat sê die Bybel? Trek die klere aan wat God vir julle gegee het om mee te veg sodat die duiwel julle nie sommer om die eerste hoek en draai met al sy slim planne oorrompel nie (Efesiërs 6:11). Die Bybel maak dit duidelik dat daar wel iets soos die duiwel is.

Die Christen se lewe word beskryf as ‘n slagveld. Die goue reël in oorlogvoering is dat jy jou vyand moet ken. Eers as ons hom ken, kan ons hom doeltreffend beveg. Die waarheid van die duiwel sal ons slegs ken as ons hom in die lig van die waarheid van God sien.

As ons praat oor die duiwel is daar twee probleme waarvoor ons baie versigtig moet wees:

  • Ons gee te veel aandag aan die duiwel. Die duiwel is nou die belangrikste tema in ons hele godsdiens. Dit skep ‘n baie negatiewe beeld van die Christelike lewe. Net so min as wat Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen (Johannes 17:15). Wat ons moet besef, is dat die duiwel op Golgota oorwin is.
  • Ons gee te min aandag aan die duiwel. As ons die duiwel nie ernstig genoeg opneem nie, kan twee dinge gebeur:

Ons is nie meer bewus van die gevare van die duiwel se aanslae nie.

Ons water die belang en betekenis van die kruisdood van Jesus Christus af.

Moenie behep wees met die duiwel nie, maar moet hom nie onderskat nie. In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ‘n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ‘n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg (1 Petrus 5:8).

Volgende keer kyk ons na hoe ons teen die duiwel moet veg.

Tweede aarde onder die duiwel se beheer?

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? – Kobus Kok

Eddie vra: 

Na ‘n selgroep een aand het die gesprek om die skepping van die aarde gegaan. Daar is genoem dat toe God die aarde geskape het dit die tweede aarde was en dat die eerste aarde onder beheer van die duiwel was. Waar kan ek meer hieroor lees ?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord: 

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? 

Dit is nou eintlik vreeslik moeilik om presies te weet waarna die persoon verwys, omdat Genesis dit baie duidelik maak dat God die skepper is van alles wat bestaan. Daar is wel twee skeppingsverhale in Genesis, en daaroor kan mens meer lees deur enige goeie kommentaar op Genesis te raadpleeg in standaard reekse soos Word Biblical Commentary, Anchor Bible Dictionary, Hermeneia, ens. ‘n Kommentaar bespreek vers vir vers die Bybel en lê dit uit, terwyl dit ook toepaslike agtergrondgeskiedenis verskaf.

Daar is in die antieke wêreld verskillende skeppingsverhale deur verskillende kulture vertel en geboekstaaf. So het die Jode verskil van die Babiloniërs, die Grieke van die Romeine, die Platoniste van die Neo-Platoniste en van die Gnostici. In sommige van die Heidense gelowe kan mens die idee kry dat daar ‘n minderwaardige god is wat in beheer van die skepping is, maar dit is geensins die gedagte wat mens in die Bybel sal vind nie. Lees maar net Openbaring 4:1-11 waar God op die troon sit. Lees sommer ook Kol 2:15 wat vertel hoe die duiwel in die triomftog van God meegesleur is, of Johannes 1:1-18 wat vertel dat God die bron van lewe is en alles geskep het.

Dit gaan baie energie neem om die antieke wêreld se verskillende idees oor die skepping te bestudeer. Die beste bron wat dit vergelykend doen is Kittel en andere se Theological Dictionary of the New Testament. Daarin kan mens die woord skepping/creation opsoek. Die boek sal dan vir jou die Griekse, Joods-Hellenistiese, Nuwe Testamentiese en na-Nuwe Testamentiese perspektiewe gee.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Die duiwel versoek Jesus

Die duiwel versoek Jesus – Francois Malan

Piet vra:

Lukas.4:6 verwys. Satan wil al die mag en koninkryke aan Jesus gee omdat dit aan hom gegee is, maar behoort alles nie aan God wat alles geskape het nie? Kan u verduidelik asseblief.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Lukas 4:6 gebruik die woord ‘duiwel’; dit beteken ‘kwaadprater’, wat iemand anders van sy eer beroof deur sy skinderpraatjies, maar dit het ook die gedagte van ‘n aanklaer. Markus 1:13 gebruik die naam Satan wat beteken ‘teenstander’ wat ook aanklaer kan wees, soos bv. in Sagaria 3:1.

‘Omdat dit aan hom oorgegee is’ – daarmee erken die duiwel dat God die mag en majesteit aan hom gegee het. So het God volgens Job 1:12; 2:6 vir Job in die mag van die Satan oorgegee om sy getrouheid aan God te toets. In Deuteronomium 8:2 sê die Here vir die volk Israel: ‘Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.’ Lukas 4:1,2 sê: ‘Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is.

Dit is duidelik dat die Here versoekings deur die duiwel toelaat, om die gelowiges op die proef te stel. So sê Jakobus 1:2-4: ‘My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.’ In Jakobus 1:13-15 waarsku Jakobus egter: ‘Iemand wat in die versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort, en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.’

God laat toe dat die duiwel vir Jesus versoek, net soos Hy toelaat dat die duiwel ons versoek met sy aanloklike aanbiedinge wat ons begeertes opwek wat na sonde en die dood lei. Daarom sê Jakobus 4:7: ‘Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.’ So het Jesus die duiwel en sy versoekings weerstaan, en die duiwel het Hom ‘n tyd lank met rus gelaat (Luk. 4:13). Jesus het ten volle mens kom word om ons sondeskuld en sondestraf op Hom te neem. Hebreërs 4:15 ‘…Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoekings onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.’

‘Maar behoort alles nie aan God wat alles geskape het nie?’ Genesis 1 en 2 getuig dat God alles geskape het (1:1 hemel en aarde; 1:27 die mens; 2:3 al die skeppingswerk). Paulus noem God die Skepper van alle dinge (Efesiërs 3:9).

Hoe die mag en koninkryke in die hande van die duiwel gekom het – God het die mens na sy eie beeld en goed gemaak, nie as ‘n willose stok of ‘n blok nie, maar met die vryheid en verantwoordelikheid om self te kies, en God met sy hele hart lief te hê en te gehoorsaam. Maar die mens het besluit om sy eie kop te volg, om vir homself te lewe, en het sy rug op God gedraai. Daarom het God die mens aan sy eie begeertes oorgegee, wat hom na sonde en die dood lei (vgl. Romeine 1:24,26).

God het nie die sonde of die duiwel gemaak nie. Die duiwel is ook ‘n skepsel wat God baie goed gemaak het, soos alles wat Hy gemaak het (Gen.1:31). Judas vers 6 sê: dat daar engele was wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. 2 Petrus 2:4 sê: God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie, maar hou hulle vir die oordeel in die duisternis van die hel (letterlik: van Tartarus, die onderwêreld, of ondermaanse, die wêreld waarin ons woon met die bose geeste in die lug, Efesiërs 6:11,12). Maar met Jesus se oorwinning oor die duiwel wat ons aankla, sê Jesus: Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val (Lk 10:18). Hy is nou ‘n vyand wat verslaan is, teen wie ons weerstand kan bied met die krag van God se Gees in ons (Ef 6:18).

In Johannes 12:31; 14:30; 16:11 word die Satan die owerste van hierdie wêreld genoem. Hy het geen mag oor Jesus nie (Jn 14:30),  maar uit liefde vir die wêreld se mense is Jesus bereid om Hom oor te gee aan die duiwel se mag wat hy deur die Joodse Raad en Pilatus uitoefen om aan die kruis die sonde en die dood te oorwin. In Joh 10:18 sê Hy: niemand neem my lewe van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Wanneer Jesus van die aarde ‘verhoog’ is aan die kruis, en na sy opstanding verhoog word na die hemel (12:32) word die duiwel uitgegooi buitentoe (Jn 12:31). So word die duiwel onttroon en Jesus gekroon as die eintlike heerser oor die wêreld.

Maar die wyse waarop Jesus die mag en majesteit verkry, is nie deur geweld nie. Dit sou dan beteken dat Hy mense sou kon dwing om Hom te gehoorsaam. Maar Hy het gekom om die mens met liefde te oorwin, en daarom is sy sterwe aan die kruis ‘n liefdesdaad wat ons met liefde wil oortuig, sodat ons Hom uit dankbaarheid sal liefhê en vrywillig as ons God sal dien. Liefde is wel ‘n gevoel van toegeneëntheid, maar is veral ‘n wilsbesluit om jouself te verloën en ander te dien..

Al kan die duiwel ná die opstanding van Jesus nog met sy bose werk voortgaan, is sy mag gebreek en kan die gelowige hom weerstaan met die liefdeskrag van God deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het.  Met Jesus se dood en opstanding is die Satan klaar veroordeel (Jn 16:11). 2 Korintiërs 4:4 noem hom ‘die god van hierdie wêreld’ vir wie die mense gekies het om te dien; Efesiërs  2:2 sê ‘…julle het julle laat lei deur die vors van die onsigbare bose magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. 1 Johannes 3:8 sê: wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.’ In Matteus 25:41 sê Jesus: met sy wederkoms sal die ongelowiges na die ewige vuur toe gaan wat God vir die duiwel saam met sy engele berei het (vgl Openb.20:10).

Toe die duiwel die heerskappy oor die wêreld aan Jesus aangebied het, was sy versoeking juis dat Hy sy goddelike krag moet misbruik, deur die wêreld aan Hom te onderwerp op die duiwel se manier, met mag en geweld, soos die duiwel sê: ‘as U maar net voor my buig en my aanbid’ (Luk.4:7). Jesus sê: die duiwel is van die begin af ‘n moordenaar, ‘n leuenaar en die vader van die leuen (Joh 8:44). Jesus antwoord met Deuteronomium 6:13,14: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’ (Luk.4:8). Toe Petrus in Getsemane die slaaf van die hoëpriester se oor afkap, vermaan Jesus hom: Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel (Mat 26:52-55); moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie? (Joh 18:11). Weereens weerstaan Jesus die versoeking om sy goddelike mag te misbruik.

God is liefde (1 Joh.4:8,16). Liefde is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees, die band van hulle eenheid waarin hulle ons wil opneem deur die Heilige Gees wat in ons kom woon, sodat ons ook uit liefde vir God en vir mekaar sal lewe. Jesus kom die wêreld oorwin met liefde (vgl. Joh.3:16). Dit doen Hy deur sy lewe te gee; die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Joh.10:15). So verlos Hy die wêreld en elkeen wat in Hom glo, vir die nuwe en ewige lewe waar die God van liefde alles vir alles sal wees (1 Kor 15:28).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Prins van die wêreld

Die Prins van die wêreld – Kobus Kok

Cillie vra: 

Wie en wat is die prins van lug?

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Waarom noem die Bybel die duiwel die prins van die wêreld? 

In Johannes 12:31 lees ons dat die duiwel deur Jesus beskryf word as die heerser oor hierdie wêreld. In die oorspronklike Grieks (argoon) kan ons die woord heerser ook vertaal met prins. In Johannes se denke is God en sy Seun van Bo af, van die hemelse sfeer. Die aarde is onder die invloed van die duiwel wat die prins of heerser is van die aarde. Hy het baie mense wat onder sy invloed leef. In Johannes 8:44 beskryf Johannes dat sommige mense kinders van die duiwel is en net soos hulle vader, die duiwel, doodmaak en in die leuen leef. In die antieke tyd het kinders soos hulle vaders opgetree en daarom sou ons sê dat die appeltjie nie ver van die boom geval het in die antieke tyd nie. Geen wonder dat die duiwel se kinders dan net soos hulle pa die duiwel optree nie.

Johannes maak dit egter ook heeltemal duidelik dat die duiwel eintlik ‘n nietige heerser is. Hy is maar net ‘n prins. Die eintlike heerser is God wat in Johannes se denke die ware Koning is. ‘n Prins het baie minder mag as die Koning. Net so is God die een met die werklike krag. Dit is die belangrike om raak te sien! Daarom lees on in Johannes 12:31 dat God as Koning die duiwel as prinsie van sy magstroon sal gooi. God as koning het ook kinders. Hulle word weer gebore as kinders van God (Joh 1:12) en tree op soos kinders wat aan God die koning behoort.

 

Skrywer: Dr. Kobus Kok