Die wet in Deuteronomium 24 oor trou en skei – Hermie van Zyl

Vraag:

Benita vra

Ek wil graag weet hoe interpreteer ons in ons hedendaagse lewens dié spesifieke gedeelte in ’n Christen se lewe. Die jeug verstaan nie die konsep van die wet nie en ek vind dit net interessant, ten spyte daarvan dat dit ’n wet in die Ou Testament is.

Antwoord vanaf Prof Hermie van Zyl

Wie uit Deuteronomium (Dt) 24:1-4 op die klank af direkte lyne wil trek na vandag toe, loop haar/hom gou vas. Want nie net is daar onsekerheid oor presies hoe ons Dt 24 in sy antieke konteks moet verstaan nie, maar dit is ook duidelik dat hierdie verse deur die eeue herinterpretasies ondergaan het soos tye verander het. So byvoorbeeld verwys Jesus in Matteus 5:31-32 en 19:3-9 ook na hierdie teks. En Paulus redeneer eweneens teen die agtergrond van Dt 24 as hy oor trou, skei en hertrou handel in 1 Korintiërs 7. Maar beide Jesus en Paulus hanteer Dt 24 in hulle kontekste om die populêre opvattings van hulle eie tyd oor trou en skei uit te daag, terwyl hulle terselfdertyd God se diepste bedoeling met die huwelik beklemtoon. En dan moet ons natuurlik ons eie tyd en konteks ook in ag neem wanneer ons probeer raad gee oor hierdie kwessie. Kom ons probeer ’n bepaalde lyn trek.

Ons begin by Dt 24:1-4. Hier word verskillende situasies geskets. ’n Man trou met ’n vrou, ontdek dan iets onbehoorliks by haar, en skei haar. Die vrou trou vervolgens met ’n ander man, en dié kry ook ’n weersin in haar, en skei haar ook. Of dit gebeur dat die (tweede) man sterf. Nou word gesê dat die eerste man nie die vrou mag terugneem (hertrou) nie, omdat dit iets afstootliks vir die Here is. (Ek volg die bewoording van die 2020-Afrikaanse vertaling van die Bybelgenootskap van SA.) Die vraag is wat presies die rede is waarom die eerste man nie die vrou mag terugneem nie? Hoekom is dit iets afstootliks vir die Here? Veral omdat daar geen beletsel op die hertroue van die vrou met ’n tweede man was nie. Omdat die gegewens so karig is en die omstandighede rondom antieke huwelike in Israel gehul is in reëls en taboes wat vir ons vandag nie meer toeganklik is nie, is daar verskillende oplossings wat geleerdes aan die hand doen. Ek bespreek nie almal nie, maar handel net oor wat die mees waarskynlike argument hier is.

Die onderliggende agtergrond waarteen Dt 24:1-4 verstaan moet word, is dat die huwelik as ’n heilige instelling in Israel beskou is wat deur God in beskerming geneem is. Mense mag daarom nie vir enige bakatel skei nie. Verder is dit veral die vrou wat in hierdie verse in beskerming geneem word, omdat dié se posisie in die antieke samelewing – ook in Israel – uiters kwesbaar was; sy was grootliks uitgelewer aan die grille en giere van die man, veral in die huwelik. En in Israel is God veral die God van die weerloses – die armes, weduwees en wese. Hy waak in die besonder oor hulle (vgl Eksodus 22:22-24; Sagaria 7:10). En dit is ook die basiese saak wat in dié verse ter sprake is. Hoe verloop die argument?

Verkillende scenario’s word hier geskets. Die eerste kan mens so verstaan dat wat die eerste man as onbehoorlik aan sy vrou gevind het, die feit is dat sy nie ’n maagd was nie. Waarskynlik is sy as jongmeisie in die veld verkrag, waar niemand haar sou hoor as sy om hulp roep nie (vgl Dt 22:25-27). En dié geheim is deur haar pa stilgehou, om verstaanbare redes. (Sy sou nie goeie troumateriaal gewees het nie.) Toe haar eerste man dit ná hulle troue uitvind, kon hy eenvoudig nie daarmee saamleef nie, en het hy haar geskei. ’n Tweede scenario ontstaan wanneer sy ’n tweede huwelik aangaan, maar waar ook dié man haar geheim uitvind, en haar eweneens skei. ’n Derde scenario kan ontstaan wanneer die tweede man dit wel goed vind om met haar saam te leef, ten spyte van haar geheim, maar dan later tot sterwe kom. ’n Vierde scenario ontstaan as die vrou se eerste man dit as ’n geleentheid sien om munt te slaan uit die situasie deur sy twee keer geskeide ex, of tans weduwee, weer as vrou te neem. Moontlik sien hy dat hy geldelik daarby kan baat, aangesien sy ex ná twee huwelike met ’n aansienlike bruidskat kon sit. (Vroue is in bepaalde gevalle toegelaat om na ’n egskeiding hulle bruidskat te behou.) Maar dis nou op hierdie punt dat die Here bepaal dat ’n hertroue nie mag plaasvind nie, omdat die vrou nie ’n seksuele speelbal tussen mans mag wees nie, en omdat die vrou nie as ’n objek van winsbejag hanteer mag word nie. (Destyds is vroue as die man se besitting beskou.) Want dan word die huwelik bespotlik gemaak en in sy wese aangetas. En dis iets afstootliks vir die Here.

Hoe mens ook al die scenario’s van Dt 24 rekonstrueer, dit is duidelik dat die hele kwessie van skei en hertrou ’n spesifieke konteks in oud-Israel gehad het, wat nie noodwendig vandag meer geld nie. (Kyk byvoorbeeld ook die wetgewing rakende seksuele misdrywe in Dt 22:13-30 waarvan sommige vir ons vandag baie vreemd op die oor val. Net om te sê dat mens nie summier die OT wette net so vir vandag kan oorneem sonder inagneming van die konteks en ander uitsprake in die Bybel nie.) Die punt is egter dat die huwelik nie aan die willekeur van die man uitgelewer is nie, en dat die vrou se eer én die huwelik as eerbare en heilige instelling in Israel, deur God in beskerming geneem word. So word verhoed dat die land in sonde verval (Dt 24:4).

Kyk ons hoe Jesus die kwessie van egskeiding en hertroue hanteer, dan is dieselfde beginsels ter sprake, hoewel in ’n ander konteks. In Matteus 19:3-9 handel Jesus oor egskeiding en hertrou. As die Fariseërs Hom daarop wys dat Moses hulle toelaat om te skei (v7, verwysende na Dt 24:1-4), dan voer Jesus hulle terug na die oorspronklike bedoeling van die huwelik in Genesis 2:24, dat man en vrou een vlees is, dat God hulle saamgevoeg het, en dat ’n mens daarom nie mag skei nie. Hulle mag nie maak soos sommige Fariseërs Dt 24:1-4 geïnterpreteer het, dat mens sommer vir enige rede skei nie (Matteus 19:3). Jesus sê: slegs in geval van owerspel (v9, ook verwysende na Dt 24), kan dit oorweeg word. Maar eintlik is dit slegs by wyse van toelating, nie verpligting nie. As daar versoening kom, is dit steeds die beste as man en vrou bymekaar bly. Want soos die lewe in die algemeen, is ook die huwelik aan sonde onderworpe, en is ons geroepe om mekaar te vergewe, as dit enigsins moontlik is. Verder is Jesus streng oor die kwessie van hertrou na egskeiding: Hy sê dat ’n vrou wat sommer om een of ander ligsinnige rede in ’n egskeiding gedwing is, eintlik in ’n staat van egbreuk leef en nie weer behoort te trou nie (Matteus 5:32). En so, by implikasie, natuurlik ook die man wat die egskeiding aan die gang gesit het. Weer eens, so neem Jesus die huwelik as eerbare instelling in beskerming.

Dus, in die konteks van die ligtelike manier waarop Dt 24 deur sommige strominge in die Joodse gemeenskap van sy tyd hanteer is, gryp Jesus terug na die oorspronklike bedoeling van die huwelik, lê klem op die wesenlike onontbindbaarheid daarvan, en neem dus die huwelik en veral die kwesbare posisie van die vrou in beskerming.

Paulus, in sy raad aan die Korintiërs oor die huwelik in 1 Korintiërs 7, herhaal die opdrag van Jesus, naamlik dat man en vrou nie van mekaar mag skei nie, en ás hulle skei, dat hulle ongetroud moet bly, of met mekaar moet versoen (v10-11). Selfs in die geval waar gelowiges met ongelowiges getroud is, is die opdrag ook aan die gelowige partye om nie ’n egskeiding aanhangig te maak nie, want volgens Paulus word die ongelowiges deur die gelowiges geheilig (v12-14). Maar in die geval waar die ongelowige wil skei, laat Paulus dit toe (v15-16). Paulus is dus verbasend soepel in sy raad. Enersyds hou hy vas aan die heiligheid en wesenlike onontbindbaarheid van die huwelik, andersyds hou hy rekening met die praktiese omstandighede, veral in ’n heidense omgewing, soos waarin die Korintiese gelowiges hulle bevind het. Vir die ongetroudes hou hy selfs sy eie ongetroude status as voorbeeld voor, omdat die tyd kort is en mens eerder al jou kragte vir die koninkryk van God moet aanwend as vir die huwelik met al sy sorge (v25-35). Maar dit is slegs ’n suggestie, nie ’n gebod nie, soos Jesus ook impliseer in Matteus 19:10-12. Hierdie raad van Paulus oor die ongetroude status is eintlik baie rewolusionêr vir sy tyd, waar die huwelikstatus vir veral vroue uiters belangrik was. Paulus sê egter dat daar ’n belangriker status is, en dit is om voltyds in diens te staan van die koninkryk van God. Maar dis net vir sommiges bedoel, dis nie ’n algemene reël nie.

En so sal elke tyd sy eie reëls rondom die huwelik hê. Veral sedert die emansipasie van die vrou in die Westerse samelewing, waar die vrou op gelyke basis met die man behandel word, word daar anders gedink oor die huwelik, en is hertrou nie aan allerlei taboes onderworpe soos in die antieke samelewing nie. Maar vir die Christen, wat anders as die wêreldling leef, geld die wil van God oor die huwelik nog steeds. Daarom hou Christene vas aan die volgende beginsels, soos hierbo uitgewys: God het man en vrou saamvoeg in die huwelik; die huwelik is ’n permanente eenheid; egskeiding mag slegs om ernstige redes oorweeg word; en hertrou, hoewel toelaatbaar, mag nie ligtelik opgeneem word nie, juis omdat die huwelik vir die gelowige ’n ernstige en heilige verbintenis is en ligsinnige “marriage hopping” vermy moet word.

Ek vertrou dat bostaande oorsig vanuit Dt 24, in die lig van die latere hantering daarvan deur Jesus en Paulus vanuit hulle kontekste, en in die lig van my opmerkings daaroor vanuit ons konteks vandag, vir ons vraagsteller iets sal gee om te oordink.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Hertrou – Francois Malan

Vraag:

Goeie dag, ek is ‘n 43jarige vrou wat al 14jaar lank geskei is, en nog nooit weer getrou het nie.
My eerste huwelik was net ‘n jaar en ‘n half lank want my man was ongetrou aan my met ‘n ander vrou terwyl ek nog baie lief was vir hom, dit was die vleur van my lewe en is so gou vinnig verpletter, ek was 5mnde swanger toe hy weg was. Ek het na die tyd besef hy was nie gelowig of lief genoeg vir my nie. Hy is intussen weer getroud en weer geskei en is tans besig met vrou nommer 3.
Nou na al die jare het ek weer liefde gevind maar is so bekommerd en wil die woord van God eer deur sy woord te volg, en ek lees dat mens nie weer mag trou nie. Ek was nie ontrou aan my man nie, maar wil graag God se blessing he in ‘n nuwe huwelik, indien dit ‘n nee is sal ek dit liewer wil aanvaar. Mens raak tog ook moeg vir aleen wees.

Maar as ek die geleentheid mag kry wil ek seker wees.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 Korinthiërs 7:10-11 bespreek Paulus egskeiding. Die Here sê ’n vrou mag nie van haar man skei nie en ’n man nie van sy vrou nie (Markus 10:5-12). As hulle skei moet hulle ongetroud bly of met mekaar versoen. Volgens jou man se optrede is versoening nie meer moontlik nie.

In 1 Kor 7:12-15 bespreek Paulus die uitsonderings as sy mening. As ’n gelowige se ongelowige man of vrou wil skei, laat hulle skei. In sulke gevalle is die (gelowige) broer of suster nie gebonde nie.

In 1 Kor 7:39 bespreek hy die posisie van ’n weduwee, dat sy vry is om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid met die Here is. Dit beteken dat jy as vrou wat in Jesus Christus glo as die Here wat die seggenskap en leiding van jou lewe het, en jou Verlosser wat vir al jou sonde aan die kruis gesterf het, nie met iemand moet trou wat nie in die Here Jesus glo nie.

Maar as julle albei in Jesus glo, skryf Paulus aan die Efesiërs 5:21: Wees ondergeskik aan mekaar uit ontsag vir Christus. In Filippense 2:3-5: Moenie iets doen uit selfsug of ydelheid nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van die ander. Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was. En gaan Paulus verder in verse 6-11 om ons te herinner hoe nederig Christus was om Homself prys te gee en die gestalte van ’n slaaf aan te neem, mens te word en Hom verder te verneder tot die dood aan die kruis. Daarom het God Hom verhoog as die Here oor die ganse skepping.

1 Korinthiërs 13 beskryf die liefde soos volg: Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie en is nie verwaand nie. Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles (1 Kor 13:4-7).

Die pad van die liefde in die huwelik is slegs moontlik as God die Heilige Gees in ons kom woon het. Hy oortuig ons van ons sonde en van ons verlossing deur Jesus, sodat ons deur geloof aan Jesus verbind word, en so kinders van God word. Daar is geen veroordeling vir diegene wat aan Christus Jesus in geloof verbind is nie (vgl. Romeine 8:1-17; Johannes 14:15-17; 16:8,14).

As jy en jou nuwe man dieselfde liefde en nederige gesindheid van onderwerping aan mekaar het en julle elke dag aan Jesus se leiding in sy woord onderwerp, kan julle seker wees van sy seën op julle huwelik.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Vergifnis – Hermie van Zyl

Lemvia vra:

Ek was getroud vir 12 jaar. In my huwelik is ek verbaal, emosioneel en fisies mishandel. Ek is geskei en het ‘n jaar later ‘n verhouding met ‘n ander man aangeknoop. Ons is baie lief vir mekaar. Ek het die Here gesmeek om vergifnis na my egskeiding. Maar ek weet ook wat die Bybel sê oor egskeiding. Hy was nog nooit getroud nie en wil nie sondig deur met my te trou nie. Kan ek aanvaar dat God my vergewe het en dat ek kan aanbeweeg?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As die vraagsteller sê dat sy weet wat die Bybel sê oor egskeiding, is daar verskeie gedeeltes wat by ’n mens opkom, soos Eks 20:14: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”; Mal 2:13-16 “… Die Here … haat egskeiding”; Matt 5:32: “Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk”; Matt 19:6,8: “Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie… Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie”; 1 Kor 7:10-11: “Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie maar die Here – dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie”; Heb 13:4: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” En so sal ons die tekste kan vermenigvuldig wat aantoon dat God se wil oor die huwelik duidelik is: Dis ’n permanente verbinding; so het Hy dit van die begin af bedoel. En egskeiding was nooit deel van sy oplossing vir die probleme wat ’n egpaar binne die huwelik mag beleef nie.

Maar nou weet ons ook dat egskeiding, hoewel teen die wil van God, nie ’n groter sonde as ander is nie. Ook dít word deur God vergewe, as daar opregte berou is en die hartlike voorneme is om binne sy wil te lewe. Dan kan ons aanvaar dat God hierdie ongelukkige gebeure afsluit en die toekoms oopsluit. Die Bybeltekste wat oor egskeiding en hertrou handel moet dus ook in die lig van God se genade beoordeel word. God hang ons nie op aan ons sonde nie, maar handel ook hierin met ons volgens sy barmhartigheid, deernis, liefde en vergifnis. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Ps 103:14). Hy maak inderdaad ’n nuwe lewe moontlik.

Kom ons neem die kwessie van hertrou na egskeiding spesifiek vanuit Matt 5:31-32 in oënskou. Ons gebruik dit as ’n voorbeeld van hoe mens oor hierdie en ander uitsprake in die Bybel oor iets soos egskeiding en hertrou, vandag moet oordeel.

In die algemeen moet ons sê dat egskeiding en hertrou vandag ‘n ingewikkelde saak is wat nie sonder meer reglynig vanuit ‘n paar Bybeltekste afgelees kan word sonder dat die bedoeling van die tekste eers na behore onder die loep geneem is en die spesifieke omstandighede van die eietydse situasie in ag geneem is nie. Eers dan kan mens probeer om ‘n koers en rigting aan te dui wat kan aanspraak maak op Bybelse begronding.

Matt 5:31-32, soos aan die begin genoem, sê dat as iemand sy vrou skei om enige ander rede as owerspel, hy veroorsaak dat die vrou egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. In Matt 19:9 word bygevoeg dat die man wat sy vrou skei, behalwe oor owerspel, sélf ook egbreuk pleeg. In Mark 10:11-12 word ook na die vróú verwys, as sý van haar man sou skei. By laasgenoemde teks is die bedoeling: As die vrou die oorsaak en inisieerder van die egskeiding is en weer trou, dan is sy ewe skuldig aan egbreuk. Die punt is: Man en vrou word deur Jesus op gelyke basis verantwoordelik gehou vir die huwelik.

Ons het hier ‘n paar beginsels omtrent die huwelik wat neergelê word deur Jesus: 1. Die huwelik is in sy wese in die oë van God ‘n permanente verbintenis. Egskeiding is dus geen ligtelike aangeleentheid nie, dit kan nie sommer vir enige bakatel oorweeg word nie; 2. Die man wat sonder grondige rede (owerspel) van sy vrou skei, pleeg egbreuk; 3. Die man wat só van sy vrou skei, veroorsaak dat sy vrou ook egbreuk pleeg en dat enigiemand wat weer met haar trou, ook egbreuk pleeg (omdat in die oë van God die eerste huwelik na regte nog bestaan); 4. Vir die vrou geld dieselfde as sy die inisieerder van die egskeiding is.

Met hierdie uitsprake wou Christus nie mense se lewens onmoontlik maak wat deur egskeiding geraak word nie, maar wou Hy orde skep in die destydse klimaat waar mans – en soms ook vroue – sommer ligtelik van hulle vrouens geskei het. Hy belig weer die oorspronklike bedoeling van die huwelik – ‘n permanente lewenseenheid wat ernstig geneem moet word – en verder neem Hy in die besonder die vrou in beskerming. Sy is dikwels in ‘n onmoontlike situasie ingedwing deurdat die man haar sonder enige geldige rede geskei het. Om te kon oorleef, moes sy weer so gou as moontlik trou. En dan, sê Jesus, word sy eintlik in ‘n staat van egbreuk ingedwing wat sy nie gewil het nie. Die onus vir ‘n gelukkige huwelik is dus net soveel die man se verantwoordelikheid as die vrou s’n. Die punt is: die destydse sosiale omstandighede moet deeglik verreken word om spesifieke Bybeluitsprake te verstaan en toe te pas vir vandag.

Die bedoeling van Jesus se uitsprake is om die heiligheid van die huwelik as Goddelike instelling te beskerm sodat daar nie op ‘n ligtelike en ligsinnige manier mee omgegaan word nie. En natuurlik om die sondige en liefdelose praktyke van mense – selfs godsdienstige mense! – aan die kaak te stel. Ons leef egter in ‘n gebroke werklikheid. Waar ‘n egskeiding wel plaasgevind het – om watter rede ook al – en daar ‘n tweede huwelik tot stand kom, word egpare vanuit bg uitsprake van Jesus opgeroep om hulle lewenspad in oënskou te neem, dit te belig in God se liefdeswil, daaroor met berou belydenis te doen soos nodig, en vervolgens die nuwe huwelik te koester en tot eer van die Here daarmee om te gaan. Die egpaar hoef nie te voel dat hulle nuwe huwelik vanweë die foute van die verlede gedoem is tot mislukking of in sonde voortbestaan en dat mens glad nie God se seën op die huwelik kan vra of verwag nie. As daar opregte belydenis van skuld by ons is en die hartlike begeerte om na sy wil te lewe, dan vergewe God ons sonde en stel Hy ons vry in ‘n nuwe lewe wat ons tot eer van Hom moet lewe. Dis alleen die verharding van harte en volharding in die sonde (in hierdie konteks: onverantwoordelike skei en trou, skei en trou, skei en trou) wat veroordeel staan deur God. Maar wanneer die hartseer van egskeiding ook in die lig van God se wil en genade hanteer word, en die nuwe huwelik aanvaar word uit sy hand, kan die egpaar ook hierdie nuwe lewenspad loop met die volle vertroue dat hulle die seën van die Here kan verwag.

Dit behoort uit bostaande beredenering duidelik te wees dat dit in hierdie sake nie gaan oor die klakkelose nakom van “wetsbepalings” oor egskeiding en dan is alles weer reg nie. Daar moet veral aan die gees van die wet voldoen word. Die wetsbepalings is eintlik net daar vir dié wie se harte hard is (Matt 19:8). ’n Huwelik, egskeiding of tweede huwelik slaag nie bloot omdat aan sekere reëls voldoen is nie, selfs al is dit Bybelse reëls, maar wanneer mense mekaar van harte aanvaar en vergewe, en as nuwe mense in die aangesig van God die pad saamloop.

As die gees van die wet rakende huwelike uitgeleef word, dan word die intieme liefdesband tussen man en vrou in die huwelik eerbiedig, en dan word die huwelik beleef en geleef as ‘n permanente lewensverbintenis waar man en vrou mekaar in liefde ondersteun. Egskeiding is dan hoogs uitsonderlik, selfs waar moeilike tye beleef word. En wanneer ernstige probleme ontstaan waar egskeiding ‘n laaste uitweg is (bv weens volhardende mishandeling of owerspel), moet hard probeer word om eers versoening te bewerkstellig. Iets soos owerspel verplig nie tot egskeiding nie, maar is eintlik ‘n toegewing as dit nie anders kan nie. Vir Christene is die eerste opsie egter altyd om te kyk of versoening, restitusie en herstel nie moontlik is nie. Daar is baie voorbeelde waar huweliksgeluk na so ’n ernstige misstap weer moontlik was. Maar natuurlik vra dit opregte berou en vergifnis van beide egliede.

En wanneer ‘n huwelik werklik onherstelbaar verbrokkel het en daar wel egskeiding plaasvind, is die regte hantering hiervan nie om te vra of formeel aan bepaalde Bybelse reëls voldoen is voor ‘n tweede huwelik kan plaasvind nie. Die tweede kans moet eerder met dankbaarheid uit die hand van die Here ontvang en met hernude toewyding aangegryp word. En dit is altyd aan te beveel dat die afsluiting van die ou pad en die begin van die nuwe pad ook saam met die hulp van kundiges in huweliksberading aangepak word sodat die nuwe paartjie as mense wat waarlik vrygemaak is van die verlede die tweede huwelik kan begin.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Egskeiding – Francois Malan

Leser vra:

As ‘n vrou voorheen 4 keer geskei was, maar toe nog nie wedergebore christen nie, toe weer getroud en oppad om te skei, maar nie oor hoerery van enige aard, maar a.g.v baie ongelukkigheid in huidige huwelik, was vir 7 jaar in ‘n ongelukkige huwelik, het alles in haar vermoë gedoen om huwelik te red, is toe op die ou end geskei, 4de skeisaak. Na ‘n jaar weer getroud met dieselfde man omdat sy geglo het dit sal werk, maar dit het vir die 1ste 3 maande redelik goed gegeaan, sy het haar beloftes gehou, hy net vir 1ste 3 maande. Hulle is nou al weer vir 3 jaar getroud, maar siels ongelukkig. Hy wil nie skei nie, want hy wil nie alleen wees nie, en tog is hulle ongelukkig. Wat sy wil weet is as sy skei, sal sy vergewe word? Nog ‘n vraag wat sy wil weet is, as sy iemand ontmoet, mag sy weer trou?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die vrae word ingelei met soveel onduidelikhede dat dit moeilik is om die gepaste Bybelse antwoorde op die vrae te gee: met ‘n man wat nie wil skei nie, maar ‘n vrou wat siels ongelukkigâ in die huwelik is en daarom wil skei. Dit word nie uitgespel waaroor sy ongelukkig is nie, maar sy noem net dat haar man nie sy beloftes gehou het nie. Beteken dit dat hy met ander vroue lol? 

Daarby wil sy weet of sy weer mag trou as sy iemand ontmoet. Het sy reeds iemand in die oog? Dit kan een van die redes vir haar ongelukkigheid met haar huidige man wees. Wie sê dit sal beter gaan met ‘n volgende man? 

Dit lyk eerder asof hulle berading nodig het om hulle huidige huwelik te verbeter en haar ongelukkigheid aan te spreek. Daarom sal die eerste stap seker wees om ‘n huweliksberader te gaan sien om hulle huidige huwelik te begin herstel, soos die Here dit wil hê.

Sy impliseer dat sy ‘n wedergebore Christen geword het na haar vierde egskeiding. Dit beteken dat sy haar lewe oorgegee het aan die Here Jesus om haar Here te wees aan wie sy die seggenskap oor haar lewe oorgegee het. Haar eerste vraag is of Hy haar sal vergewe as sy skei van die man wat nie wil skei nie. In Mattheus 19:6 sê Jesus: “Wat God saamgevoeg het, moet ‘n mens nie skei nie.” Toe die Fariseërs vir Jesus na Moses se reëling in Deuteronomium 24:1 verwys, oor die gee van ‘n skeibrief, was sy antwoord dat Moses dit weens die harde harte van die mens toegelaat het, maar dat dit nie van die begin af God se bedoeling met die huwelik is nie. Daarom antwoord Jesus in Mattheus 19:9 “Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met ‘n ander trou, egbreuk pleeg” – owerspel breek die band tussen man en vrou deurdat hy of sy met ‘n ander persoon geslagsgemeenskap het. 

Die beloftes wat man en vrou met die huwelik aan mekaar beloof, beteken dat die twee vir mekaar verantwoordelikheid voor God aanvaar. Dit lyk nie of sy of haar man werklik verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar het nie. Vir hoe jy verantwoordelikheid vir jou man of vrou neem in julle huwelik word deur God beoordeel. ‘n Mens trou omdat jy glo dat God julle twee saamgevoeg het en elke dag te vra of die Here gelukkig is oor die manier waarop julle saamlewe.

Daar word nêrens gesê of die vrou ook kinders by haar verskillende mans het nie. Dit is ook ‘n faktor wat in berekening geneem word. Kinders is ook ‘n gawe van die Here wat vir die Here grootgemaak moet word. Dit bring nog ‘n groter verantwoordelikheid voor die Here mee. 

Die dame se tweede vraag gaan oor hertrou. Volgens Markus 10:9 het Jesus gesê: “Wat God saamgevoeg het, moet ‘n mens nie skei nie.”  Toe dissipels vir Jesus daaroor uitgevra het, het Hy in Markus 10:11-12 verder gesê “Wie van sy vrou skei en met ‘n ander vrou trou, pleeg egbreuk teenoor haar; en as sy van haar man skei en met ‘n ander man trou, pleeg sy egbreuk.”

In 1 Korinthiërs 7:10-11 sê Paulus vir die wedergebore Christene: “Aan die wat getroud is, gee ek die opdrag – nie ek nie, maar die Here – dat ‘n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. ‘n Man mag ook nie van sy vrou skei nie.”

In 1 Korinthiërs 7:12-16 bespreek Paulus die probleem van ‘n gelowige man met’n ongelowige vrou, en van ‘n gelowige vrou met ‘n ongelowige man. Dat die gelowige nie van die ongelowige moet skei nie, maar so moet lewe dat die ongelowige tot bekering kan kom deur sy/haar lewe in die Here Jesus. As die ongelowige egter van sy/haar gelowige huweliksmaat wil skei, kan die gelowige die ongelowige laat skei. God roep ons om in vrede te lewe.

In Galasiërs 5:22-23 word die lewe van ‘n wedergebore Christen beskryf, hoe ons met mekaar moet saamlewe. Die vrug van die werk van die Heilige Gees in die lewe van ‘n wedergebore christen is: “liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid of nederigheid, selfbeheersing.” As die gesindheid in die harte van twee getroudes begin, sal hulle nie meer sielsongelukkig wees nie, maar in blydskap saam lewe en die probleme wat in die verhouding opduik saam oplos met die hulp van die Here wat harte kan verander om mekaar te vergewe en geduldig te verdra, en met mekaar in liefde en vrede te lewe. Bid dan tot die Here dat Hy julle harte teenoor mekaar verander en so julle huwelik herstel.

Skrywer: Prof Francois Malan