Argeologie – Aspekte van die ekonomiese lewe (2)

Argeologie – Aspekte van die ekonomiese lewe (2) – Daan Pienaar

In hierdie gedeelte word na aspekte van handel gekyk. Daar word gelet op die verskillende metodes van betaal en die algemene produkte wat verhandel is.

1. Handel

Van vroeg af is daar tussen mense en volkere handel gedryf.  Die handel was gebaseer op ruilhandel sonder dat daar ʼn monetêre stelsel bestaan het.  Indien ʼn mens ʼn studie sou maak van die mate en gewigte, word dit duidelik dat mense gou hul toevlug tot verskillende metale geneem het om as ruilmiddel te dien.

Hierdie ruilmetale was koper, goud en veral silwer.  Die woord vir silwer, kesef, het gou ʼn dubbele betekenis gekry naamlik geld sowel as silwer.  Verskillende produkte is verhandel.  Naby die Middellanse Seekus van Turkye is ʼn paar jaar gelede ʼn skip uit die Bronstyd ontdek wat gelaai was met koper

 

e08

ʼn Koper gietsel uit Ulu Burun naby die Turkse kus

e09

ʼn Duiker met die koper in sy hande

 

Salomo het byvoorbeeld handel gedryf met allerlei produkte (1 Konings 5-7).  Salomo het selfs ook probeer handel dryf met Afrika (1 Konings 9:26-28).  Sy uitgebreide handelsbetrekkinge word duidelik beskryf (vergelyk ook 1 Konings 10).  Van sy interessante invoerprodukte word ook vermeld, soos goud, silwer, ivoor, ape en poue (1 Konings 10:22).  Die skepe is na Tarsis gestuur daarvoor (moontlik Tarsisskepe wat bedoel is vir ʼn bepaalde soort vrag?).

 

e10

ʼn Kaart van die handelsroetes waarlangs karavane gereis het.

Uit die Ou en Nuwe Testament kan ons aflei waarin daar handel gedryf is.  Paulus is byvoorbeeld met ʼn vragskip na Rome vertrek (Handelinge 27).  In die hawe van Sesarea is daar onder andere vragskepe gevind wat byvoorbeeld wyn vervoer het.  In Jerusalem is daar verskeie wynkruik handvatsels gevind wat aandui dat wyn uit Rhodos in Griekeland ingevoer is.

 

 

e11

 

Afbeelding van ʼn antieke skip.

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Argeologie – Aspekte van die ekonomiese lewe(1)

Argeologie -Aspekte van die ekonomiese lewe(1) – Daan Pienaar

Hier word eers na die landbou gekyk. Klem word geplaas op grondbesit en landboumetodes en -implemente

1. Landbou

Grondbesit: In Egipte het alle grond aan die Farao behoort.  In Mesopotamië het die koning en die heiligdomme groot gedeeltes van die land besit.  Daar is egter tekste wat daarvan getuig dat gemeenskappe, families en individue ook oor grond beskik het en dit selfs kon koop en verkoop.  Daar het ook ʼn feodale stelsel bestaan waar eienaars van die grond sekere dienste aan die koning moes afstaan.  Die wetboek van Hammurabi en die Hetitiese wetboek het verskillende artikels wat daaroor handel.  Die dokumente van Nuzi en Ugarit weerspieël ook ʼn dergelike praktyk.

Grondbesit in Israel:  Dit wil voorkom asof Israel nie ʼn dergelike stelsel gehad het nie.  Uit die tweede millennium V.C. is dit duidelik dat in Nuzi en Assirië grond d.m.v. loting verdeel is.  Josua het op dieselfde wyse die grond aan die stamme toegewys (Josua 13:6;15:1;16:1;18:6-19).  Die grond is dan weer onderling verdeel tussen lede van die groep/stam.  Hierdie grond kon nie uit die hande van die stam gaan nie en kon geërf word.  Indien iemand die grond moes verkoop, moes die losser eerste genader word.  ʼn Mooi voorbeeld hiervan vind ons in Jeremia 32:1-25.

Landboumetodes en implemente:  ʼn Interessante teks wat deur R.A.S. Macalaster by Geser ontdek is, is die sogenaamde “Geser kalender”.  Dit dateer uit die tiende eeu V.C. en was waarskynlik ʼn rympie wat ʼn kind moes leer sodat die verskillende seisoene onthou kon word.  Dit lui soos volg:

Twee maande van insameling

Twee maande van saai

Twee maande van laat saai

ʼn Maand van vlas trek

ʼn Maand van gars oes

ʼn Maand om die res te oes

Twee maande om wingerd te snoei

ʼn Maand van somervrugte

e01

Geserkalender

 

Hieruit kan afgelei word watter produkte ter sprake was.  Benewens die genoemde produkte is daar ook nog die volgende: Permanente gewasse soos olywe, vye, granate, dadels, amandels, Johannesbroodboom, wildevye en jaargewasse soos koring, gars en spelt.

Hierdie produkte is verbou nadat die landerye omgeploeg is.

e02

e03

 

e04

Vgl. die ploeg hierbo met die Egiptiese afbeelding van so ʼn implement

e05
ʼn Dorsslee

 

e06

ʼn Olyfpars

e07
Handmeul

 

Die verskillende aktiwiteite in die landbou het dikwels die metafoor geword waardeur die Here sy verhouding met sy volk tot uitdrukking gebring het.  Vgl. hier Hosea 11:4 ; Psalm 23; Jesaja 5:1-7; Johannes 15:1-8.  Dit is maar ʼn paar voorbeelde.

Daar is nie net geploeg en geplant nie maar vanaf die tyd van die aartsvaders is daar ook met diere geboer soos bokke, skape, beeste, esels, kamele, perde, muile en ook pluimvee.

 

Outeur: Prof Daan Pienaar