Berei ek my voor vir die erediens?

We are never nearer Christ than when we find ourselves lost in a holy amazement at His unspeakable love. —John Owen

Berei ek my voor vir die erediens?

Soms besluit ons skielik ons gaan fliek of uiteet. Geen voorbereiding nie. Of ek nou voorberei of nie, bepaal nie of ek die fliek gaan geniet nie – dit is vermaak. Is dit nie hoe ons dikwels eredienste benader nie?

Hoe berei jy voor vir ‘n erediens? Is dit ‘n gejaag om al die kinders betyds skoon en aangetrek te kry? Miskien dink jy dit is nie nodig om voor te berei nie. Maar hoe ons voorberei, bepaal hoe voordelig ons tyd as geloofsgemeenskap saam, is. Daar is veral twee foute wat ons maak:

Maar hoe moet ons ons dan vir ‘n erediens voorberei?

  • Berei jou voor om te ontvang

As ons in ‘n erediens sit, praat God met ons deur die Bybel wat gelees word, die sang en die prediking. As ons God sien vir wie Hy is, word ons oorweldig deur sy grootheid en heiligheid – om sy teenwoordigheid te ondervind, om sy onbeperkte liefde en genade te sien. Ons moet vir God vra om ons te help om sy openbaring met nederigheid en dankbaarheid te ontvang.

  • Berei jou voor om te reageer
  • As God Homself aan ons openbaar, gebeur daar dinge – ons moet reageer. Ons aanbid Hom, want ons het weer sy grootheid, heiligheid, liefde en genade gesien Ons bely ons sondes, ons ontvang sy woord, ons neem deel aan die nagmaal ons gee ons finansiële bydrae – alles is ‘n dankbare reaksie op wie God is en wat Hy vir ons in Jesus Christus gedoen het.

  • Berei voor om ander geestelik op te bou
  • Ons aanbidding hou nie op as die slotgesang gesing en die prediker amen gesê het nie. Dit gaan voort as ons met ander praat, hulle aanmoedig, vir hulle bid en vir hulle omgee. God gebruik mense om sy liggaam op te bou: Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop (1 Korintiërs 14:26). Woon jy die erediens by met die verwagting dat God jou gaan gebruik? Jy het ‘n bydrae om te maak. Vra vir God hoe Hy jou hierdie Sondag gaan gebruik om ander op te bou.

    Hoe berei ek voor as ek Sondag ‘n erediens gaan bywoon? Maak jou reg om God te ontmoet en reageer met dankbare aanbidding met jou hart en lewe.

    Ek nooi iemand om ‘n erediens by te woon

    A healthy church is a church that nourishes itself with constant attention to God’s words in Scripture, in all their glorious detail –  Temper Longman III

    Ek nooi iemand om ‘n erediens by te woon

    Wat moet jy doen as jy iemand nooi om ‘n erediens by te woon en hy sê hy het nie vir Christus daar ontmoet nie? Ons is veral geneig om mense na die Kersdiens te nooi. Maar dikwels reageer hulle nie op die evangelie nie. Dit laat ons twyfel – het die kerk die vermoë om die wêreld te beïnvloed? Sal die persoon ooit verander?

    Perry Noble beveel drie stappe aan as dit gebeur.

    • Moenie tou opgooi nie

    Die Here is geduldig met ons. Daarom moet ons geduldig met ander wees. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie (2 Petrus 3:9). God  is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld (Romeine 2:4). Dit is God se goedheid en geduld wat ons na Hom toe gelei het. Daarom sal dit ons goedheid en geduld wees wat ander na Hom toe sal lei. Hulle mag dalk nie vir God tydens die erediens in hulle hart ontvang het nie, maar ons weet nie wat God besig is om in iemand se hart te doen nie. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie (Prediker 3:11). Dus: vra vir God om vir jou geleenthede te gee om met jou vriend te praat; hou aan om hom te nooi om eredienste by te woon; bly sy vriend. Jy weet nooit wat God beplan nie.

    • Vra vir hulle of jy vir hulle kan bid

    “Hoe kan ek vir jou bid?” Dit is ‘n baie belangrike vraag om te vra. Mense sal nie sommer weier dat jy vir hulle moet bid nie. Mense is meer geneig om na jou te luister as hulle weet dat jy vir hulle omgee.

    • Vra vir Jesus vir geleenthede om hulle te dien

    In Matteus 20:28 sê Jesus vir ons dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense. Soek geleenthede om jou vriend te dien. Die wêreld sal ‘n beter plek wees as mense ophou skreeu op mekaar en mekaar eerder dien.

    Drie eenvoudige lesse. Pas dit toe en kyk watter verskil dit maak.




    Voorbereiding vir die erediens

     

     

    Voorbereiding vir die erediens

     Sondagoggende is ‘n gejaag om almal betyds by die kerk te kry. Maar luister wat sê die Here vir Moses:  Gaan terug na die volk toe. Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was. Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom (Eksodus 19:10 – 11).

    Wat sê hierdie verse vir ons? Ons moet ons voorberei vir ‘n ontmoeting met die Here. Maar hoe berei ons ons voor vir Sondagmôre?

    Deur die Bybel te lees.

     Deur nadenke

     Maar waaroor moet ons nadink? God se skepping – Hy wat skep kan voorsien; God se heiligheid – om daaroor na te dink, maak ons nederig; God se liefde toe hy ons verlos het – niks kan ons daarvan skei nie; die heerlikheid van ‘n toekoms saam met God – die aardse dinge gaan verdwyn en ons sien God in al sy heerlikheid.

    Deur gebed

     As ons bid, moet ons bid vir die prediker en die woord wat hy gaan verkondig – dat dit vrug mag dra; dat dit ons mag versterk; dat dit ons denke sal verlig. Ons moet bid dat Hy teenwoordig sal wees. Ons moet ook vir ander bid

      

    Ons kla oor die prediker en die preek – ons het niks daaruit gekry nie. Is dit nie dalk omdat ons ons nie voorberei het nie?