Hoekom moet ek eredienste bywoon?

Behavior shapes attitude” far stronger than “attitude shapes behavior.” (Onbekend)

Hoekom moet ek eredienste bywoon?

 

Die kerk het jou nodig. Hier praat ons nie van die gebou nie, maar die geloofsgemeenskap. Jou fisiese teenwoordigheid, jou woorde van bemoediging, jou dienswerk. Dit, saam met wat ander doen, is wat die geloofsgemeenskap is. Maar dan moet jy nie net in en uithardloop nie. Praat met mense – dit is mense wat God oor jou pad gebring het.

Dit is nie net die geestelike voedsel nie. As jy een maal per week vir ‘n uur ‘n erediens bywoon – en niks meer nie – kan jy jou geestelike voedsel ook oor die TV kry. Maar die doel van die kerk is meer as net dit – gesamentlike aanbidding, gebed, die Bybel saam bestudeer, dien mekaar, reik saam met ander uit, leer mekaar en groet mekaar. Dit kan nie in ‘n virtuele omgewing gebeur nie.

Jy het die kerk nodig – meer as wat jy dink jy het. In die Bybel lees ons so baie van die verhoudingsaspekte van die kerk – ons moet mekaar liefhê, bemoedig, onderrig en aan mekaar toegewy wees.

Die kerk is ‘n lewende organisme. Die Nuwe Testament weet niks van ‘n Christen wat nie aan ‘n kerk verbind is nie. Jou gawes, vaardighede, diens, idees, leierskap, liefde, hulpbronne – alles wat jy het om aan te bied – is noodsaaklik vir die gemeente.

Jou teenwoordigheid beteken meer as wat jy dink. Ag, die mense sal ons nie mis nie. Jy onderskat die waarde van jou teenwoordigheid Jy vergeet dat God deur of vir jou iets wil doen.

Dit bring ons by ‘n verdere vraag: Hoekom hou ons hoegenaamd dienste op TV?

  • Daar is eensame, geïsoleerde mense en ‘n diens op TV is vir hulle ‘n brug. Eendag sal hulle ‘n tree vorentoe neem en aansluit by die geloofsgemeenskap.
  • Sommige mense is nie na genoeg om gereeld eredienste by te woon nie.
  • Sommige mense is nie fisies in staat om eredienste by te woon nie.

Geloofsvrae: Eredienste, kleingroepe, selgemeentes

Geloofsvrae: Eredienste, kleingroepe, selgemeentes – Adrio König

Eredienste, kleingroepe, selgemeentes

Die saak waaroor dit in hierdie paragraaf gaan, is die feit dat daar twee tipes byeenkomste in ‘n gemeente kan wees: gesamentlike byeenkomste (soos eredienste) en kleiner byeenkomste van belangegroepe. Dit is nie ‘n nuwe saak in die historiese kerke nie, trouens waarskynlik in geen kerke nie, maar daar het oor die laaste dekade of meer nuwe vorme van kleiner byeenkomste ontstaan wat nie altyd almal se goedkeuring wegdra nie. Sulke groepe het allerlei name soos Bybelstudiegroepe, kleingroepe, selgroepe, selgemeentes, en nog ander.

Sulke groepe kan wyduitlopende belange hê en daarom verskillende vorme aanneem. Dié kan nie in besonderhede hier bespreek word nie. Maar kleiner byeenkomste in groot gemeentes is nie ‘n toegewing nie, dit is onontbeerlik.

Gesamentlike byeenkomste en kleiner byeenkomste voorsien in verskillende behoeftes van die kerk: gesamentlike byeenkomste help om ‘n openbare atmosfeer te skep en die grootheid van God te beklemtoon (Hy sit nie iewers in ‘n klein hoekie waar Hy nie regtig ‘n verskil maak nie), en is ook goeie leer- en onderriggeleenthede. Die kleiner byeenkomste voorsien in lidmate se behoefte om as die gesin van God in nabyverhoudinge te leef, hul gawes te beoefen, en konkreet betrokke te raak by nood.

In die Bybel is goeie getuienis van dié twee soorte byeenkomste. Die OT het groot volksvergaderings geken, Jesus het dikwels groot skares getrek, en die Gees het met sy uitstorting baie mense saamgetrek, verteenwoordigers van die hele (destyds bekende) wêreld (Hand 2:5-11). Aan die ander kant het Jesus Hom doelbewus met die twaalf afgesonder en was die eerste gemeentes onder die heidene klein en kon hulle meestal in huise vergader.

Die groot byeenkomste hou verband met die breër verbande waarin gemeentes (behoort te) funksioneer. Dit is baie verarmend en beperkend as ‘n gemeente sonder verband met ander gemeentes is. Dit skakel hom uit groter projekte uit en beperk sy betrokkenheid by sake wat die samelewing kan verander.

Die klein byeenkomste het egter ook hul eie onontbeerlike waarde. Hulle was nie bloot ‘n toevalligheid omdat die  gemeentes uit die heidene aanvanklik klein was nie. In die belewing van die evangelie is hierdie behoefte ingebou aan nouer gemeenskap in ‘n kleiner groep. Dink allereers aan die beelde van die kerk wat juis kleiner groepe veronderstel: die gesin van God, die bruid van Christus, die liggaam van Christus, die klein kuddetjie. Dink verder aan die charismatiese leefwyse van die gemeente in ‘n klein groepie van 10 of 20. Die gawes van die Gees word vergelyk met die rol wat die ledemate in die menslike liggaam speel (1Kor 12). Dit is ‘n beperkte aantal, netsoos ‘n enkele persoon ook net ‘n beperkte getal mense met sy of haar gawe kan bedien. Dieselfde veronderstelling kry ons in die nagmaal wat ‘n fees tydens ‘n gesamentlike ete in ‘n huis was – ook weer net toeganklik vir ‘n klein groepie. Daarom is dit byna onmoontlik om in ‘n groot gemeente ‘n nagmaalsfees te vier. Dit neig om styf en onpersoonlik te bly. Honderde mense kan mekaar nie ken en sinvol ondersteun nie. Hulle moet in kleiner groepe konstitueer wat in ‘n onafgebroke gemeenskap mekaar met hul gawes kan dien. Daarom is dit volkome sinvol dat die nagmaal en die doop in kleiner groepe in die gemeente bedien word. Geen enkele doopgeleentheid in die NT het in elk geval tydens ‘n gemeentebyeenkoms plaasgevind het nie. Dit maak dit natuurlik nie verkeerd om tydens die erediens te doop of die nagmaal te bedien nie, maar dit mag ons van ons wettisisme oor dié saak verlos, en ruimte skep vir sakramentsgebruiik in kleiner groepe.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König