DIE EVANGELIE: DIE BELANGRIKSTE

–F. B. Meyer

Die evangelie: die belangrikste

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn … (1 Korintiërs 15:3 – 4)

 

Histories het die kerk verstaan dat die evangelie die middelpunt van sy verkondiging/prediking moet wees. Die kerk het ook besef dat die substans van sy prediking Christus moet wees. Paulus sê: Hom verkondig ons (Kolossense 1:28). Dit geld veral vir sekere werklikhede van Jesus Christus – die verkondiging van sy dood, opstanding en verheerliking.

Paulus sien die evangelie as die somtotaal van sy verkondiging. Hy sê aan die Korintiërs dat hy dié belangrikste aan hulle oorgelewer het. Daarna gee hy in eenvoudige woorde die raamwerk van die evangelie. Dit is die evangelie wat hy aan hulle verkondig het en waarin julle ook gevestig staan (15:1). Let op: hy het oorgedra wat hy ontvang het = kategese. In die 18 maande wat hy in Korinte gewerk het, het hy hom voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Korintiërs2:2). Paulus plaas sy totale onderrig in die raamwerk van die evangelie.

Paulus beskryf homself as afgesonder vir die evangelie van God (Romeine 1:1). Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar (2 Timoteus 1:11). Dit is duidelik dat Paulus die oordrag van die evangelie nie as ‘n eenmalige gebeurtenis gesien het nie – iets wat jy vir ongelowiges verkondig nie. Nee, gelowiges moet van melk na vaste kos beweeg. Die evangelie het baie fasette en daarom beweeg ons nie van die evangelie na iets anders nie, maar ons beweeg dieper in die evangelie in. Omdat die evangelie die kerk se boodskap is, beskryf Paulus homself as ‘n boodskapper.




Hoe reageer ek teenoor die evangelie?

We have much more to receive, but God has no more to give than he has given in Jesus Christ. –John Stott

Hoe reageer ek teenoor die evangelie?

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Korintiërs 1:18).

Daar word van Christene verwag om die evangelieboodskap in die wêreld uit te dra. Hoe die boodskap ontvang gaan word, weet ons nie. Mense gaan op verskillende maniere reageer.

 

In Handelinge 17 is Paulus in Atene. Hy vertel die Ateners van die opstanding uit die dood. Sy gehoor reageer op drie maniere. Ons kry steeds hierdie drie reaksies vandag as ons die evangelie verkondig:

  • Party het hom uitgelag. Die Interliniêre Bybel vertaal dit met hulle het vir Paulus gespot. Ek hoor hulle al: “Glo jy werklik dat die dooies kan opstaan? Is jy ernstig?” Vir hierdie mense is die evangelie dwaas en ongeloofwaardig. Kyk na die vers hierbo: Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan. Om met die evangelie te spot, is ‘n aanduiding dat hulle verlore sal gaan.
  • Party het gesê: ‘Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” Dit is nou diegene wat uitstel. Hierdie is ‘n baie algemene reaksie. Dit beteken: “Ek wil nie nou besluit nie.” Hierdie is ‘n baie bekende taktiek wat die duiwel met groot vrug gebruik: “Moenie nou vir jou oor die evangelie bekommer nie. Daar is nog baie tyd om dit te doen.”
  • ‘n Paar mense het egter by hom aangesluit en gelowig geword. Party het hulle bekeer en hulle denke verander. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus – ‘n intellektuele persoon en leier in die stad.

Wat leer ons hiervan? Bekering is God se werk – nie myne nie. Dit is die werk van die Heilige Gees in die lewe van die ongelowige. Het ons dan geen werk om te doen nie? Beslis nie – dit is ons taak om die waarheid te verkondig – om die evangelie uit te dra.




Die evangelie het twee vyande

The Christian story provides us with such a set of lenses, not something for us to look at, but for us to look through (Lesslie Newbigin).

 

Die evangelie het twee vyande

Die evangelie is basies ‘n verslag van Christus se werk ten behoewe van ons. Dit is nuus, want dit gaan oor ‘n verlossing wat reeds vir ons bewerkstellig is. Dit is nuus wat ‘n lewe van liefde tot gevolg het, maar hierdie lewe van liefde is nie die evangelie self nie.

 

 

Tertullianus het gesê dat net soos Jesus tussen twee diewe gekruisig is, word die evangelie tussen twee vyande gekruisig. Wat is hierdie vyande? Wettisisme (moralisme) en relativisme (pragmatisme). Wettisisme sê dat ons ‘n heilige en goeie lewe moet lei om gered te word. Relativisme sê dat, omdat ons gered is, hoef ons nie ‘n heilige en goeie lewe te lei nie. Ons moet deeglik tussen die evangelie, wettisisme en relativisme kan onderskei om sodoende die krag van die Heilige Gees in staat stel om in ons te kan werk. Hang ons enige van hierdie twee vyande aan, sal die evangelie nie sy hartsveranderende werk kan doen nie – maak nie saak hoe goed ons kan kommunikeer nie. As ons net algemene leerstellings en etiek verkondig, verkondig ons nie die evangelie nie.

 

Maar om dit alles te verstaan – wie God is, hoekom ons verlossing nodig het, wat gedoen is om ons verlossing te bewerkstellig – het ons tog kennis van die basiese onderrig van die hele Bybel nodig. As ons byvoorbeeld nie weet dat Jesus ook God is nie of as ons nie weet wat die toorn van God beteken nie, is dit tog onmoontlik om te verstaan wat Jesus aan die kruis bereik het.

 

Ons moet nie net die Bybel in die algemeen verkondig nie – ons moet die evangelie verkondig. Maar as die luisteraars nie die Bybel in die algemeen verstaan nie, sal hulle nie die evangelie verstaan nie. Bybelkennis is noodsaaklik vir die evangelie, maar dit is nie die evangelie nie.

 




Die evangelie is nie alles nie.

You gain strength, courage and confidence by every experience in which you really stop to look fear in the face. You must do the thing you think you cannot do. – Eleanor Roosevelt 

Die evangelie is nie alles nie.

Wat bedoel ons as ons van die evangelie praat? Nie alles wat in die Bybel staan, is evangelie nie. Die evangelie is ‘n boodskap van hoe ons van ‘n ramp gered is. Evangelie se agtergrond is ‘n nuusberig oor ‘n lewensveranderende gebeurtenis wat reeds plaasgevind het.

 

  1. Die evangelie is goeie nuus, nie goeie raad nie. Dit is nie iets wat ons doen – ‘n lewenswyse – nie. Dit is iets wat reeds vir ons gedoen is en waarop ons moet reageer. Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos (Psalm 40:10). Omdat die evangelie goeie nuus is, moet dit verkondig word – dit is immers wat ons met nuus doen.
  2. Die evangelie is goeie nuus wat aankondig dat ons verlos is. Waarvan is ons verlos? Jesus deur wie ons gered is van die oordeel wat kom (1 Tessalonisense 1:10). Hierdie is God se oordeel; ons verhouding met Hom is verbreek. In Romeine 1:18 – 32 identifiseer Paulus God se toorn as die groot probleem van die mens. Hierdie toorn van God het verskeie ramifikasies. Omdat ons van God vervreem is, is ons sielkundig van onsself vervreem – ons is skaam en bang. Maar ons is ook sosiaal van mekaar vervreemd en omdat ons van God vervreemd is, is ons ook fisies van die natuur vervreemd. Ons ondervind nou harde werk, fisiese degenerasie en die dood. Ons leef in ‘n wêreld vol lyding, siekte, armoede, rassisme, natuurrampe, oorlog, veroudering en die dood. Ons moet dus verlos word. Die wortel van die probleem is ons vertikale verhouding met God. Alle menslike probleme is eintlik simptome – ons skeiding van God is die onderliggende oorsaak. Die basiese oorsaak is dat ons nie met God versoen is nie. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8); Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (2 Korintiërs 5:20). Die eerste en belangrikste ding wat die mens sal red, is om weer ons verhouding met God te herstel.
  3. Die evangelie is nuus oor wat Jesus Christus gedoen het om ons verhouding met God reg te stel. Om Christen te word beteken ons verander ons status: Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het (1 Johannes 3:14). Let wel: klaar oorgegaan het. Jy is of in Christus of nie; jy het die ewige lewe of jy het dit nie.

 

Die evangelie is goeie nuus – leef ons sodat mense kan sien ons het deel aan hierdie goeie nuus?