Wat is jou stuurkapasiteit?

“There are high spots in all of our lives and most of them have come about through encouragement from someone else.” ~George M. Adams

Wat is jou stuurkapasiteit?

Bill Easum sê dat gemeentes al vir jare praat oor erediensbywoning en hoeveel sitplekke jy in die kerkgebou het. Hierdie twee kriteria is beslis nie genoeg om die “sukses” van die gemeente te bepaal nie. As jy wil weet of jou gemeente suksesvol is, moet jy die volgende vraag vra: Hoeveel mense stuur jy in die gemeenskap en die wêreld uit om die evangelie van Jesus Christus daar te verkondig?

 

Meer en meer gemeentes begin hierdie stuurfaktor aanvaar. Stuur is gewoonlik ‘n kombinasie van sosiale optrede en evangelisasie. Dit is nie net om goed te doen nie, alhoewel dit gebeur en baie belangrik is. Dit gaan oor transformasie van die gemeenskap op verskillende maniere: beter skole, beter werk, beter omgewing en verlossing.

Die werklik belangrike vraag is dus: Hoeveel mense stuur die gemeente doelbewus uit om die omliggende gemeenskap te seën? Is dit ooit ‘n oorweging? Gebeur dit nie, is daar ‘n groot fout met die gemeente se bediening.




Evangelisasie – Hoe begin ek die gesprek?

“If malice or envy were tangible and had a shape, it would be the shape of a boomerang.” ~ Charley Reese

Evangelisasie – Hoe begin ek die gesprek?

Vir baie mense is die ding wat hulle bang maak oor evangelisasie die probleem om die gesprek te begin. As iemand na ons sou kom en vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” sou ons dit kan hanteer. Dit gebeur egter baie selde. Meestal moet jy die gesprek aan die gang kry.

 

Omdat ons senuwees pla as ons ‘n geestelike gesprek  moet begin, is dit altyd goed om darem iets in jou gereedskapskas te hê om dinge aan die gang te kry. Maar,  gereedskap is net so goed soos die persoon wat dit gebruik. Dit is ook nie ‘n plaasvervanger vir liefde nie – liefde vir ons naaste wat nog nie ‘n verhouding met God het nie.

‘n Ongemaklike stuk gereedskap is die sogenaamde “diagnostiese vraag” – dit is veronderstel om ‘n nie-bedreigende vraag te wees. Dit is iets soos: “Beskou jy jouself as ‘n geestelike persoon?”  Nog ‘n gewilde een is: “Wat dink jy gebeur met jou as jy doodgaan?” Die probleem is dat hierdie vrae nie baie natuurlik voorkom nie. Hulle is teoreties goed, maar in die praktyk nie so goed nie.

Vrae is egter belangrik, maar baie hang af van hoe jy die vraag vra. Vra ‘n eerlike vraag en luister noukeurig na die antwoord. Mense raak baie opgewerk oor vir verkoopspraatjies – hulle skakel onmiddellik af. Hulle ken die verskil tussen ‘n eerlike vraag en ‘n verkoopsvraag. Vra jou vraag met die bedoeling om te luister.

Ons moet meer natuurlike vrae vra. ‘n Tyd gelede het ons gevra: “As jy vannag sou doodgaan, is jy seker dat jy hemel toe gaan?” Hierdie vraag gaan nie meer goed af nie – om die waarheid te sê mense raak opstandig as jy dit vra. ‘n Moontlike vraag is: “Voel jy dat jy nader of verder van God af beweeg?” Hierdie is ‘n oop vraag wat nie bedreigend is nie. Ek kan baie aflei uit die persoon se antwoord – as ek luister.

J. D. Greear gee nog verdere vrae wat hy voel nuttig is. “Wat was jou ondervinding met die kerk?” “Hoe dink jy lyk ‘n suksesvolle/gelukkige lewe?” Natuurlik is hierdie vrae nie voldoende nie, maar as jy opreg vra en met deernis luister, sal jy verbaas wees oor hoe die Heilige Gees jou verder lei. Die doel is om net eers ‘n gesprek aan die gang te kry.




Die grootste tragedie van die kerk in 2013

Blog39c

Die grootste tragedie van die kerk

Evangelisasie is besig om dood te loop. Waar gemeentes nog numeries groei is dit omdat hulle lidmate van ander gemeentes getrek het. In min gemeentes is daar nog ‘n passie vir evangelisasie. Sodra evangelisasie nie meer ‘n prioriteit vir kerke is nie, sal die kerk mettertyd doodgaan.

 

Hoekom moet evangelisasie ‘n prioriteit in gemeentes wees? Thom Rainer het sewe redes geïdentifiseer.

  • Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Net een weg. Jesus het ‘n dringende en eksklusiewe boodskap gehad. Ons moet dit uitdra.
  • Want Christus het vir die wêreld gesterf. Jesus is die enigste weg, maar Hy het ‘n weg vir ons gegee. Dit is ‘n dringende boodskap wat vertel moet word.
  • Gemeentes wat nie doelbewus evangelisasie prioritiseer nie, doen dit nie of doen dit sleg. Maak seker evangelisasie is ‘n prioriteit in jou gemeente.
  • Gemeentes word selfvoldaan as hulle net lidmate van ander gemeentes trek. Baie gemeentes groei, maar dan ten koste van ander gemeentes. Ons is nie besig met evangelisasie as ons net gelowiges hersirkuleer nie.
  • Evangelisasie is besig om dood te gaan. Gemeentes is besig om dood te gaan. Dit is die grootste tragedie in die kerk vandag.




Hoekom bereik ons nie die land vir Christus nie?

Hoekom bereik ons nie die land vir Christus nie?

Greg Stier, die stigter en President van Dare 2 Share Ministries International, fokus veral op tienerbediening. Hy identifiseer sewe redes waarom die VSA nie vir Christus bereik word nie. Hierdie is ‘n Amerikaanse studie, maar baie van dit wat hy sê, geld net so vir ons.

 

  • Ons het evangelisasie uitgekontrakteer.
  • Ons het ons gevoel van dringendheid verloor
  • Ons is skaam vir die evangelie
  • Baie Christene kan nie die evangelie verduidelik nie
  • Baie Christene kan nie die boodskap van die evangelie op ‘n eenvoudige manier verduidelik nie. Napoleon het drie opdragte vir sy boodskappers tydens die oorlog gehad: Wees duidelik. Wees duidelik. Wees duidelik. Dit geld ook vir ons. Wees duidelik wat die boodskap van die evangelie is. (Lees Paulus se opsomming in 1 Korintiërs 15:3 – 4). Daarna: Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my opgelê is (Kolossense 4:4).

    • Kerkleiers loop nie voor nie

  • Ons het vergeet hoe om te bid
  • As daar tydens die erediens meer tyd aan afkondigings as aan gebed gespandeer word, is iets iewers verkeerd. God moet harde harte sag maak en toe deure oopmaak. Daarvoor moet ons Hom in gebed vra.

    • Kerke mobiliseer nie hulle jongmense om die evangelie te deel nie

    Meeste mense wat tot bekering kom, doen dit voor hulle 18 jaar oud is. Hoekom bemoedig kerke nie jongmense om die evangelie aan hulle groep te verkondig nie? Rus hulle toe en laat hulle los. Ons weet tog die mense wat waarskynlik die evangelieboodskap sal aanvaar is jongmense. Maar ons rus nie jongmense toe om ander jongmense te bereik nie.

    Is dit nie tyd om al ons verskonings te los en ons land vir Christus te bereik nie?