Fauna en flora in die Bybel (7)

Fauna en flora in die Bybel (7) – Jan van der Watt

Ons begin vandag kyk na bome. Ons lees ook van heelwat verskillende bome in die Bybel.

Akkerboom: 2 Samuel 18:9-10.

Amandel: Dit was die eerste boom wat in Israel gebloei het (Januarie). Die neute is geëet en daar is ook olie van die neute gemaak (Genesis 30:37; Numeri 17:8).

Appelboom: Hooglied 2:3, 5; Joël 1:12.

Besembos: 1 Konings 19:4

Denne: Hierdie hout is gebruik vir skepe, musiekinstrumente en bouwerk (Jesaja 41:19; 60:13).

Doringbos: Rigters 9:14-15.

Doringhout: Dit was waarskynlik ʼn soort akasia. Die ark van die Here was van hierdie hout gemaak en dit is van die min bome wat in die Sinaiwoestyn groei (Eksodus 25:5, 10; 26:26; Jesaja 41:19; 55:13).

Ebbehout: Esegiël 27:15.

Eikeboom/Grootboom: Die mense in die ou tyd het hierdie hout gebruik om beelde uit te kerf (Genesis 35:4).

Gofer: Genesis 6:14.

Granaat: Numeri 13:23; Joël 1:12.

Hisop: 1 Konings 4:33.

Kaneel: Eksodus 30:23; Spreuke 7:17; Openbaring 18:13.

Jenewerhout: 1 Konings 10:11-12; 2 Kronieke 2:8.

Melkbosse: 2 Samuel 5:23-24.

Mirteboom: Jesaja 55:13; Nehemia 8:16; Sagaria 1:8.

Moerbei: Lukas 17:6.

Mosterd: Lukas 17:6

 

Skrywer: Jan van der Watt

 




Fauna en flora in die Bybel (6)

Fauna en flora in die Bybel (6) – Jan van der Watt

Vlas met sy pragtige blou blommetjies se stingel is vir ʼn verskeidenheid dinge gebruik. Dit is gebruik om materiaal vir linne vir klere of skeepseile te maak. Daar is nette van gevleg en dit is ook in lampe as ʼn pit gebruik (Josua 2:6; Eksodus 9:31; 26:1; 28:6; Spreuke 31:13).

Wierook het ʼn mens gekry as jy die bas van ʼn wierookboom afstroop en snitte in die boom maak. ʼn Soort gom is dan deur die boom afgeskei wat baie lekker geruik het as ʼn mens dit warm gemaak het (Eksodus 35:28; Matteus 2:11).

Wildekomkommers: ʼn Hoë bos met groen of brons blare en helder rooi vrugte. Die olie is gebruik vir lampe (2 Konings 4:39; Jona 4:6-10).

Wingerdstokke is druiwestokke soos ons dit min of meer ken, hoewel ons natuurlik vandag baie ander soorte druiwe ken (Jesaja 5:2-7; Johannes 15:1-8).

Wynruit: ʼn Hoe plant met trosse helder geel blomme vir ontsmetting, geur en medisinale gebruik (Lukas 11:42).

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Fauna en flora in die Bybel (5)

Fauna en flora in die Bybel (5) – Jan van der Watt

Papirusplant: Dit is veral gebruik om papier van te maak. Die stingel van die plant is driehoekig en kon tot drie meter lank wees. Die plant se stingel is in lengtes gesny. Die lengtes is mooi langs mekaar gepak met ʼn tweede laag dwars bo-oor. As die stingels droog is, kan ʼn mens daarop skryf. Omdat die plant se vesel so sterk is, is dit ook vir allerhande ander dinge gebruik, soos om sandale van te vleg. Selfs skepe is van die papirusplant gemaak.

Prei: ʼn Populêre groente in Palestina wat soos ʼn ui is, ook vir medisinale gebruike (Numeri 11:5).

Riet: ʼn Hoë plant met pers blomme wat as meetstok gebruik is en vir die maak van penne vir skryfdoeleindes (Esegiël 40:3; Jesaja 18:2).

Riet: (In Afrikaans met riet vertaal.) ʼn Plant met blomme wat gebruik is om byvoorbeeld mandjies en stoelsitplekke te maak (Job 8:11; Jesaja 35:7).

Rooi garing: Dis ʼn groot immergroen struik. In die lote broei insekte waarvan ʼn rooi kleurstof gemaak word. Daar word swart kleurstof gemaak van die bas (Levitikus 14:51).

Roos: (In die 1983-vertaling met affodil vertaal.) Dis ʼn tulpagtige blom met helder rooi blomme (Jesaja 35:1; Hooglied 2:1).

Veldlelies was pragtige plante met pers blomme (Matteus 6:28; sien lelie)

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Fauna en flora in die Bybel (4)

Fauna en flora in die Bybel (4) – Jan van der Watt

Liefdesappels: ʼn Blaaragtige plant (Genesis 30:14-16).

Nardus: ʼn Klein plant met ʼn harige stam waarvan kosbare welriekende reukolie gekry word. Kom van Indië af (Hooglied 1:12; 4:14; Markus 14:3-6).

Mirre: Die gelerige gom of sap van hierdie doringagtige bos is gebruik. Die struike het hoofsaaklik in Etiopië, Arabië en Somalië gegroei en was daarom ʼn skaars invoerproduk in Palestina. Daarom het die manne uit die Ooste dit as geskenk vir Jesus gebring (Matteus 2:11).  Dit is as parfuum, speserye, geursel vir olie en medisyne gebruik.

Mosterdsaadjie: Ons hoor hiervan in Matteus 13:31-32 as Jesus praat oor hoe klein die saadjie is. Hy verwys waarskynlik na ʼn swartmosterdsaad waarvan die boom gewoonlik net meer as ʼn meter hoog geword het. Die saad is vir geursel in kos gebruik en daar is ook olie van gemaak.

Onkruid/dorings: (Ongespesifiseer in die Afrikaanse Vertaling.) Dit is een van die mees vernietigende onkruide van Palestina. Die saad bevat ʼn giftige fungus wat duiseligheid, naarheid en ook die dood kan veroorsaak (Job 31:40; Matteus 13:24-30; 36-43).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt