Waar kom Halloween vandaan? – Kobus Kok

Halloween of “All Hallow’s Evening/All Saints” word regoor die wêreld rondom 31 Oktober gevier. Die Engelse term “Halloween” is maar net ‘n paar honderd jaar oud (circa 1745). Die oorspronklike (All) Hallow(s) Eve(n) het met tyd ontwikkel in die term “Halloween”. Dit hang oorspronklik saam met die Westerse Christendom se liturgiese jaar waarin die gestorwenes, heiliges en martelare wat ons voorafgegaan het, onthou word. “All Saints Day” word al vanaf die 7de eeu (609) in die Christendom gevier op 13 Mei. In 835 het dit onder die leiding van Pous Gregory die Vierde na 1 November geskuif en sommiges meen dit het saamgehang het met die Keltiese (heidense) fees “Samhein” (meer daaroor hieronder). Rondom die Middeleeue was dit al ‘n bekende Christelike fees in Brittanje en die laaglande waarin mense in die strate geloop het en klokke gelui het om vir mede-Christene te herinner om te dink aan die dooies wat in “purgatory” is. Tydens die fees het mense ook broodjies gebak (soal cakes) wat deur arm mense gekollekteer is by huise in ruil vir ‘n gebed vir die afgestorwenes. Laasgenoemde hang onder andere saam met die oorsprong van die hedendaagse “trick-or-treat”.

Die fees het volgens sommiges moontlik ‘n heidense oorsprong/verband, en spesifiek met die Keltiese oesfees “Samhain” waarin die einde van die somer gevier is. Hierdie fees het verband gehou met offers, die eet van neute en appels en reuse “bonfires”, kommunikasie met “geeste” en partyjies. Dit is dus ook maar soos Kersfees wat moontlik ook heidense oorsprong het maar wat ver-Christelik is en met tyd ‘n metamorfose ondergaan het. In die Westerse wêreld het die Halloween fees, soos Kersfees, ‘n eie gekommersialiseerde karakter begin aanneem en kenmerkend van die fees is “trick-or-treat”, en allerlei kostuums, pampoene met ligte in, en die besoek van “haunted houses” en die kyk van riller films. Hierdie spesifieke karakter van die fees is egter ‘n redelike nuwe tipe ontwikkeling in die geskiedenis en het so bietjie verwyderd geraak van die oorspronklike betekenis daarvan. Dit het teen die einde van die 1800’s regtig eers populêr geword en eers so onlangs as in die 1930’s is daar vir die eerste keer massa geproduseerde Halloween kostuums vervaardig.

Christene (Katolieke) wat die fees hou met in agneming van die oorspronklike konteks en bedoeling daarvan, sal kerse aansteek en op die grafte van gestorwe persone plaas en hulle so probeer onthou. Sommige kerklike denominasies sal tydens hierdie tyd kerk toe gaan om te bid en sal ook in hierdie tyd vas en nie vleis eet nie. Dit laat Christene dink aan die lewe en bydrae van die gestorwe persone, en help mens ook om te reflekteer oor die lewe en die dood.

Omdat die Protestante nie glo dat die geeste van mense op aarde kan rondbeweeg na hulle dood nie, en omdat dooies nie vereer word nie, is die fees nie onder die Protestante gevier nie. Dit is ook die rede waarom dit in Suid Afrika nie groot effek het nie. Ons is sterk deur die Protestantse Calvinisme beïnvloed.

Tot vandag toe nog sal Jode nie aan die fees deelneem nie omdat Levitikus 18:3 die deelname aan heidense feeste verbied. (Protestantse) Christene in Suid Afrika moet dus mooi dink op watter wyse hulle die dag wil spandeer.

Geraadpleegde bron:

http://en.wikipedia.org/wiki/Halloween, besoek op 05 November 2014

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Romeine 14:5

Romeine 14:5 – Francois Malan

Hannelie vra
Romeine 14:5 na watter dae verwys Paulus hier?

Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:

Die kort antwoord is dat dit gaan om die Joodse feesdae wat in die Ou Testament voorgeskryf is as verpligting vir die volk van God:

Veral die Sabbat wat deur die vierde gebod ingestel is (Eks 20:8-11 met verwysing na die skepping en God se rus op die sewende dag)

Die ou feeste van Israel:
(i) Paasfees wat die sewe dae van die fees met die ongesuurde brode (massot) inlei, wat Israel se verlossing uit Egipte in herinnering roep om die Here daarvoor te dank (Eksodus 12:1-20);
(ii) Die Fees van die Weke, sewe weke na die oestyd begin het = 50 dae (Pinkster, die Griekse woord vir 50, pentekonta) en die koringoes klaar ingesamel is, om die Here te dank vir die oes, ook genoem die fees van die insameling (Eks 23:16b);
‘ (iii) Huttefees (sikkot) wat hulle tog deur die woestyn herdenk het (Deutr.16:13,16).

Die latere feeste van die Jode:
(i) Die Versoendag (Yom Kippur) (Lev 16).
(ii) Die Fees van die Tempelwyding (Ganukka) nadat Simon Makkabeus Jerusalem herower het van die Griekse koning Antiogus Epifanes wat die tempel ontwy het met sy afgodsbeeld en altaar, het Simon die tempel laat reining (Daniël 9:27; 11:31).
(iii) Purimfees (Ester 9:20-32).

Die agtergrond van Romeine 14:5 se verwysing na die dae:

Die huisgemeentes in Rome het bestaan uit ‘n meerderheid gelowiges uit die heidendom en ‘n aantal Jode wat Jesus aangeneem het as hulle verlosser. Veral vir die Jode, wat in hulle kultuur en godsdiens grootgeword het, was hulle Joodse lewenswyse nog belangrik.

Die ‘swakkes’ in die huisgemeentes in Rome waarvan Rm 14:1 praat. is gelowiges wat nog nie tot volle rypheid in die geloof gekom het nie en daarom nie die volle konsekwensies van hulle geloof in Christus raaksien en aanvaar nie. Hulle meen dat dit vir hulle nodig is om bepaalde dinge te onderhou wat eintlik vir ‘n Christen nie meer nodig is om te onderhou nie. Met name gaan dit oor die nie-eet van vleis nie (Rm 14:2-3; vgl. Markus 7:14-19 dat Jesus alle kos rein verklaar het), onderhouding van die Joodse feesdae, veral van die Sabbat (Rm 14:5-6; vgl. Markus 2:27-28 dat die mens nie vir die sabbatdag gemaak is nie, maar die sabbatdag vir die mens, en dat Jesus die Here oor die sabbat is), geheelonthouding van wyn (Rm 14:21).
Paulus noem sulke Christene ‘swakkes’ omdat hulle wel nie meen dat dié dinge noodsaaklik is om jou verlossing by God te verdien nie, anders sou Paulus hulle beskou het as mense wat van die geloof afgedwaal het en nie meer op Christus vertrou vir hulle verlossing nie (vgl. Galasiërs 4:10-11; en Kolossense 2:16-17). Die swak Christene het nog ‘n verkeerde krampagtigheid, wat nie die christelike vryheid wil aanvaar nie. Hulle voel dinge as sonde aan, wat op sigself nie onrein is nie (Rom 14:14). Maar Paulus wil nie dat die gemeente die swakkes uitstoot nie, en gee opdrag dat gemeentelede nie oor mekaar se gevoelens moet oordeel nie. Die pad wat Jesus vir ons kom aanwys het, is juis ‘n lewe in liefde, om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet en sy lewe vir ons gegee het (Johannes 13:34-35). Dit beteken dat ons mekaar se swakhede sal verdra en mekaar in liefde moet dien. Sterkes in die geloof moet nie op die swakkes neersien nie, en die swakkes in die geloof moet nie die sterkes se vryheid veroordeel nie (Rm 14:10).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5) – Adrio König

3.3 Moet Christene nog dié feeste vier?

Dit is ‘n tweede vraag oor die feeste. Sommige eis dat alle Christene en Messiaanse Jode nog die feeste moet vier.

 

Maar het die feeste nie maar net dieselfde pad geloop as die Sabbat nie? Het hulle nie eenvoudig ná Jesus se opstanding geleidelik verdwyn uit die lewe van die Christene nie, net soos die Sabbat?

Ná Jesus se opstanding word daar nie weer na enige van die feeste verwys nie, behalwe drie keer na die pinksterfees en een keer na die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6).

  • Die Heilige Gees is op die Ou Testament se pinksterfees uitgestort (Hand 2).
  • Die pinksterfees as ‘n blote tydsaanduiding (1 Kor 16:8).
  • Paulus se begeerte om vir die pinksterfees in Jerusalem te wees (Hand 20:16).
  • Die fees van die ongesuurde brode as ‘n blote tydsaanduiding (Hand 20:6).

 

Dit is nie vreemd dat Paulus wel nog ‘n keer by die pinksterfees wil wees nie. Ons vergeet maklik dat die vroeë Christene Jode was wat eintlik net van die ander Jode verskil het in hulle oortuiging dat die Messias al gekom het. Hulle het aanvanklik nog tempel toe gegaan (Hand 3), sommige het selfs nog taamlik lank hulle seuntjies besny en die gewone “Joodse gebruike” onderhou ( Hand 21:21).

 

Maar twee belangrike dinge het geleidelik gebeur. 

  • Hulle het verwyder geraak van die Joodse leiers en van die Joodse godsdiensgemeenskap omdat die Jode hulle al meer vervolg het (Hand 20-26).
  • Hulle het los geraak van die tempel, die wet en al die “Joodse gebruike”. Dit het baie ingesluit: die besnydenis, die Sabbat, die feeste, die tempelkultus (priesters, offers).

 

En is Paulus nie baie duidelik daaroor nie?

 

Ons het reeds gekyk na sy houding oor die Sabbat (hoofstuk 2). En nou die feeste. Hy bespreek nooit die feeste breedvoerig nie. Daar is eintlik net twee spesifieke opmerkings (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17).

 

Kolossense is ‘n sagter uitspraak as Galasiërs. In Kolossense vermaan hy die gemeente om hulle nie te laat voorskryf om sekere gebruike na te kom nie, terwyl hy in Galasiërs die vrees uitspreek dat hy dalk tevergeefs die evangelie aan die gemeente verkondig het as hulle met die feeste voortgaan.

 

Waarom is hy sagter in Kolossense? Is dit omdat die situasies in die twee Briewe verskil?

 

In Galasiërs was dit ‘n radikale saak: Geloof in Jesus sonder die wet of saam met die wet. En sy antwoord was radikaal: Christus óf die wet. Waarom so radikaal? Omdat dit gegaan het oor die vraag hoe mense gered word. Indien die wet by Christus moet bykom om ons redding te verseker, beteken dit dat Hy nie volle voorsiening gemaak het vir ons redding nie. Dit onteer Hom. Daarom is dit uit.

 

Dit beteken om nog te besny of die feeste te vier, is uit.

 

Maar in Kolossense is die posisie nie so radikaal nie. Die groot saak in hierdie Brief is nie die wet nie. Daarom kom die sabbat en die feeste meer terloops ter sprake. Dit kom nie voor in die verband van hoe mens gered word nie, maar hoe ‘n gelowige leef. En dan is Paulus se posisie eerder iets soos: Dis nie meer nodig nie. Sou dit beteken indien gelowiges tog gekies het om daarmee voort te gaan, hy inskiklik sou wees?

 

Miskien. Maar dit sou tog vreemd wees. Hy noem daar die voedselvoorskrifte, die sabbat en die feeste ‘n skaduwee, terwyl die werklikheid Christus is. Dit sou tog vreemd wees om aan ‘n skaduwee vas te hou as die een wie se skaduwee dit is, gekom het! 

 

Hebreërs stel dieselfde saak nog sterker. Hy is ook met die wet besig, hierdie keer in die vorm van die tempelkultus. Volgens hom is die wet van Moses nie eens ‘n werklike beeld van die heil wat deur Christus gekom het nie, maar “net ‘n skadubeeld” (10:1). Negatiewer kan dit amper nie. Dan het dit geen sin om daarmee voort te gaan nie.  

 

Skaduwee  Maar nou word die gedagte dat die wet ‘n skaduwee was wat vooruitgewys het na Christus, soms juis positief deur hierdie Christene gebruik. Dit word veral in verband met die feeste gebruik. Dit sou beteken dat die feeste vooraf die hele heilsplan van God afgebeeld het. Een vir een sou ‘n mens in die afsonderlike feeste na die groot heilsdade kon kyk.

 

Na die vraag of die feeste wel die groot heilsdade voorafskadu, het ons reeds gekyk (3.2). 

 

Maar nou kyk ons na Paulus en Hebreërs se gebruik van die begrip “skaduwee”. In beide Kolossense en Hebreërs word dit in ‘n negatiewe sin gebruik om te sê hulle het hulle waarde verloor, hulle word vervang met Jesus self. En nêrens word gesê dat hulle inderdaad dié besondere betekenis gehad het om een-een na die groot heilsdade te verwys nie.

 

Daar is nie regtig ‘n verantwoordelike manier om die sterk uitsprake van Paulus téén die feeste soveel te versag dat Christene maar kan aanhou daarmee nie.

 

Sabbat en feeste op die nuwe aarde?

Op twee plekke in die Ou Testament lees ons iets hiervan:

Jesaja 66:22-23: “Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef voor My in aanbidding kom buig.” Dit staan in die oudste gedeelte wat handel oor die nuwe hemel en die nuwe aarde.

 

Sagaria 14:16-19. Hier word geskryf dat iewers in die toekoms die huttefees gevier sal word. Dit is nie duidelik na watter geleentheid verwys word nie, maar dis in die toekoms.

 

Hieruit lei sommige dan af dat die Sabbat en die feeste nou nog gevier moet word omdat hulle in die toekoms, en selfs op die nuwe aarde nog gevier sal word.

 

Die vraag is of ons nie hier die tipiese verskynsel het dat iemand in die taal van sy of haar tyd iets oor die toekoms sê, terwyl dit nie noodwendig presies só sal wees wanneer dit gebeur nie.

 

Kom ons kyk na ‘n uitspraak van Jesus in die Evangelies. Hy stuur die dissipels uit op ‘n sending onder Israel (Matt 10:16-23). Dit is ‘n sending wat nie voltooi sal word voor sy wederkoms nie (10:23). En dan verklaar Hy dat hulle vervolg sal word en in die sinagoges gegésel sal word. Die uitspraak moet ook vir ons tyd geld, die tyd voor sy wederkoms. Maar daar word nie meer mense in sinagoges in Israel gegésel nie. Maar Jesus het die toekomstige vervolging uitgedruk in die terme van sy tyd.

 

Jesus vertel die gelykenis van die tien meisies wat vir die bruidegom wag (Matt 25:1-13). Dit gaan ook oor sy wederkoms. Hulle wag met olielampe. Maar dit beteken tog nie mense sal nog olielampe gebruik by die wederkoms nie. Jesus praat oor die toekoms in terme van sy tyd.     

 

Wil God in Jesaja en Sagaria nie maar net in terme van daardie tyd sê dat Hy in die toekoms gedien sal word nie?

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (4)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (4) – Adrio König

3.2.3 Die laaste drie feeste 

Intussen is daar nog drie feeste wat dan nog nie vervul sou wees nie:

  • die fees van die ramshorings.
  • Die groot versoendag.
  • Die (loof-)huttefees.

Dit sou dan die feeste wees wat vervul gaan word by die wederkoms van Christus.

Hierdie feeste word in die najaar gevier, al drie binne 15 dae.

 

Die fees van die ramshorings of die trompetfees  Daar is meer besonderhede oor hierdie fees in Numeri 29:1-6. Dit word soms die nuwejaarsfees genoem alhoewel dit nie so in die Bybel genoem word nie, en hier ook geen aanduidings is dat dit die betekenis van hierdie fees is nie. Dit was ‘n vreugdefees wat aangekondig moes word met ramshorings of trompette. Daar moes offers aan die Here gebring word.

 

Hierdie fees sou dan die voorteken wees van die wegraping omdat ons in die Nuwe Testament lees van die trompet van God wat sal weerklink wanneer Christus kom (1 Kor 15:52; 1 Tes 4:16). Verder sou die tien dae tussen hierdie fees en die groot versoendag sinspeel op die tien dae verdrukking van Openbaring 2:10 wat ‘n simbool vir die groot verdrukking ná die wegraping sou wees.

 

Maar dié soort verwysings kan darem nie werk nie. Hierdie fees het eenvoudig nie hierdie betekenis in die Ou Testament nie. Nóg in die Ou Testament, nóg in die Nuwe is daar enige verwysings of sinspelings daarop dat hierdie gegewens oor die fees (die trompet en die tien dae) na iets in die toekoms verwys. En nêrens in die Nuwe Testament is daar enige aanduiding dat hierdie gegewens (die trompet en die tien dae) na die koms van Christus of die verdrukking verwys nie. Dit beteken dat daar iets willekeurigs in hierdie aansprake is.

 

Die groot versoendag  Dit is die dag waarop daar versoening gedoen moes word vir die hele volk se sonde. ‘n Bul, twee bokramme en een skaapram moes geoffer word (Lev 16). Die bul word eerste geoffer vir die sonde van die priesters, en dan die bokke vir die sonde van die volk. Daar is nog heelwat besonderhede oor presies hoe daar versoening vir sonde gedoen moes word. Immers versoening van sonde is waaroor hierdie dag gaan. 

 

Volgens  die mense wat wil terug na die Ou Testament is hierdie fees ‘n vooruitwysing na die wederkoms van Christus. Maar ‘n mens sal natuurlik dadelik vra of dit nie eerder verband kan hou met die kruisoffer vir ons sonde nie. Het die wederkoms te doen met ‘n offer vir ons sonde?

 

Ja, is die antwoord. Op die dag van sy wederkoms sal die Here Jesus die sonde van Israel beëindig. Hiervolgens verteenwoordig hierdie versoendag eintlik die behoefte aan versoening vir die volk Israel, en dit word dan deur Jesus vervul. Vooraf, tydens die bruilof van die Lam, wat direk ná die wegraping gevier sal word, sal Jesus ook as sodanig erken en geëer word.

 

Maar is dit nie erg gedronge nie? Dit het by die groot versoendag nie gegaan oor die behoefte aan versoening nie, maar oor versoening. Daar is die volk se sonde versoen. Daar staan niks daarvan dat hulle sonde eers beëindig sal word by die wederkoms van Jesus nie. Ook nie in die Nuwe Testament nie.

 

Verder word interessante ooreenkomste getref tussen

  • die nederige klere van die priester op daardie dag, en Jesus wat in nederigheid gekom het,
  • die wit klere van die priester en die reinheid van Jesus,
  • die offer wat eers vir die sonde van die volk gebring moes word en die sondeloosheid van Jesus. 

 

Maar daar word nêrens in die Bybel enige verbande gelê tussen hierdie dinge nie. Ek sou nou regtig kon dink ‘n mens kan probeer om ‘n verband te lê tussen die groot versoendag en die kruisiging van Jesus. Maar ek het selfs dit nog nie in die Bybel raakgesien nie.

 

Die huttefees  Dit is die sewende en laaste van die feeste in Levitikus 23. Die volk moet vir sewe dae in hutte woon wat van blare en takke gemaak is. Die doel van die fees word uitdruklik uitgespel: “dat julle nageslag moet onthou dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het” (Lev 23:43).

 

Daar word taamlik algemeen aanvaar dat hierdie fees ‘n voorskou is van die duisend jaar van vrede wat begin by Jesus se wederkoms. Die woon in hutte sou dan heenwys na Jesus wat op die aarde kom woon. Dit sou dan natuurlik nog nie die nuwe aarde wees nie. Volgens hierdie siening sal die nuwe aarde eers kom ná die duisend jaar en na die duiwel in die vuuroond gegooi is.

 

Net twee opmerkings. Daar is nie veel ooreenkoms tussen die hutte waarin Israel tydens hierdie fees gewoon het, en die paleis van Dawid waar Jesus in Jerusalem sou gaan woon tydens die vrederyk nie. 

 

En verder is dit opvallend dat hierdie mense glo die feeste is ‘n voorskou van die hele verlossingsplan van God, maar die laaste fees wys net na die duisend jaar. Eindig God se verlossingsplan met die vrederyk op die ou aarde, of op die nuwe aarde?

 

As ‘n mens terugkyk op die pad wat ons die afgelope aantal bladsye geloop het, is dit nie oortuigend nie. Dit is gedronge. Daar word ten alle koste gegryp na vreemde soorte van ooreenkomste. Daar is die absolute minimum Bybelse verwysings waarvan die meeste eenvoudig nie sê wat hulle veronderstel is om te sê nie.

  • Daar is geen aanduidings in die Ou Testament dat hierdie feeste hierdie betekenis het nie.
  • En die Nuwe Testament verwys ook nie terug na hierdie feeste as ‘n soort belofte van dit wat in Jesus se lewe gebeur nie. 

 

Volgende keer die vraag: Moet Christene nog hierdie feeste vier?

 

Skrywer:  Prof Adrio König