Geloofsvrae: Feminisme

Geloofsvrae: Feminisme – Adrio König

Feminisme 

1. Die agtergrond 

Die Feminisme is ‘n beweging van vroue – waarmee sommige mans hulle vereenselwig – wat nie tevrede is met die plek wat die samelewing aan hulle toegewys het nie. In die meeste kulture word daar teen vroue gediskrimineer, en daarteenoor eis hierdie vroue gelyke regte, behandeling, en geleenthede. Sommige sien hul saak teen ‘n baie breër agtergrond: die totale samelewingstruktuur moet verander: in plaas van owerheid en onderdaan, kies hulle vir vennootskap, in plaas van sogenaamde `harde kragte,’ verkies hulle `sagte kragte,’ in plaas van kompetisie en konfrontasie, liewer onderlinge verbondenheid en samewerking.

‘n Belangrike faset van die agtergrond is die feit dat daar ‘n baie algemene oortuiging is dat daar ‘n manlike natuur en ‘n vroulike natuur is. Dit beteken dat mans sekere aangebore eienskappe het (mans is sterk, hulle reageer vinnig en neem inisiatief, hulle kan leiding gee), en vroue ander (sy is die `swakkere vat,’ sy is sag, geduldig, bereid om te dien, onseker, met ‘n behoefte aan leiding).

 

Vroue reageer op minstens drie maniere hierop. Sommige aanvaar dit gelate en onnadenkend, ander verdedig die beginsel van vroulike onderdanigheid as ‘n godsdienstige eis, en nog ander bevraagteken en beveg dit. Die tweede groep kom veral in konserwatiewe godsdienstige kringe voor (nie net onder Christene nie, ten minste ook onder Moslems) en die Christene onder hulle kan ‘n sterk beroep op die Bybel doen omdat daar ongetwyfeld sterk uitsprake oor die onderdanigheid van vroue in die Bybel is.

Twee belangrike teologiese vrae is eerstens of God manlik is (wat sou kon beteken dat Jesus noodwendig ‘n man moes wees om God te openbaar), en tweedens of die onderdanigheid van die vrou deel van die evangelie is of net deel van die kultuur waarin die Bybel ontstaan het?

2 Is God manlik? 

Die Bybel is ongetwyfeld oorwegend ‘n manlike boek. Mans en manlike beelde oorheers totaal: aartsvaders, priesters, konings, profete, Jesus, apostels, leiersfigure. Verder word daar oorwegend in manlike terme na God verwys. Dit kan natuurlik eenvoudig deel van die androsentriese (manlik-georiënteerde) kultuur van Israel wees, maar dit lyk soms nogal of dit bedoel is. As die profete ‘n keuse het, kies hulle die man as beeld van God, en die vrou as beeld van Israel (en die kerk). Nogtans is daar interessante beperkinge op die `manlikheid’ van God. So word seksualiteit nooit met Hom in verband gebring nie terwyl dit algemeen was vir die volke rondom Israel dat Gode in seksuele verhoudings betrokke is.

Verder relativeer hulle die `manlikheid’ van God deur ook vrouebeelde op Hom toe te pas. Feministe verwys na ‘n hele aantal voorbeelde wat nie almal eweveel gewig dra nie. Daar is egter ‘n paar wat ongetwyfeld die punt maak dat ons ook vroulik oor God kan dink. Hy word dikwels voorgestel as ‘n moeder wat ‘n kind in die wêreld bring, troos, en gerusstel (Dt 32:18; Jes 49:15; Ps 131:2; Jes 66:13). In die beskrywing van die uittog kry ons ‘n paar ewe opvallende voorbeelde. Die Here voorsien telkens vir die volk kos en water in die woestyn. Dit was die pligte van die vrou in Israel. Num 11:12 impliseer dat die betrokkenheid van die Here by die uittog voorgestel word as ‘n moeder wat ‘n kind in die wêreld bring en laat drink. Trouens daar word meer dikwels vroulike beelde vir God in verband met die uittog gebruik (Hos 11:3-4).

Daar is ‘n paar vroulike woorde wat in ‘n besondere verband met die Here staan: sy Gees, die wet, en sy teenwoordigheid. ‘n Mens moet egter nie teveel uit die geslag van woorde aflei nie.

Daar is egter wel waarde in die verwysing na die wysheid wat as ‘n vrou voorgestel word. Dit gaan nie net om die vroulikheid van die Hebreeuse woord vir wysheid nie, maar om ‘n vrouefiguur wat `die wysheid’ genoem is – en ‘n uiters belangrike figuur is. Ons moet onmiddellik sê dat God nooit met die wysheid geïdentifiseer word nie. Wat haar egter belangrik maak, is dat Jesus in die NT met haar geïdentifiseer word, en dat sy in die OT ‘n posisie inneem bo alle mense en dus ook bo alle mans, soveel so dat sy in ‘n nouer verhouding tot God staan as enige mens (dus ook man), dat sy alle mense na haar toe roep (dus gesag oor hulle uitoefen), dat sy konings (natuurlik almal mans) in staat stel om goed te regeer, en dat sy beskou word as die een wat saam met God die inisiatief geneem het in die skepping en in die hele geskiedenis van Israel. Trouens van geen manlike figuur word ooit gesê wat van haar gesê word nie: dat sy God se lewe met Hom deel (Spr 8; Job 28:20-28; vergelyk ook Wysheid van Salomo 7-9; Sirag 24).

Hieruit is dit duidelik dat die heerskappy van die man en die onderdanigheid van die vrou nie as ‘n onbuigbare beginsel in die OT geld nie, maar eerder deel is van die kultuur van die tyd. (Die onderdanigheid van die vrou in die huwelik word verder aan bespreek.)

Die betekenis daarvan dat die wysheid ‘n vrou is, gaan egter verder. In die NT word Jesus met haar geïdentifiseer (1 Kor 1:24,30; Mt 11:19). Dit beteken dat daar nie net manlike titels en beelde vir Jesus gebruik word nie maar ook ‘n vroulike een. Ons moet dus aanvaar dat Jesus se manlikheid nie noodsaaklik was nie, dat Hy ook ‘n vrou kon gewees het en nog die openbaring van God en ons Verlosser sou kon wees.

3 Die eienskappe van God 

‘n Laaste uiters belangrike saak oor die `manlikheid’ van God is sy eienskappe. Die eensydig manlike verwysings na God sluit nie uit dat daar ook sogenaamde vroulike eienskappe aan Hom toegeskryf word nie en dat ons Hom uiteindelik juis met hierdie eienskappe identifiseer.

In die vorige sin is nie verniet na `sogenaamde’ vroulike eienskappe verwys nie. Daar is reeds verwys na die vraag of daar ‘n manlike natuur en ‘n vroulike natuur is. Dit is natuurlik moontlik dat ‘n mens inderdaad bepaalde eienskappe (oorwegend?) by onderskeidelik mans en vroue vind, maar dat dit nie noodwendig aangebore, `natuurlik’ eienskappe is nie, maar gesosialiseerde eienskappe. Ons maak kinders groot om in hierdie rolle in te pas omdat die samelewing dit verwag.

In die Bybel word die eienskappe inderdaad oorwegend só gebruik, en die meeste Christene sal waarskynlik sonder meer aanvaar dat veral die manlike eienskappe op God toegepas word: mag, inisiatief, kreatiwiteit, en dat die vroulike eienskappe net per uitsondering vir Hom gebruik word. Immers die Apostoliese Geloofsbelydenis meld net sy almag.

Daar is egter goeie redes om juis die teendeel te aanvaar: dat dit wat kenmerkend van God is, juis die `vroulike’ (`sagte’) eienskappe is. Ons sien dit in die ontwikkeling in ons siening van God in die twintigste eeu, en ook in ‘n bepaalde tendens in die Bybel self.

Vroeër het teoloë inderdaad veral die harde, sterk, koue eienskappe aan God toegeskryf: almag, denke, wysheid, onveranderlikheid, selfgenoegsaamheid, onbetrokkenheid. Daarteenoor het teoloë veral gedurende die laaste helfte van die twintigste eeu al meer eienskappe soos liefde, verbondenheid, getrouheid, geduld aan Hom begin toeskryf – dus eerder `vroulike,’ sagte, warm eienskappe (9-14).

In die Bybel het ons dieselfde situasie. In die vroegste geskrifte in die Bybel word God eerder as ‘n stryder, ‘n regter en ‘n oorlogsgod voorgestel, ‘n God wat straf en wat met fisiese mag optree, terwyl sy liefde en geduld eers later sterker na vore kom. Die optrede van Jesus Christus lewer ‘n beslissende bydrae in dié verband. Terwyl ons God in Hom leer ken, is Hy by uitstek die nederige, lydende Dienskneg, die sorgende en helpende Heiland, die vergewende Here.

Ons moet nie dié tendens verabsoluteer nie. Van die oudste skeppingsverhale, soos Gen 2, beklemtoon alreeds sy sorg en verbondenheid, en die harde eienskappe verdwyn nooit heeltemal nie. Tot in die boek Openbaring bly mag en geweld eienskappe van God. Dit gaan dus net om verskillende beklemtonings, nie om ‘n absolute teenstelling nie.

Maar hierdie beklemtoning beteken in elk geval dat die harde eienskappe van God nie oorheers nie, en baie van ons herken Hom juis by voorkeur aan sy sagte eienskappe. As dit `vroulike’ eienskappe is, soos konserwatiewe Christene beweer, lê die identiteit van God netsowel (of selfs meer) in sy vroulike eienskappe as in die manlikes.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Feminisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Feminisme

  • Evangeliese Feminisme Kritiese Feminisme Radikale Feminisme

Vir eeue lank – trouens, so ver as die menslike geheue teruggaan – is dit ‘n algemene verskynsel dat vrouens nie gelyk aan mans be­­han­del word nie, en in baie gevalle fisiek en emosioneel on­derdruk is. In hoofsaak het vrouens dit in die verlede gelate aan­vaar. Maar gedurende die laaste paar dekades het daar ‘n beweging ont­wikkel wat dit bevraagteken: die Feminisme. Onder feminis­te tel nie net vrouens nie, maar ook mans wat die onderdrukking van vrouens beveg.

Ons kan die mensdom in hierdie opsig in drie groepe ver­deel:

1.            dié wat nog steeds die posisie van vrouens gelate of onna­denkend aanvaar

2.            dié wat dit met oortuiging verdedig en hulle op die tradisie en/op die Bybel beroep

3.            dié wat dit verwerp

Die eerste groep is waarskynlik die grootste groep. Dis gewoon­lik so dat die meerderheid mense nie geneig is om te veel vrae te vra nie. Hulle lewe maar net van dag tot dag, en sommi­ge maak maar die beste daarvan wat hulle kan. Daar sal baie vrouens wees wat nie te sleg af is nie, ‘n paar wat dit selfs baie goed getref het, en hulle sal nie juis aandag gee aan die manier waarop vrouens in die algemeen behandel word nie.

Die tweede groep is dié wat dit verdedig dat vrouens anders as mans behandel moet word. Sommige sal inderdaad selfs nog die diskriminasie en onderdrukking van vrouens goedkeur, maar die meeste sal dit verwerp, maar tog die beginsel verdedig dat vrouens anders is as mans en daarom anders behandel moet word. Hulle sal lyste kenmerke opstel wat mans en vrouens van mekaar onder­skei. Mans is sterk, hulle reageer vinnig en neem maklik inisiatief, hulle kan leiding gee. Vrouens is die “swakkere vat”, hulle is sag, ge­duldig, bereid om te dien, onseker en het ‘n behoefte aan leiding. Hulle maak ‘n sterk saak daarvoor uit dat vrouens ‘n ander roeping in die samelewing het as mans. Daar word graag gesê dat vrouens tuis­te­skeppers is en veral die geweldige taak het om die volgende ge­slag groot te maak.

Hierdie oortuiging kan hom sterk op die Bybel beroep. Die By­bel het ‘n lang geskiedenis van vrouens wat “tweede” kom en inderdaad anders as mans behandel word. Veral konserwatiewe Evangelicals en Katolieke beroep hulle dus sterk op die Bybel, nie vir diskriminasie teen vrouens nie, maar vir ‘n unieke on­der­danige rol van vrouens. Mans is geskape om leiding te gee en vrouens om leiding te ontvang. Mans is geskape om broodwinners te wees en vrouens om tuiste te skep en kinders op te voed. Mans is gemaak en aangestel om die inisiatief te neem en die vrouens om te volg. Daarom is die man die hoof, en die vrou moet aan hom onderdanig wees. Dit word ‘n *skeppingsordening genoem.

Die derde groep word feministe genoem. Hulle is sterk in reak­sie teen die verlede toe daar erg teen vrouens gediskrimineer is, en hulle is oortuig dat dit verkeerd is en dat vrouens tot hulle reg moet kom. Deel van hulle oortuiging is dat die “skep­pingsverskille” wat daar tussen mans en vrouens sou wees as sodanig diskriminasie teen vrouens is. Hulle ontken die ver­skillende rolle wat aan die twee geslagte toegewys word, en eis dat vrouens net soos mans behandel moet word, met dieselfde regte en geleenthede. Daar is eintlik net ‘n paar biologiese verskille tussen mans en vrouens: mans kan nie geboorte gee nie, en mans is gewoonlik groter, sterker en hariger as vrouens.

Onder Christene het Feminisme verskillende vorme aange­neem. ‘n Mens sou minstens drie kon onderskei: Evangeliese Feminisme, Kritiese Feminisme en Radikale Feminisme.

 

• Evangeliese Feminisme

Evangeliese feministe is oortuig dat daar nie net een lyn in die Bybel, dié van eensydige vroue-onderdanigheid, is nie, maar ook ‘n ander lyn, dié van vroue-gelykheid, en dat hierdie lyn deel van die boodskap van die Bybel is. Hulle gee toe dat vrouens in die Ou Testament sleg behandel is, omtrent geen regte gehad het nie en volkome van hul mans afhanklik was. (*Onderdanigheid van die vrou) Maar hulle is oortuig dat die situasie in die Nuwe Testament verander het, dat Jesus sterk vir vrouens opgekom het en hulle heeltemal anders behandel het as in die Ou Testament.

Hulle beroep hulle baie sterk op Galasiërs 3:28: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal één.” Hulle wys daarop dat “man of vrou” in die Grieks eintlik lees: “manlik en vroulik” en ‘n aanhaling uit die skeppingsgeskiedenis is (Gen 1:27), wat impliseer dat die sek­sue­le onderskeid wat deel van die skepping is, nie ‘n verskil in die gemeente behoort te maak nie. Verder wys hulle daarop dat die beroemde deel oor die hoofskap van die man en die on­derdanigheid van die vrou ingelei word deur ‘n algemene reël van onderdanigheid waaraan vrou én man gehoorsaam moet wees: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Ef 5:21). Mans moet dus ook aan vrouens onderdanig wees. Die res van die deel verduidelik dan net hoe vrouens se onderdanigheid moet lyk (nie slaafs soos die Griekse samelewing geëis het nie, maar bevrydend “soos aan die Here” – v 22), en hoe mans se liefde moet lyk. (*Onderdanigheid van die vrou)

 

  • Kritiese Feminisme

Kritiese feministe is heelwat negatiewer oor hierdie positiewe lyn wat die evangeliese feministe beklemtoon. Hulle meen dat selfs Jesus nie regtig anders teenoor vrouens opgetree het as die algemeen aanvaarde norme van sy tyd nie. Hulle meen dat ‘n mens eenvoudig die Bybel op hierdie punt moet kritiseer: daar is nie regtig in die Bybel ‘n positiewe kyk op vrouens nie. Ons moet die moed hê om self die saak van vrouens op te neem met ons gesonde verstand. Daar is volgens hulle in elk geval ook ander sake wat nie in die Bybel behandel word nie, en waaroor ons maar self besluite moet neem. Hulle meen slawerny is een so ‘n saak omdat daar nie regtig duidelike sterk uitsprake teen slawerny in die Bybel is nie.

 

  • Radikale Feminisme

Radikale feministe gaan heelwat verder. Hulle is oortuig dat die Bybel deur en deur ‘n manlike, patriargale en androsentriese boek is wat ongeneeslik “siek” oor vrouens is en eenvoudig ver­werp moet word. Baie van hulle los dan ook die kerk en selfs die Christelike godsdiens as sodanig. Een van hulle groot besware is dat God in die Bybel manlik voorgestel word. (*Manlikheid van God) Nie net God die Vader nie, maar sy openbaring in Jesus die “Seun“, en ook die Heilige Gees is manlik. Dit sou beteken dat Hy vreemd teenoor vrouens staan. Sommige aanvaar dan vroulike gode wat die vrou se wese sou verstaan. Daar is byvoorbeeld sommige wat aan­vaar dat daar ‘n god Geia is. Dit is die Grieks vir “aarde”. Uit ons kinderdae onthou sommige van ons nog hoe daar by die skool van “moederaarde” gepraat is.

Dis interessant dat daar enersyds gepleit word vir die ge­lyk­heid van man en vrou en dat daar geen wesensonderskeid tus­sen die geslagte sou wees nie, maar dan weer beklemtoon word dat die vrou haar eie wese het wat so anders is dat dit nie deur ‘n manlike God verstaan sou kon word nie. Dit is oor die algemeen ook nie duide­lik waarom ‘n God wat vrouens gemaak het, hulle nie sou kon verstaan nie bloot omdat Hy manlik sou wees. Die vraag of God regtig manlik is, kom elders ter sprake. (*Manlikheid van God)

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König