Laat u koninkryk kom

The Bible is to the theologian what nature is to the man of science. It is his storehouse of facts – Charles Hodge

Laat u koninkryk kom

Ons sien God se Naam as heilig. Dit plaas ons in ‘n posisie van aanbidding – ons sien God as die Een wat algeheel heilig is. Dit bring ons op ons knieë voor Hom. Ons buig voor God soos ‘n onderdaan voor sy aardse koning buig. Daarom: Laat u koninkryk kom. Die eerste petisie vloei oor in die tweede een.

Jesus begin sy bediening met die aankondiging dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit beteken dat in die verhaal van verlossing wat deur die Bybel ontplooi word iets nuuts gaan gebeur.  Maar die koninkryk van God was nog altyd daar. God moes nie wag tot die tyd van die Nuwe Testament om as soewereine Heerser gekroon te word nie – Hy was van die begin af Koning oor die heelal. By Sinai gee God aan Israel sy wet. Daarin sê Hy onder andere: Ek is die Here jou God … Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2 – 3).

 

In Israel se geskiedenis breek daar ‘n tyd aan waar hulle God as hulle koning verwerp – hulle wil soos die ander nasies ook ‘n koning hier op aarde hê. Dit gebeur nadat God verklaar het dat Hy Israel se koning is. Toe Samuel by God hieroor kla, sê God vir hom: Hulle het jou nie verwerp nie; hulle het My verwerp as koning oor hulle (1 Samuel 8:7). Samuel waarsku hulle teen ‘n aardse koning wat net vat. God is egter ‘n koning wat net gee en gee.

Hierdie gevoel teen die heerskappy van God is so diep in die mens se hart ingewortel dat die mense Jesus voor die Romeinse gesag gebring het. Die aanklag was dat Jesus Homself Koning gemaak het. Net soos God deur die antieke Israeliete as koning verwerp is, net so is Jesus verwerp. In Johannes 18 kry ons ‘n interessante gesprek tussen Jesus en Pontius Pilatus. Pilatus wil weet of Jesus die koning van die Jode is. Jesus antwoord hom: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie … As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus vra weer of Jesus ‘n koning is waarop Jesus antwoord:Ek is ‘n koning … Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Jesus getuig hier van die heerskappy van die ware Koning. As Hy sy volgelinge oproep om te bid laat u koninkryk kom, maak Hy hulle deelnemers aan sy sending: om die koninkryk van God oor die hele wêreld te versprei.

Wat is die koninkryk van God: Die maklike antwoord is dat dit die gebied is waaroor God regeer. Omdat ons weet dat God die Skepper van die heelal is, moet die hele wêreld sy ryk wees. Die koninkryk van God is waar Hy regeer en Hy regeer orals. Daarom is die koninkryk van God orals.

In die Nuwe Testament kom Johannes die Doper in die woestyn met ‘n ernstige aankondiging: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matteus 3:2). Jesus kom met dieselfde aankondiging. As die koninkryk van God dan die heelal is, hoekom sal iemand dan sê die koninkryk het naby gekom? Johannes die Doper en Jesus sien iets meer in hierdie konsep van die koninkryk van God.

Hulle verwys na die koninkryk waar God se Messias sal heers. Hy is nie net die mense se Verlosser nie, maar ook hulle Koning. Net voor Jesus se hemelvaart vra sy dissipels nog vir oulaas ‘n vraag: Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk van Israel weer gaan oprig? (Handelinge 1:6). Jesus antwoord hulle: Dit is nie vir julle om die tyd en omstandighede te weet wat die Vader in sy eie krag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

Die koninkryk het naby gekom, want die Koning van die koninkryk was by hulle. Met sy koms na die wêreld vestig Jesus God se koninkryk op aarde. Hy het dit nie voltooi nie, maar Hy het dit begin. Jesus se koninkryk is nie iets net van die toekoms nie. Christus is op hierdie oomblik Koning: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Daarom sê Paulus: Maar ons is burgers van die hemel (Filippense 3:20).

Laat u koninkryk kom? Waarvoor bid ons as ons dit sê? Daar is ‘n logika in die petisies in hierdie gebed. Ons begin deur te pleit dat G54od se Naam geheilig sal word. As dit nie gebeur nie, sal sy koninkryk nie kom nie. Maar ons wat glo dat God se Naam heilig is het die verantwoordelikheid om te verseker dat sy koninkryk sigbaar kom. Ons doen dit deur so te leef dat dit van die werklikheid van God se koninkryk getuig.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




Laat u Naam geheilig word

. —Thomas Manton

Laat u Naam geheilig word

God sluit in sy tien gebooie die volgende in: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie (Eksodus 20:7). God plaas ‘n hoë premium daarop dat dit belangrik is dat sy kinders sy Naam as heilig beskou en dat dit so hanteer moet word. Ons sien presies dieselfde in die Ons Vader gebed. Die dissipels het vir Jesus gevra hoe hulle moet bid en Hy sê: So moet julle bid. Laat u Naam geheilig word. Ons lees hierdie woorde asof hulle ‘n bevestiging van ‘n erkende waarheid is. Hierdie is egter ‘n petisie – ‘n versoek. Onthou wat Jesus hier doen, is om die prioriteite waarvoor ons in ons gebede moet vra, vas te lê. En die heel eerste ding wat Hy noem, is dat God se Naam heilig gehou moet word.

 

Wat beteken dit as ons sê dat God heilig is? Hy is anders as alles wat ons nog ooit ondervind het; God die Skepper is anders as sy skepsels – Hy is nie geskep nie; Hy is ewig. Sy wese is van so ‘n aard dat dit almal se aanbidding waardig is. Jesus sê nie hier: “God, u Naam is heilig nie.” Hy leer ons hier om te vra dat God se Naam as heilig beskou moet word – dat ons dit met eerbied moet hanteer.

Min van ons sou hierdie as ons eerste prioriteit geplaas het. Dit is vir ons vreemd om soveel klem op die regte hantering van ‘n naam te plaas. Tog voel ons seergemaak as mense ons name vergeet of verkeerd uitspreek. Ons voel mense dink nie baie van ons nie – hulle neem ons nie ernstig op nie. Hierdie eerste drie petisies hou verband met mekaar. Dit help nie om te bid dat God se koninkryk moet kom as sy Naam nie geheilig word nie – God se koninkryk kom nie vir mense wat geen respek vir Hom het nie.

Deur hierdie petisie eerste te plaas sê Jesus dat God se Naam die fondament van alles is – hoe ons voor Hom leef word deur ons gesindheid teenoor Hom en ons siening van wie Hy is, bepaal. Geen aanbidding vir of gehoorsaamheid aan Hom kan vloei uit ‘n hart wat nie respek vir die Naam van God het nie. Jesus sê dat ons nie agting het vir sy Naam nie, wys dit dat ons geen agting vir Hom het nie. Voordat God se koninkryk kan kom en voordat sy wil gedoen kan word, moet ons eers agting vir God se Naam hê.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




Ons Vader wat in die hemel is

While anger lasts, let every thing that comes to the mind be looked upon with suspicion.  – Huldrych Zwingli

Ons Vader wat in die hemel is

Meeste van ons gebede begin met Vader. Ons is so geneig om hierdie titel van God sommer net te aanvaar. Ons dink nooit na oor die betekenis daarvan nie; ons besef nie hoe radikaal dit is om na God as Vader te verwys nie. Joachim Jeremias bevind dat in al Jesus se gebede met net een uitsondering spreek Hy Jesus as Vader aan. Dit lok baie weerstand by sy teenstanders uit. Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem  en Hom so met God gelyk gestel (Johannes 5:18).

 

‘n Baie belangrike leerstelling in die Nuwe Testament is dié van aanneming. God is nie ons natuurlike Vader nie, maar in Christus word ons in die familie van God aangeneem. In hierdie gebed sê Jesus dat nie net Hy die reg het om Jesus as Vader aan te spreek nie, maar sy volgelinge het dieselfde voorreg op grond van hulle aanneming. Elke keer as ons sê ons Vader moet dit ons aan ons aanneming herinner – dat ons in ‘n intieme verhouding met God geplaas is. Dit is iets wat ons nie van nature gehad het nie. Dit is Jesus wat sy erfenis met ons deel.

In die 19de eeu word die analogie van die berg ontwikkel. God sit op die kruin van ‘n hoë berg en daar is baie paadjies wat na die kruin gaan. Party gaan reguit na die kruin terwyl ander kronkel.  Die basiese idee is dat dit nie eintlik belangrik is watter pad jy volg nie, want almal kom uiteindelik by die kruin uit. Jy kan dus die pad van Christus of Mohammed of Boeddha loop – dit maak nie saak nie. Almal is net verskillende paaie na dieselfde plek.

Dit is nie waar nie. As die Bybel van God as Vader praat, gaan dit nie net oor die skepping nie, maar spesifiek oor verlossing. Die vaderskap van God is dus eksklusief en beperk. God is die Vader van Jesus op ‘n unieke wyse, maar die Vaderskap van God word uitgebrei na dié wat aangeneem is as deel van sy uitgebreide familie. Hulle is aangeneem omdat hulle in Christus is. Voortspruitend hieruit is daar die gemeenskap wat almal wat deel van die familie is, ondervind – gelowiges is dus broers en susters van mekaar. Weereens is ons nie natuurlik deel van hierdie gemeenskap nie – ons moet weergebore word om deel daarvan te word.

Nie alle mense is my broers/susters nie – net diegene wat in Christus is. Wat die Bybel wel beklemtoon, is dat alle mense my naaste is en God verwag van my om hulle te hanteer soos ek verwag hulle moet my hanteer. Ek moet my naaste liefhê soos ek myself liefhet. My naaste word nie tot my broers/susters beperk nie. Lees net weer die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Jesus het hierdie gelykenis vertel nadat ‘n wetgeleerde Hom ‘n vraag gevra het: En wie is my naaste? (Lukas 10:29).

Met hierdie as agtergrond kan ons nou by die ses versoeke in hierdie gebed kom.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




Die Ons Vader gebed: Hoe om nie te bid nie

 “If you remove enjoyment of God from faith in God, it ceases to be faith.” – John Piper

Die Ons Vader gebed: Hoe om nie te bid nie

Een van die geestelike dissiplines wat vandag baie afgeskeep word, is gebed. Tog was dit vir Jesus se dissipels ‘n belangrike aspek van hulle lewe saam met Jesus. Een dag het Jesus se dissipels die geleentheid gehad om Jesus te vra om hulle iets te leer. Jesus het hulle reeds vir ‘n geruime tyd onderrig.

Dink net aan die voorreg om elke dag saam met Hom te loop; te hoor wat Hy sê; te sien wat Hy doen. Daar is so baie dinge wat hulle Hom wou en kon vra. Hulle kon vir Hom gevra het: “Here leer ons om water in wyn te verander;” of: “Jesus leer ons om op die water te loop.” Maar wat vra die dissipels? Here, leer ons bid (Lukas 11:1). Dit was die brandende vraag waarmee hulle Jesus genader het.

 

Hoekom het hulle nou juis hierdie vraag gevra? Moontlik het hulle die verband tussen Jesus se gebedslewe en sy mag, karakter en sy onderrig raakgesien. Hulle sou gesien het dat nadat hy by ‘n groot skare betrokke was Hy onttrek het. Maar Hy het nie onttrek net om te rus nie, maar om te bid. Ons weet uit sy gebed in die tuin van Getsemane dat Hy ernstig gebid het. Ons weet dat Hy sy dissipels gekies het nadat Hy die hele nag gebid het.

Geen wonder hulle vra Hom om hulle te leer bid nie. Maar hulle voeg nog ‘n stertjie by: soos Johannes ook sy volgelinge geleer het. Hulle het nie alleen gesien dat Jesus bid nie, maar ook Johannes en sy volgelinge het gebid. Baie van Johannes se dissipels het ook vir Jesus gevolg.

Gebed is belangrik. As ons in die geskiedenis teruggaan, sien ons dat gebed ‘n belangrike rol gespeel het wanneer die kerk gegroei het – tydens geleenthede van herlewing. Jesus kon vir sy dissipels gesê het om die Psalms – die gebedsboek van die kerk deur die eeue – te lees. Nee, Hy doen dit nie … Hy gee aan hulle die Ons Vader gebed. Dit was die gebed wat Hy vir sy volgelinge gegee het.

In Matteus 6 lees ons dat Jesus vooraf sekere opmerkings gemaak het (vers 5 – 8). Jesus leer heel eerste vir hulle hoe om nie te bid nie. Hier plaas Hy twee beperkings op gebed. Hierdie beperkings is belangrik, want Jesus word nie met hierdie soort gebede geëer nie.

  • Moenie skynheilig wees nie. Die woord het sy oorsprong in die teater – die akteur doen iets wat nie werklik is nie. Hierdie mense bid en maak ‘n groot vertoning van hulle vroomheid – maar hulle innerlike stem nie ooreen met hierdie uitwendige vertoning nie. Gebed vir hulle was iets wat van mense in hulle posisies verwag is. Is hierdie skynheiligheid iets van die verlede? Dink baie gelowiges nie steeds hulle is beter as ander mense nie? Jesus waarsku teen bid om gesien te word, maar Hy moedig private gebed – in jou kamer met ‘n toe deur – aan. Daar bid jy tot jou Vader. God stel nie belang in uiterlike vertoon nie.
  • Moenie heidense gebede bid nie: moenie ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Hulle herhaal sekere woorde sonder dat hulle weet wat dit beteken. Ons kan baie maklik woorde herhaal en gebed word dan ‘n gewoonte – ons dink nie eers oor dit waarvoor ons bid nie. Selfs die Ons Vader gebed kan later ‘n resitasie word wat ons voordra sonder om te dink oor die betekenis van dit wat ons bid. Die beste voorbeeld van ‘n gewoontegebed is sekerlik ons tafelgebede.

Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. God gaan nie sy siening verander omdat jy vir Hom nuwe inligting in jou gebed gee nie. Maar gebed verander dinge en die belangrikste daarvan is onsself. In gebed leer ons God meer intiem ken. Ons besef ook dat ons moet verander as ons meer en meer soos Jesus wil word.

Let op dat in hierdie gebed ‘n woord wat herhaaldelik voorkom is U: u Naam, u koninkryk, u wil. Ons moet eers ‘n ent weg in die gebed gaan voor enige aandag aan ons gegee word. Daarom is dit belangrik om altyd te onthou wie aangespreek word en wie doen die praatwerk. Moet nooit vergeet dat jy met die Skepper van en Heerser oor die heelal praat nie. Jy moet ook nooit vergeet wie jy is nie – ‘n skepsel. Gebed is nie ‘n gesprek tussen gelykes nie.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]