Hy is besig om te bid

Most of Scripture speaks to us; the Psalms speak for us – Atanasius

Hy is besig om te bid

In 1915 het Benjamin B. Warfield ‘n reeks konferensies by Princeton Seminary gehou. Alhoewel dit amper ‘n eeu gelede was, kan ons steeds baie daaruit leer.

Saulus is op pad Damaskus toe om die aanhangers van die leer van die Here te vervolg. Langs die pad kom hy wonderbaarlik tot bekering toe die Here aan hom verskyn. Daarna was hy blind en moes na Damaskus gelei word. Vir drie dae eet en drink hy niks nie – en kan hy nie sien nie. Toe roep Jesus vir Ananias om vir Paulus te gaan besoek: Hy is besig om te bid en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam Ananias sien inkom (Handelinge 9:11). Nou is Saulus gereed vir die ontvangs van God se genade.

Gebed het hom versag en stel hom oop vir die invloed van genade.

In wese is gebed die belydenis van my swakhede, my behoefte, my afhanklikheid – gebed is ‘n uitroep om hulp van Iets/Iemand sterker, beter, meer stabiel en betroubaar as ekself. Dit is ‘n uitroep na Iemand op wie ek kan vertrou. Ons gooi ons neer voor die voete van Hom wat groter en sterker as ek is. My gebedshouding is die ware Christelike gesindheid, want dit is die gesindheid van volle afhanklikheid van God.

 




Hoekom moet ons bid?

When I despair, I remember that all through history, the way of truth and love has always won. There have been murderers and tyrants, and for a time they can seem invincible. But in the end they always fall. Think of it, always. -Mohandas Karamchand Gandhi (1869-1948)

Hoekom moet ons bid?

Vraag: As God dan nie kan verander nie, hoekom moet ons dan bid? Probeer ons nie nou om God se besluite te verander nie?

Hierdie is ‘n vraag wat gereeld na vore kom. Die Bybel sê dat God alomteenwoordig en alwetend is. As Hy dan sy besluite verander, is Hy nog alwetend?  Daarom die algemene siening dat God nie op ons gebede kan reageer nie.

 

As ons bid, het God vooraf geweet wat ons gaan bid.  Hy het ook bepaal dat die doel van ons gebed ‘n manier sal wees om sy doel te bereik. Gebed is dus nie ‘n manier waarop ons God verander nie, maar ‘n manier waarop God ons verander. Gebed is nie ‘n manier waardeur ons God se onwilligheid verander nie … dit is die manier waarop God ons gewilligheid gebruik. Gebed is nie ‘n manier om te verseker dat ons wil in die hemel gedoen word nie, maar ‘n manier om te verseker dat God se wil op aarde gedoen word.




Bid en omval

Bid en omval – Jan van der Watt

Annalie vra:

Ek was gister by ‘n dames byeenkoms waar iemand vir my gebid het. Sy het gebid en my liggies agtertoe gestamp. ‘n Ander person het vir my gevang en op die vloer laat lê. Ek kan nie verduidelik wat in die tyd met my gebeur het nie, maar wil weet of dit tot God se eer strek. Ek is in ‘n baie konserwatiewe kerk en ken nie hierdie manier van bid nie, ook nie om in tale te praat nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

 

Miskien net so klein bietjie breë agtergrond oor hierdie saak. Net na die periode van die Verligting (einde 17 en begin 18e eeu, wat die einde van die Middeleeue ingelei het) het die mense baie met hulle verstand (rede) na dinge begin kyk, ook na die Bybel. Hulle het geargumenteer dat as jy iets nie met jou verstand kan verklaar nie, dit eintlik nie waar is nie. So het hulle ook na die Bybel toe gegaan en met hulle verstand die Bybel probeer dissekteer. Dit het natuurlik daartoe gelei dat mense aan die Bybel begin twyfel het, want die Bybel vertel ons mos van God en wonders wat nie met die verstand verklaar kan word nie. Veral in die wetenskap het dit gebeur. Gelowiges het toe teen hierdie wantroue in die Bybel begin reageer en herlewingsbewegings wat die fokus meer op geloof in God en sy nabyheid geplaas het, het begin. Aan die einde van die 19e eeu was daar groot herlewing in Amerika (en elders ook) en die Heilige Gees se teenwoordigheid het veral ’n rol begin speel. Daar moes ‘gesien’ kon word dat die Gees teenwoordig is en werk, en die spreek in tale met allerhande ander manifestasies het toe as tekens gedien dat die Gees aan die werk is. Dit het so belangrik geword, dat mense begin sê het dat as dit nie gebeur nie, die Gees nie daar was nie. Dit het met ander woorde ’n soort ‘kenteken’ van die teenwoordigheid van die Gees vir hierdie mense geword. In hierdie tyd het sendelinge uit Amerika gekom en ook in ons land kom werk, wat beteken het dat dit ook in ons land bekend geword het.

 

Nou moet ons onthou dat nie alle Christene aan hierdie bewegings op dieselfde wyse deelgeneem het nie. Dit was, om die waarheid te sê, mense wat hierdie ervarings meegemaak het, was in die minderheid. Daar was dus ander maniere ook om die Gees te ervaar wat niks te doen het met spreek in tale of omval nie. Vir hulle was en is dit ook nie belangrik om die dinge te ervaar nie. Dit is waar van die oorgrote meerderheid Christene.

 

Daarmee word nou nie gesê dat die ervarings nie outentiek of opreg is nie. Die Bybel sê die Gees werk soos Hy wil. Ons besluit met ander woorde nie wat moet gebeur en hoe nie, maar die Gees besluit dit (1 Kor 12:11). Hierdie vryheid mag ons nooit van die Gees af ‘wegdink’ nie. Maar ons moet ook nie na die ander kant toe sondig nie. Ons moet nie dink dat as dit nie met ons gebeur nie, ons nie die Gees het nie, of mense moet ons dit ook nie wysmaak nie. Dit is doodgewoon nie waar nie. Die Gees werk baie wyer as dit. Dit Gees gee lewe (Joh 3:3,5; 1 Kor 2:1-5), lei ons in die waarheid van Jesus (Joh 14:26; 15:26), hou ons verhouding met die Vader goed (Gal 4:6), en so kan ons aangaan. Om die Gees toe te sluit in ’n spreek-in-tale of omval hokkie is nie reg nie. As die Gees natuurlik wil, kan Hy dit doen, maar dit is nie al wat Hy doen nie. Hy kan ook kies dat dit nie gebeur nie.

 

Nou is die vraag wat tot eer van God is. ’n Algemene en wyse manier om jouself in sulke omstandighede te help, is juis om die Gees te vertrou. As mens baie ongemaklik daaroor voel en nie vrede in jou hart het nie, moet jy daaroor bid – miskien het die Gees die dinge nie vir jou in gedagte nie. Dan moet jy dit liewer nie doen nie. God is nie ’n God van onvrede nie. ’n Algemene reël is dat om  dinge te doen waaroor jy sleg voel of wat jou pla gewoonlik nie tot eer van God is nie. Dit bly maar ’n algemene reël wat altyd met gebed en soeke na die waarheid gepaard moet gaan. 

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Jesus en gebed

Pride gets no pleasure of having something, only having more of it than the next man – C. S. Lewis

Jesus en gebed

Jesus het dikwels gebid. Volgens Leonard Sweet en Frank Viola (Jesus – A Theography) staan Jesus se gebede in skrille kontras met die praktyke van destyds.

  • Daar is op spesifieke tye van die dag gebid: 09:00, 12:00, en 15:00. Jesus het veral soggens vroeg en saans gebid.
  • Die vrome Jode het gestaan as hulle gebid het – gewoonlik het hulle nie gekniel of gebuig nie.
  • Die gebede was selde spontaan. Die vroom Jode het versamelings van gebede opgesê.
  • Gebede is so gereël – tyd en plek – dat die bidder duidelik gesien en gehoor kan word. Hulle bid lang gebede in openbare plekke.

Jesus verbreek hierdie rigiede patroon. Hy moedig mense aan om na hulle kamer te gaan, die deur toe te maak en daar te bid. Hy waarsku: Moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie – Hy beveel kort, eenvoudige gebede aan. Jy kan die Ons Vader-gebed in een of twee minute bid. ‘n Baie goeie voorbeeld is Elia se gebed op Karmelberg (1 Konings 18). Die Baälprofete roep van die môre tot die middag, maar Baäl reageer nie – niks gebeur nie. Toe kom Elia na vore en bid twee sinne en die Here verhoor sy gebed.

Daar is egter een aspek van Jesus se gebedslewe wat ons nie moet miskyk nie: Hy was in voortdurende gemeenskap met sy Vader – elke minuut van die dag. Natuurlik moet ons gereelde tye en plekke hê om te bid, maar ons moenie vergeet dat ons enige tyd op enige plek met ons Vader in die hemel mag praat.