Die Ons Vader-gebed: Laat u Naam geheilig word

Confidence: The feeling you have before you understand the situation. — Conrad Hackett

 

Die Ons Vader-gebed:  Laat u Naam geheilig word

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Die dissipels weet dat God se Naam vir God se persoon of vir God self staan. Hulle ken ook die gebod: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie (Eksodus 20:7).

Hulle ken ook die profete se klaagliedere oor die misbruik en ontheiliging van God se Naam: Israel onteer God se Naam deur slawe wat vrygelaat is weer te dwing om slawe te word (Jeremia 34:16);  hulle doen God se Naam oneer aan deur bloedvergieting en die aanbidding van afgode (Esegiël 36:20 – 23 – nie minder as vyf keer word in hierdie paar verse verwys na die oneer wat God se Naam aangedoen word nie); hulle doen God se Naam oneer aan deur swakkes se koppe plat te trap en diegene wat hulleself nie kan verweer nie, te verontreg (Amos 2:7).

 

 Al hierdie verse verwys na optrede van God se mense. Almal sê dat Israel God se Naam voor die heidene onteer deur dit wat hulle aan ander mense doen.  God se Naam word geheilig as ons regverdig teenoor ander optree. Heiligheid het dus ook ‘n sosiale perspektief.  Daarom moet ons ons voortdurend afvra watter beeld van God projekteer ons deur ons dade en optrede.

 

Laat u Naam geheilig word, is woorde wat die eerste Christene gebid het te midde van vervolging met die hoop dat die vervolging gou sou eindig en sy Naam geheilig word. Mettertyd het die heiliging van God se Naam ‘n sinoniem vir privaat aanbidding geword – die bekering na die Christelike geloof.

 

 




Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (3)

We therefore, the interpreters of God’s holy word, and faithful ministers of the church of Christ, must have a diligent regard to keep the scriptures sound and perfect, and to teach the people of Christ the word of God sincerely; made plain, I mean, and not corrupted or darkened by foolish and wrong expositions of our own invention. — Heinrich Bullinger

 

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (3)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Ons Vader wat in die hemel is, word onmiddellik deur sewe versoeke gevolg. Die eerste drie behoort  ten opsigte van struktuur en inhoud bymekaar .

Hulle is baie kort versoeke.  Wat is die sentrale betekenis van hierdie eerste drie versoeke?  God wil nie op sy eie sonder ons God wees nie; Hy roep ons na Hom  toe; Hy roep ons op om sy doel ook die voorwerp van ons begeerte te maak. Dit is hierdie drie versoeke wat  die ander versoeke waarlik ‘n gebed maak – die gebed van die Christelike gemeenskap. Hulle druk op ‘n baie spesiale manier die lewenstyl van ‘n Christen uit.

 

Hoekom moet ons vra dat sy Naam geheilig word, dat sy koninkryk moet kom en dat sy wil gedoen moet word? Omdat  dit nie teenwoordig is nie – God se Naam word nie geëer nie, sy koninkryk is nie gevestig nie en sy wil word nie gedoen nie. Hierdie is in wese ‘n noodroep uit ‘n wêreld verslaaf aan sonde. Dit stem ooreen met die gebed van die vroeë kerk: Marana ta – kom, Here! (1 Korintiërs 16:22). Die ons Vader is ‘n gemeente wat bid, maar wat weet dat die draaipunt reeds gekom het – God het reeds sy verlossingswerk begin. Die gemeente bid vir die volle openbaring van wat reeds toegestaan is.

 

Die koms van Jesus het die toneel fundamenteel verander; niks kan meer dieselfde wees nie, want die koninkryk van God het gekom. Dit alles gebeur terwyl Jesus nog op aarde was. Die dissipels het die waarheid hiervan eers later besef – na Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Daarom kon Paulus skryf: Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17).

 

Dit is van groot belang vir ons. Ons leef nie in ‘n wêreld wat aan die Bose oorgegee is nie, maar in ‘n wêreld waarin God reeds die begin van ‘n nuwe tyd geopenbaar het. Ons word ook opgeroep om die wêreld in ooreenstemming met sy koninkryk te verander. Ons kan met vertroue standpunt inneem teen die Bose. Die manier waarop ons die werklikhede om ons benader – ons hele lewenstyl – sal wys of ons werklik glo dat die oorwinning reeds behaal is.

 

Na die derde versoek lees ons: op die aarde geskied, net soos in die hemel.  Hierdie byvoeging geld waarskynlik vir al drie versoeke, want hulle vorm ‘n eenheid:

Laat u Naam geheilig word op die aarde net soos in die hemel;

Laat u koninkryk kom op aarde soos in die hemel;

Laat u wil geskied op aarde net soos in die hemel.

As dit korrek is, beteken dit dat God se Naam reeds in die hemel geheilig word, dat sy koninkryk reeds in die hemel gekom het en dat sy wil reeds in die hemel geskied. Wat reeds in die hemel bereik is, moet nou ook op die aarde waar word.

 

Na hierdie lang inleiding is ons nou gereed om na elke versoek afsonderlik te kyk.




Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (2)

It is a testament to our naïveté about culture that we think that we can change it by simply declaring new values. Such declarations usually produce only cynicism. ~ Peter Senge

 

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (2)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

 Die gebed is nie ‘n nuwe wet wat in presies dieselfde woorde herhaal moet word nie. Dit is ‘n hulpmiddel, ‘n riglyn wat gevolg moet word sonder dat ons aan ‘n spesifieke bewoording gebind moet word.

Daar is in ieder geval twee verskillende vorme: Matteus 6 en Lukas 11. Hierdie gebed gebruik min woorde en daarom is dit noodsaaklik dat elke woord versigtig geweeg en bestudeer moet word. Elke woord, elke uitdrukking, is vol betekenis. Elke frase in die gebed is ‘n noodsaaklike deel van die totale mosaïek en moet daarom ons aandag geniet.

 

Ons Vader wat in die hemel is.

In die hele Ou Testament word net 14 maal na God as Vader verwys. In al hierdie gevalle is dit ‘n verwysing na die verhouding tussen God en Israel. In ‘n paar gevalle is God nie alleen vader nie, maar selfs ook moeder (Jesaja 49:15; 66:13).

 

Jesus spreek God direk as Vader aan. Hy gebruik die Aramese woord abba. Dit was die manier waarop ‘n klein kindjie sy vader aangespreek het – eintlik ‘n soort troetelnaam. Dit was iets totaal nuut. Jesus gebruik hierdie uitdrukking 170 keer in die vier evangelies. Dit beklemtoon dat Hy deur die Vader gestuur is.

 

Maar in Matteus gaan Jesus selfs verder – Hy spreek God as ons Vader aan. In Lukas lees ons net Vader. Wat is die betekenis hiervan?  Jesus se Vader is ook die Vader van die dissipels – Jesus is die oudste broer en het dieselfde Vader as die dissipels. Daarom het hulle ook die voorreg om God as Vader aan te spreek. God is hier ‘n Vader wat vir sy kinders sorg – Hy is sensitief vir hulle probleme; Hy sien hulle lyding; Hy hoor as hulle roep. Hier is sprake van ‘n persoonlike verhouding met God as Vader: Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!”. Dit beteken Vader  (Romeine 8:15).

 

Die oproep ons Vader bind ook diegene wat bid, saam. Niemand kan op sy eie Jesus se broer of suster word nie – ons is saam in die geloofsgemeenskap betrokke. Die bidders is nie net van die Vader en die Seun afhanklik nie, maar ook van mekaar. Hierdie interafhanklikheid van bidders is ‘n basiese element in hierdie gebed.

 

Daar volg nou ‘n verdere kwalifikasie: Ons Vader wat in die hemel is. Hierdie kwalifikasie kry ons nie in Lukas se weergawe van die gebed nie. Met hierdie byvoeging word ons gewaarsku dat ons nie sommer ons Vader as sulks kan aanvaar nie – ons kan nie met Hom familiêr raak nie. Ons mag nooit vergeet dat Hy heilig is nie – dat Hy in die hemel en ons op die aarde is nie. Ons moet hier dink aan die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar.  Die Fariseër was so hooghartig en oortuig van sy geregtigheid dat hy op ander neergekyk het:  O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie (Lukas 18:11).

 

As ons onthou dat ons liefdevolle Vader, wat ons liefhet en naby aan ons is, terselfdertyd die heilige God in die hemel is, sal dit ons terughou van familiariteit en skaamteloosheid in ons verhouding met God.

 

Volgende keer begin ons na die versoeke in hierdie gebed kyk.




Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (1)

Adults should outgrow the need to be constantly “affirmed.” If a grown man or woman “struggles” with not having emotional pats on the head, then they have a maturity problem. Steve Hays

 

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (1)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed. Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Hierdie gebed het ‘n belangrike plek in die lewe van die vroeë kerk beklee.

Dit weerspieël dus die werklikhede  wat daardie Christene daagliks ondervind het. Opregte gebed is nie ‘n manier om van die werklikhede van die lewe te ontsnap nie, maar is die gevolg van daardie werklikhede. Ons moet onthou hierdie vroeë Christene was eintlik rantfigure in die destydse Romeinse en Joodse gemeenskap: Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie (1 Korintiërs 1:26). Baie was slawe of vissermanne of arbeiders. Die tweede deel van hierdie gebed is veral gerig op mense wat onder moeilike omstandighede geleef het.

 

Ons moet egter die groot geskiedkundige afstand tussen ons en die gebed in sy oorspronklike omgewing in gedagte hou. Ons kan nie daardie woorde sommer so direk op ons omstandighede vandag toepas nie – dan verwring ons die verlede en ons eie situasie. Die vroeë kerk het die boodskap van Jesus kreatief binne die omstandighede van die Christene in Jerusalem, Antiogië, Rome, ens, geïnterpreteer.

 

Ons moet probeer om die gees en etos van die vroeë kerk vas te vang en dit vir en in ons eie konteks te interpreteer. Die praktiese toepassing moet elke persoon individueel maak, maar hy moet dit doen as lid van die geloofsgemeenskap en op so ‘n manier dat dit inpas by die oorspronklike bedoeling van die gebed.

 

Die evangelie volgens Matteus bevat vyf redelike lang preke of besprekings voorafgegaan en gevolg deur ‘n verhalende gedeelte. Die eerste “preek” is die sogenaamde bergrede (Hoofstuk 5 – 7). Reg in die middel van hierdie gedeelte kry ons die Ons Vader-gebed. As ons kyk na hoe versigtig Matteus die evangelie opgebou het, sal ons onmiddellik besef dat dit nie toevallig was nie. Die gedeelte van die bergrede voor die gebed verwys na die onderwerpe van die eerste deel van die gebed: God se koninkryk, sy Naam en sy wil. Die gedeelte na die gebed hanteer aspekte uit die tweede deel van die gebed: skuld, vergifnis en versoeking.

 

In wese is die gebed ‘n opsomming van die bergrede – eintlik die hele evangelie word in hierdie gebed gekonsentreer. Dit is ‘n kaleidoskopiese siening van Jesus se hele boodskap en bediening. Van vroeg af speel dit ‘n belangrike rol in die aanbidding van die kerk – dit beklee ‘n spesiale plek in die liturgie van die kerk. Die gebed het die eenheid en identiteit van die vroeë Christene bevestig. Dit word die simbool van ‘n nuwe lewenstyl van die burgers van die koninkryk van God. Dit is dus tragies dat die gebed feitlik uit die liturgie van die moderne kerk verdwyn het.

 

Volgende keer gaan ons na die struktuur van die gebed kyk.