Moet ek hande ophef as ek bid?

Moet ek hande ophef as ek bid? – Jan van der Watt

Hoekom het mense hulle hande opgehef of hulleself op die bors geslaan as hulle bid? Moet ‘n mens kniel, neerval, staan of lê as jy bid? Moet ‘n mens hard of sag bid, of maak dit nie saak nie?

Hoe het mense destyds oor gebed gedink? Vir hulle was dit ‘n gesprek met ‘n Persoon. Daarom het die normale reëls vir gesprekke gegeld. Jy praat tog nie sag of “in jou gedagtes” met iemand nie. Jy praat hard, sodat hy of sy jou kan hoor. Daarom bid jy hardop.

As jy rou, slaan jy jouself op die bors. So wys jy hoe hartseer jy is. As die tollenaar “op sy bors slaan” en vra dat hy vergewe word, wys hy vir God so hoe hartseer hy oor sy sonde is.

Hande ophef was ‘n teken van verering. So wys jy respek vir iemand. Daarom doen jy dit ook as jy God loof.

As jy destyds by ‘n koning of iemand belangriks kom, het jy gekniel om jou onderdanigheid te wys. Om jou totale oorgawe te illustreer, het jy “op jou aangesig” geval of gebuig. Omdat jy God as die belangrikste van almal ag, doen jy voor Hom wat jy voor belangrike mense sou doen.

Destyds het mense hierdie dinge goed verstaan. Hierdie aksies het gekommunikeer en gepraat. Die vraag is egter of ons dit vandag nog so verstaan? Ons wys mos eer of hartseer op ander maniere. Niemand van ons wat sien iemand slaan homself op die bors, sal aflei dat die persoon hartseer is nie.

Dit beteken nie dat ons nie hande kan of mag oplig, of nie meer hoef te kniel nie. Ons moet egter net seker maak dat ons weet hoekom ons dit doen – dit moet praat… Met ander woorde, dit wat ons doen, is net so deel van ons gebed as die woorde wat ons praat.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Verhoor God gebede deur baie mense meer as net wanneer een mens bid?

Verhoor God gebede deur baie mense meer as net wanneer een mens bid? – Kobus Kok

Francois vra:

‘n Algemene praktyk is om baie mense te vra om vir ‘n bepaalde saak te bid. Is daar Bybelse verwysings wat daarop dui of ons verseker dat vele (en gewoonlik herhaaldelike) gebed deur baie meer belangrik is (dat die Here aan ons versoek sal voldoen) as wanneer ‘n enkele persoon of net ‘n paar bid?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Verhoor God gebede deur baie mense meer as net wanneer een mens bid?

In Matteus 6:7 sê Jesus duidelik: “En as julle bid, gebruik nie ʼn ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.”

Jesus gee vervolgens die bekende voorbeeld van hoe mens moet bid tot God (Matt 6:9vv): “Moet dan nie soos hulle (wat baie woorde gebruik) word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

In die Onse Vader gebed gaan dit in die eerste plek oor die wil van God en die koms van God se Konings-heerskappy. Dit gaan nie in die eerste plek oor ons eie behoeftes, drome en begeertes nie. Tog glo ons dat die groot Droom-Gewer ook vir ons drome gee wat ons trek na die toekoms wat Hy vir ons in gedagte het. Dikwels is dit wat ons na streef ook binne sy wil.

In Matteus 18:19 lees ons:  “Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.

Ons moet hier egter versigtig wees om nie die fout te maak dat ons saamstemmery en ons ywer God kan manipuleer nie. Gebed moet nie gesien word as dat ons vir God vra om ons te bedien soos ʼn kelner nie en of dat God gemanipuleer kan word nie. So asof God sal sê “Ja, OK, julle het nou so aanhoudend gevra, so ek sal dit nou maar vir julle gee nie…” God is nie in ons diens nie, maar ons in God se diens.

Dikwels antwoord God die gebed van ʼn enkele kind! Ander kere kom ʼn ganse nasie bymekaar en bid hulle dat God die land sal omkeer, en God doen dit. Wanneer mense saam bid, is dit meer as dikwels ʼn onselfsugtige gebed waarin mense bid dat God se wil in ʼn bepaalde situasie geskied, dat God genesing sal bring, dat God sal voorsien met reën, ens. Soms antwoord God en soms doen Hy nie, omdat Hy iets anders in gedagte het. Gebed is nie ʼn manipulering strategie nie, maar ook ʼn luister-proses waarin ons poog om te hoor wat God vir ons in ons situasie wil wys. Dikwels wys God vir ons iets gans anders as dit waarvoor ons vleeslikheid aanvanklik voor gevra het…

 

Skrywer: Dr Kobus Kok

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Gebed

Die Groot Geloofswoordeboek: Gebed

Gebed is deel van ons antwoord aan God. Gebed kan baie vor­me aanneem. ‘n Mens kan hardop of sag bid, lank bid of ‘n “skiet­gebed opstuur”. Daar is meer formele gebede in eredien­s­te, en persoonlike gebede. Soms hoor ‘n mens van gebedsreise. Ge­meen­tes organiseer ook geleenthede van “deurnaggebed” in buiten­gewone omstandighede.

Dit is goed om spesifieke gebedstye te hê, maar ook ingestel te wees op geleenthede om spontaan na die Here te gaan met lof, dank of nood.

Tafelgebede is ‘n besondere geleentheid om ons lewe deur die dag weer ‘n oomblik voor God oop te maak. Dit is sleg om altyd dieselfde “rympiegebed” te bid waaruit daar min persoonlike oor­gawe en betrokkenheid spreek, of om altyd net saaklik vir die kos dankie te sê. Ons lewe bestaan uit baie meer as eet. Dit is ook goed om die verskillende gesinslede die kans te gee om die tafelgebed te doen.

Gebed kan ook uit verskillende elemente bestaan: lofprysing, aan­bidding, danksegging, voorbidding. In vernuwingsgemeen­tes is dikwels ‘n gebedsbediening wat aan die gemeente leiding gee oor wat om te bid.

Sang is ‘n besondere vorm van gebed waarin die gemeente saam kan bid. Die sang word soms in vernuwingsgemeentes aan­ge­bied in die vorm van lofprysing, aanbidding, verootmoediging en ook ander elemente.

Gebed is nie bedoel om die Here in te lig oor sekere dinge wat ons na aan die hart lê nie. Iets van die ouer-kind-verhouding moet eerder in ons gebede deurskemer, van die grootheid van God en ons afhanklikheid van Hom.

In verskillende kerklike tradisies word ook verskillend ge­bid. Die hoogkerklike tradisie ken voorgeskrewe gebede wat afgelees word. Die historiese kerke bid taamlik formeel in lang, goed ge­formuleerde sinne en met min stembuiging. In die *Evangeliese tradisie word meestal met baie meer emosie gebid, in korter sin­ne, soms selfs onvoltooide sinne soos smekende uitroepe. In die *Pinkster- en Charismatiese kerke is daar dikwels baie instemming van die kant van die gemeente. Woorde soos “*amen” en “*halleluja” kan reëlmatig gehoor word.

Jesus het nie lang gebede aangemoedig nie. Hy was nogal kri­ties daaroor. Die gebed wat Hy aan sy dissipels gee, is kort en saak­lik, maar dit het ‘n baie ryk inhoud (Matt 6:5-15). Die struktuur van hierdie gebed is belangrik. Dit begin by die eer van God, en eers dan is dit ons behoeftes.

 

Die Onse Vadergebed

Ons Vader” herinner ons daaraan dat ons ‘n groot familie is en nooit mag maak asof net onsself of ons klein groepie vir Hom be­langrik is nie. Ons kan so maklik selfsugtig in ons gebede word, en ons ís dit as die groot Christelike familie nie in ons gebede ter sprake kom nie.

“Laat u Naam geheilig word” het te doen met die eer van God en die heiligheid van ons lewe. Sy Naam moet deur sy kinders se woorde en dade geëer word. Ons lewe moet Hom aan die ongelowiges “verkoop”.

“Laat u koninkryk kom” is die gebed dat die kerk moet groei deur die ongelowiges wat tot geloof kom, en dat ons lewe en samelewing al meer volgens sy wil ingerig moet word.

“Laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel” is die gebed dat God se wil voorrang moet hê bo ons wil. Die klassie­ke voor­beeld daarvan is Jesus se gebed in Getsemane: “Nie my wil nie, maar u wil.” Daar is mense wat dit bid wanneer hulle in nood tot die Here roep, byvoorbeeld vir genesing. Daar is ander wat meen dit is ‘n agterdeur wat ons in ongeloof ooplaat as die sieke nie gesond word nie. Die voorbeeld van die hemel is aangrypend omdat dit vir ons die simbool is van volkome gehoorsaamheid aan God. Daar is ouers wat die opvoedingsbeleid het van “Eerste keer gehoorsaam”. Kinders moet op die ouers se eerste bevel reageer. Dit is ‘n goeie beginsel in ons verhouding met die Here.

“Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Hier kom ons behoeftes aan die beurt, en dit begin met baie konkrete fisieke behoeftes. Die Here het ons as liggaamlike wesens geskape; daarom aan­vaar Hy ook vir ons liggaamlike lewe verantwoordelikheid.

“Brood” is ‘n simbool van eenvoudige kos, dit wat ‘n mens regtig nodig het om goed te lewe. Nie ‘n luukse Duitse motor en dan nog die regte kleur ook daarby nie. (*Voorspoedsevangelie) Nie ‘n huis van miljoene en dan nog ‘n vliegtuig vir die lekker ook nie. Ons leef in ‘n land van arm mense, en ons het ‘n verantwoordelikheid om die Here se instrumente te wees om vir ‘n paar van hulle hulle daag­likse brood te voorsien. Die “daaglikse” kan die betekenis hê van vandag net vandag s’n, soos die Here in die woestyn net dié dag se manna gegee het. Dan kom daar iets van ons daaglikse, voort­durende afhanklikheid van Hom na vore.

“En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” Daaglikse vergifnis skep die indruk van daaglikse behoef­te aan vergifnis. Dit beteken dat ons waarskynlik nie volmaak, son­deloos hier op die ou aarde gaan word nie. Dit is goed om ons daaraan te herinner as ons té oormoedig raak met ons oorwinning oor die sonde. Maar daar is ook ‘n ander kant van dié saak. Kyk by *kinders van God.

Hierdie gebed het ‘n stertjie by: “soos ons ook … ” Dit maak dit ‘n bietjie ongemaklik. En Jesus het dit baie ernstig bedoel. Dis opvallend dat Hy net op hierdie stertjie terugkom in sy gesprek ná die gebed: “As julle ander mense … vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie … vergewe nie!” Dit maak vergifnis noodsaaklik om vergewe te word. Met ‘n wrok in jou hart help dit nie eens om te bid nie. Of ja, dalk help dit tog. Dalk sal jy vashaak as jy by hierdie gebed met sy stertjie kom en onthou dat jy eers moet vergewe voor jy vergewe gaan word.

Die Here is nogal ernstig hieroor. Iewers sê Hy ons moet ons offer (aan Hom) by die altaar laat en ons eers gaan versoen met ons broer (of suster). Eers ons menseverhoudings in orde kry voor ons verhouding met Hom weer regkom. En verderaan in Matteus ver­tel Hy van ‘n man wat ‘n ongehoorde skuld by die koning vry kry, maar dan sy vriend wat hom ‘n onbenullige bedraggie skuld, aan die keel beetkry … en uiteindelik sy skuld terugkry (Matt 5:23-24; 18:21-35). Het jy nie dalk al intussen jou skuld teruggekry nie?

“En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” Die duiwel en die bose magte het ‘n besondere rol in Jesus se bediening gespeel. Hy het die *koninkryk/heerskappy van God op aarde kom herstel. Hy het dit gedoen deur die duiwel uit mense se lewens te dryf. Hy het die Bose oorwin, maar nog nie vernietig nie. Die duiwel kan nog die kinders van God baie seermaak. Daarom ons gebed om nie deur die duiwel versoek te word nie, maar van hom verlos te word. Hy kom in baie verskillende vorme na ons toe, soms baie onskuldig, selfs soos ‘n engel van die lig (2 Kor 11:14).

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Ons Vader

Die Ons Vader – Francois Malan

ʼn Leser vra:

Kan ek asb. ʼn vers vir vers verduideliking van die ONSE VADER kry. Ek wil dit so akkuraat as moontlik deurgee vir my selgroep.

Antwoord:

Dr Francois Malan antwoord:

Die Ons Vader kom in Matteus in die bergrede voor. In hoofstukke 5-7 het Matteus Jesus se woorde oor die lewe in die koninkryk van die hemel op aarde bymekaargemaak, waarvan baie bv. in Lukas 6 en 11 voorkom, en baie min in Markus, wat nie so baie woorde van Jesus rapporteer nie, maar meer sy optredes. In Matteus 6:1-18 toets Jesus die motiewe wat agter 3 godsdienstige gebruike van die Jode skuil. Hy kyk indringend na:

  • Hoe ons barmhartig moet wees (6:2-4)
  • Wat agter ons gebede skuil (6:5-6)

Kort gebede (6:7-8)

Ons Vader (6:9-13)          U Naam, U koninkryk, U wil

Ons brood, Ons vergifnis,             Ons versoeking, verlossing

Vergewe (6:14-15)

  • Die redes waarom ons vas (6:16-18)

Die drie gedeeltes kom slegs by Matteus voor, en is parallel in hulle vorm. Die middelste gedeelte word uitgebrei met drie gedeeltes oor hoe ons moet bid (7-8; ʼn uitgebreide middelste deel 9-13; 14-15). Die middelste is telkens die belangrikste. Van die uitbreidings kom ook in Lukas 11:1-4 en Markus 11:25 voor.

Maar eers maak Hy ʼn belangrike algemene opmerking oor die uitvoering van ons godsdienstige pligte:

 

6:1 Opskrif: ʼn Liefdesverhouding is self loon.

Die volgelinge van Jesus lewe in ʼn persoonlike verhouding met hulle Vader. Die drie gebruike word in vryheid voor God uitgeleef. Daarop antwoord die Vader met loon. Dit is egter nie die soort loon waarop ʼn arbeider aanspraak kan maak nie, maar ʼn geskenk van die Vader aan sy kind. Maar as jy dit vir jou eie eer of gewin doen, geskied dit nie meer in afhanklikheid van jou Vader nie.

 

6:2-4 Die regte milddadigheid

ʼn Skynheilige blaas sy eie trompet in die samekomste van die gemeente en in die smal straatjies waar die armes bly. Hy kry die applous wat hy soek, en dit is al wat hy gaan kry. Vir die Jode was die gee van aalmoese ʼn baie belangrike plig wat ʼn groot beloning van God ingehou het. Jesus se uitspraak het hulle geskud. Die mens wie se goeie daad verborge bly, verheug hom reeds in die gee daarvan en sy Vader sien sy gesindheid raak (vergelyk Handelinge 20:35; Matteus 25:37-40; Romeine 12:8; Lukas 14:14).

 

6:5-6 Die regte gebed

Skynheiliges hou daarvan om van hulle gebedstye ʼn skouspel te maak – in die samekomste van die gemeente en op die hoeke van die groot strate in die stad. As jy egter op jouself of op mense fokus as jy bid, verloor jy die ware Gespreksgenoot van die gebed. Maar as jy soos ʼn kind met God praat, sorg jou Vader vir jou (vergelyk 2 Konings 4:33).

 

6:16-18 Die regte vas

Skynheiliges maak van innerlike rou ‘n uiterlike vertoning om as heiliges geprys te word, vgl. Lukas 18:12. In die Grieks is hier ʼn woordspel: hulle maak hulle gesigte onkenbaar (met as, soos in ‘sak en as’) om raakgesien te word, verberg om gesien te word. Volgelinge van Jesus wat treur oor versoekings en sonde sit nie in sak en as nie. Skoon gewas, met reukolie aan (letterlik: salf jou kop met lekkerruik olie, en was jou gesig) leef hulle uit die troos en vergifnis van hulle Vader – maak jou gereed soos vir ʼn fees! vgl. Matteus 5:4; 9:14-15.

Die Nuwe Testament moedig gelowiges nie aan om te vas nie. Jesus vergelyk dit met ou klere wat nie met ongekrimpte materiaal gelap word nie, of met ou wynsakke wat skeur met nuwe wyn, ʼn ou gebruik wat nie die vreugde van die blye evangelieboodskap kan vat nie, daarvoor is nuwe vorms nodig (Matteus 9:16-17; Markus 2:21-22; Lukas  5:36-38). Lukas 5:39 voeg nog ʼn uitspraak by om die onverenigbaarheid van die ou gebedstye 5:33, vas 5:34, sabbat 6:1-5; 6-11 en die nuwe te beklemtoon. Maar in die vroeë kerk is al meer klem gelê op die noodsaaklikheid van vas, vgl. Handelinge 13:2-3; 14:23. Gevolglik het afskrywers vanaf die vyfde eeu ‘vas’ begin invoeg bv. by Markus 2:29 en Matteus 17:21. Die nuwe Afrikaanse vertaling volg ouer manuskripte uit die derde eeu wat nog nie ‘vas’ ingevoeg het nie.

 

Drie uitbreidings oor gebed (6:7-15)

Uitbreiding 1: Lang of kort gebede? (6:7-8)

Heidene probeer God dwing om hulle wense uit te voer deur name vir Hom op te stapel. Hulle leef in die waan dat die regte naam of die hoeveelheid daarvan God sal dwing om op te tree. Volgelinge van Jesus vermy die soort vertroue op die magiese krag van woorde wat oor en oor herhaal word, vgl Prediker 5:1. Hulle begin bid in die wete dat God reeds weet wat hulle nodig het, vgl Matteus 6:32. Gebed is ʼn erkenning hiervan.  Soos ʼn kind vertrou dat sy vader sorg, wag Jesus se volgelinge op God se verhoring as ʼn geskenk.

Uitbreiding 2: Die Ons Vader (6:9-13)

In Lukas 11:1-4 is ʼn korter vorm van die Vader-gebed, sonder Matteus se derde bede, met ‘elke dag’ vir Matteus se ‘vandag’, en ‘ons sondes’ vir Matteus se ‘ons oortredings.’ In Lukas gee Jesus die model op versoek van een van sy dissipels. In Matteus staan die Ons Vader in die sentrum van die bergrede. Dit bevat drie U-gebede en drie ons-gebede. Op hierdie manier roep Jesus ons op om in gemeenskap met die Vader-met God – te lewe.

Dat die allerhoogste God ons Vader is, is sy genadegeskenk aan Jesus se gemeente. Die Seun van God maak die nuwe verhouding met God en ons medegelowiges moontlik. Vir Jesus se volgelinge is God ons liewe, hemelse Vader. Die Aramese woord abba is intiem soos ons woord ‘pappa’ (Markus 14:36; Romeine 8:15; Galasiërs 4:6; ab is pa). Die ‘ons’ beklemtoon dat die gebed nie selfsugtig om myself gaan nie, maar om die belang van die gemeenskap van Jesus-volgelinge.

Die drie U-gebede met ‘U koninkryk’ in die sentrum, vra eintlik al drie dieselfde, dat God in ons en in die wêreld:

  • sy Naam sal heilig, dat ons voor die wêreld sal lewe soos kinders van ons Vader, soos Jesus vir ons voorgelewe het in vertroue op sy Vader (vgl Maleagi 1:6; Jesaja 29:23; Esegiël 36:23; 1 Petrus 1:17).
  • Sy komende koningskap nou reeds begin uitbrei in die lewe van gelowiges en ongelowiges, in gemeenskappe en strukture, deur ons aan sy woord te onderwerp, en, deur ons, ander te oortuig van sy genadige regering wat met Jesus se koms begin het (Matteus 28:18-20).
  • sy wil sal laat geskied en nie my wil nie, soos Jesus in Getsemane gebid het (Matteus 26:39,42; Handelinge 21:14; vgl Matteus 7:21); ‘soos in die hemel ook op die aarde’ kan beteken dat dit op aarde begin geskied soos dit reeds in die hemel geskied; of dat sy wil op aarde sowel as in die hemel sal geskied sodat Hy oor alles sal regeer (1 Korintiërs 15:28).

Die sentrum van die drie ons-gebede is weer die middelste van die drie, soos deur vers 14 en 15 onderstreep word. In die drie bedes vra ons in vertroue dat ons Vader:

  • ons en ons broers en susters daagliks sal versorg. Brood is ʼn sinekdogee waardeur al ons materiële behoeftes deur brood aangedui word (Matteus 6:30-32; Spreuke 3O:7-9).
  • ons sondeskuld daagliks en in die eindoordeel sal vergewe. Die woord wat hier gebruik word, beskryf sonde as skuld, terwyl vv 14-15 sonde beskryf as oortreding van God se wil deur ʼn verkeerde handeling of deur versuim. Die vergifnis van ons sondeskuld word verbind met ons bereidheid om te vergewe (vgl Matteus 18:21-35; Markus 11:25).
  • ons sal bewaar teen die dreigende gevaar van afval as gevolg van die mag van die Bose wat ons van God wil aftrek (hier is eintlik twee bedes in een, wat Matteus 7 bedes teenoor Lukas se 5 gee). Die negatiewe woord ‘versoeking’ kan positief as ‘beproewing’ vertaal word, wat hier moontlik beter pas, vgl Jakobus 1:13-15. ‘Versoeking’ lyk asof God jou tot sonde verlei. ‘Beproewing’ is iets wat God oor jou toelaat, om jou getrouheid te toets. Die bede vra dan dat ons beproewing nie so swaar sal wees dat ons daaronder beswyk nie, 1 Korintiërs 10:13; Matteus 26:41. Die ‘Bose’ kan óf na die duiwel verwys, óf na boosheid, óf na albei, Johannes 17:15.

Uitbreiding 3: Vergifnis ontvang en gee! (6:14-15)

Kinders wat uit die vergifnis van hulle hemelse Vader lewe, vergewe ander mense wat hulle benadeel. Maar mense wat weier om ander te vergewe, kan nie aanspraak maak op God se vergifnis en sy Vaderskap nie. Hierdie uitbreiding beklemtoon die vyfde bede eers positief v14 en dan negatief v15. God se vergifnis is nie afhanklik van ons vergifnis nie. Sy vergewing kom eerste, Matteus 18:23-35. Maar dit is ondenkbaar dat ons in God se vergifnis lewe sonder om ons vergifnis aan ander uit te deel, Matteus 5:23-24; Efesiërs 4:32; Kolossense 3:13.

Hierna volg twee aanwysings oor aardse besittings en bekommernisse (6:19-34) om ons afhanklikheid van God te onderstreep. Nadat 6:14-15 die vyfde bede beklemtoon het, brei 6:19-24 uit op die sesde bede, en 6:25-34 op die vierde bede.

 

Outeur: Dr Francois Malan